Wilbur Smith

Donderslag


Скачать книгу

insluitend Mbejane, wat nie sou steel en verneuk en lieg om te verseker dat Dirk Courtney als kry wat hy wil hê, presies wanneer hy dit wil hê nie. Hulle kan enigiemand haat wat hom dit verbied, selfs vir Sean.

      Dit was twee weke gelede. En nou, dink Sean terwyl hy na daardie lelike mond kyk, gaan ons die hele ding weer oordoen?

      Dan glimlag Dirk skielik. Dis een van daardie bui-veranderinge wat Sean nogal verwar, want as Dirk glimlag, kom sy mond reg. Dis onweerstaanbaar.

      “Ek sal dit doen, Pa.” Opgewek, asof hy dit vrywillig doen, spoor hy die ponie aan en ry terug na die waens toe.

      “Parmantige klein klits!” brom Sean ter wille van Mbejane, maar in die stilligheid wonder hy oor sy eie skuld aan die toedrag van sake. Hy het die seun grootgemaak met ’n wa as sy tuiste en die veld as sy skool, tussen ’n klomp volwasse mans oor wie hy, as sy onweerlegbare geboortereg, gesag het.

      Sedert sy ma vyf jaar gelede dood is, het hy nie die sagte invloed van ’n vrou geken nie. Geen wonder hy is so wild nie.

      Sean probeer om nie aan Dirk se ma te dink nie. Daar is ook skuld; skuld waarmee hy eers met die verloop van jare vrede gemaak het. Nou is sy dood, daar is niks te wen deur homself te martel nie. Die donkerte dreig om sy goeie luim van ’n paar minute gelede te verdring en hy stoot dit van hom af weg, raps die perd se nek met die los stuk teuels en stuur die dier met die pad langs – suidwaarts na die lae lyn heuwels op die horison; suid na Pretoria.

      Dirk is ’n wildewragtig. Maar as ons eers in Ladyburg is, sal hy regkom, troos Sean homself. Hulle sal sy nonsens uitboender in die skool, en ek sal maniere inboender by die huis. Nee, hy sal regkom.

      Daardie aand, 3 Desember 1899, lei Sean sy waens teen die heuwels af en slaan langs die Apiesrivier kamp op. Nadat hulle geëet het, stuur Sean vir Dirk bed toe in sy wa. Dan klim hy die heuwels alleen uit en kyk terug oor die landskap na die noorde toe. Dis silwergrys in die maanlig, strek stil en onmeetbaar die verte in. Dit was die ou lewe. Meteens draai hy sy rug daarop en loop af na die stadsligte toe wat in die vallei onder hom wink.

      2

      Daar is die oggend weer moeilikheid toe hy vir Dirk aansê om by die waens te bly, en Sean is befoeterd teen die tyd dat hy die brug oor die Apiesrivier oorsteek stad toe. Langs hom draf Mbejane om by die perd by te hou.

      Diep ingedagte draai Sean in Kerkstraat in, voordat hy die ongewone bedrywigheid om hom raaksien. ’n Groep ruiters dwing hom om sy perd na die kant van die straat toe te stuur. Sean kyk belangstellend terwyl hulle verbyry.

      Burgers in ’n bont mengelmoes van tuisgemaakte en gekoopte klere ry in ’n formasie wat ’n mens seker met ’n bietjie verbeelding sou kon aansien vir ’n kolonne van viere. Maar wat Sean se nuuskierigheid prikkel, is hoe baie van hulle daar is … goeie hemel! Daar moet minstens tweeduisend wees, van seuns tot grysbaarde, elkeen belaai met bandeliere en ammunisie, en langs elke linkerknie steek ’n Mauser-agterlaaier se kolf uit sy skede. Met kombersrolle aan die saals gebind en klaterende waterbottels en kookgerei, kom hulle verby. Een ding is duidelik – dis ’n oorlogskommando dié.

      Van die sypaadjie af roep vroue en ’n paar mans.

      “Als van die beste, hoor! Skiet raak!”

      “Kom gou terug.”

      Die burgers lag en roep antwoorde uit. Sean buk af na ’n meisie toe wat langs sy perd staan. Sy wuif met ’n rooi serp en glimlag, maar Sean merk dat haar wimpers vol trane is, soos dou op grashalms.

      “Waarheen gaan hulle?” Sean moet hard praat om bo die rumoer gehoor te word.

      Sy kyk op en die beweging laat ’n traan losglip; dit loop teen haar wang af, drup van haar ken af en maak ’n nat kolletjie op haar bloes.

      “Na die trein toe, natuurlik.”

      “Die trein? Watter trein?”

      “Kyk, hier kom die kanonne.”

      Verbyster kyk Sean na die kanonne wat verbyrammel, twee van hulle. Artilleriste in blou uniforms met goue omboorsel sit styf en regop op die waens, en die perde beur vorentoe om die kanonne se geweldige gewig te trek. Hoë wiele wat met staal beslaan is en glinsterende brons in die sluitstukke steek af teen die kanonlope se somber grys.

      “Wel, slaat my dood!” sê Sean. Dan draai hy opgewerk om na die meisie toe en gryp haar aan die skouer. “Waarheen gaan hulle? Waarheen?”

      “Meneer!” Sy glip uit sy greep uit.

      “Asseblief, ek is jammer, sê my tog net,” roep Sean agter haar aan toe sy in die skare verdwyn.

      Hy sit nog ’n minuut of wat verward, dan begin sy brein weer werk.

      Dit is dus oorlog. Maar waar en teen wie?

      Geen stamopstand sal tog die mobilisering van soveel man regverdig nie. Daardie kanonne is die modernste wapens wat Sean hom kan indink.

      Nee, dis die witman se oorlog.

      Teen die Oranje-Vrystaat? Onmoontlik, hulle is broeders.

      Dan teen die Britte? Die gedagte skok hom. En tog – en tog, vyf jaar gelede was daar sulke gerugte. Dit het voorheen gebeur. Hy onthou 1895, en die Jameson-inval. Enigiets kon gebeur het in die jare wat hy van die beskawing afgesny was – en nou het hy hom doodonskuldig hierin kom vasloop.

      Hy neem vinnig sy posisie in oënskou. Hy is Brits. Gebore in Natal onder die Union Jack. Hy lyk soos ’n burger, praat soos een, ry soos een; hy is in Afrika gebore en het dit nooit verlaat nie – maar tegnies gesproke is hy ewe veel ’n Engelsman as iemand wat in die hartjie van Londen gebore is.

      Sê nou net dis ’n oorlog tussen die Republiek en Brittanje, en sê nou die Boere vang hom – wat sal hulle dan met hom doen?

      Beslag lê op sy waens en ivoor, dis vir seker. Hom in die tronk gooi, of dalk as spioen skiet!

      “Ek moet spore maak,” prewel hy, en sê dan aan Mbejane: “Komaan, terug na die waens toe, nou dadelik.” Voordat hy nog by die brug is, verander hy egter van gedagte. Hy moet eers seker maak wat aangaan. Daar is net een persoon na wie toe hy kan gaan, en hy sal die kans moet waag.

      “Mbejane, gaan terug kamp toe. Kry vir nkosana Dirk en hou hom daar, selfs al moet jy hom vasbind. Moenie met enigiemand praat nie en moenie dat Dirk met enigiemand praat nie, jou lewe hang daarvan af. Het jy dit so?”

      “Ek verstaan, nkosi.”

      En toe begin Sean, op die oog af ’n burger nes al die ander, stadig sy weg baan deur die skare en die drukte van waens na ’n algemene handelaar toe aan die bopunt van die stad, naby die stasie.

      Sedert Sean dit laas gesien het, is die bord bo die ingang nuutgeverf in rooi en goud: I. Goldberg. Invoer en Uitvoer. Handelaar in Mynmasjinerie. Groothandel en Kleinhandel. Koopagent: goud, edelstene, velle, ivoor en natuurlike produkte.

      Ondanks die oorlog, of dalk juis daarom, is meneer Goldberg se plek baie bedrywig. Die winkel is volgepak en Sean dwaal ongemerk tussen die klante deur, stilweg op soek na die eienaar.

      Hy kry hom waar hy ’n sak koffiebone verkoop aan ’n man wat kennelik sy bedenkinge oor die gehalte het. Die gesprek oor die gehalte van meneer Goldberg se koffiebone teenoor dié van sy mededinger oorkant die straat raak later gekompliseerd en tegnies.

      Sean leun teen ’n rak vol handelsware, stop sy pyp en kry dit aan die gang terwyl hy wag en vir meneer Goldberg in aksie dophou. Die man moes ’n advokaat gewees het, sy argument is genoeg om eers vir Sean en uiteindelik ook die klant te oortuig. Laasgenoemde betaal, tel die sak op sy skouer en loop brom-brom by die winkel uit terwyl meneer Goldberg hom natgesweet en rooi in die gesig agternakyk, ingenome met sy prestasie.

      “Jy’t niks gewig verloor nie, Izzy,” groet Sean hom.

      Goldberg kyk oor sy goudraambrilletjie na hom, begin onseker glimlag en dan herken hy vir Sean. Hy knip sy oë van skok, skud sy kop so vinnig dat sy kieste dril wanneer hy vir Sean wys om agter hom aan te kom na die kantoor