Ena Murray

Ena Murray Keur 8


Скачать книгу

      Sy kyk in sy oë op en glimlag gerusstellend, terwyl sy wonder of dit nie maar net sy skrywersverbeelding is wat vir hom dinge optower wat nie werklik bestaan nie. Miskien is almal se senuwees maar ’n bietjie op hol en sal hulle môre, ná ’n goeie nagrus, skaam voel dat hul verbeelding vandag so die oorhand oor hulle gekry het.

      Maar pleks daarvan dat haar gerusstellende woorde hom kalmeer, voel sy hoe hy verstyf en sy sien dat hy woedend is.

      “Goed, Irma, jy dink dis my verbeelding. Ek wou jou dit nie wys nie, omdat ek jou nie graag wil ontstel nie. Maar kom kyk hier.”

      Hy neem haar aan die hand en trek haar na die deur. Met een beweging ruk hy dit oop en wys met sy vinger.

      “Sien jy wat ek sien? Kyk daar! Glo jy nog dat dit my verbeelding is, of kan jy ’n redelike, alledaagse verklaring daarvoor gee?” Hy wink met sy hand die gang af terwyl hy vervolg: “Daar is nog iets wat ek jou wil wys. Miskien sal dit jou nog meer oortuig dat ek reg is as ek sê dat ons ons sterre sal kan dank indien ons ooit weer lewend van hierdie eiland af wegkom!”

      3

      Irma staar geskok na haar kamerdeur. ’n Yale-slot is aan die buitekant van die deur aangebring en nie aan die binnekant soos dit gewoonlik gedoen word nie. Dan dwaal haar blik na die ander deure. Aan die ander vier deure in die gang is ook identiese slotte aangebring. ’n Yskoue rilling skiet langs haar rug af.

      Die swart man na wie Anton gewink het, kom nader. Anton haal ’n geldnoot uit sy sak en hou dit omhoog.

      “As jy vir die juffrou jou mond wys, kan jy dit kry,” sê hy op fluistertoon – en die swart man se oë glinster toe hy die geld sien.

      Hy maak sy mond gehoorsaam oop en Anton se stem is grimmig terwyl sy hand teen haar rug haar nader druk.

      “Dis nie aangenaam om dit te sien nie, Irma. Maar kyk goed hoe lyk dit binne-in sy mond.”

      Irma gehoorsaam teësinnig en die volgende oomblik snak sy hoorbaar na asem terwyl sy in die oopgerekte mond van die swart man staar.

      “Anton! Dis … afgryslik!” fluister sy skor, en druk haar gesig in haar hande.

      Anton oorhandig haastig die geldnoot aan die swart man en sy arm gly om Irma se skouers terwyl die een rilling na die ander deur haar liggaam gaan.

      “Kom. Ons gaan praat buite verder. Dis veiliger,” fluister hy by haar oor. Sy laat hom toe om haar weg te lei.

      Eers toe hulle buite hoorafstand van die huis kom, verbreek hy die stilte maar nog hou hy sy stem gedemp: “Ek is jammer, Irma. Ek moes dit seker nie gedoen het nie, maar dit was al manier om jou te oortuig dat wat ek gesê het die waarheid is.”

      Hy trek haar agter ’n bos in sodat hulle nie van die huis af sigbaar is nie, en sy kyk met oë vol vrees en afsku na hom op.

      “Maar, Anton, ek begryp nie … Wat makeer daardie man se mond? Dit het vir my gelyk asof hy geen tong het nie. Dis tog nie moontlik nie …” Sy swyg asof sy haar net nie sover kan bring om die grusame gedagte wat skielik by haar opgekom het, hardop uit te spreek nie.

      Hy hou haar skouers nog stewig vas.

      “Ja, dit is. Dis wat gebeur het. Daardie man, en so ook die ander twee, is nie van nature stom nie. Hul tonge is uitgesny! Besef jy wat dit beteken, Irma?”

      Hy trek haar bewende liggaam nader aan hom en sy is dankbaar om sy beskermende arms om haar te voel. Sy kyk hulpsoekend in sy oë op toe sy in ’n lae stem antwoord: “Ek wil nie aan die betekenis daarvan dink nie, Anton. Dis … ek kan dit nie glo nie!”

      “Dit beteken, Irma, dat hier iets op die eiland is of aangaan wat só vreeslik is, wat só geheim gehou moet word dat iemand – ek veronderstel ons gasheer – dit nodig gevind het om so ver te gaan om daardie drie mense se tonge uit hul monde te verwyder, sodat hulle niemand daarvan kan vertel nie.”

      Irma kry die bewing van haar liggaam nie gestil nie.

      “En die slotte aan die buitekant van die deure? Wat beteken dit?”

      Hy frons.

      “Ek weet nie presies nie, maar ek skat dis bedoel om ons binne te hou, veral saans ná tienuur. Ek wonder hoekom …?”

      Sy druk haar hande beangs teen sy bors vas.

      “En, Anton, dit beteken ook dat enigiemand te eniger tyd by ons deure kan inkom.”

      “Ja.”

      “En as daar iets met een van ons gebeur, sal van die ander hom of haar nie te hulp kan snel nie …”

      Sy lippe pers saam en sy vingers klem stywer om haar skouers vas.

      “Ja, dit is so,” erken hy, en sy kan die diepe kommer in sy oë sien.

      Sy maak haar oë toe en skud haar kop.

      “Anton, dis alles so ongelooflik!” roep sy hees uit. “Dis tog ’n beskaafde deel van die wêreld dié. Ek weet dat al hierdie dinge waarvan ons nou praat, werklikheid is. Maar … maar dis of my verstand weier om dit te aanvaar. Dit klink so … onmoontlik!”

      Hy knik begrypend.

      “Ek weet. Julle vier het hierheen gekom met die vooruitsig op ’n heerlike vakansie en nog ’n ongelooflike spul geld elk op die koop toe. En nou …”

      Sy kyk hom ondersoekend aan.

      “Anton, hoekom het jý hierheen gekom?” vra sy reguit, en hy kyk haar eers ’n rukkie stil aan voordat hy antwoord.

      “Nie om dieselfde rede as julle nie, maar dis al wat ek jou op die oomblik kan vertel.” Hy sien die onsekerheid in haar oë en vervolg haastig: “Ek weet dit klink … e … vreemd, geheimsinnig, maar ek kan eerlik sê dat my rede niks is om oor skaam te voel nie.”

      “En jy dink ons ander vier behoort skaam te voel?”

      “Ek het dit nie gesê nie,” verweer hy, maar sy kap vinnig terug: “Maar dis hoe jy daaroor voel.”

      “Goed. Dit is so.” Sy oë begin gevaarlik vonkel. “Ek het niks met die ander drie te doen nie, maar jy … Dit krap aan my om te dink dat jy …”

      Sy kyk hom verbaas aan.

      “Hoekom maak dit by jou soveel saak wat mý beweegrede was?”

      Hy beantwoord nie haar vraag nie, sê net kragtig: “As ek jou tog net van hierdie eiland af kan wegkry!” Sy blik dwaal soekend om hulle rond en vir Irma lyk dit asof hy desperaat is.

      “Anton! Wat …?” Sy is heeltemal verdwaas, en sy blik keer terug na haar.

      “Moenie so bang lyk nie, meisietjie. Jy hoef nooit iets van my te vrees nie. Dis net jammer dat jý een van die vyf is.”

      Haar senuwees, self nie meer van die sterkste nie, begin effens knak. Sy vererg haar skielik. “Jy sê ek hoef nie vir jou bang te wees nie, maar jý is die een wat my bang maak. Hoekom moes ek nie een van die vyf gewees het nie? Praat reguit. Jy praat in sirkels.”

      “Ek verwag dat die poppe van vanaand af al gaan begin dans. Het jy regtig so dringend geld nodig gehad om só ’n waagstuk aan te gaan?”

      Sy gooi haar hande moedeloos in die lug en sê: “Nee, nie ek nie. My ouers. My pa boer op ’n plasie in Namakwaland. Hulle is nie ryk mense nie. Daar was droogtes en …” Sy sug. “Hul hele lewe was nog ’n bestaan van die hand in die tand. Toe hierdie kans hom voordoen … Dis baie geld vir iemand wat nog altyd finansieel noustrop getrek het. Dit sal so baie vir hulle beteken …”

      Haar stem sterf weg, en die man laat sy kop skaam sak. Hy trek haar saggies nader.

      “Ek is jammer. Ek het te gou geoordeel. Vergewe my. En wees tog versigtig – veral vir Carlyle. Hy het ’n oog op jou.”

      “Ag, kom nou, Anton. Ons het mekaar ’n paar uur gelede die eerste keer ontmoet! Dis verspot om so iets te dink …”