jou gevra het. Ek is ’n nuwe Jood … Siegfried. Ek het skaars 12 jaar gelede uitgevind dat albei my ouers Jode is. Ek het my wortels hier kom soek en dit kom vind. Vir my is dit noodsaaklik om ál die skakerings daarvan te leer ken om Joods te wees. Verstaan jy dit?”
Ou Siegfried knik swygend.
“Jy het in die ghetto agtergebly toe baie ander mense en selfs jou moeder weggevoer is Westerbork toe?” herinner Marc hom aan die vraag.
“Ek weet nie hoekom ek toe nog nie weggevoer is nie, Marco. Die Nazi-redenering was nie altyd voor die hand liggend nie. Een ding was vir elkeen van ons in die Joodse Gimnasium ’n sekerheid – ons sou weggestuur word. Ons het net nie geweet wanneer nie. Ek het egter selfs gouer in Westerbork gekom as wat ek verwag het. Dit het só gebeur: Op ’n dag nadat die lesse afgehandel was, was ek nog in my klaskamer doenig. Een van my leerlinge kom toe na my toe. Dit het my verbaas dat hy die deur agter hom digtrek, maar ek het gou verstaan waarom. Hy was die seun van Friedrich Cóhn – let wel, Cóhn sonder die ‘e’ van Cohén, want in werklikheid het hy Israel Cohén geheet. Soos elke Duitse Jood tydens Hitler se skrikbewind, kom die Friedrich vóór die Israel. Begryp jy?”
Marc knik.
“Nu, Friedrich Cohn was die Joodse koning van Westerbork. Hy was hoof van die sogenaamde Joodsche Ordedienst, die OD. Dit was Cohn se meesterlike organisasie. In die volksmond het die ongeveer honderd man wat onder Cohn in die OD gedien het, as die Joodse SS bekend gestaan.” Siegfried kyk Marc meteens reguit aan. “Cohn se seun het my kom vra om lid van sy pa se organisasie in Westerbork te word. Hy het gevoel ek is ’n Jood na wie omgesien moes word. Ek het ingestem om met sy vader te gaan praat …”
Hy bly stil en Marc durf nie verder uitvra nie.
Siegfried neem weer die rooi sakdoek uit sy sak en vee sy hande af. Marc sien hy doen dit skaars bewustelik. Ná ’n rukkie praat hy egter verder terwyl hy oor die plein uitkyk.
“Die Joodse SS. Dít was ons dan ook. Ons was Jode én ons was SS’ers. Die vyand het ons aangesteek. Ons het hulle in alles nagedoen. Die manier waarop ons gestap het, ons houding, ons klere, selfs die manier waarop ons gepraat het. Ons het op mense gevloek, hulle weggestamp en opgejaag. Daar was allerhande soorte onder ons. Intellektuele, amptenare, arbeiders, handelsreisigers,” weer die droë laggie, “en een kunsonderwyser. Ons moes ongetwyfeld vir die ander Jode die mees weersinwekkende gewees het van alle mense wat God geskape het …”
Hy kyk meteens weer na Marc. “Waarom vra jy my nie hoekom ek so laag gedaal het nie?”
Die vraag vang Marc onkant en hy moet eers sluk en dink voordat hy kan sê: “Omdat ek nooit in ’n situasie was waar ek voor so ’n keuse te staan gekom het nie.”
Siegfried glimlag stram. “Goed gesê, maar miljoene ander het ook die keuse gehad en anders gekies as ek. Nu, die storie word te lank. Waarom het Cohn sy seun juis na mý gestuur? Omdat hy my manier van les gee bewonder het? Miskien het God daar ’n hand in gehad. Ek sal nie weet nie. Maar ek het gegaan. By die eerste ontmoeting met Cohn was ek oorweldig. Eerstens deur sy imposante figuur, stewels, rybroek, leerbaadjie waarop die geel ster nouliks te onderskei was, en sy bulderende stem. Ek het gedink: Eindelik ’n Jood wat kan kommandeer en nie op die vloer kruip om SS-soldate se stewels te soen nie. Hy het sonder meer aan my uitgelê wat sy werk was en waarvan ek deel sou wees …” Hy swyg weer ’n oomblik.
Die plein raak al hoe voller soos mense uit hul koue woonstelle na die son ontsnap op hierdie voorlaaste dag van die Chanukah-feesdae.
“Hy het aan my uitgelê wat die eerste wet van ons werk in Westerbork is: Die hulle-of-ek-wet. Begryp jy wie húlle was?”
“Die ander Jode.”
“Korrek. Elke Maandagoggend het Cohn van die kampkommandant, Schaufinger, ’n versoek vir ’n sekere getal Jode gekry wat vir die transport gelewer moes word. Dan het hy en ’n Dienstleiter of die drie wat onder hom gedien het, die lyste van die Jode opgemaak wat elke Dinsdagoggend op die trein moes wees vir die Arbeitseinsatz, soos dit amptelik genoem is.”
“Na Auschwitz?” vra Marc sag.
“Inderdaad, na Auschwitz. Toe ek dié dag by Cohn valslik probeer voorgee dat my gewete my nie sou toelaat om so ’n ‘reddingsplan’ te oorweeg nie, het hy dié prentjie vir my geskets: ’n Skip met duisend passasiers is besig om te sink terwyl niemand op die SOS-noodsein reageer nie. In die reddingsbote is daar net plek vir 50 mense. Wat het ek gedink sou met hom gebeur as hy sou weier om die lys op te stel. Hy sou die volgende Dinsdag op die transporttrein sit. En dan sal ’n ander Jood eenvoudig sy plek as Zentraldienstleiter inneem en presies dieselfde as hy moet doen. Schwartz, Rosenfeld en dan Goldstein of Sacher. Noem maar op. Hulle sal altyd ’n Jood vind om die plek in te neem.”
“Dis erg …” Marc fluister byna.
“Erg?” Die ou man gee ’n siniese laggie. “De helft is jouw noch nimmer vertelt, Marco. Cohn het aan my verduidelik dat sy poging om my te red alleen maar spruit uit die goeie verslae wat sy seun altyd oor my gebring het. Hy sou my sy assistent maak. Wat dit beteken het, was nie van belang nie solank ek maar die nodige band om my arm gedra en altyd in sy nabyheid gebly het. Hy het dit egter baie duidelik gestel dat ek hárd gemaak sou moes word, staalhard, want die tweede kampwet was: Wie sag of selfs halfsag is, gaan in die trein …”
Hy sug en vee weer met die rooi sakdoek oor sy voorkop. Die storie word te lank. “Ek het Cohn se adjudant geword. Punt. Hy, die grote koning wat in sy stewels en karwats in die hand deur die kamp marsjeer het, en ek, sy straatbrakkie wat agterna draf …”
Marc wag weer. Hy voel tegelykertyd ellendig en ongeduldig, want hy het tog nodig om die grusame besonderhede wat die ou man nog verswyg, aan te hoor.
“Schaufinger … Cohn het steeds maar herhaal dat hy die menslikste kampkommandant van almal was. Hy was waarskynlik voorheen ’n gewone kantooramptenaartjie wat andersins sy hele lewe iewers uit die oog as boekhouer of kassier sou deurbring. En inderdaad was hy geen onmens nie. Waarom sou hy ook wees? Hy het immers ’n groot en gerieflike huis gehad om in te woon en die hele kamp vol Jode wat vir hom gewerk het. Geen adellike het ooit soveel bekwame kleremakers, haarkappers, tuinboukundiges, chauffeurs, dokters, tandartse – noem maar op – tot sy beskikking gehad nie …”
Iewers begin ’n hond rumoerig blaf en Shmu’el, wat heeltyd by Marc se voete geslaap het, kom onrustig regop en kom met sy voorpootjies teen Marc se knieë staan. Marc tel hom dadelik op sy skoot.
Siegfried, wat hulle dophou, sê: “So menslik soos wat Cohn hom genoem het, so het Schaufinger ook sy donker kant gehad. Een middag het ’n Joodse brakkie sy maîtresse se hondjie, Bubi, oneerbiedig benader. Hy het onmiddellik beveel elke troeteldier in die hele kamp moes binne daardie uur van kant gemaak word.”
Marc trek sy asem rillend in. “Nee!”
“Ja wel, ’n uur later gaan hy en Cohn toe saam inspeksie doen om te sien of die bevel deeglik uitgevoer is. Ek moes agter Cohn aan – die enigste ‘hondjie’ wat in die kamp oorgebly het. Êrens in een van die barakke ontdek Schaufinger toe tog nog ’n katjie wat skynbaar aan niemand behoort het nie. Hy trap toe die diertjie net daar met sy groot soldatestewel dood en plaas die name van ses van die mense in daardie barak op die transportlys. ’n Sogenaamd menslike man!”
Toe hy dié keer stilbly, help Marc hom nie verder nie. Sy weerlose dierehart bibber nog van ellende oor die doodmaak van die troeteldiere van mense wat dit al so haglik gehad het. Die katjie doodgetrap … Hy sien hul gemmerkatjie, Shishi, en magteloos skiet daar trane in sy oë.
Die ou man merk dit op en hy klop Marc gemoedelik op die knie. “Maar só triest was dit nie aldag nie, Marco, helemaal niet! Op die Dinsdagoggend het die transporttrein Auschwitz toe vertrek, maar Dinsdagaand was dit kabaret.”
“Kabaret?”
Siegfried knik. “In Westerbork was daar geensins ’n gebrek aan kunstenaars nie. Die room van Duitsland se kabaretsterre en regisseurs was daar. Almal Jode. Ja, ook Kurt Gerron – sy van was eintlik Gerson, maar ja, die 1930’s was nie die regte tyd om jou Joodse afkoms