Lilian Paramor

Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids


Скачать книгу

verminder.

      Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

      As dié raad nie genoeg verligting bring nie. Gebruik slegs teensuurmiddels wat deur jou dokter of apteker voorgeskryf is, omdat jou stelsel gedurende swangerskap reeds meer alkalies is.

      GESONDE GESLAGSDELE EN URIENWEG

      Daar is nie een deel van ’n vrou se liggaam wat nie deur swangerskap geaffekteer word nie, maar die voortplantingsorgane word uiteraard by verre die meeste geraak. Daarbenewens is vroue dikwels meer vatbaar vir infeksies, aangesien jou immuunstelsel onderdruk word sodat jou liggaam nie die baba verwerp nie.

      Bestaande toestande kan meer akuut word en irritasies soos sproei word meer algemeen omdat swangerskap jou liggaam se pH-balans verander. Daarom is die kanse om sistitis of blaasinfeksies te ontwikkel ook groter wanneer jy verwag.

      Die twee algemeenste vaginale infeksies is vaginale candida (sproei) en bakteriële vaginose (BV). Albei kan die kanse op voortydige kraam verhoog en dit is dus noodsaaklik dat dit behandel word.

      1.Candida

      Meer daaroor:

      •Vaginale sproei (ook bekend as candida of ’n gisinfeksie) word deur ’n fungus veroorsaak. Alhoewel dit ’n verleentheid kan wees, is vaginale sproei algemeen tydens swangerskap.

      •Die simptome sluit ’n onwelriekende, dik wit of geel vaginale afskeiding, ’n gejeuk en branderige gevoel in. In sommige gevalle is daar ook effense bloeding.

      •Vaginale sproei moet behandel word om te keer dat jou baba dit opdoen as jy natuurlik geboorte gaan gee. Dit sal dan as mondsproei manifesteer.

      •Jou maat moet ook behandeling ontvang om te keer dat jy weer dieselfde infeksie opdoen. Hy kan dieselfde vaginale room as jy gebruik of ’n ander voorskrif by ’n dokter of apteker kry.

      Tuissorg:

      Gelukkig is dit redelik maklik om sproei te behandel.

      ✓Die homeopatiese middel calendula is spesifiek geskik vir sproei in vroue, babas en selfs mans.

      ✓Neem die weefselsout Kali Mur drie keer per dag as ondersteunende behandeling.

      ✓Moenie badskuim gebruik nie. Voeg liefs ’n paar druppels teeboomolie of essensiële laventelolie by jou bad.

      ✓Dra katoenonderklere en vermy sintetiese stowwe.

      ✓Moenie douche nie!

      ✓Neem minder verwerkte suiker en koring, asook suiwel- en graanprodukte in en sny kos soos gepekelde groente wat gis bevat heeltemal uit.

      ✓Wend calendula-room uitwendig aan om jeukerigheid en branderigheid te verlig en die vel te help genees.

      ✓’n Kursus probiotika sal jou minder vatbaar maak vir candida-infeksies, veral as jy onlangs antibiotika geneem het, en kan vaginale sproei behandel.

      ✓Talle vrouehigiëneprodukte bevat probiotika. Die meeste is veilig vir swanger vroue en kan sonder ’n voorskrif gekoop word.

      ✓Jy sal tien teen een die beste resultate behaal as jy twee of meer van dié wenke kombineer.

      Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

      •As dié raad nie help nie, het jy moontlik ’n voorskrif vir antiswam-medisyne of antibiotika nodig. Raadpleeg egter jou dokter of apteker en lees die biljet in die verpakking sorgvuldig; sommige medisynes is nie veilig vir swanger vroue nie.

      •As dié raad glad nie help nie, het jy moontlik ’n ander infeksie soos BV of ’n seksueel oordraagbare infeksie wat ander behandeling nodig het.

      2.Bakteriële vaginose (BV)

      Bakteriële vaginose (BV) is ’n bakteriese infeksie en word geken aan vaginale irritasie en ’n gladde, onwelriekende witgrys afskeiding wat meer opmerklik is ná omgang. Tot 60% van vroue met BV toon egter geen simptome nie en dit maak dit nie pynlik om te urineer of seks te hê nie. Doktersbehandeling is nodig.

      3.Ander seksueel oordraagbare infeksies (SOI’s)

      Hierdie infeksies word tydens seksuele kontak oorgedra. Simptome sluit ’n swaar, onwelriekende geel of groen vaginale afskeiding, vaginale irritasie en gejeuk, swere of sere op die geslagsdele, laerbuikpyn, pynlike urinering, geswelde limfkliere, koors of ’n algemene siek gevoel in. Dit kan lei tot ernstige langtermynkomplikasies as dit nie behandel word nie. Rapporteer dus enige simptome aan jou dokter.

      Weer eens is voorsorg beter as nasorg. Bly in ’n monogame verhouding met ’n maat vir wie jy lief is en vertrou of gebruik ’n kondoom elke keer wanneer jy genitale of orale seks het. Indien jy met ’n SOI gediagnoseer word, sal jy sowel as jou maat antibiotiese of antivirale medikasie moet neem om herinfeksie te voorkom.

      4.MIV/vigs

      MIV-toetse is beskikbaar vir alle swanger vroue as deel van hul roetinevoorgeboortelike sorg. Dit is vrywillig, maar dit is belangrik om daarvoor te toets. As jy MIV-positief is, is dit beter om vroeër eerder as later uit te vind, sodat jy die nodig medikasie kan kry en belangrike besluite omtrent jou baba se welstand kan neem. Indien jy weet dat jy MIV-positief is wanneer jy swanger raak, moet jy aanhou om jou medikasie te neem en jou vroedvrou, dokter of kliniek so gou moontlik raadpleeg.

      Indien jy MIV-positief is, moet jy in gedagte hou dat goeie voeding, gereelde oefening, ’n positiewe ingesteldheid en antiretrovirale behandeling alles ’n groot rol speel om ’n lang en gesonde lewe te verseker.

      Jou dokter of kliniek sal ’n behandelingsplan uitwerk wat jou én jou baba tydens swangerskap sal beskerm. Dit is uiters belangrik dat jy dié plan noukeurig volg om te verhinder dat jou baba ook met MIV besmet word. Dit kan beteken dat jou baba se kanse om MIV op te doen minder as 1% is. Jou dokter of kliniek sal waarskynlik reg deur die swangerskap bloedtoetse doen om jou virale lading te monitor en seker te maak dat die behandeling werk.

      Geboorte:

      Dit is belangrik om geboorte te skenk op die manier wat die veiligste vir jou baba sal wees. As jy al die nodige behandeling ontvang en goeie voorgeboortesorg het, is ’n normale vaginale geboorte die veiligste. ’n Keisersnee behoort slegs in ’n noodgeval gedoen te word of as jou virale lading uiters hoog is.

      Ná geboorte:

      Jou baba sal onmiddellik ná geboorte vir MIV getoets word en, ongeag die uitslag, op ’n kort kursus antiretrovirale (ARV) terapie geplaas word. Dit verlaag die kanse op infeksie drasties. As jou baba MIV het, sal hy dadelik met ARV-behandeling begin. As jou baba nie MIV het nie, moet jy hom nogtans fyn dophou om seker te maak dat die medikasie wat jy tydens swangerskap geneem het, hom nie aangetas het nie.

      Navorsing toon dat dit die veiligste is om jou baba vir die eerste ses maande van sy lewe nét te borsvoed as jy ARV-behandeling ontvang. Hy moet nie eens formulemelk kry nie. Daarna kan jy begin om hom geleidelik aan vaste kos bekend te stel terwyl jy hom ook borsvoed tot op een jaar. Wanneer hy genoeg vaste kos inneem om sonder borsmelk te kan voortgaan, kan jy hom stadigaan begin speen indien jy wil. Dit is egter nie nodig om dit nou reeds te doen nie.

      Kyk na jouself:

      Swangerskap is selfs in die beste omstandighede stresvol en daarom moet jy ’n punt daarvan maak om na jouself om te sien. Behalwe om met jou ARV-behandeling te volhard, moet jy ook baie vrugte en groente eet en genoeg oefening kry. As jy besonder gespanne is, moet jy jou dokter of vroedvrou inlig en vra om jou te verwys vir berading of ’n MIV-ondersteuningsgroep voor te stel waarby jy kan aansluit. Om goed na jouself om te sien, is die beste ding wat jy vir jou baba kan doen.

      5. Urienweginfeksie

      Meer daaroor:

      •’n Urienweginfeksie (UWI) of sistitis word veroorsaak deur bakterieë afkomstig van jou vel, dikderm of stoelgang wat in jou urienweg beland.

      •Vroue is meer vatbaar daarvoor omdat die rektum en uretra (blaaspyp) so na aan mekaar is.

      •Seksuele