nie, Derek Reynders! Vir my is dit so persoonlik as wat maar kan kom! Dis my eenheid daardie, ek het my hart en siel daarin gestort. Tussen daardie vier mure is die herinneringe van dosyne natuurlike geboortes – veilige en bemagtigende geboortes wat vroue nêrens anders in Wilgekloof sou kon beleef nie. Nie net my herinneringe nie, dokter, die herinneringe van al die ma’s en pa’s wie se babas daar gebore is. Die eenheid behoort nie net aan my nie – dit behoort aan al daardie pasiënte.Weet jy hoe uniek die diens is wat ons daar lewer? Privaat hospitale in Wilgekloof het ’n keisersnitsyfer van tagtig tot negentig persent! Tagtig tot negentig persent, in vergelyking met my eenheid se veertien persent! Dis ’n veilige hawe vir vroue wat graag hul babas so natuurlik as moontlik in die lewe wil bring.Waarheen moet hulle gaan as jy die eenheid sluit?”
“Dis seker tog nie die enigste eenheid van hierdie soort in Wilgekloof nie?”
“Die énigste, dokter Reynders. Daar is wel ’n paar in Pretoria en Johannesburg, maar watter vrou wat moet kraam het nou lus om ’n uur of twee in ’n kar te sit om soontoe te ry – veral met die verkeer? Met ’n eerste baba is dit miskien nog haalbaar, maar wat van volgende geboortes, wat vinnig is? Dis tog elke vrou se reg om haar baba te kry in ’n atmosfeer wat rustig en veilig is!”
“Mila, ek is jammer, regtig, ek is. Maar jy moet besef dat dit nie vir my gaan om waarheen ’n handjie vol vroue gaan om geboorte te skenk nie. Dit gaan nie vir my om die bevordering van vroueregte nie, maar om wat die beste vir die hospitaal as geheel is. En die beste is om die eenheid te sluit sodat die spasie benut kan word vir meer produktiewe doeleindes.”
Nou kook Mila se bloed behoorlik.
“Jy bedoel vir meer geld, Derek Reynders! Dis al waaroor dit gaan, nè! Onse aarde, maar was ek verkeerd oor jou! Dankie dat jy my oë vandag vir my oopgemaak het. Ek het jou opgesom as iemand wat omgee – jy’t my ’n rat voor die oë gedraai met jou kastige kommer oor Melissa. Nou besef ek wat dit was. Jy het my probeer sag maak sodat ek sonder baklei my eenheid moes opgee! Eintlik is jy net so harteloos soos Leon Swiegers. Hy’s net eerliker as jy – mens weet darem waar jy met hom staan.”
“Mila, asseblief, ek het eerlikwaar nie geweet dis jóú eenheid nie. Ek …”
“Ag, spaar jou leuens vir die pops met die bokkie-oë by ontvangs, Derek. Ek gaan nie daarvoor val nie. Ek wil net hê jy moet weet dat ek nie sommerso gaan opgee nie. Iemand moet opstaan vir vroue se reg om ’n keuse te maak oor hoe en waar hulle geboorte gee – opstaan teen bullebakke soos jy wat net aan geld kan dink, vir wie niks heilig is nie! Sien jy kans vir ’n oorlog, dokter Reynders? Want dis presies wat jy gaan kry!”
Skielik is Derek net so kwaad soos Mila. Sy ysblou oë vat vlam en ’n spiertjie spring gevaarlik in sy wang. Hy tree vorentoe en kyk meewarig af na haar.
“Lyk my jy is nie die enigste een wie se eerste indruk foutief was nie, suster Mouton. Ek het jou beslis nie as ’n aartsfeminis opgesom nie. Dom van my, ek moes geweet het dat enige vroedvrou in privaat praktyk ’n feministiese streep sou hê. Dis jóú oorlog. Dis jy wat kies om emosies hierby in te sleep. Vir my is dit nie persoonlik nie – dis net besigheid. Baklei gerus as jy lus het, maar moenie by my kom huil as jy seerkry nie. Ek waarsku jou: Hospitaalbestuur is harde realiteit, ver verwyder van jou touchy-feely wêreld. Jy is nie opgewasse vir hierdie oorlog nie!”
Vir ’n oomblik staar Mila die arrogante man woordeloos aan. Dan tol sy op haar hak om en storm by die deur uit. Sy skiet ’n giftige blik na die ontvangsdame wat haar agterna gaap soos ’n sterwende goudvis. Eers toe sy by haar motor kom, besef sy dat trane agter haar ooglede brand.Vies vee sy hulle weg met die agterkant van ’n bewende hand. Dit maak haar so woedend dat sy altyd wil tjank nes sy kwaad is vir ’n gesagsfiguur! Dis die verdomde onregverdigheid wat haar laat huil – nie regtig ontsteltenis nie. Sy sit haar kar in trurat en ry versigtig by die parkeerplek uit. Die laaste ding wat sy nou nodig het, is om ’n ander kar te stamp.
Teen die tyd dat Mila by die hospitaalhek uitry, het ’n plan reeds in haar kop begin gestalte aanneem. Sy’t Derek gewaarsku dat sy nie sonder teenstand haar eenheid gaan opgee nie – en teenstand gaan hy kry! So hy wil haar ’n aartsfeminis noem? Sy sal hom wys hoe een lyk! Hy gaan nog die dag berou toe hy sy gierige oë op haar eenheid gerig het, daarvoor sal sy sorg!
Een van die vele voordele van haar werk, dink Mila selfvoldaan toe sy haar tuis voor die rekenaar gaan neerplak, is dat sy met soveel mense uit soveel verskillende velde in kontak kom. Maak nie saak wát sy nodig het nie, sy ken altyd iemand wat kan help. Boonop is haar pasiënte en hul lewensmaats gewoonlik so dankbaar oor haar bekwame bystand dat hulle maar te bly is om vir haar iets in ruil te doen.
Mila blaai deur haar telefoonboekie tot by Liesel Basson se nommer. Liesel is ’n suksesvolle vryskutjoernalis met talle bekroonde artikels op haar kerfstok. Mila het haar eerste baba so twee jaar gelede by haar huis net buite Wilgekloof gevang. Wat Liesel se sukses in so ’n mededingende bedryf uitsonderlik maak, is die feit dat sy amper heeltemal blind is en met ’n gidshond oor die weg kom. Sy tik haar stories op ’n braille-sleutelbord en het ’n rekenaarprogram wat tekste vir haar lees. Dis juis weens haar swak sig dat Liesel tuis wou kraam, in die omgewing wat vir haar die bekendste is. Ná klein Dylan se geboorte het Liesel verskeie artikels vir babatydskrifte geskryf. Mila twyfel geensins dat Liesel sal belangstel in wat sy te vertel het nie.
Derek kan die hele Dinsdag lank die konfrontasie met Mila nie uit sy gedagtes kry nie. Haar fynbesnede gesiggie doem kort-kort voor hom op. Sy gedagtes tower haar donker kykers op, smeulend van woede en verontregting. Hy kon nie help om haar te bewonder nie: Hy het nog altyd gehou van sterk vroue wat presies weet wat hulle wil hê. Haar passie vir haar werk stook die vuur van sy begeerte vir haar – die begeerte wat in hom gebrand het vanaf hul heel eerste ontmoeting. Tog is hy net so bewus van die weerlose trek wat tydens hul gesprek om haar mond gespeel het, ’n kwesbaarheid wat haar net nog meer onweerstaanbaar gemaak het. Sy is vir hom ’n enigma, hierdie vrou van kontraste. Hoe wens hy nie dat hulle onder ander omstandighede ontmoet het nie …
6
Dit voel soos ’n nare droom toe Mila se selfoon Dinsdagnag skuins ná drie lui. ’n Oproep daardie tyd van die nag kan net een ding beteken: nóg ’n geboorte. Nóg ’n onderbroke nag. En sy ís so verskriklik moeg! Sy probeer die slaap afskud in die sekondes voordat sy die foon antwoord. Sy weet hoe sleg pasiënte voel as hulle haar wakker bel. Toe sy haarself hoor hallo sê, weet sy egter dat sy dit vannag nie kon regkry nie.
“Mila, dis Renier. Renier van Jenna.”
“Haai, Renier,” mompel sy met ’n mond wat voel asof dit vol watte gestop is.
“Ek’s so jammer om jou wakker te maak. Jenna wou eintlik nie hê ek moet jou nou al bel nie, maar ek was te bekommerd om langer te wag. Die kontraksies het so tienuur begin. Ons het eers gedink dis dalk ’n vals alarm, toe gaan klim Jenna maar in die bad soos jy gesê het sy moet maak as sy vermoed dinge begin gebeur. Maar die pyne het nie weggegaan nie, net erger geword.”
Mila dwing haarself om opgeruimd te klink. Renier klink na ’n senuwrak en sy wil hom graag gerusstel.
“Dis wonderlike nuus, Renier! Hoe gereeld kom die kontraksies en hoe lank hou hulle aan?”
“Hulle was van die begin af gereeld. Hulle kom so elke drie minute en hou vir amper ’n minuut aan. Hulle is seer ook, as een begin, kan Jenna nie praat nie. Dis hoekom ek maar bel.”
Mila sug innerlik. Sy’t gehoop Jenna is in vroeë kraam, dat sy nog ’n paar uur kan slaap voordat sy hospitaal toe moet ry. Maar rus is haar duidelik nie vannag beskore nie.
“Nou maar goed, Renier, ek dink dis tyd dat ons mekaar by die geboorte-eenheid kry. Ek sal binne ’n driekwartier daar wees.”
Mila bel haastig haar ma om by Melissa te kom bly. Sy voel skuldig toe Heleen vakerig antwoord. Die laaste paar dae was seker vir haar ma ewe uitputtend. Sy stort blitsig en trek haar donkerblou uniform aan.
Die strate is verlate toe Mila uit haar woonbuurt draai, amper spookagtig. ’n Mistigheid slaan wasig op vanaf die teer. Mila wonder hoeveel keer sy hierdie paadjie al laatnag gery