ferm. “Ons moet eers ons bure leer ken. Hier in die stad leen ’n mens nie sommer by enigiemand nie. Kom ons eet gou, dan begin ons werk. Die trek is netnou hier.”
Ná ’n lekker maaltyd van koue vleis en vrugte en brood voel almal beter en hulle spring met mening aan die werk en begin vee en stof en kaste uitskrop. Toe die reën later so ’n bietjie bedaar, raak Katy ongemerk weg en kom ’n rukkie later hoogs ontsteld by Elizabeth aan.
“Wat is dit nou?” vra Elizabeth.
“Nee, Miss Betta is reg,” sê Katy boos. “Dis anderste soort mense wat hier bly.”
“Wat makeer? Wat het gebeur?” vra Elizabeth besorg.
“Ek was hier langsaan by die bure; ek wou ’n primus leen om vir Miss Betta-hulle tee te maak. Maar daardie meisie hier langsaan – sy sê sy is die ‘inside’ – baie grênd met so ’n klein kantvoorskootjie en keppie – sy sê die mevrou is uit na ’n ‘bridge luncheon’ – Miss Betta sal weet watse ding dit is – en sy kan nie hulle goed sonder haar mevrou se konsent aan enige Tom en Herrie leen nie. Hulle het genoeg sonde met die vorige bure gehad.”
Die hele middag het hulle gewas en geskrop en skoongemaak so goed hulle kon. Die reën het sonder ophou geval, en van die meubelwa of van Leon was daar geen teken nie. Wat sou gebeur het? wonder Elizabeth met groeiende bekommernis. Sy en Esme is later na ’n winkelsentrum daar naby om ’n primus, kerse en blakers, kos en ander noodsaaklikhede te koop.
Dit was al sterk skemer toe Leon uiteindelik, moeg en nat, daar aankom. Hy kyk na die kerse wat oral brand, op die vloer, op die koffers in die sitkamer waar dit die minste lek, en begin lag.
“Die elektrisiteit! Ek het nooit daaraan gedink nie.”
“Waar is die meubelwa?” wil almal weet.
“Vasgeval. Hulle sal nie voor môre kom nie. Ons sal vanaand na ’n hotel toe moet gaan.”
Niemand het egter baie lus om nou na ’n hotel toe te gaan nie.
“Kan ons nie maar hier bly nie?” vra Elizabeth. “Ons het ’n primus en kerse en hier is genoeg kos – ons hou sommer vanaand piekniek.”
“En waar slaap ons?” vra Leon prakties.
“Ons het twee slaapsakke en genoeg komberse om kermisbeddens te maak. Ons het geskrop en skoongemaak; niemand sal tog omgee om een nag op die vloer te slaap nie.”
“Ek het geen beswaar nie,” sê Leon. “En die huis? Wat dink julle daarvan, Betta?” vra hy versigtig.
Elizabeth aarsel.
“Die eerste indrukke was nie so gunstig nie,” erken sy met ’n dapper glimlag. “Alles is so vuil en verwaarloos en daar is nie iets soos ’n tuin nie. Maar dis ’n lekker ruim ou huis, met genoeg lig en lug, en dis ’n mooi buurt. Ek is seker ons sal lekker hier bly as alles agtermekaar is.”
Leon lyk verlig.
“Jy is ’n doring, Betta. Jy sê daar is kos – ek is dood van die honger; ek het die hele dag nog niks geëet nie.”
“Ons kan dadelik eet. Almal is moeg en honger.”
Elizabeth sprei ’n paar koerante op die vloer en pak die kos uit. Gebraaide hoender en aspersies van die kafee, koue skaapvleis en frikkadel wat oorgebly het, vars brood en botter en ’n bottel sjerrie om die geleentheid te vier. Die radio verskaf sagte musiek.
“Ek dink jy is wonderlik, Betta,” sê Leon waarderend terwyl hy smaaklik eet. Hy voeg berouvol by: “Ek is jammer oor alles wat vandag skeefgeloop het. Die reën kon ek nie verhelp nie, en dis ook nie my skuld dat die meubelwa vasgeval het of die dak lek nie, maar ek kon darem die deposito vir die ligte betaal het.”
“Ek dink dis baie geselliger so met kerslig en musiek. En baie lekkerder hier in ons eie huis as in die hotel.”
“Jammer ook oor die huis. Ek het dit net een maal gesien en toe was daar meubels in – ek het nie besef dit is so verrinneweer nie. Huurhuise is skaars en ek was te bly om ’n huis in hierdie buurt te kry, naby goeie skole en so gerieflik naby die bus.”
“Ek sê jou dis ’n lekker ou huis – ons gaan nog lekker hier bly. En dis wonderlik dat dit so naby die skole en universiteit is. Wag maar, jy sal die huis nie ken as ons daarmee klaar is nie.”
“Ek is bly jy sien dit so. Ek sal dadelik reël vir ’n telefoon – gelukkig het ek dit vir my werk nodig. Nou kom, ons drink op die gesondheid van die Louw-familie. Lank sal hulle lewe …”
Esme begin sing: “Lank sal hulle lewe,” en die ander val ook saam in. “Lank sal hulle lewe, lank sal hulle lewe, in hul gloria – in hul glor-ia.”
Uit die sitkamerdeur sê ’n diep stem, met kille verbasing: “Wat op aarde gaan hier aan?”
Verskrik breek hulle af terwyl hulle na die vreemdeling kyk wat in die deur staan. Hy het ’n reënjas aan, die kraag is opgeslaan en sy gesig is in skaduwee. Leon staan stadig op.
“Betta, ons het ’n kuiergas.”
Daar is ’n kort stilte, dan sê Elizabeth koud: “Ek het nie die deurklokkie hoor lui nie.”
“Die deurklokkie is stukkend. Ek het geklop, maar niemand het my blykbaar gehoor nie,” sê die vreemdeling saaklik.
“Ons was besig met aandete.” Elizabeth se stem is koel. “Wat kan ons vir jou doen, meneer?”
“Ek is Herman Fourie,” sê die vreemdeling. “Ek woon in die huis langsaan. Dié huis staan al geruime tyd leeg en toe ek die lig sien en die musiek hoor, het ek gedink dis miskien inbrekers. Ek wou die polisie bel, maar het gedink ek sal eers self kom kyk.”
“Dit was dapper van jou,” sê Elizabeth spottend en Esme giggel.
“Dit spyt my as ek julle lastig geval het.” Die man se stem is merkbaar killer. “Ek was blykbaar verniet bekommerd. Maar dis ’n stil, fatsoenlike buurt, en so ’n leë huis op ’n reënaand … Ek wou maar net seker maak dis nie ongeoorloofde besoekers nie.”
“Dit was gaaf van jou om te kom ondersoek instel,” sê Leon beleef. “Maar dis nie nodig om die polisie te bel nie. Ons is die nuwe intrekkers. My van is Louw – en dit is my twee susters, Esme Louw daar, en mevrou Meyer. Buks sit langs haar. Met die reënweer het die meubelwa vasgeval en ons het besluit om maar vanaand piekniek te hou en vannag hier te kampeer.”
“Jammer dat ek julle gesteur het,” sê Herman Fourie kortaf. “Ek wens julle dan ’n goeie nag toe. Ek hoop die res van julle verblyf hier sal voorspoediger wees as die begin.”
“Dankie,” sê Elizabeth, haar stem stroopsoet. “Die reën val nou harder. Kan ons nie vir jou ’n sambreel leen nie, meneer Fourie?”
’n Oomblik kyk hy in stilte na haar. “Nee dankie, mevrou,” sê hy dan hoflik. “Ek dink jou nood is groter as myne. Goeienag.”
“Ek stap saam,” sê Leon.
Esme giggel geamuseerd nadat Leon en die besoeker uit is.
“Wat ’n grap! So amper het die polisie ons vanaand hier kom uitsmyt.”
“Ek dink glad nie dis snaaks nie,” sê Elizabeth, nog omgekrap deur die onverwagte ontmoeting. “Wat ’n koue, onaangename man. En dis ons nuwe buurman! Verbeel jou: dis ’n stil, fatsoenlike buurt …”
“O, ek dink dis baie snaaks,” lag Esme. “Ek wonder of hy die man is van die mevrou wat vanmiddag brug gespeel het.”
“Dit klink of hulle bymekaar pas.”
Leon kom terug en Elizabeth sien hy is ontsteld.
“En nou, Leon?” vra sy. “Het jy en die buurman nog woorde gehad?”
“Die ongeluk ry ons vandag behoorlik,” sê Leon. “Weet jy wie ons besoeker was, Betta?”
“Meneer