julle moet maar solank inklim. Ons sal nog so ’n paar minute wag, maar nie langer nie.”
Hulle gehoorsaam, en die motore van die vliegtuig dreun reeds toe ’n motor in volle vaart aangery kom.
“Jy is laat, meneer De Woud,” uiter meneer Berks sy ontevredenheid hardop. Die vyfde passasier steur hom egter nie veel aan die vermaning nie en mompel net ’n verskoning terwyl hy haastig agter om die motor loop om die taximan met die bagasie te help.
“Jy moet maar dadelik inklim. Die ander vier is al binne.”
“Dankie. Totsiens, meneer Berks.”
“Totsiens.”
Die deur klap agter die laatkommer toe, en die vyf passasiers ontvang dadelik die bevel om hul gordels vas te maak. Dan verdiep die dreuning en die vliegtuig begin vorentoe beweeg op die halfmaansirkel na die aanloopbaan. Enkele sekondes later snel die donker aarde onder hulle verby, en skiet hulle die swart naghemel in. Eindelik kan hulle die gordels losmaak. Almal se oë keer nou nuuskierig na die laatkommer wat ewe op sy gemak sy pet afhaal.
Jan Odendaal draai om in sy sitplek en loer oor die rugleuning na die vreemdeling. Hy kyk hom vriendelik aan en steek dan sy hand uit. “Ek is Jan Odendaal.”
Die vreemdeling neem sy hand. “Anton de Woud. Aangenaam.”
“Laat ek jou voorstel. Emerit de Jager en Irma Bruwer, Carlyle Faure. Dames en heer, dit is Anton de Woud.”
Hulle erken die bekendstelling met ’n knik van hul koppe en Irma let op dat Anton de Woud se blik skerp, deurdringend oor elkeen afsonderlik dwaal. Terwyl sy oë bestuderend op die ander rus, neem sy die kans waar om hom op haar beurt noukeurig te beskou.
Hy het ’n besonder hoë voorkop, wat onsin of feit, baiekeer die eienskap is van mense met ’n besonderse intelligensie. Sy hare is swart en dis of dit effens wil golf. Naas Carlyle Faure sal hy geensins as aantreklik beskryf word nie, maar tog is daar iets in sy gelaatstrekke wat ’n mens onwillekeurig boei. Hy dra bril, maar die wakker, staalgrys oë agter die donker rame wek geensins die indruk dat hulle swak sien nie. Inteendeel. Daar is iets deurdringends aan die manier waarop hy na sy medepassasiers kyk, asof hy gewoond daaraan is om sy medemens op te som en te probeer peil.
Naas Jan Odendaal se effense gesetheid vertoon hy ietwat aan die skraal kant. Of miskien is dit omdat hy so ’n lang man is – goed twee meter. Maar sy breë skouers verraai verskuilde krag en vir Irma kom hy voor soos ’n styfgespanne staalveer wat elke oomblik kan losskiet. Sy is self verbaas oor hierdie vergelyking, want die man sit ontspanne agteroor geleun in sy stoel, en sy gesig is uitdrukkingloos terwyl sy bewegings rustig en kalm is. Sy skeur haar blik weg van hom en kyk deur die ruit na die donker naghemel maar, vreemd genoeg, bly sy intens bewus van die man wat skuins agter haar aan die ander kant van die paadjie sit.
Die ander begin eers voel-voel met mekaar gesels maar later vlot dit, en Irma luister belangstellend toe terwyl Jan Odendaal die een na die ander skaamteloos uitvra.
Emerit de Jager is ’n model en Jan Odendaal ’n onderwyser wat tot in sy siel toe sat is “van kinders wat nie weet in watter jaar Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het nie”. Carlyle Faure is ’n toneelspeler, renmotorjaer, gewigopteller en – om siel en liggaam aan mekaar te hou – kantoorklerk.
“En jy, meneer De Woud? Wat doen jy vir ’n bestaan?”
“Ek skryf stories.”
Jan Odendaal kyk hom verbaas aan.
“Jy is ’n skrywer? De Woud … De Woud … Ek het nog nie so ’n naam in die skrywerswêreld teëgekom nie.”
“Jy sal ook nie. Ek skryf onder ’n skuilnaam.”
Dis Carlyle Faure wat die vraag op almal se lippe stel en Anton de Woud kyk hom openlik verveeld aan.
“Meneer Faure, dis veronderstel om ’n geheim te wees.”
Hy keer hom vinnig na die jong meisie skuins voor hom en vra reguit: “En jy, juffrou Bruwer, wat doen jy?”
“Ek is op kollege, meneer.”
Jan Odendaal glimlag.
“Ja, sy is maar so pas uit die bottelstadium. Aangesien ek die oudste van ons vyf is, sal ek maar ’n vaderlike oog oor haar moet hou.”
Anton de Woud toon geen verdere belangstelling nie, maar sak nou dieper in sy stoel weg en gooi sy pet oor sy gesig. “Verskoon my, maar ek gaan so ’n bietjie dut.”
“’n Goeie plan. Ek dink ek gaan jou voorbeeld volg,” laat Emerit de Jager hoor, en een na die ander skuif hulle hulle gemaklik in hul stoele reg. Eerlank haal almal diep en rustig asem, terwyl hulle na hul bestemming snel.
Teen halfses die oggend stryk die vliegtuig op ’n groot, oop plaat ’n paar kilometer buite Kakamas neer. Dis nog effens skemer maar die landing geskied sonder probleme. ’n Stasiewa en klein vragmotor wag op hulle, en sodra al die bagasie van die vliegtuig afgelaai en agter op die vragmotortjie gepak is, vertrek die vliegtuig weer en staan die groepie van vyf hom stilswyend en agternakyk.
“Nou ja, totsiens, beskawing. Kom, die motor wag. Laat ons ons tot die laaste skof wend,” merk Jan op. Irma sien dat die vragmotortjie reeds vertrek het. ’n Swart man hou vir hulle die deure van die stasiewa oop en hulle bondel in. Toe Jan ’n gesprek wil aanknoop om meer besonderhede oor hul bestemming uit hom te kry, skud dié net sy kop en swyg.
“Hy is stom,” stel Anton ’n verergde Jan in kennis en dié laat vaar toe maar sy pogings.
Die motor slinger etlike kilometers op ’n slegte grondpad en beland dan eindelik op ’n snelweg. Kakamas word agtergelaat, en omtrent vyftien kilometer anderkant Kakamas, op die Keimoespad, swenk die bestuurder van die pad af en slinger tussen digte bosse en kokerbome deur totdat die rivieroewer skielik voor hulle opdoem. ’n Vlot wag op hulle om hulle oor te neem na die eiland, wat van die oewer af sigbaar is. Ná sowat ’n kwartier staan hulle eindelik weer op vaste grond. Hulle het by hul bestemming aangekom.
Vandat hulle die vliegtuig verlaat het, het niemand juis iets te sê gehad nie. En ook nou, terwyl hulle hul oë oor die digbegroeide eiland – of liewer, die klein deeltjie wat hulle daarvan kan sien – laat dwaal, is daar stilte.
Dis Emerit wat eerste die stilte verbreek en ’n senuagtige laggie laat hoor: “Wel, hier is ons. Dit … dit lyk maar taamlik verlate.”
Jan Odendaal laat sy blik om hom dwaal. “Ja. Ja-nee, ons sal mekaar nie doodtrap nie, dis seker.”
Die swart man voeg hom by hulle en wink met sy hand dat hulle hom moet volg. Stilswyend gehoorsaam hulle en binne ’n paar sekondes verdwyn hulle tussen die digte bosse al dieper die eiland in. Jan stap voor, net agter die swart man. Dan volg Emerit, Carlyle, Irma en Anton de Woud in dié volgorde.
En terwyl hulle stap, voel dit vir Irma asof hulle soos ’n klomp skape na die slagplek gelei word. Sy weet dat dit ’n verspotte gedagte is, maar nietemin loer sy telkens onrustig oor haar skouer na agter, en te oordeel na Anton de Woud se gesig, vind hy blykbaar ook niks prettigs in hierdie uitstappie nie.
Later voel dit vir Irma asof sy kan omdraai en terughardloop – want sy weet meteens dat daar iets onheilspellends in die stilte om hulle hang, dat daar iets op hulle wag, dat in hierdie miniatuur-oerwoudjie iets ontsettends gaan gebeur. En sy weet, ja, sy wéét dat sy nooit hierheen moes gekom het nie.
2
Meteens maak die bosse voor hulle oop. Hulle kom gelyktydig tot stilstand en staar woordeloos na die ou huis voor hulle. Dis ’n groot huis, outyds, en aan die een kant is daar ’n deel wat hoër as die res geleë is en soos ’n toring vertoon. Reg voor hulle loop ’n hoë doringdraadheining wat blykbaar die hele gebou omsirkel. Dis meer as twee meter hoog. Twee swaar ysterhekke verleen toegang tot die terrein rondom die huis.
“Hemel! Dit lyk na ’n konsentrasiekamp!” merk Jan Odendaal op en hulle kyk vinnig, onseker na mekaar.
Dis net Anton de Woud wat