net gou my en Salomé se aktetasse in die kar sodat ons met die meeting kan begin. Wys haar asseblief waar die lokaal is waar ons altyd vergader,” vra hy vir Tienie.
Van die voertuig af sien hy hoe Salomé buk en nat sement in ’n hand vryf, dan haar hand aan haar oorpak afvee en orent kom.
Toe Malan weer by die manne aansluit, fluit Adriaan saggies deur sy tande. “Sy’s ’n beauty. Waar kom jy aan haar?”
“Ek het mos gesê Salomé is in oom Markus se plek aangestel. Hy sal ná sy beroerte nie weer die job kan doen nie,” sê Malan kortaf.
Ludwig glimlag breed terwyl ook hy in Salomé se rigting kyk, dan sy kop skud. “Daai girl . . . hel, sy laat ’n oorpak lyk na iets wat ’n model op ’n loopplank sal dra.”
“Dis net ’n gewone oorpak,” grom Malan en kyk hoe Salomé en Tienie staan en gesels.
“Ek praat van die girl binne-in die oorpak,” sê Ludwig en voeg by: “Maar wat, jy het mos ’n sexy girlfriend, so ons verstaan as jy nie kan sien wat ons sien nie.”
Malan help hulle nie reg oor sy verbreekte verhouding nie. “Komaan julle ouens, wees asseblief professioneel. Salomé is hier om ’n werk te doen.” Hy snap maar te goed wat hulle bedoel.
En boonop begin hy vermoed dat Salomé se bekoring met meer as net haar uiterlike te doen het, hoewel hy steeds nie sy vinger kan lê op presies wát dit is wat haar so aantreklik maak nie.
Hy begin omdraai, maar steek vas en kyk elkeen van die span ’n slag in die oë. “Daar’s iets baie belangriks wat ek eers by julle wil tuisbring.” Een van die twee sementmengers op ’n lorrie raak stil en Malan praat effens sagter, maar meet sy woorde versigtig af. “Onthou asseblief dat Salomé Delport éérstens ’n ingenieur is, en twéédens ’n vrou. Sy het ’n baie belangrike werk, in party opsigte belangriker as enigeen van julle s’n, want sy moet seker maak dat julle almal jul jobs ordentlik en betyds doen. Wees asseblief professioneel en respekvol en gee haar julle samewerking. Julle praat oor níks anders as die werk met haar nie, oukei?”
“Ek’s getroud,” verweer Nelis, “preek vir húlle.”
Almal knik en koor: “Natuurlik, hoe ken jy ons?” Maar Malan weet goed dat die manne té hard probeer om ernstig te lyk.
Nes hy verdomp gedink het! Hardwerkendheid en skerpsinnigheid het hom gebring waar hy vandag is. Hy moes sy intuïsie vertrou het. Die eerste teken was toe hy net skrams na Salomé se CV gekyk en dadelik oor haar aanstelling op loop gegaan het.
Die tweede teken was toe hy oomblikke later sy oë op haar gelê en onmiddellik die kluts kwytgeraak het. Hy moes net daar omgedraai en finaal vir Stefan gesê het dat hulle ’n ander plan moet maak.
Bleddie sot wat hy was! Hy kon vir Salomé gesê het hy gee nie om oor kontrakbreuk nie, dat sy gerus dadelik by ’n ander onderneming kan gaan werk, maar in plaas daarvan basuin hy dit uit dat hy ongetroud en boonop nie in ’n verhouding is nie. En dít net uit leedvermaak. Hy moes maar eerder gemaak het asof hy haar nie oor die foon teenoor haar suster gehoor praat het nie. Hy kon net nog nooit sy mond gehou het nie. Seker aan sy grootwordjare op die plaas te wyte; sy familie sê ’n ding mos altyd reguit, sonder om doekies om te draai.
Die Waterfall-projek is ’n dekselse groot kontrak. Hy het nie tyd vir suutjies trap rondom vroumense nie. Hulle moet juis vandag oor die skedule en die afleweringsdatum van die gebou praat. Hy hoop wragtig nie die meisie steek ’n speek in die tot dusver geoliede wiel nie.
Salomé het die hele pad terug die stilswye in die motor bewaar. Maar eintlik het verontwaardiging en ergernis haar al op die perseel in ’n wurggreep gehad sodat sy diep moes asemhaal om Malan nie sommer daar eenkant te roep en hom aan te praat nie. Dit sou onprofessioneel gewees het om dit voor die ander te doen en sy wou ook nie Malan se aandag van die pad af trek terwyl hy bestuur het nie. Maar toe hulle terugkom by die kantoor het sy vir Malan gesê daar is iets waaroor sy met hom in die privaatheid moet gesels.
Nou staan en kyk die vent al weer krities na haar lessenaar.
“Besef jy wat jy vandag by die perseel aangevang het met als wat jy kwytgeraak het?” vra sy sag en beheers.
Malan kyk na haar en frons. “Aangevang het? Nee, ek weet nie, maar sê liewer reguit wat jy daarmee bedoel.”
“Jy’t my gesag ondermyn deur die dinge wat jy vir die mans gesê het.”
Malan se staalgrys oë verskerp merkbaar en hy druk sy duime by sy jeans se agtersakke in. “Met wat? Ek verstaan nie?”
“Jou presiese woorde aan die span was: ‘Onthou asseblief dat Salomé Delport éérstens ’n ingenieur is, en twéédens ’n vrou.’ Hoekom moet daar onderskeid getref word tussen my vroulikheid en my beroep? Jy kon netsowel vir die ouens gesê het dat jy nie veel vertroue in ’n vroulike ingenieur het nie. En toe vrá jy hulle om mý respekvol te behandel, en om hul samewerking aan my te gee. Asof ek nie op my eie twee voete kan staan nie. Jy’t my CV gelees. Jy behoort tog te weet dat ek nie ’n sukses van daardie groot projekte sou gemaak het as ek myself nie teenoor mans kan handhaaf nie.”
Malan sug. “Jy’s ’n vrou, jy weet nie hoe mansmense se koppe werk nie. Jy’t nie ’n idee hoe hulle agteraf oor vroue praat nie.”
Sy lag saggies met ’n goeie skeut ironie bygevoeg. “O, ek weet hoe mans dink, moenie ’n fout maak nie. Ek het nog nooit met toe oë en ore saam met mans gewerk nie.” Sy vou haar arms. “Al wat jy reggekry het, is om my foolish in hul oë te laat lyk.”
“Ek stem nie saam . . .” begin Malan, maar bedink hom dan blykbaar. “As dit werklik die geval is, is ek jammer.”
Die blikskottel is g’n jammer nie. Hoekom sal hy op dieselfde dag sy opinie oor ’n vroulike ingenieur verander? Dink hy miskien sy is onnosel? Soos sommige mans kies hy maar net die maklike uitweg – sê hy is jammer en hoop sy vergeet dit.
Salomé trek haar asem in en blaas dit sugtend uit. “Jy kan my by Stefan slegmaak, maar as jy van die projek ’n sukses wil maak, sal jy moet dink voor jy iets chauvinisties oor my voor die werksmense kwytraak. Jy sal my moet vertrou . . . my uitlos om my werk te doen.” Sy sal noodgedwonge ook saam met Malan aan die projek moet werk. Maar dis goed dat hy weet hy moet sy woorde in die toekoms tel.
Malan vou sy arms, staan gemaklik met sy bene effens uitmekaar en knik asof hy skielik oor alles met haar saamstem, maar sy bespeur tog ’n tikkie behoedsaamheid in sy oë.
Malan laat sy oë oor Salomé gly. Dit lyk asof sy in ’n sandput gespeel het. Hy lyk seker nie beter nie, maar hoe kan dit anders? Die aarde is droog en teen drieuur se kant het daar ’n sterk wind opgesteek wat rooi stootskrapersgrond, bousand en droë sement die wêreld vol gewaai het.
Salomé staan steeds vir hom en kyk. Sy het flippen skerp ore, dis nou maar klaar. Hy het nie kon raai sy het gehoor wat hy vir die manne gesê het nie. Op pad terug was sy gedagtes vol werksake.
Hy was nogal beïndruk met hoe Salomé op site met die werksmense gepraat het. Kort en bondig. Hy dink hulle was ook beïndruk met haar kennis en insig in hul onderskeie vakgebiede, maar hel, hoe vergeet ’n man dat sy ’n vroumens is?
Sy ruik soos een, loop soos een en is boonop ’n lus vir die oog.
Maar kyk nou net weer: As dit ’n man was en hy wat Malan is, het die ingenieurs se samewerking gevra, sou so ’n man g’n woord daaroor gerep het nie. ’n Vrou op die perseel krap nou maar eenmaal die hele genderkwessie oop en veroorsaak komplikasies. Maar nou ja, hy het ná alles vanoggend onwetend op Salomé se fyngevoelige toontjies getrap met sy uitlatings.
Salomé het twak gepraat . . . sê hy is ’n chauvinis. Hier werk genoeg vroue in die kantoor, maar dis ’n ander storie om ’n vrou aan te stel oor ’n spul mans wat hel-uit rof kan wees.
Nee tog, hy het nie tyd om te staan en ginnegaap nie, hy sal tot laatnag moet werk aan planne wat een van sy ander assistente sal moet klaarmaak. Adam het reeds te veel hooi op sy vurk. Hy gaan sy saak eerder nie nou verder verdedig nie.