die kamers by PMK. En waar sal ons ’n ander backup-ginekoloog kry as ons van Protea af moet weggaan? Mens skop dokters soos Peet de Wit nie agter elke bos uit nie. Hy’s ’n uitstekende gynae én hy is ten gunste van vroedvroue en van natuurlike geboorte omdat hy so lank in Europa gewerk het.”
“Peet werk nie uitsluitlik by Protea nie. Doen heel eerste navraag by die ander hospitale waar hy spreekkamers het. Dan kan jy ten minste die vennootskap met hom behou. Moontlik kan hy selfs vir jou ’n goeie woordjie daar doen.”
Huiwerig stem Mila in. “Oukei, ek beter my sokkies optrek en begin uitvind. Ek weet nie hoe lank ek nog bevallings in die eenheid sal kan doen nie, en my pasiënte is baie benoud.” Sy skud haar kop weer vies. “Dis wreed om dit aan swanger vroue te doen. Die hospitaal behoort te weet hulle voel kwesbaar en dat skielike veranderings hulle ontstel.”
“Nou maar sê dit vir die bestuur, Mila! Swiegers is nie onmenslik nie, en Reynders lyk vir my ook soos ’n ou met wie ’n mens kan praat. As jy hulle nie kan kry om jou ekstra tyd te gee nie, is ek seker ’n goed geplaasde koerantberiggie sal hulle van plan laat verander.”
“Ek weet nie so mooi nie, jong! Dit voel vir my of ek my vingers lelik verbrand het met hierdie uitlatings in die pers. Derek het my gewaarsku dat ek gaan seerkry, dat ek nie mans genoeg is om met die grootmenere van hospitaalbestuur te kompeteer nie, en seergekry het ek ook. Hierdie laaste vreeslike berig sal my twee keer laat dink voor ek Liesel weer vra om oor iets te skryf!”
Lise-Marie lag hartlik.“Toemaar, Mila, ek’s seker dokter Reynders lek so in die stilligheid ook maar sy wonde. Dit kan nie maklik wees om nuwe pasiënte in ’n vreemde dorp – heng, ’n vreemde provinsie – te kry as die pers jou as ’n ‘winsjagter’ en ’n ‘wolf in skaapklere’ bestempel het nie! Enige mamma sal haar bloedjie teen só ’n pediater wil beskerm. En ons is beslis nog nie klaar met hom nie …”
“Nou maak jy my benoud, Lise! Ek sien nie kans vir nog konflik nie. Ek glo nie ek het meer baklei in my oor nie.Veral nie met Derek nie. Miskien moet ek nou maar al my energie fokus op my soektog na ’n nuwe plek vir die ABU …”
Lise-Marie se groen oë rek wyd. “Gaan jy hom tog nie laat wegkom met daardie belaglike berig nie? Hy is onkundig oor watergeboortes en oor vroedvroue, Mila, en boonop arrogant genoeg om sy simpel idees aan ’n joernalis te verkondig. Fotostateer vir hom ’n paar artikels uit mediese tydskrifte! Genade, Mila, jy kan hom mos nie toelaat om so snert te praat in die koerante nie, dis sleg vir ons besigheid! Buitendien maak hy nie net vir jóú seer nie. Hy belaster al die ander vroedvroue regoor die wêreld ook, en hy ontneem vroue van ’n veilige en bevredigende opsie deur te beweer dat hulle by ginekoloë móét kraam. As jy dan nie vir jouself wil opstaan nie, doen dit vir jou kollegas en vir die vroue daar buite!”
Ingedagte draai Mila ’n donker haarlok om haar voorvinger. “Hmm, oukei,” mymer sy. “Ek het nie só daaraan gedink nie. Ek sal vandag nog ’n paar artikels kopieer en by hom kry. Maar Lise …” Mila se stem word klein.“Ons het nog nie oor Probleem Nommer Drie gepraat nie. Dis dít wat dit vir my moeilik maak om met hom te baklei … Nie dat ek nie dink hy verdien dit om goed oor die kole gehaal te word nie,” keer sy vinnig.“Dis net … ek verander soort van in ’n … in ’n bol klei in sy hande wanneer ek naby hom kom. Hy’t hierdie effek op my … ek kan nie lekker dink as ek naby hom is nie …”
Lise-Marie gee ’n onvroulike snork. “O tog, jy’t die skoot omtrént hoog deur. Maar dit beteken nie dat jy nie met hom kan baklei nie! Jy moet jouself net eers behoorlik op-psych! En jy moet definitief sorg dat jy die upper hand het. Skep ’n situasie – ’n atmosfeer – waarin hy magteloos is in vergelyking met jou.”
“Hoe doen ek dít?”
“Sorg dat die konfrontasie in jou ruimte afspeel, nie in syne nie. Kry hom in jou huis voor jy met hom baklei, sodat hy ’n gas in jou persoonlike ruimte is. En dan laat jy hom sit terwyl jy staan. Dit behoort hom ongemaklik te maak.”
“Oukei, ek hoor wat jy sê, maar hoe kry ek hom in die eerste plek in my huis?”
Lise-Marie frons geïrriteerd. “Jinne, Mila, vir ’n vindingryke vrou is jy darem maar blerrie verbeeldingloos as dit by hierdie tipe goeters kom! Sit ’n nota onder sy deur en vra hy moet jou so gou moontlik kom sien, jy wil iets met hom bespreek. En dan trek jy los …”
Mila is nie doodseker of sy van Lise-Marie se plan hou nie, maar sy knik tog instemmend. Haar vriendin ís baie oortuigend, en iemand moet Derek Reynders seker op sy plek sit oor die manier waarop hy haar naam – en saam met haar ander vroedvroue s’n ook – beswadder het.
“Nou goed, ek maak so, vanmiddag nog. Ek sal bel en jou laat weet hoe dit gegaan het. Maar … jy het my nog nie gesê wat ek omtrent my derde probleem kan doen nie.”
Lise-Marie gee ’n gemartelde sug. “Jy weet, Mila, ek maak ’n punt daarvan om nooit raad te gee met hartsake nie. Ek behoort net aandagtig na jou te luister en jou gevoelens te reflekteer oor hierdie man. Maar vandag gaan ek die reëls breek. Ek is só seker van my saak – hierdie is só ’n no-brainer – dat ek vir jou gaan vertel wat om te doen. Ek het drie woorde vir jou:Vergeet … van … hom!”
Onthuts sê-vra Mila: “Vergeet van hom?”
“Inderdaad. Congratulations, you are a fast learner. Vergeet van hom.” Dan versag haar houding. Sy kyk indringend na Mila. Haar stem is byna pleitend toe sy vra: “Het jy nie al seer genoeg gekry nie, Mila?”
Mila kyk skuldig af en streel die bont kat wat op haar skoot gespring het, maar Lise-Marie lig haar ken met ’n wysvinger sodat hulle mekaar weer in die oë kyk.
“Is dit regtig nodig dat ek vir jou uitspel waarom Derek Reynders soek vir seerkry is, Milatjie? Jy het mos self oë om te kyk, vriendin, en gewoonlik het jy uitstekende oordeel wat karakter betref.Toemaar, ek weet, die liefde is blind.” Haar stem is teer, amper verskonend. “Dit kán nie werk nie, Mila. Hy’s dan die ou wat jou eenheid wil sluit. Julle kan mos nie ’n verhouding op so ’n skewe voet wil afskop nie? Hoe gaan jy hom ooit regtig vergewe? Hoe gaan hy jou respekteer soos jy gerespekteer wil word – soos hy jou behóórt te respekteer?”
“Jy hoef nie meer te praat nie! Ek weet jy is reg. Hoe kon ek so onnooslik wees …”
“Ek’s jammer, Mila. Ek wens ek kon sê ‘go for it’. Maar Derek is soek vir seerkry. Dink jy vir een oomblik dit sit in ’n ou wat soos hy lyk se broek om getrou aan een vrou te wees? Mens kan hom weliswaar nie kwalik neem nie, die vroue smyt hulself seker voor sy voete neer. Jy verdien soveel beter! Een Stefan in jou lewe was genoeg …”
“Ek weet, Lise, jy’s reg. Derek is heeltemal te aantreklik, heeltemal te sjarmant in vrouegeselskap … Hy ís soek vir seerkry. Dankie dat jy my daaraan herinner het!”
Sy staan op en druk Lise-Marie weer teen haar vas. “Dankie dat jy geluister het, ek het vandag ’n oor bitter nodig gehad. Ek gaan nou ry en daai artikels bymekaarkry. Dokter Reynders gaan nie weet wat hom getref het nie!” Mila probeer opgeruimd klink, maar haar stem bewe tog effens. Lise-Marie sit haar hande ferm op haar vriendin se skouers.
“Jy moet onthou dat daar darem één goeie ding uit hierdie hele sad story gekom het.”
“Het daar? Jy sal dit vir my moet uitwys, want die ou glasie lyk vandag vir my dolleeg.”
“Jy’t nie gedink jy sal ooit weer iemand liefkry nie. Jy hou nou al jare lank hardegat vol dat jy klaar is met mans. Klaar is met die liefde. Derek is nie ’n wyse keuse nie, maar miskien het hy jou tog ’n guns gedoen deur jou hart te kom defrost. Ek weet dit voel nie nou so nie, maar dalk is jy hom nog eendag diep dankbaar dat hy jou kom wakker soen het.”
“Nee, Derek was net tydelike malheid, Lise-Marie, nie die begin van groot dinge nie! Buitendien het hy my nooit eens gesoen nie, nie tensy jy ’n broederlike pikkie op die voorkop wil tel nie.”
“Dit was ’n metafoor. Maar luister, jy verdien regtig ’n wonderlike man. Iemand wat ten volle tot jou kan commit en nie weer met jou hart gaan darts speel nie. Gaan nou huis toe en gaan sit