Frans Rautenbach

Jou Kruger-wildtuin gids - met stories


Скачать книгу

grootste hiervan is die Sabie. Nie net in terme van watervolume nie, maar ook die verskeidenheid van sy fauna en flora (biodiversiteit). Daar is omtrent niks wat jy in die wildtuin kan sien wat jy nie langs, of in die Sabierivier kan sien nie.

      Die blote deurlees van die lysie groot riviere verduidelik ook waarom so baie – veral ouer – ruskampe gevestig is waar hulle is. Dit lê op die oewers van die groot riviere, wat ook verduidelik hoekom dit so gewild is. Daar is net so baie wild.

      Later kyk ons na verskillende roetes vir wildkyk. Dis g’n verrassing dat dié roetes lang afstande langs groot riviere insluit nie. Die hoofroetes loop ook by baie ander waterbronne verby: windpompe, boorgate, panne, stroompies, watergate. Hou die plantegroei dop. Naby en ver. Wees op die uitkyk vir ’n groen soom bome tussen die grys op die horison. Dis waarskynlik ’n rivier. Soek na bome en plante wat waterbronne verklap: ilalapalms, geel koorsbome, vaarlandswilge, huilboerbone, riete. Hou by watergate langs die pad stil, of op ’n vol rivier se wal.

      Soek water. Water is letterlik lewe.

      Beginsel Drie: Kos is lewe

      As jy weet waar die kos is, sal jy weet waar die diere is – wat beteken jy moet weet wat hulle eet. Roofdiere leef van wild soos rooibokke, koedoes, kwaggas en blouwildebeeste. En elkeen van dié diere eet weer sekere plantsoorte. Dit alles beteken die plantegroei van ’n streek bepaal watter plantvreters en watter roofdiere daar aangetref word.

      Daarom help dit om te weet watter ekologiese gebiede die geskikste is om plant- en vleisvreters van verskillende soorte te ondersteun, sodat jy weet waar jy ’n statisties beter kans het om hulle aan te tref.

      Plantvreters leef óf van gras, óf van blare, óf van vrugte, bolle, wortels, of ’n kombinasie hiervan. Groot roofdiere is hoofsaaklik geïnteresseerd in eersgenoemde twee groepe. Dié groepe bestaan meestal uit kwaggas, blouwildebeeste en rooibokke (hoofsaaklik grasvreters), en kameelperde en koedoes, (hoofsaaklik blaarvreters) en buffels (beide blaar- en grasvreters).

      Die grasvreters verkies meestal die oop savannas met soeter grassoorte, en die blaarvreters gebiede met standhoudende doringbome – saam dus die volgende gebiede op die ekologiese kaart:

      »Knoppiesdoring/maroela savanna, ’n lang, maer strook in die ooste, wat van Krokodilbrug in die suidooste tot net noord van N’wanetsi strek. Die strook is van die mooiste veld in die wildtuin, met knoppiesdoring-, maroela- en hardekoolbome wat verspreid groei met lappe gras tussenin;

      »Verwant hieraan is die Shingwedzi boomsavanna, met mopanie, haak-en-steek en mosterdbome met gras tussenin (weerskante van die Shingwedzirivier).

      »Sabie/Krokodil-doringruigtes, die gebied langs die Sabie vanaf Skukuza tot by Onder-Sabie, en vandaar suidwaarts tot by Krokodilbrug. Lappe soetdoring, haak-en-steek-, papierbasdoring- en knoppiesdoring-bome met lang gras tussenin.

      »Doringveld, rofweg die gebied tussen Orpen en Satara, en ook tussen Onder-Sabie en Tshokwane (hoofsaaklik aan die westekant van die pad (H-1)).

      Olifante vreet bome se blare en word aangetref in al die gebiede hierbo genoem. Maar hulle vreet ook in besonder mopanieblare, en is daarom van die diersoorte wat jy in mopanieveld aantref. Dieselfde geld buffels, wat ook in dié gebied tuis is. Hoewel buffels hoofsaaklik grasvreters is, soek hulle die mopanieveld op, waarskynlik omdat daar dikwels skaduwee onder die mopaniebome is. Hulle is altyd naby genoeg aan water dat hulle twee maal per dag kan drink.

      Die plantegroei op die oewers van riviere verskil natuurlik hemelsbreed van plante op meer afgeleë vlaktes, wat deels verduidelik hoekom daar amper altyd olifante by riviere is. Hulle is lief om in die riete langs riviere te wei en die blare van groot standhoudende bome op die wal te stroop.

      Rivieroewers bied om soortgelyke redes kos aan kleiner wild wat gereeld daar wei, soos koedoes, rooibokke, waterbokke, bosbokke, njalas, bobbejane en ape. Rivieroewers is dus uitstekende luiperdwêreld. Trouens, as jy regtig ’n kans wil hê om ’n luiperd te sien, ry die Sabie-, Timbavati-, N’wanetsi en Shingwedzi-roetes wat hieronder uiteengesit word.

      Opgesom: Hoë konsentrasies sebras, kameelperde, blouwildebeeste, olifante, buffels en rooibokke sal in die savannas en doringveldgebiede hou, met gepaardgaande roofdiere. Dié gebiede val min of meer saam met die ruskampe in die suidelike helfte van die wildtuin: Krokodilbrug, Onder-Sabie, Skukuza, Satara en Orpen, maar ook Shingwedzi in die noorde.

      Die grootste deel van die noordelike helfte is mopanieveld, waar meestal olifante en buffels aangetref word. Dit beteken daar is nie eintlik groot troppe rooibokke, koedoes, kwaggas en kameelperde nie – en ook minder leeus. Maar veral langs die riviere in hierdie gebiede wyk die mopanies en is ’n groter verskeidenheid wild te sien. As jy noord ry, is dit daarom goed om te weet wat om te verwag.

      Die Shingwedzirivier is ’n totaal ander storie. Hier is dikwels groot troppe leeus, wat deur die wild langs die rivier en die buffels op die vlakte noord daarvan gelok word. Shingwedzi het ook heelwat – dikwels indrukwekkende – olifanttroppe.

      Soms bepaal die relatiewe afwesigheid van kos en water ook watter wild ’n mens kan verwag. Diere wat meer gehard is en onder moeilike omstandighede kan oorleef, is elande, hartebeeste, bastergemsbokke en blouwildebeeste. Noord van Letaba tot naby Pafuri is ’n strook droë savanna met yl mopanies. Heel in die noorde – en veral in droë jare – gaan dit oor in ’n woestynagtige sandveldgebied, wat strek tot by Pafuri teen die grens.

      Dit is ’n wêreld vir die wildtuinganger wat soos die diersoorte hier is: ’n bietjie meer gehard en ’n bietjie meer geduldig as die gewone wildkyker. Hier moet jy bereid wees om soms 30 of 40 kilometer te ry vóór jy ’n groot soogdier sien, en dan is dit twee elande in die verte, of ’n eensame hartebees teen ’n kliprantjie.

      Doringveld/maroela savanna

      Die groen gras van Pafuri

      1 Vra dié gids by Hippo Pools vir raad.

      2 Leeukyk in die 1930’s

      3 “Ek dink ons gaan score, Boetie.”

      4 Leeukyk in die 1950’s

      5 Olifante in die 1950’s

      Beginsel Vier: Jy is nie alleen nie

      “Dis halfses in die oggend. Díe twee – elkeen met ’n harige kaal pens en handdoek om die lyf – loop mekaar voor die skeerspieël in die badkamer raak. Hulle ken mekaar van g’n Adam nie.

      “Môre... ”

      “Môre... “

      “Lyk na ’n lekker dag, né...?”

      Nommer twee trek sy bolip styf as die lem daaroor krap-krap. Hulle stemme weergalm in die oop ruimte.

      Sy maat vryf sy grys borshare. “Ja, ons gaan seker weer bars van die hitte vanmiddag...”

      Langsaan plas die water en stoombolle trek by die oop storthok uit na die hoë grasdak bo.

      “Is julle op pad, of bly julle nog oor?”

      Die eerste ou spoel sy skeerkwas af. Die seep ruik soet en meng met die geur van karbolsuur en teer.

      “Nee, ons ry vandag ’n bietjie deur Satara toe. En julle?”