Ena Murray

Ena Murray Keur 9


Скачать книгу

die trap loop hulle twee mans raak. Hy stel haar kort-af bekend aan dokter Fritz Kunneke en dokter Alf Bouwer. Eersgenoemde is ’n man van om en by sy eie ouderdom en laasgenoemde is middeljarig. Klaus Wagner en Fritz Kunneke skat sy so om en by twee tot vier en dertig.

      Petra is ’n verpleegsuster en smart en lyding is vir haar ’n bekende gesig. Maar dis iets waaraan ’n mens nooit werklik gewoond raak nie. Sy kon nie. Daarom dat sy die operasiesaal bo algemene verpleging verkies het. In die operasiesaal is ’n pasiënt onder narkose, voel hy niks en het hy nog nie bygekom wanneer hy daar uitgestoot word nie. Dan is haar werk afgehandel.

      Maar dis of dokter Wagner behae daarin skep om haar van bed tot bed te lei, om haar presies alles uit te wys indien enigiets haar blik mag ontsnap. Ook die pyn, die brandende vuur in die verminkte, verwronge liggame, die rou gesigte, lê voor haar bloot sodat sy met die naakte oog die werklikheid móét aanskou. Sy voel mislik toe hy haar eindelik by ’n kantoor instuur, ’n stoel aanbied en tee bestel.

      Sy drink in stilte, haar oë afgewend. Hy is ook stil. Dan sit sy haar leë koppie neer, kyk moedig op. “Wan … wanneer moet ek kom?”

      Lank staar die blou oë in hare. Sy draai weg, stap onseker na die lessenaar en tel haar handsak op, knip dit oop.

      “Wat doen jy?”

      Sy hou iets na hom uit. “Dis die eerste paaiement. Ek sal jou nog soveel gee die dag wanneer ek hier uitstap.”

      Hy kyk na haar uitgestrekte hand en dan is dit of hy ook skielik tot ’n besluit kom. Hy neem die tjek, sit dit in ’n laai en sy stem is baie professioneel toe hy antwoord: “So gou as wat dit gereël kan word. Wanneer kan jy kom?”

      “Ek het uit my werk bedank. Ek hou die einde van hierdie week op.”

      “Goed. Meld Sondagaand omstreeks sesuur aan. Ek sal Maandagoggend vroeg met die toetse begin. Daar is baie voorbereidingswerk voordat die werklike operasies begin. Kom, ek neem jou terug.”

      5

      Petra wag tot Sondagoggend voordat sy haar ouers van haar plan vertel.

      Sy is dankbaar dat Paula nie dié naweek huis toe gekom het nie, en ewe dankbaar dat Eugene ’n kongres bywoon. Nou sal haar ouers, wanneer sy hulle die nuus meedeel, nie miskien uit desperaatheid met hom in verbinding tree sodat hy haar tot ander insigte kan bring nie.

      En later as vanoggend kan sy nie wag nie, want vanmiddag om sesuur moet sy haar by Klaus Wagner se kliniek aanmeld.

      Terwyl hulle ná kerk in die tuin sit en tee drink, laat sy die bom los. Daar heers eers ’n volslae stilte ná haar kortaf aankondiging. Dis haar pa wat eerste sy tong terugkry.

      “Wat het jy gesê? Waarheen gaan jy?”

      Sy kyk hom stip aan, haar gesig ’n masker van vasberadenheid. Sy verwag teenkanting. Sy verwag kwaai teenkanting, maar sy is onverbiddelik.

      “Ek het gesê ek vertrek vanmiddag na ’n kliniek vir plastiese snykunde.”

      “Hoekom? Wat …? Petratjie, wat wil jy doen?” kom haar ma se ontstelde stem nou by.

      Sy kyk met ’n strak gesig na haar ma. “Ek gaan my laat mooi maak.”

      “Laat wat?” Twee paar oueroë staar hul dogter aan. “Petratjie! My kind! Hoekom? Daar is niks verkeerd met …”

      “Daar is, Mamma. Ek is lelik. Lelik en vet. Ek is moeg daarvoor om lelik en vet te wees en nou gaan ek iets daaraan doen. Ek gaan tante Petronella se geld gebruik om my só te laat verander dat ’n man daarvoor sal kans sien om met my saam te lewe.”

      “Petra!” Kerneels kyk wanhopig na sy vrou, dan weer terug na sy dogter. “Jy ruk hierdie hele ding uit verband. Eugene Minnaar het jou klaar gevra om met hom te trou. Dis nie nodig dat jy …”

      Koel, beslis val sy hom in die rede: “Daar is alle rede. En ek weet ook hoekom Eugene my gevra het om met hom te trou. ’n Lelike vrou is … ’n veilige vrou.”

      Man en vrou kyk vinnig na mekaar. Hulle het nog altyd vermoed daar lê meer agter die verbreking van haar verhouding met Eugene as wat sy wou voorgee. Die kommer van ’n moederhart lê vlak in Mara se oë.

      “Wat presies het tussen jou en Eugene skeefgeloop, my kind? En dis dit wat jou nou na hierdie dwaasheid dryf, nie waar nie?”

      Petra spring uit die tuinstoel op, keer haar rug vinnig op hulle. “Is dit so swaar om te begryp hoekom ek wil doen wat ek wil doen?” vra sy skor. “Julle weet … van al die vernederings deur die jare …” Haar kop sak laag. “Ek kan nie meer só lewe nie! Ek sal van my verstand af raak! Ek het nou die geld om dit te kan doen …”

      “Maar wat presies wil jy laat doen?” vra haar pa hard, sy stem bruusk van ontsteltenis.

      “Ek gaan vir my ’n nuwe gesig kry …”

      “Gesig! Gaan jy aan jou gesig laat … werk?”

      Sy draai terug en haar stem is hard van vasberadenheid. “Ja, Paps. Ek gaan aan my gesig laat werk. En ek gaan ’n streng dieet volg, of wat die dokter ook al voorskryf om van hierdie onooglike vet lyf ontslae te raak.”

      Haar pa is ook nou op sy voete. “Ek verbied jou! Ek verbied jou ten strengste om sulke dwaasheid aan te vang en dit net vir … vir …”

      Sy woordeskat laat hom in die steek, maar Petra voeg in haar gedagtes by: vroulike ydelheid? “Pa kan my nie verbied nie. Ek is mondig en my eie baas.”

      Mara tree vinnig tussenbeide, kom staan by haar kind en neem ’n bewende hand in hare. “Petratjie, ons het jou lief soos jy is. Ag, my kind …”

      “Ek weet, Mamma, maar dis nie genoeg nie. Ek gaan dit laat doen en niks wat u of Paps sê of doen, gaan my keer nie.”

      “Maar sê nou maar jy kom iets oor? Om so onnodig met jou gesondheid te speel …”

      “Ek sal niks oorkom nie. Ek is sterk en gesond. En dit is nodig … vir my is dit nodig, want ek sien nie meer kans om op dié manier te bly lewe nie. Dis kortliks waarop dit neerkom, Mamma. Dis iets wat julle moet begryp. Ek sien nie kans om langer te bly lewe as ek nie iets aan myself kan doen nie!”

      Dikwels is daar oomblikke van stomme verbasing in ouers se lewens. Dié is een van daardie oomblikke.

      “Het jy … het jy al die reëlings getref? Ek bedoel, is alles al klaar …?”

      “Ja. Alles is klaar gereël. Die behandeling begin môreoggend.”

      “Waar?”

      Sy aarsel, kyk hulle onseker aan. “Ek … dink nie ek moet julle sê nie.”

      “Petra! Maar ons móét weet! Hoekom wil jy nie …?”

      “Omdat ek nie wil hê julle moet my kom besoek terwyl ek daar is nie. Niemand moet my besoek nie. Niemand nie.”

      “Nie eens ek en Pappa nie? Ons is jou ouers, Petra, en ons het jou lief, my kind. Ons is bekommerd oor jou. Ons belowe ons sal nie vir Eugene … en ook nie vir Paula sê as jy dit so verkies nie, maar …”

      “Is dit ’n belofte, Mamma? Op u woord van eer?”

      “As jy dit werklik so verkies. Op my woord van eer. Maar ons, Petratjie, ons móét weet, asseblief!”

      Petra sug hoorbaar. “Nou goed dan. Ek gaan na die Wagner-kliniek net hier buite die stad.”

      “Die Wagner-kliniek? Maar dis ’n private kliniek. Dis peperduur daar!” protesteer haar pa en sy glimlag skrams, ’n glimlaggie wat die moederhart laat skeur.

      “Wat maak dit saak? Ek het sakke vol geld, onthou Paps nie?”

      “Maar, my kind …”

      “Dis net dokter Klaus Wagner wat sal kan doen wat ek gedoen wil hê. Dis net hý wat aan my sal werk.”

      Haar pa skud sy kop, sug