posisie, byvoorbeeld deur ondersteuningsgroepe soos Compassionate Friends. As julle ander kinders het, wees eerlik met hulle oor wat gebeur het en oor jul gevoelens. Hulle kan dikwels selfs die pynlikste waarheid beter hanteer as wat ons sou kon droom as hulle deur liefde omring word, en as ons hulle toelaat, kan hulle ons selfs help om gouer te genees.
FAKTORE WAT TOT VOORTYDIGE GEBOORTE KAN LEI
•Rook, dwelmmisbruik en alkoholgebruik kan die moontlikheid verhoog.
•Ernstige infeksie by die ma – veral van die urogenitale kanaal, maar ook sistemiese infeksies – kan tot voortydige kraam lei.
•’n Onbekwame serviks wat nie betyds geïdentifiseer is nie en gevolglik geheg is, kan daartoe lei dat die swangerskap skielik en te vroeg beëindig word.
•Ondervoede moeders het ’n groter kans om voortydig geboorte te skenk.
•’n Sinktekort word veral met voortydige geboorte verbind.
•’n Hormoonwanbalans kan ’n oorsaak wees, maar is in ’n mate behandelbaar.
•Veelvuldige swangerskappe eindig dikwels vroeër, waarskynlik omdat die baarmoeder onder soveel meer spanning verkeer.
•Gevare in die werkplek, soos inspannende fisieke arbeid, kan soms tot voortydige geboorte lei.
•Moeders wat aan chroniese siektes soos diabetes, hoë bloeddruk en nierprobleme ly, se babas word dikwels vroeg gebore.
•Bloeding tydens swangerskap word met voortydige geboorte verbind, veral in toestande soos placenta praevia, die mediese naam vir ’n laagliggende plasenta. Dit kan in wisselende grade voorkom, waarvan die ergste vorm is wanneer die plasenta die serviks bedek. Dit lei tot bloeding in swangerskap, veral namate die baarmoeder rek om die groeiende baba te akkommodeer.
•Oormatige spanning in jou verhoudings of daaglikse lewe, veral indien dit langdurig voortduur, kan tot voortydige kraam lei.
•Baie jong vroue (tieners) en vroue oor 35 is meer geneig tot voortydige kraam – albei hierdie groepe het spesiale aandag nodig van hul sorggewers.
•Indien dit nie behandel word nie, kan afwykings van die uterus kraam laat begin.
WAT OM TE VERWAG
Jy sal dieselfde liggaamlike en gemoedsveranderinge ervaar as ’n vrou wat haar baba enduit gedra het, hoewel jou perineum gouer mag herstel as jy vaginaal geboorte geskenk het. Meer vroeggebore babas word met ’n keisersnee in die lewe gebring, en die gevolge van ’n groot operasie moet ook verwerk word.
Dit is heeltemal normaal om in dié tyd baie eensaam te voel, aangesien niemand anders werklik kan verstaan wat jy ervaar nie. Dit is lewensbelangrik dat jy uit die staanspoor aktief betrokke raak by jou kind se versorging, mits jou gesondheid dit toelaat. Aangesien uiters voortydige geboorte (tussen 20 en 34 weke) ’n noodgeval is, sal die mediese en verpleegpersoneel so besig wees dat hulle moontlik jou ervaring van die situasie uit die oog verloor. Talle dokters en verpleegsters tree egter baie simpatiek op in hierdie tyd; moet dus nie huiwer om indringende vrae te stel oor elke faset van jou baba se versorging en prognose vir herstel nie.
Daar is deesdae ’n inisiatief bekend as buidelsorg (“kangaroo care”) – ’n konsep wat in werklikheid so oud soos die berge is – waar moeders onder sekere omstandighede aangemoedig word om hul babas vel teen vel teen hul bors te dra. Sulke babas groei vinniger, raak minder siek en is baie vroeër gereed om huis toe te gaan.
Een van die eerste emosies wat jy waarskynlik sal ervaar, is ontsteltenis oor die talle “pype” waaraan jou baba verbind is. Onthou egter dat elke pyp ’n lewensreddende funksie verrig, baie soos die naelstring gedurende swangerskap.
Hierdie pype sluit waarskynlik een of meer van die volgende in:
•’n Aarvoedingsbuis, gewoonlik verbind aan ’n aar in die kop, wat makliker bereikbaar is as dié in die ledemate. Die doel van die buis is om vloeistof, noodsaaklike voedingstowwe en medikasie aan jou kind toe te dien. Moet dus nie geïntimideer voel nie. Dit mag miskien ongemaklik wees om jou baba vas te hou, maar dink daaraan as een van jou belangrikste bondgenote in die stryd om jou kind se gesondheid. Die buis sal waarskynlik van tyd tot tyd verskuif moet word soos nodig, na gelang van die plek of die aar waar dit ingesteek is.
•Jou baba mag moontlik aan ’n ventilator gekoppel wees om hom te help asemhaal. Dit sal miskien vir jou een van die skrikwekkendste aspekte wees, en dit is gewoonlik nie moontlik om jou baba op te tel nie, maar onthou dat dit ’n uiters belangrike buis is wat jou baba aan die lewe hou.
•Daar sal elektrodes aan jou baba se borskas verbind wees om sy hartklop en asemhaling te monitor.
•As jou baba melk kan inneem, sal daar miskien ’n buisie deur die neus gaan, wat met pleister vasgeplak is. Dit loop deur die neuskanaal en keel tot in die maag. Baie vroeggebore babas is nog nie sterk genoeg om te suig nie en sou sodoende kosbare energie verspil. Die situasie sal mettertyd verbeter en dan sal jou baba geleidelik al hoe meer deur die bors of bottel gevoed word en minder deur die buisie tot in die maag.
Die gepiep van monitors sal aanvanklik miskien intimiderend wees. Die alarms gaan soms per ongeluk af, of bloot as waarskuwing aan die personeel om een of ander aspek na te gaan – moet dus nie skrik as jy dit hoor gebeur nie. Vind uit watter monitor watter funksie registreer; dit sal die vrees wat jy dalk ervaar, verminder.
Die broeikas waarin jou baba heel moontlik lê, het verskeie funksies: dit kan ’n oop eenheid wees, gewoonlik in die hoësorgafdeling, of ’n toe, meer konvensionele broeikas. Dit verskaf ’n praktiese werkruimte vir die personeel en ’n beheerde temperatuur- en suurstofomgewing vir jou baba. Die broeikas dien as ’t ware as plaasvervanger vir die baarmoeder. Konsentreer liefs op hierdie aspek as om dit as iets te beskou wat jou van jou baba skei. Jy sal steeds jou baba deur verskeie “patryspoorte” kan aanraak en streel.
VERTROOSTING, VERSORGING EN STIMULASIE
•Jy kan die omgewing minder koud en klinies laat lyk deur die kamer met ’n paar sagte speelgoed, kaartjies en so meer op te helder en ’n sagte speeldingetjie naby jou baba neer te sit. Vra vir die personeel wat jy kan bring om die omgewing meer vertroostend te maak, maar met die minste moontlike risiko van infeksie en sonder om hulle in hul werk te hinder. Hulle is meestal hiervoor te vinde.
•Aanraking is van wesenlike belang, en selfs al steek daar min van jou baba se lyfie tussen die pype of pleisters uit, moet jy haar so dikwels moontlik streel. Na my mening kan dit ewe belangrik wees vir jou baba se oorlewing en groei as die “pype”. Steek jou hande deur die werkopeninge as jou baba in ’n toe broeikas is. Vra die personeel of jy hom kan vashou, selfs net vir ’n paar oomblikke op ’n keer, namate sy toestand verbeter. Dit sal vir julle baie beteken.
•Musiek kan net soveel stimulasie verskaf vir jou vroeggebore baba as vir enige ander baba. Speel strelende opnames en sing of neurie vir haar. Dit is natuurlik moeiliker om te doen as sy in ’n toe broeikas is, maar jy behoort iets te kan prakseer met behulp van die moderne tegnologie.
•Gesels ook dikwels met jou baba. Onthou, hy herken jou stem én sy pa s’n! Dit stimuleer jul kind om te weet dat julle naby hom is en omgee.
•Borsvoeding is een van die belangrikste geskenke wat jy vir jou vroeggebore baba kan gee. Begin so vroeg moontlik om borsmelk uit te pomp en probeer veral om jou kolostrum met ’n spuit of buisie vir jou baba in te gee. Dit is nie heeltemal die gewone praktyk nie, aangesien die hoeveelheid redelik klein is en sy daardie eerste paar dae dalk nog geen ander voeding as die aarvoeding kry nie. Gesels nietemin met jou pediater hieroor, aangesien kolostrum vloeibare goud is, propvol heilsaamheid wat jou baba ’n voorsprong sal help gee.
•Dit is belangrik om aan te hou om jou melk uit te pomp om te verseker dat jy aanhou melk produseer, selfs al het sy dit nie dadelik nodig nie. Jy kan jou melk tot 24 uur lank in die yskas bewaar of in gesteriliseerde bottels in die vrieskas