dit vra nie.”
“Ek weet, juffrou Bruwer, en ek glo jou. Maar so sê die ander vier ook. Die een het ’n betroubare vriend of vriendin, die ander weer ’n tante of oom – en dis nie lank nie, of die storie lek tog maar uit. Verstaan jy?”
“Ja, ek begryp, maar ek hou nie daarvan nie,” sê sy reguit. “Dit voel vir my asof ek my ouers op die een of ander manier sal bedrieg. Watter rede gaan ek aanvoer omdat ek nie die vakansie huis toe kom nie?”
“O, ons sal wel daardie probleem kan oplos. Dit sal noodsaaklik wees om hulle ’n bietjie te bedrieg, as jy dit so wil stel. Maar dink net watter verrassing wag teen die end op hulle – of is jou pa so welaf dat so ’n reusebedrag nie veel verskil aan hom sal maak nie?”
“Nee, my ouers is arm en daardie spul geld sal ’n groot uitkoms wees,” erken sy eerlik.
Die prokureur kyk haar ernstig aan.
“Nou ja, juffrou, dan dink ek werklik dat jy hierdie aanbod moet aanvaar. Ek is nie arm nie, juffrou, maar ’n bedrag met soveel nulle is baie geld, veral as ’n mens in ag neem dat jy dit as vergoeding gaan kry om vakansie te gaan hou! En ek sê reguit dat ek, as ek een van die uitverkore vyf was, nie ’n sekonde oor my besluit sou twyfel nie.”
“Maar moet ek u dan dadelik ’n antwoord gee?”
“Nee, maar nie later as môreoggend tienuur nie. Indien jy weier om te gaan moet daar nog genoeg tyd oor wees om iemand anders in jou plek te soek.”
Irma staan op.
“Nou goed, meneer Berks. Ek sal jou voor môreoggend tienuur my besluit laat kry. Baie dankie.”
Voordat hy die deur vir haar oopmaak, herhaal hy weer: “Dis dan reg so, juffrou Bruwer, maar asseblief nie ’n woord hiervan aan enigiemand nie. Het ek jou plegtige belofte?”
Sy glimlag. “Goed. Ek belowe.”
Irma se gedagtes is in ’n opgewonde warboel toe sy eindelik die koshuis bereik en haar kamerdeur agter haar toedruk. Sy skop haar skoene uit en sak op die bed neer. Sy sit ’n oomblik stil en lag dan hardop.
“Wel, slaan my dood!”
Sy gaan in haar gedagtes elke woord na wat die prokureur haar vertel het. En toe sy aan die einde kom, kan sy nog nie glo dat dit werklik waar is nie. Vir ’n kind wat arm grootgeword het, is die bedrag wat hy genoem het baie geld – ’n fortuin. En dit lê binne haar bereik …
Maar tog is dit al asof daar iets is wat haar hinder, hoewel sy nie haar vinger daarop kan lê nie. Die prokureur se verduidelikings het oortuigend geklink solank sy daarna geluister het. Selfs nou, terwyl sy weer al die indrukke en woorde in haar gedagtes rondsif, kan sy geen fout daarmee vind nie. Dis ongelooflik wonderlik – maar tog heeltemal moontlik. Dis tog al deur en deur bewys dat die werklikheid soms baie meer ongeloofbaar is as fiksie. En dat ’n mens wel baie eksentrieke mense kry, is nie altemit nie. Maar dat sy, Irma Bruwer, ooit eendag met so ’n eksentrieke, ’n mens kan amper sê ongebalanseerde persoonlikheid te doen sou kry, en dat sy boonop nog so ’n fabelagtige bedrag op die koop toe kan kry, sou sy in haar stoutste verbeeldingsvlugte nooit kon droom nie. Maar dit het gebeur!
Al wat haar geweldig hinder, behalwe die onverklaarbare gevoel van onrus dat iemand êrens ’n strik vir haar gestel het, is dat sy haar ouers sal moet bedrieg. Dis natuurlik as sy wel die aanbod aanvaar en besluit om met hierdie vakansie weg te gaan. Maar as sy daaraan dink wat dit vir haar ouers sal beteken wanneer sy teen die end van aanstaande maand so ’n tjek voor hulle kan neersit, wonder Irma of dit werklik ’n groot oortreding sal wees as sy hulle net so ’n klein, klein ratjie voor die oë draai …
In haar verbeelding sien sy die hele toneel voor haar. Sy sal, wanneer die maand verstreke is en sy die tjek ontvang het, ten eerste ’n blink, nuwe motor vir haar pa koop – sy hartsbegeerte, hoewel hy dit nooit laat blyk nie. Dan sal sy in die nuwe, blink motor op die plaaswerfie aankom en voor die platdakhuisie stilhou. Sy glimlag ingenome en sug van ekstase. Sy sien al klein Driesie en Magriet se ronde ogies soos hulle bewonderend na die motor staar.
In haar verbeelding hoor sy haar pa se diep basstem in die rigting van die kombuis roep: “Vrou, hier is mense!” Dan sal haar ma haastig die voorskoot afhaal, effens senuagtig oor haar hare stryk en aan die groot bolla agterop haar kop tas. En dan sal die voordeur oopgaan en dan … Sy giggel soos ’n skoolmeisie. En dan sal sy uitklim. Nee, eers sal sy vir Driesie se onthalwe ’n paar keer hard op die toeter druk en dan sal sy uitklim en sê: “Pappie, kyk wat het ek vir Pappie gebring – ’n splinternuwe motor! En Mamma, hier in my handsak is nog ’n spul geld vir ons!” Hulle sal flou van skrik wees en dink hul dogter het dalk op ’n verkeerde pad beland. Maar nadat sy alles verduidelik het, sal hulle net so bly soos sy wees oor die wonderlike geluk wat hulle getref het. Mamma sal natuurlik hardop sit en huil, want sy huil altyd wanneer sy bly is. En Pappie sal miskien ook trane in sy oë kry, trane van dankbaarheid …
Irma snuif en vee vinnig oor haar oë. O, wat sal sy nie wil gee dat hierdie verbeeldingsvlug werklikheid word nie! Sy dink terug aan haar kinderjare en haar hart pyn. Droogtes en nogmaals droogtes. Die trekpad. Swak lammetjies wat wankelend op hul bene hardloop vir melk en dan keelaf gesny word. Saans om die tafel met die vetkers in die middel. Twee gebarste, vereelte hande saamgevou en ’n gebroke man wat met ’n dik stem smeek: “Vader, gee uitkoms – gee reën!” En dan die uitkoms, die reën. ’n Tydjie wat volg waarin ’n mens darem weer melk oor jou pap kry en suiker in die koffie. Net ’n rukkie. En dan begin dit maar weer van voor af aan – die siklus van droogte en ’n kort rukkie van verposing, van gebrek ly en net genoeg kry. Met verbasing besef sy dat haar ouers nie werklik oud is soos sy altyd aan hulle dink nie, maar op vyf en veertig lyk haar pa soos ’n ou man wat reeds lewensmoeg is, haar ma soos ’n vrou wat ’n eeu se swaarkry agter die rug het. En Irma weet dat sy hierdie kans nie durf laat verbygaan nie. Sy kom tot ’n besluit: sy sal gaan. Toe sy eindelik sekerheid het oor wat haar te doen staan, begin die opgewondenheid van haar besit neem. Wat wag op haar in die nabye toekoms? Is alles werklik so eenvoudig as wat dit klink? Sy kan maar nie die gevoel van haar afskud dat daar êrens iets is wat nie pluis is nie. Maar wat dit ook al mag wees, ter wille van haar ouers sal sy daardie risiko moet waag.
In ’n ander deel van Pretoria, in een van die welvarendste woonbuurte van die stad, kyk twee mans mekaar vas aan en die een vra fronsend: “Skeer jy nou die gek met my?”
“Moenie laf wees nie. Ek het nog nooit aan my verbeelding gely nie. Maar ek kan jou nie kwalik neem as jy dit nie wil glo nie. Om die waarheid te sê, ek wonder nog self of ek dit nie maar gedroom het nie. Dis so … fantasties! Dis net mal mense wat sulke dinge doen!”
“Dus is hierdie ding wat jy my vertel het, die heilige waarheid, op jou woord?”
“Op my woord,” antwoord die ander beslis. “Ek moes ’n plegtige belofte aflê dat ek geen lewende siel hiervan sal vertel nie.”
“Hoekom het jy dit dan vir my vertel?”
Die man kyk die ander onseker aan.
“Omdat ek so ’n vreemde gevoel het dat alles nie pluis is nie,” sê hy dan.
Die ander man se skerp, donker oë kyk stip.
“Wat laat jou dit sê?”
“Ek weet nie,” en hy trek sy skouers op. “Daar is net iets aan die hele besigheid wat my onrustig maak. Ten eerste: waarom is ék juis een van die vyf uitverkorenes? Waar kom daardie oubaas aan my naam? Ek ken nie eens daardie deel van die wêreld nie – was nog nooit daar nie. En alles is so geheimsinnig. Niemand mag hiervan weet nie, selfs nie ons huismense nie. Met ander woorde, ons vyf moet so te sê ’n maand lank van die aardbol af verdwyn – net om op ’n sekere eiland te gaan vakansie hou. Indien daar gedurende hierdie tyd iets met ons gebeur, sal geen haan ooit daarna kraai nie. Geen siel weet waar ons ons bevind nie. En daarna word ons elkeen ’n bedrag wat swaar dra aan al die nulle in die hand gestop en totsiens gewuif. Jy weet, dit maak dit ’n totale bedrag van hoeveel miljoen! Nee, daar is iets wat nie reg klink nie.”
Sy stem is beslis. Die ander staan op en begin