vlug? Volgens vertroulike inligting is daar ’n verdagte gaping in Reynders se diensrekord. Vir ’n volle drie jaar was hy nie by die Mediese Raad geregistreer nie.Waar was hy, en waarom het hy nie gepraktiseer nie? Maak die bestuur van PMK nie dalk wolf skaapwagter deur hierdie geheimsinnige man met die wankelende finansies van een van die oudste hospitale in Wilgekloof te vertrou nie?
Die res van die dag is Mila soos ’n dwalende gees. Derek se woorde van vanoggend wil haar nie laat los nie, en elke keer as sy aan hul konfrontasie of aan Liesel se berigte dink, brand haar wange opnuut van skaamte. Sy sien pasiënte by die eenheid en weet nie wat om te antwoord op hul bekommerde vrae oor waar hulle dan nou gaan kraam as die eenheid moet toemaak nie.Werktuiglik luister sy na hartkloppies en meet sy swanger buike met haar blou maatband – sy glimlag selfs met haar pasiënte as die situasie dit vereis – maar binne-in voel sy doods te midde van al die nuwe lewe.
Laatmiddag oorreed Melissa vir Mila om die eende te gaan voer by die dam naby hul huis. Gewoonlik geniet sy dit amper net soveel soos haar dogtertjie om stukkies brood ver oor die water te gooi en na die veelkleurige swemvoëls se opgewonde gekwaak te luister. Maar vandag voel sy afgestomp en verwyder van alles en almal rondom haar: van die gras onder haar voete, die gladde visse wat broodkrummels voor die eende wegraap, van haar uitgelate dogtertjie met haar blonde bokstertjies. Dis asof Derek haar hart uitgeruk het met sy fel woorde, asof daar net ’n dop van haar oorgebly het.
Vrydagoggend verslaap Mila liederlik. Sy moes die wekker op haar selfoon per ongeluk deur die slaap doodgedruk het. Ook geen wonder nie, want haar nag was weer rusteloos. Derek se gesig het by haar bly spook. Heelnag was sy besig met sy sterk asof-uit-klip-gebeitelde gelaatstrekke, met die diep kuiltjie in sy ken wat die forse beeld so aantreklik versag … Soms het sy vreeslik baklei met hom, net om hom weer en weer te hoor sê dat sy selfgesentreerd en naïef is. Ander kere was die nagmerries van ’n heel ander aard: vuurwarm vrydrome waaruit sy natgesweet en met hortende asemstote wakker geskrik het. Dan was haar begeerte na hom ’n kloppende pyn in haar onderlyf. Hierdie drome was so verleidelik werklik dat Mila ná ’n besonder stomende een verward oor haar gesig gevryf het omdat sy nog sy ruwe swart stoppelbaard daarop kon voel krap.
Toe haar selfoon om halfagt lui, raak die klank daarvan eers verstrengel in die fantasiewêreld van haar droom. Sy en Derek is saam by ’n keisersnit waar hulle skielik nie hul hande van mekaar kan afhou nie. Ten spyte van al die ander mense in die teater neem Derek haar kop ru tussen sy hande. Hy soen haar met soveel passie dat haar ore daarvan tuit; sy kan amper nie staande bly nie … Dan skreeu die baba en Mila probeer haarself willoos uit sy omhelsing losmaak. Maar hy wil haar nie laat gaan nie en die baba hou aan skreeu. Skielik sê die kleintjie met ’n blikkerige stem “Lise-Marie”. Mila besef dat dit geen baba is wat sy hoor huil nie. Dis haar simpel selfoon wat haar probeer vertel dat Lise-Marie haar soek! Derek het haar nie regtig gesoen nie. ’n Donker mistroostigheid sak oor haar neer terwyl sy blindweg op die bedkassie rondtas vir haar foon.
“Mila, hallo?” antwoord sy vaak.
“Mila?” Lise-Marie klink ongeduldig.“Waar’s jy? Moet tog net nie vir my sê jy slaap nog nie?”
“Uhm, nee, ek is wakker,” jok Mila en frons bysiende na haar horlosie. Dêmmit, Melissa gaan weer laat wees vir skool! Haar kleuterskooljuffrou het ’n manier om Mila soos ’n uiters onverantwoordelike ouer te laat voel elke keer as sy laat is met die op- of aflaaiery. Duidelik het die poppie nie ’n idee hoe onvoorspelbaar ’n vroedvrou se lewe is nie! Sy’t self nog nie kinders nie.
“Waar is jy?” vra Lise-Marie weer.
“Uhm, nog by die huis. Maar ek gaan nou amper ry.” Mila probeer so verskonend moontlik klink.
“Het jy vergeet dat ons ’n afspraak met die Van der Merwes het? Die mense het al die pad van Phalaborwa af gekom om ons ’n laaste keer te kom sien voor die geboorte. Jy’s laat, Mila.”
Mila slaan haar hand verskrik oor haar mond. Sy het heeltemal van die onmoontlik vroeë afspraak vergeet waartoe sy ’n paar weke gelede ingestem het.
“Vrek, Lise-Marie, dit het my totaal en al ontgaan! Ek’s nog in my pajamas en ek moet eers my kind gaan aflaai. Dink jy jy sal hulle kan besig hou tot ek kom? Vat hulle miskien maar op ’n hospitaaltoer en neem hulle kafeteria toe vir ietsie. Ek sal met jou regmaak.”
Die doula sug hoorbaar. “Jy’t nou nie die maklikste kliënte gekies om ’n disappearing act op te trek nie, vriendin. Maar ek sal kyk wat ek kan doen. Miskien kan ek solank vir hulle my borsvoedingpreek afsteek, dit sal jou so ’n uurtjie grasie gee. Kry net jou gat in rat en kom so vinnig as jy kan. Hier’s ’n ander surprise ook vir jou.”
“Wat bedoel jy?” Mila is nie seker of sy van die geheimsinnige klank in Lise-Marie se stem hou nie.
“Wait and see,” antwoord Lise-Marie enigmaties. “En ry versigtig! As die spietkops jou vanmôre vang met al daai outstanding fines van jou sluit hulle jou summier in die tjoekie toe. En dan sit ek hier met die gebakte pere.”
Mila gee ’n skuldige laggie. Sy troos haarself oudergewoonte daaraan dat sy so vinnig ry omdat sy gedurig haastig op pad is na geboortes, maar sy vermoed tog dat sy eintlik maar doodeenvoudig ’n spoedvraat is wat verkeerskaartjies sou versamel ongeag haar beroep. Vir die honderdste maal onderneem sy om voortaan stadiger te ry. Van môre af … Vandag is sy laat!
Mila vlieg vervaard deur die stort. Sy pluk haar gunsteling jeans en ’n poeierblou toppie aan en kies ’n paar Crocs – die skreeulelike dog gemaklike skoene wat Lise-Marie spottend “official birth-business footwear” noem. Vanoggend is daar nie tyd vir hare droogblaas of vir die ligte grimering wat sy gewoonlik werk toe dra nie. Sy vang haar styl hare in ’n knip agter haar kop vas en sit ’n smeersel lipstiffie aan om die ergste vaalheid te verjaag. Natuurlik beland die meeste daarvan op haar voortande en mors dit kosbare sekondes om af te vee. Ai toggie, dink sy ergerlik, hoe meer haas, hoe minder spoed!
Vir Melissa maak sy so sagkens moontlik wakker. Die kind verpes dit om soggens aangejaag te word; hoe meer Mila aan haar karring om op te skud, hoe meer steek sy soos ’n halsstarrige muil vas.Vanoggend wil sy opsluit ’n wollerige pienk sweetpakkie met bloedrooi waterstewels aantrek – in die somerhitte! Mila wil eers haar voet neersit, maar besluit dan dat sy nie vanoggend die energie het om te stry nie. Sy gee dus maar gedwee in en pak skelmpies ’n ekstra kortbroek, T-hempie en sandale in haar dogtertjie se rugsak. Laat haar juffrou haar maar probeer oortuig om dit aan te trek.
Die verkeer is moordend. Melissa se kleuterskool is nie op haar pad hospitaal toe nie; hulle moet ’n ompad deur ’n besonder besige deel van die stad ry. Dis so ’n goeie skooltjie dat Mila gewoonlik heel gewillig die opoffering maak.Vanoggend verwens sy haar egter oor haar kieskeurigheid. As sy Melissa sommer in die hospitaal se dagsorgsentrum gesit het, was sy nou al daar.
Teen die tyd dat sy Melissa afgelaai en die juffrou se toorn getrotseer het, is meer as ’n uur verby vandat Lise-Marie gebel het. Mila hoop maar dat sy die paartjie kon paai met ’n lekker koppie koffie en muffins.Veral hoop sy naarstiglik dat die res van die dag nie so holderstebolder gaan wees soos die begin nie.
In die hospitaal se parkeerterrein trap Mila verbaas rem. Daar is altyd meer as genoeg stilhouplek onder die groot ou bome voor haar eenheid. Wat op aarde gaan vandag aan? Karre staan soos sardiens langs mekaar ingeryg; daar is nie plek vir ’n muis nie! Vies maak sy ’n U-draai en gaan hou voor die hoofhospitaal stil. Nou moet sy haar swaar mandjie al die pad dra.
Sy stap flink maar ingedagte om die draai in die rigting van die Aktiewe Geboorte-eenheid. Wat is die pasiënt van Phalaborwa se naam nou weer? Name is gewoonlik Mila se sterk punt, maar skielik kan sy net onthou dat die man Hannes heet. Die lieflike kunstenares met die vlamrooi hare se naam is skoonveld.
Mila loop só koponderstebo en peins dat sy byna bo-op hulle is toe sy die eerste keer van hulle bewus raak. Sy snak na haar asem toe sy sien hoeveel van hulle daar is en probeer verbete teen die trane veg wat oombliklik in haar oë opwel.Vervlaks, sy kan nie al weer wil huil nie! Sy begin nou ’n gewoonte daarvan maak. Tog is die gesig so uitsonderlik dat sy haarself nie kan keer nie.Voor die ingang van die eenheid staan ’n groep van bykans ’n