knik instemmend en lig die babalyfie verder oor die afgrond. Mila sluk droog. Die vrees dat sy Sunet oor die afgrond gaan dryf en Leilatjie se dood veroorsaak, is verlammend.
“Dit help nie jy gooi haar by die balkon af nie, Sunet! Sy is ’n alien, onthou, mens kan hulle nie so maklik doodmaak nie. Só gaan jy haar net kwaad maak.”
Dis duidelik dat Mila nou Sunet se volle aandag het. “Maar wat gaan ons doen? Ons moet haar vernietig!”
“Ja, ons moet. Maar ons het nie die tegnologie nie. Sê nou maar ek sê vir jou dat ek reeds iemand hierheen ontbied het wat oor die nodige kennis en wapens beskik om die bedreiging te elimineer? Iemand wat ek volkome vertrou?”
“O, Mila, jy’s wonderlik,” sug Sunet, verligting oor haar hele olierige gesig geskryf. “Ek’t nie geweet jy het sulke kontakte nie!”
“In my werk moet mens kontakte hê,” improviser Mila.
Sy loer onderlangs na Derek, wat grootoog knik. “Sunet, die dokter wat ek ontbied het, is hier. Natuurlik moet hy weens sekuriteitsredes anoniem bly.” Sunet knik begrypend.
“Natuurlik.”
“Kom ons noem hom sommer dokter X.”
Mila weet sy behoort belaglik te voel, maar op hierdie oomblik kan dit haar nie traak nie. Sy kan ’n sprankie hoop in haar binneste voel roer – hoop dat sy en Derek hierdie tragedie kan afweer.
Sy neem sy voorarm en trek hom stadig buitentoe sodat hy voor haar op die balkon staan, tussen haar en Sunet. Dié beskou hom van kop tot tone. Genadiglik besluit sy klaarblyklik dat hy die ware Jakob is, want sy laat sak onmiddellik vir Leila terug oor die balkonrand. Mila loer dankbaar na Derek se wit jas. Sy’s nie gewoond om dokters daarin te sien nie; by PMK dra die meeste dokters nie meer jasse nie. Maar dis seker nog gebruiklik waar Derek vandaan kom, en vanoggend is sy maar te bly daaroor. Dit gee hom ’n aura van gesag en help hom om sy rol as alien-kenner oortuigend te speel in hierdie onmoontlike situasie. Natuurlik lyk hy ook besonder aantreklik daarin.
“Aangenaam, dokter X. Dankie dat u gekom het.” Verligting is onmiskenbaar in Sunet se stem.
“Sekerlik, mevrou,” sê Derek formeel. “Mens kan nooit te versigtig wees wanneer dit by hierdie wesens kom nie.”
Mila verstom haar aan sy komkommerkoel optrede. Haar eie hart slaan tamboer in haar borskas en haar hande is glad van die sweet.
Derek beweeg stadig nader aan Sunet sonder om sy oë ’n oomblik van haar af te haal. Reg voor haar steek hy in sy spore vas.
“Kan ek vra dat u die … spesimen nou aan my toevertrou, mevrou? Ek sal verder die nodige doen.”
Sunet laat nie op haar wag nie. Met groot seremonie plaas sy die bondeltjie pienk kombersies in Derek se arms. Hy sug merkbaar van verligting en Mila voel asof sy in trane kan uitbars van dankbaarheid.
Net so is die krisis afgeweer. Derek spuit Sunet met ’n kalmeermiddel onder die voorwendsel dat dit haar teen dodelike buiteruimtelike virusse sal beskerm. Saam met Sunet se psigiater reël hy dat sy so gou moontlik na die naaste psigiatriese kliniek oorgeplaas word. Hy ondersoek baba Leila en verklaar haar fris en gesond, gereed om ontslaan te word in haar oorblufte pa se sorg.
Dan neem hy Mila aan die arm. “Jou flink denke het vandag ’n lewe gered, Mila. Knap gedaan!”
Mila skud haar kop ontkennend. Haar onderlip bewe. Sy voel steeds effens naar.
“As jy nie op daardie presiese oomblik daar aangekom het nie, weet ek nie wát ek sou gemaak het nie! Ek het nie meer geweet watter kant toe met haar nie … Jou idee om haar psigose te gebruik was briljant.”
“Ek is bly ek het net op daardie oomblik my saalrondte kom doen. Maar sonder Sunet se vertroue in jou sou ons nêrens gekom het nie, Mila. Jy’t uitstekend op jou voete gedink.”
Mila leun uitgeput terug teen die toonbank by die diensstasie. Sy voel asof sy in die laaste uur tien jaar ouer geword het. Sy wens Derek wil nou sy loop kry sodat sy opgekrul in die naaste hoekie kan gaan sit en tjank. Sy sal vir Lise-Marie bel; die Vader weet, sy het nou iemand nodig om mee te praat …
Maar Derek het ander planne. Mila weet nie hoe hy dit regkry om ná so ’n drama nog so onweerstaanbaar sexy te lyk nie, maar sy voel hoe haar knieë nóg lammer word toe hy haar aanspreek in ’n stemtoon wat dit duidelik maak dat hy gewoond is om sy sin te kry.
“En nou, suster Mouton, stap jy eers saam met my kafeteria toe. Ek gaan vir jou ’n suikersoet koppie koffie koop – en ek gaan nie nee vir ’n antwoord vat nie.”
Sy oë rus sag op haar en hy gee haar hand ’n vertroostende drukkie.
“Jy’s deur ’n nagmerrie, Mila, en dít boonop ná so ’n moeilike nag met Jenna Odendaal.”
Voordat Mila kan keer, ontsnap ’n snik uit haar keel. Die verskrikking van die tragedie wat nou net so amper voor haar oë afgespeel het – die ontsettende gevoel van verantwoordelikheid en hulpeloosheid wat haar daar op die balkon vasgegryp het – word skielik vir haar te veel. Ag dêmmit, sy wil nie voor hierdie man huil nie, maar sy kan dit nou nie meer keer nie. Die sluise is oop!
Derek slaan sy arms beskermend om haar en Mila tree gewillig in die troos van sy omhelsing. Hy druk haar styf teen hom vas en laat haar haar verskrikking teen sy bors uitsnik. Sy huil oor die drama op die balkon en oor haar vrees vir Leila se lewe. Sy huil omdat Jenna haar droom van ’n natuurlike geboorte moes prysgee en omdat sy wat Mila is niks daaraan kon doen nie. Sy huil oor die ou wonde wat Carlien se geboorte in haar eie hart kom oopkrap het … oor haar Melissa-kind wat sonder ’n pa moet grootword … Veral huil sy oor die chaos wat hierdie einste swartkopman in haar lewe kom saai het: oor haar eenheid en haar pasiënte en oor die begeertes wat Derek Reynders vanaf hul eerste ontmoeting in haar lyf en hart kom wakker maak het. Begeertes wat sy lankal reeds afgesweer het …
Toe haar trane eindelik opdroog, maak Mila haarself skaam uit Derek se omhelsing los. Hy staan ’n tree terug en kyk met soveel deernis na haar dat sy amper van voor af begin grens. Hy plaas sy hande op haar skouers en gee hulle ’n druk.
“Sulke ou klein skouertjies,” terg hy teer. “Dat hulle nou die sorge van die hele wêreld moet dra!”
Mila vroetel ’n snesie uit haar sak, maar voordat sy haar oë kan afvee, neem Derek dit uit haar hand. Een vir een klad hy die trane op haar wange droog.
“Daar’s hy,” sê hy tevrede. “Gaan was jou pragtige gesig daar in die kleedkamer en dan stap ons af kafeteria toe. Ék het beslis ’n koppie sterk koffie nodig.”
Hulle stap in stilte by die trappies af. Toe Mila die stampvol kafeteria sien, kry sy ’n idee.
“Ek is nie nou lus om tussen al daardie mense te gaan sit en koffie drink nie, Derek. Kom ek gaan maak vir ons iets by die geboorte-eenheid en dan drink ons dit rustig in my kantoor.”
“Kitskoffie?” vra Derek effens twyfelagtig.
“Nee, man, ordentlike koffie. Ons het ’n ghrênd masjien wat cappuccino’s en filterkoffie en espresso en elke ding kan maak. Net wat jy verkies. En ’n pasiënt voer vir ons die wonderlikste koffiebone uit Kenia in.”
“Nou maar goed,” stem hy in. “Solank ek net ’n behoorlike dosis kafeïen inkry. Ek sê jou mos ek het dit broodnodig.”
Dit word heel onverwags ’n heerlike gesteelde uurtjie. Mila maak vir haar ’n romerige cappuccino en Derek geniet sy espresso so baie dat hy ’n tweede koppie probeer bedel.
“Is jy seker?” lag Mila.“Die goed is sterk! Dit gee mens behoorlik die ritteltits. Netnou laat val jy ’n baba!”
“Nee wat, as ek vandag die bewerasies het, is dit oor Sunet se baba netnou so hittete geval het, nie oor ’n tweede koppie boeretroos nie.”
“Boeretroos? Geen boer sal sulke bitter Italiaanse modder drink nie, man.”
Mila skink vir