tussen die twee. Dat haar jongste niks voel vir hierdie man behalwe vriendskap nie, kan enige aap sien. Hoe Philip oor die saak voel, kan sy nie sê nie. Sy gesig en veral sy oë gee niks weg nie en wat hierdie kastige verlowing beteken, kan sy in hierdie stadium nie peil nie.
“Wel,” sê sy laggend al bly haar oë skerp. “Baie geluk. Wat het geword van ouers vra?”
“Haai, Ma, niemand doen dit meer nie.”
Mevrou Meiring raak liggies aan haar dogter se wang. “Ek weet, Nicky, ek terg net. Ek sal tog daarvan hou om jou Philip beter te leer ken.”
Dis op die punt van Nicolette se tong om te sê hy is nie “haar” Philip nie, maar op daardie oomblik kom Elizma binne, haar een skouer skeef getrek soos sy haar swaar boektas dra en onder die ander arm ’n dik pak skrifte. Philip is onmiddellik by om te help dra en sy wys hom dankbaar waar om alles neer te sit. Terwyl sy vir mevrou Meiring groet, probeer sy hard om nie vergelykings te tref tussen Jack en Philip nie, want hoe meer sy van Philip sien, hoe sekerder weet sy hy is ’n man op wie mens kan staatmaak.
“Ons sal kom kuier,” belowe Nicolette haar ma. “Philip sal daarvan hou om Ma se tuin te sien. Hy’t ’n daktuin wat skrik vir niks.”
“Is dit so?” vra mevrou Meiring en begin plante praat met Philip. Sy wil ook nie vergelykings tref nie, maar sy onthou met pyn hoe Jack eendag sonder ontsag, maar met baie sjarme, haar eerste orgideë afgepluk het om dit langs haar bord te sit. ’n Galante gebaar, maar sy sou verkies het as die orgideë aan die plant gebly het. “Wag, ek moet ry. Ek kan nie heeldag met julle jongmense staan en babbel nie,” sluit sy af. “Ek sal vir jou steggies maak,” sê sy oor haar skouer vir Philip en waai by die voordeur uit in ’n wolk parfuum.
“Sjoe, dis verby,” sê Nicolette dankbaar.
Philip kyk haar geamuseerd aan. “Wat het jy verwag gaan sy sê?”
“Ek weet nie, dis juis die probleem.”
Jack is bly toe hy hoor sy het besluit om saam te kom vir die naweek; terselfdertyd lyk hy nie of hy ooit getwyfel het aan haar antwoord nie.
“Is jy seker die goeie Philip gee nie om nie?” vra hy met tergliggies in sy oë.
“Nee,” sê sy met haar kop omhoog. “Hy het werk om te doen en hy gee glad nie om nie.”
“Ek sal jou so agtuur Saterdagoggend kom haal,” sê hy. “En pak genoeg in, ons kom eers Maandagmiddag terug.”
“Ek wil met my eie motor ry.”
“Hoekom?” vra hy. “Daar is nie vreeslik baie parkeerplek nie, jy sal sien as ons daar kom. Die chalets sit soos neste teen die krans en soos dit is, gaan daar ’n klomp motors wees.”
“Hoeveel mense gaan?” vra sy agterdogtig.
Hy waai net sy hand deur die lug. “Ag, ons gewone klomp, maar daar is baie toerusting om saam te neem, behalwe die kos. Hugo bring al die vleis omdat sy oom ’n slaghuis het.” Hy gee haar ’n lysie. “Dis wat jy moet saambring. Elsa het mooi uitgewerk wat elkeen moet bring.”
Die Saterdagoggend staan Nicolette weer voor die ingang met haar tas en ’n boks kruideniersware, maar daar is verskille. In die eerste plek is dit nie ’n lieflike, stil, wolkelose oggend soos drie weke gelede nie, dis swaar bewolk en so ’n doureëntjie val soos wasem teen haar gesig en laat haar koud voel. In die tweede plek is Jack laat sodat sy koulik staan en rondtrap en in die derde plek sien sy al minder uit na ’n naweek by die see saam met ’n horde mense.
Toe Jack opdaag, is hy nie alleen nie. Elsa en haar vriend Martin sit agter in die motor, die bak is klaar volgelaai en sy moet voor sit met haar bene pynlik skeef gebuig om plek te maak vir die boks by haar voete.
“Dit lyk vir my na reën,” sê sy toe hulle ry.
“Ag, jy gaan dit nie eers agterkom nie,” verseker Jack haar. “Wag tot jy sien hoe mooi dit is.”
Elsa buig van agter oor en raak aan Nicolette se skouer. “Dis lekker om jou weer te sien, Nico.”
Nicolette gee ’n stywe glimlag en wonder hoekom dit net Philip is wat haar naam nooit afkort nie. Vir die res van die mensdom is sy Nic, Nicky, Nico en vir ’n ruk het Jack haar Lettie genoem om haar te treiter. Sy gesels nie eintlik saam terwyl hulle ry nie, maar sy dink oor haarself. As sy nie nou opvrolik en besluit om die naweek te geniet nie, gaan dit onplesierig wees. Dis haar eie besluit om saam te kom en as sy Jack nog ’n kans wil gee, moet sy minstens bereid wees om saam te speel.
Die chalets is inderdaad so mooi soos Jack belowe het en toe sy deur die een stap wat aan die meisies toegewys is, kom haar gewone optimisme na vore. ’n Lekker ruim woon-eetkamer, ’n mooi kombuisie en twee slaapkamers, elk met drie beddens in. Sy sit haar tas op ’n bed neer en gaan pak die kos in die kombuis uit. Behalwe Elsa is daar nog niemand anders nie en toe Nicolette voor die groot vensters staan en uitkyk oor die rotse en hoe die see daarteen spat, begin sy dink sy gaan die naweek geniet.
Die rustigheid is van korte duur. ’n Uur later is die ander daar en haar kop spin. Motors hou stil en mense peul uit. Die chalet is skielik vol meisies met tasse en sakke en bokse voorraad. Jasse en baadjies word oral neergegooi, die kombuis is vol mense wat tee of koffie maak. Die mans sak ook op hulle toe en daar is ’n gedreun van stemme, koppies wat klink, planne wat luidkeels aangekondig of verwerp word.
Ná ’n uur van chaos blyk dit dat die mans nou uitgaan op die boot en dat die kombuis nie vir kosmaakdoeleindes gebruik gaan word nie.
“Ons dra alles af na die braaiplek,” gebied Jack wat as leier optree. “Dan kan julle alles regkry en as ons met die boot inkom, kan ons braai.”
Nou word dit eers chaoties, want almal praat gelyk, besluit wat afgedra moet word en wat nie. Almal grawe deur kartonbokse en winkelsakke, herpak die goed, argumenteer oor hoeveel van alles moet saamgaan, wie die drank bring, wie die vuur gaan pak en aansteek. Die enigste genade, sover dit Nicolette aangaan, is dat die wolke lig en ’n flou son skyn teen die tyd dat hulle onder by die strandjie is. Daar is ’n hele paar klipbraaivleisplekke, maar net een het ’n sinkdak oor. Nie groot nie, maar tog. Daar is ook ’n lang betontoonbank en ’n ruwe wasbak en sy lei af dis eintlik die plek waar vis skoongemaak word. Op die oomblik is dit toegepak onder kos en snorkels en die hemel weet wat alles.
Die mans neem beurte om uit te gaan op die boot, aangesien dit net vier op ’n slag kan vat. Net om die boot in die see te kry, duur ure. Nicolette is verbaas toe sy sien dit is drie-uur teen die tyd dat die vuur brand en daar ’n mate van orde ontstaan tussen bakke slaai en hope broodrolletjies en kiste bier of wyn. Terwyl hulle wag vir die mans om terug te kom, gaan stap sy ’n ent en sit op die rotse vir ’n ruk. Dis inderdaad ’n baie skilderagtige, ongerepte baai, soos Jack belowe het. Sy wens net daar was nie soveel mense nie. Iemand het boonop ’n radio gebring en die musiek speel so hard dat mens nie die see of meeue kan hoor nie. Maar sy betig haarself vir die tiende keer om nie so krities te wees nie en die naweek te geniet.
Sy kry die gevoel dat niemand van haar verlowing weet nie, want niemand sê iets nie. Jack sou hulle seker ook nie vertel het nie. Hy is die hele tyd aan haar sy as hy nie op die boot is nie en sy moet erken dis lekker om weer by hom te wees, om te sien hoe hy almal kan saamsleur met sy planne en entoesiasme, soos altyd die onbetwisbare leier, die een wie se grappe snaakser is as die res, wie se voorstelle altyd dadelik aangeneem word.
Maar sy is moeg toe hulle die aand nog om die vuur sit en sy begin verlang na ’n warm stort en ’n sagte bed. Sy is kennelik die enigste een wat so voel; almal sit knus om die vuur, paartjies in mekaar se arms. Jack het sy duikpak uitgetrek en verklee en hy sit langs haar, sy arm om haar skouer. Dit hinder haar sonder dat sy kan sê waarom. Dis tog soos dit was, twee jaar lank. Die besitlike manier waarop hy met haar hare speel, is iets wat hy altyd gedoen het.
“Ek is baie moeg,” sê sy teen tienuur. “Môre is nog ’n dag.”
“Spoilsport,” kla Jack.
“Ek weet, maar ek is regtig nou koud en vaak.”
Een