…”
“Toe jok jy?” vra sy sag.
Handré knik en loer onderlangs na haar.
Sy druk hom liggies op die skouer. “Toemaar, belowe my net jy sal liewers volgende keer eers met my kom praat. Ek sal verstaan. Dis nie mooi om so te jok nie. Ek ken jou nie so nie.”
Sy blik ontwyk hare.
“Jou oom kom jou na skool haal en sal dan seker nuus van Mamma hê. Die dokters sal mooi na haar kyk. Al wat jy nou vir Mamma kan doen, is om ’n soet seun te wees.”
Handré knik. “Jammer, juffrou.”
Sy vryf sy koperblonde kuif deurmekaar en glimlag vir hom. “Ja toe, weg is jy!”
Die grondslagfase se skooldag is byna verby. Madelie doen nasorgdiens. Omtrent die helfte van die klas bly elke dag agter vir wagklas, aangesien hul boeties en sussies in die hoër grade eers oor ’n halfuur uitkom. Sommige werkende ouers kan ook eers later wegglip om hul kinders te kom haal.
Die heerlike somerweer maak dit moontlik vir die kinders om onder toesig buite te speel. Net voor die klok lui, roep Madelie vir Handré vorentoe en skryf gou haar selfoonnommer en adres voor in sy huiswerkboek. Sy verduidelik aan hom dat hy of sy oom haar enige tyd kan bel as daar ’n krisis is.
Hy knik terwyl ’n glimlag sy gesig ophelder.
Die klok lui, en die kinders storm na die speelterrein terwyl sy haar stoel na buite dra en onder ’n groot koelteboom gaan sit.
Sy glimlag terwyl sy kyk hoe Handré saam met die ander kinders speel. Vergete is die bekommernis van vroeër. Hoe wonderlik is dit nie om ’n kind te wees nie. So onskuldig. So maklik vir hulle om in die oomblik te leef. Dis eers later, as volwassene, dat ’n mens kan teruggaan na die kinderhartseer en dit oor en oor bedink, dit probeer verstaan en begin verwerk.
Op die ingewing van die oomblik skakel sy Suné Duvenhage se nommer. “Hallo, Suné, dis Madelie Botma hier. Hoe gaan dit daar? Ek hoor by Handré se oom dat jy in die hospitaal opgeneem is.”
“Madelie, hallo! Dis gaaf van jou om te bel. Dit gaan nou baie beter, dankie. Die dokters het vir my iets gegee om die kontraksies te stop, maar ek sal eers hier moet bly. Die sussies gaan beslis hul opwagting vroeër eerder as later maak. En die dokters gaan solank vir my steroïed-inspuitings gee om hul longetjies sterk te maak.” Suné se stem klink moeg.
“Ek is so bly dit gaan goed in die omstandighede,” sê Madelie al laat die gedagte aan Suné in ’n steriele hospitaalkamer haar maag op ’n knop trek. “Um … ek wil net seker maak … jou swaer was vandag hier … is dit reg as ek Handré in sy sorg laat?”
“O ja, beslis. Ag, jammer, ek moes jou laat weet het Handré gaan by Ian bly terwyl ons hier is. Maar alles het so vinnig gebeur …”
“Nee, nee, ek verstaan heeltemal.”
“Ai, Ian is so dierbaar om ons te help. Hy sien vir baie kans, want nou moet hy die praktyk daar op die dorp ook nog alleen behartig. Gelukkig begin nog ’n dokter aan die einde van die maand daar werk.”
Gmf, dink Madelie. “Dierbaar” is nou nie juis die woord wat sy sou gebruik het om hom te beskryf nie.
“Ek is so bly julle het uiteindelik ontmoet. Ek het nogal gedink julle twee sal goed oor die weg kom …”
“Um … wil jy dalk gou met Handré gesels? Hy is nog hier saam met my op die speelterrein,” verander sy gou die onderwerp. Suné maak ’n reusefout as sy dalk Kupido wil speel. Sy wat Madelie is, soek beslis nie ’n verhouding met ’n dokter nie.
“O ja, asseblief. Ek mis hom al klaar.”
Madelie roep hom gou nader. Sy gesiggie blom sommerso.
Madelie kry meteens die gevoel dat sy dopgehou word. Sy kyk om. Twee treë van haar af staan die beterweterige dokter. Hulle kyk mekaar vir ’n oomblik opsommend aan voor hy naderkom. Haar hart skop. Die man is nou eenmaal aantreklik.
“Pla jy my skoonsuster wraggies in die hospitaal? Sy mag nie nou ontstel word nie,” sê hy met ’n frons.
“Wel, ek moet seker maak jy is wie jy sê jy is. Ek doen net my werk. Hoekom sal ek haar nou ontstel? Ek stel haar juis gerus.”
“Ek hoor jou! Tog glo ek ’n blinde sou vandag kon sien dat ek Handré se oom is.”
“Nogtans.”
Sy een duim glip in sy broeksak, en dit trek haar aandag na sy smal heupe. Hy is nou wel aantreklik, maar hy bly ’n dokter en ’n baie arrogante een daarby. Sy hoop hul paaie loop sommer vandag uitmekaar.
Hy kyk haar met ’n broeiende uitdrukking aan. “Is jy altyd so koppig en eiewys?”
Madelie lig haar een skouer ongeërg en bly hom ’n antwoord skuldig. Hy kan hierdie ronde wen. Sy is nie lus vir drama nie, veral nie op die speelterrein nie.
Handré trek skamerig aan sy oom se hand. “Oom Ian, juffrou het vir Mamma gebel, en ek kon met haar praat. Mamma sê sy voel beter, ek moenie bekommerd wees nie.”
“Ek is bly, ou grote! Kom ons ry. Sê totsiens vir jou juffrou en kry jou tas.”
“Jippie, gaan ek nou saam met oom?”
Ian knik vir die seuntjie.
“Baai, juffrou.”
Madelie lig haar hand en glimlag vir Handré.
Ian knik sy kop en draai om. Hy loop met lang treë agter die seuntjie aan wat oop en toe op pad is na ’n silwer viertrek.
Haar oë volg hulle tot by die voertuig. Sy kyk hoe hy die deur vir die seuntjie oophou en die tas van sy rug afhaal voor Handré soos ’n bal inbons. Dan loop hy agter om die voertuig om die tas agterin te bêre. Toe hy by die bestuurderskant inklim, sit hy sy sonbril op en draai sy gesig terug na die speelterrein.
Sy kyk vinnig weg en haal ’n denkbeeldige rafeltjie van haar rok af. Haar hart tamboer in haar binneste, en sy voel hoe haar lyf warm word. Sy hoop hy het nie gesien hoe sy soos ’n agie na hulle kyk nie. Dit was ’n ontstellende dag. Dalk was sy tog maar ’n bietjie bars met die man? Maar hy het daarvoor gesoek. Storm haar lewe binne en krap haar siel deurmekaar. Maar dis mos nou als verby. Dit was tog net ’n misverstand.
Nasorgdiens is byna verby. Die meeste van die kinders is reeds huis toe. Sy probeer haar gedagtes doelbewus weglei na klein Sanet en die kunsklas vanmiddag. Wat sal sy vandag vir die talentvolle dogtertjie leer?
Maar dis asof haar gedagtes net nie hokgeslaan wil word nie. Sal Ian ooit onthou om vir Handré kos te gee? Hy word darem seker ook honger? Nee, Madelie, hou jou neus in jou eie sake, maan sy haarself. Daardie dokter sal in elk geval nie jou raad wil hê nie.
2
Die nuwe dag breek wolkloos aan. Madelie sluit die klasdeur oop terwyl Handré en Arno haar boeke na binne dra. Dis tog te oulik hoe hulle haar reeds vroeg ingewag het, gereed om haar boeke te help dra toe sy in haar Volla stilhou. Vandag moet die klas gister se agterstand inhaal, en dan wil sy kuns met die kinders doen.
“Dankie, julle twee.” Twee glimlaggende gesiggies kyk blinkoog na haar en maak haar hart warm. Dis hoekom sy hierdie werk doen. Kinders is nog so onaangeraak deur die lewe en so opreg. Wat ’n voorreg om elke dag met hierdie vars jong geeste te werk.
Handré glimlag en babbel opgewonde. “Juffrou, ek en oom Ian was gisteraand by Mamma. Ek het sommer op haar bed gesit en TV gekyk. Pappa het vir my ’n nuwe rekenaarspeletjie gekoop en toe ons huis toe kom, het oom Ian vir ons pizza gekoop. Ek het by sy woonstel op sy rekenaar gespeel.”
“Het Pappa nie gisteraand saam teruggekom nie?”
“Nee, hy bly by oupa en ouma in Welkom tot Mamma uitkom.”
“Sjoe, maar dis darem gaaf dat hulle daar bly, nè?”
Hy knik. “Juffrou moet een aand by my en oom Ian