Sy’s die afgelope paar jaar herhaaldelik gehospitaliseer vir maniese episodes. Boonop is sy ’n VBACkandidaat: ’n ma wat wil probeer om normaal te kraam ná ’n vorige keisersnee. Sunet se eerste baba het, soos Melissa, enkele dae voor haar datum stuit gedraai. Sunet was bitter teleurgesteld oor die keiser, veral omdat sy ’n tuisbevalling met ’n vroedvrou beplan het.
Toe Sunet ’n paar weke vantevore by die Aktiewe Geboorte-eenheid kom aanklop het, het Mila haar op een voorwaarde as pasiënt aanvaar: Sy moes Lise-Marie as doula huur. Nie omdat dit ’n VBAC gaan wees nie, maar weens Sunet se psigiatriese geskiedenis. Mila self is te besig met geboortesake om Sunet die emosionele ondersteuning te gee wat sy veral ná die geboorte gaan vereis. Iemand sal gereeld by haar moet inloer om seker te maak dat sy emosioneel stabiel bly te midde van al die hormonale skommelings van nuwe moederskap. Lise-Marie is die ideale persoon hiervoor.
Ten spyte van hierdie voorsorgmaatreël voel Mila steeds kriewelrig oor Sunet se geboorte. Sy kan nie haar vinger sit op die rede vir haar kommer nie, sy’s net bewus van ’n vae onrus in haar binneste. Dis die onrus wat sy al leer respekteer het as haar instink – haar gut feel.
“Hallo, Sunet, hoe gaan dit?” groet Mila terwyl sy regskuif vir ’n lang gesprek. Sunet babbel soos ’n grammofoon en ’n vinnige telefoongesprek met haar is ’n onmoontlikheid. Foeitog, dink Mila, dis seker ook maar een van die simptome van haar siekte.
Toe sy eindelik aflui, suis Mila se ore behoorlik. Boonop moes sy kophou vir al wat sy werd is – Sunet bons van die een onderwerp na die volgende, nes ’n slingerapie van tak tot tak spring. Mila kon darem uitmaak dat haar pasiënt heel waarskynlik in vroeë kraam is. Die kontraksies kom so elke twintig minute en is nog nie intens nie. Haar water het ook nog nie gebreek nie. Mila het dus aanbeveel dat Sunet vir Lise-Marie laat weet en vir eers net rustig tuis bly. Met ’n ligte sug skakel Mila haar rekenaar af. Lyk of dit later ’n lang nag gaan wees …
Derek Reynders haal ’n dokument uit sy aktetas en skuif dit oor die lessenaar na Leon Swiegers, bestuurder van die Protea Moeder-en-Kind Hospitaal. Dis Derek se eerste dag in sy nuwe pos as hoof van die hospitaal se pediatriese afdeling. Hy is vol vertroue dat hierdie dokument ’n uitstekende eerste indruk op die hospitaalbestuurder gaan maak.
“Ek het die finansiële state wat u gestuur het, bestudeer en ’n voorlopige sakeplan vir Protea opgestel. Soos ek reeds verduidelik het, dink ek die beste sal wees om die kleiner, minder winsgewende afdelings so gou moontlik te sluit. Ons kan die geld wat ons sodoende spaar in ’n projek kanaliseer wat uniek aan die hospitaal is. Die projek moet ’n diens lewer wat nêrens anders beskikbaar is nie, én dit moet natuurlik winsgewend genoeg wees om ons beleggers tevrede te stel.”
Derek leun terug in sy stoel, sy oë op Leon Swiegers, wat sy sakeplan belangstellend deurkyk. Ná sowat vyf minute lig Swiegers sy swart borselkop en haal sy raamlose bril af.
“Lyk soos ’n knap stukkie werk, dokter Reynders. Al wat my bekommer, is dat jy ’n bietjie te entoesiasties met die snoeiskêr te werk gaan. Die afdelings wat jy hier teiken, breek immers almal gelyk. Geeneen funksioneer teen ’n verlies nie. Ek moet jou waarsku dat jy met hierdie sakeplan op heelparty tone gaan trap.”
Derek laat hom allermins van stryk bring deur die hospitaalbestuurder se waarskuwings. Hy’s ’n man wat gewoond is daaraan om reg te wees, en in hierdie geval wéét hy hy is reg.
“Ek was onder die indruk dat u my aanstel om die hospitaal uit sy finansiële verknorsing te help kry, meneer Swiegers?”
“Inderdaad, dokter Reynders. Hoewel u kliniese ervaring as pediatriese spesialis natuurlik vir ons van onskatbare waarde gaan wees, hét ons u hoofsaaklik aangestel omdat u ook ’n MBA het. Die kombinasie van geneeskunde en besigheidsbestuur is skaars, soos u weet, en ons vertrou dat u vir die hospitaal goud werd gaan wees.”
“In daardie geval beveel ek ten sterkste aan dat u my voorstelle volg. Ek was vir ’n oomblik bekommerd dat ek u verkeerd verstaan het en eintlik hier is as bedryfsielkundige wat u hospitaalpersoneel gelukkig moet hou.”
Leon Swiegers lag gemoedelik. Hy is beïndruk met die selfversekerde manier waarop Derek Reynders leiding neem en hoe hy ’n potensiële konfliksituasie so gemaklik met humor ontlont.
Ook Derek glimlag voordat hy voortgaan.“Maar aangesien ek my misgis het, sal ek my liefs nie oor ’n toontrappery verknies nie en eerder fokus op wat vir die hospitaal as geheel die beste is. Hierdie afdelings is dalk nie in die rooi nie, maar enige belegger sien ’n onderneming wat bloot gelyk breek as ’n meulsteen om die nek. Die hulpbronne wat tans hierdie afdelings aan die gang hou, kan veel beter aangewend word om nuwe mediese horisonne te verken.”
“Ek is nuuskierig om te hoor wat u voorstelle vir so ’n projek is, dokter Reynders. U het sekerlik al iets in gedagte?”
“Inderdaad. Met die goedkeuring van die raad beoog ek om ’n pediatriese trauma-eenheid hier by Protea te open. Te veel kinders sterf onnodig omdat hulle in ’n noodgeval nie dadelik deur ’n pediater behandel word nie. Algemene praktisyns het eenvoudig nie die gespesialiseerde kennis wat nodig is om ernstige pediatriese traumas te behandel nie. Dis nie goed genoeg om ’n pediater op roep te hê nie; enkele minute kan die verskil tussen lewe en dood beteken.”
Derek se entoesiasme is aansteeklik. Leon Swiegers leun geïnteresseerd vorentoe om die dokument waarop die jonger man met sy vingers tik, beter te kan sien. Derek gee die lêer vir sy nuwe werkgewer aan sonder om sy geesdriftige verduideliking te onderbreek.
“Die trauma-eenheid wat ek beplan, sal vanaf opname vir kinderpasiënte ’n kontinuum van gespesialiseerde sorg bied. Ons eerste punt van kontak met die pasiënt is by die ongelukstoneel self. Die hospitaal moet ’n ambulans- en helikopterdiens bedryf wat deur pediatriese paramedici beman word. Aan hierdie kant sal dokters en verpleegsters – almal spesialiste in pediatrie – reg staan met die nuutste en beste mediese toerusting. Vanselfsprekend sal die eenheid die land se top pediatriese chirurge sowel as puik pediatriese intensiewesorg insluit. Ek voorsien dat noodgevalle vanuit die hele streek per helikopter hierheen sal kom, en dat hospitale in ander provinsies ons uiteindelik sal konsulteer in die proses om soortgelyke eenhede daar op die been te bring.”
Leon Swiegers glimlag breed. Hy staan op en steek sy hand hartlik na Derek uit. Onverbloemde goedkeuring en bewondering staan oor sy hele gesig geskrywe.
“Dít, dokter Reynders, is die beste voorstel wat ek in jare gehoor het! U visie en briljante vooruitsigte vir PMK is voorwaar indrukwekkend.Welkom hier by ons! Ek het geen twyfel dat u ’n onmisbare lid van die span gaan wees nie.”
Toe Mila daardie aand voor die geboorte-eenheid stilhou, wag Lise-Marie haar grootoog by die deur in.
“En nou?” lag Mila. “Jy lyk of jy ’n spook gesien het! Moenie sê my gunsteling-doula het haar moses teëgekom in ’n klein vroutjie soos Sunet nie?”
“Klein botteltjies, groot gif,” kap Lise-Marie terug. “Jy’t geen idee hoe erg die vorige paar uur was nie, Mila! Weet jy hoe sy hier gekom het?”
“Ai, Lise-Marie, het jou ma nooit hierdie gesprek met jou gehad nie?” spot Mila. “Sy is eintlik die een wat vir jou moes verduidelik het presies hoe en hoekom vroue by die kraameenheid uitkom!”
“Toemaar, jy sal nie lag sodra jy binne was nie,” hou Lise-Marie ernstig vol. “Jy weet ek het al gesê ek dink bipolêre versteuring word oordiagnoseer? Wel, ek dink die diagnose was in die kol in Sunet se geval. Sy’s nié lekker nie, Mila.”
Mila respekteer haar kollega se opinie – en veral haar instink – wanneer dit by hul pasiënte se gemoedstoestand kom. Sy weet dat Lise-Marie ’n kleintjie dood het aan psigiatriese etikette wat soms sonder behoorlike evaluering op mense afgedwing word. Die feit dat sy nou self gereed is om een om Sunet se nek te hang, gee Mila ’n goeie aanduiding van hoe ernstig die situasie moet wees.
“Wat gaan aan, Lise-Marie?”
“Ek is bekommerd. Daar is iets wilds omtrent haar vandag. Sy is agitated. Sy wou nie eens in die kar tot hier ry nie. Gesê dit laat haar te ingehok voel. Sy het die hele drie kilometer