’n BOODSKAP OP MY SELFOON ruk my aandag weg van die wetenskaphandboek voor my. Dis al weer van Tertius.
Hi daar, Annie, hoe lyk dit, is jy nie lus vir ’n milkshake nie?
Watter deel van ek-stel-nie-belang-nie verstaan hy nie? Buitendien, enigiemand wat my Annie noem behoort nie ’n dag langer op hierdie draaiende rots wat ons Aarde noem rond te loop nie.
Ek skud my kop. Orphan Annie se agterent. Stefan noem my Pepper. Dit kan ek nog verdra. Inteendeel, ek dink dis oulik. Soos rooipeper of Dr Pepper-koeldrank. Ek laat hom natuurlik net dink dit irriteer my.
Ek en Tertius het mekaar by ’n anti-Valentynsdans, vir mense wat haters van dié dag is, ontmoet. Dit moes tog ’n duidelike boodskap gestuur het. Hoekom anders sal ’n mens so iets bywoon?
Ek leer, en buitendien hou ek nie van ’n milkshake nie, jammer.
Eintlik kan ek nou doen met ’n lekker yskoue milkshake. Dit sal my dalk goed doen om vir ’n ruk uit hierdie koshuiskamer te kom. Ek moet erken, die koshuis is pragtig. Baie cool en modern. Ek en Ma was uit die veld geslaan toe ons die eerste dag hier instap.
Ek en Megan is nou bure. Ons kamers is reg oorkant mekaar. Ons sou verkies het om te deel, maar bure is seker beter as niks.
Op ’n Vrydagmiddag? kom Treurige Tertius se volgende boodskap.
Ja, ek skryf Dinsdag fisika.
Dis nie asof ek jok nie. Ek vang werk op wat ek nie gister geleer het nie. As ek en Megan nie gisteraand Stellenbosch toe gery het nie, sou ek ook nou ’n breek kon vat. Wat ’n mens nie alles vir jou vriendinne sal doen nie.
Oukei, sterkte.
Daar kom nie nog ’n boodskap van hom nie. Miskien begin hy die lig sien. ’n Meisie kan hoop. Dis nie dat ek nie lus is vir ’n milkshake nie, ek is net nie lus vir een saam met hom nie.
Ek spring van my bed af. Trek plakkies aan en gryp my karsleutels. Ek sluit my kamerdeur agter my.
“Megan, ek gaan gou ry. Ek’s lus vir ’n milkshake. Kom jy saam?” sê ek terwyl ek saggies aan haar kamerdeur klop.
“Kom in,” sê sy en ek maak die deur oop. Megan sit met gekruiste bene op haar bed met haar skootrekenaar voor haar. Sy en Dewald Skype al weer.
“Leer jy nie?” vra ek en skud my kop. “Julle het mekaar gisteraand gesien,” sê ek en lag. Die twee is smoorverlief, maar ek is bly vir hulle, hulle pas perfek by mekaar.
“Nee dankie, ek’s reg,” sê sy sonder om haar oë van die skerm af te haal.
“Hallo, Dewald,” sê ek en loer oor Megan se skouer en waai vir hom op die skerm.
“Hi, Ciska,” sê hy vriendelik.
“Goed, ek ry gou.”
My klein rooi Chevy wat my ma en stiefpa nommer een vir my gekoop het, staan buite onder ’n afdak. My ma is nou by stiefpa nommer twee. Na my pa se dood het my ma gou weer getrou en net so gou weer geskei. Nou is sy redelik gelukkig in haar derde huwelik.
Ek vermoed sy werk deur die astrologiese tekens om te kyk wie pas die beste by haar. Die gedagte laat my koud. Ek wil nooit van ’n man afhanklik wees nie. Vir my is die manplan nie ’n plan nie. Ek glo net daarin om onafhanklik te wees. Eerstens moet ’n mens met jouself gelukkig wees en dan, as die regte persoon oor jou pad kom, het jy vrede met jouself gemaak en hoef jy vir niemand te verander nie.
Ek klim in my kar en ry stadig by die skoolhek uit. Vrydagmiddagverkeer in Kaapstad is erg. Ek begin stadig rem vir die verkeerslig wat so pas oranje geslaan het. ’n Wit bakkie draai skielik reg voor my in en stop morsdood in die pad. Ek trap rem, maar die bakkie is te naby en ek voel hoe my nek ruk van die stamp.
Die verkeer om ons beweeg verby asof hier nie nou net ’n ongeluk was nie. Ek klim uit en hou my selfoon bewerig in my hand om ’n insleepdiens te bel. Bedaar, Ciska, probeer ek myself kalmeer. Ek kan nou al my ma hoor. Sy gaan woedend wees.
“Pepper?” hoor ek ’n bekende stem sê. Ek draai verlig om.
“Is jy oukei?” vra Stefan bekommerd en vat aan my arm.
Met ’n groot sug laat sak ek my gesig in my hande en vryf oor my voorkop. Toe ek opkyk, kyk ek in Stefan se heuningbruin oë vas.
“Ek’s oukei, maar ek weet nie so lekker van my nuwe kar nie.”
Stefan los my arm en stap na die voorkant toe. Sy gesig trek op ’n plooi en ek wil nie eens weet wat dit beteken nie. Ek stap haastig om self die skade van nader te bekyk.
“Ek het gesien hoe die ou reg voor jou inry,” sê Stefan en stap na die bestuurder van die ander motor. Die bestuurder is toe al die tyd ’n vrou. Ek skat haar so in haar veertigs.
“Dankie, Stefan, maar ek sal self die gemors uitsorteer,” sê ek en probeer dapper klink. Daar is feitlik geen skade aan haar motor nie, want sy het ’n trekstang. Maar my kar lyk sleg. Daar is ’n groot, vet duik in die middel van my buffer.
Stefan ignoreer my opmerking en haal sy foon uit sodat hy die vrou se inligting kan stoor.
Ek sal seker ’n foto moet neem en vir my ma stuur. Gelukkig kan sy net oor die foon skree en hoef ek nie haar gesig ook te sien nie.
Stefan tik aandagtig op sy selfoon en skud sy kop af en toe terwyl die vrou praat.
“Goed, nou het ons mekaar se inligting,” sê Stefan en glimlag vir haar. “Jy was nie miskien besig op jou foon toe jy voor my vriendin ingery het nie?” ondervra hy haar soos ’n regte speurder.
Die vrou pers haar lippe saam. “Nee, natuurlik nie,” sê sy en staan met haar hande uitdagend op haar heupe.
“Dis nie wat daai ou nou net vir my gesê het nie.” Stefan wys na iemand wat langs die pad staan. Ek weet vir ’n feit ons het nie met hom gepraat nie. Stefan vat ’n vet kans.
Die vrou kom nader en praat in ’n sagter stemtoon. “Oukei, goed. Jy het my, maar kan ons asseblief net die gemors tussen ons uitsorteer. My man gaan my doodmaak. My foon is net drie weke gelede gekonfiskeer omdat ek gery en praat het op die dekselse ding. Mense bel mos tydig en ontydig.” Sy trek haar mond pleitend op ’n plooi.
Stefan kyk na my asof hy eers my toestemming moet vra.
Ek knik.
“Goed,” sê hy. “Wat stel jy voor?” vra Stefan vir haar.
Sy stem in om my motor te laat regmaak sodat ons nie die versekering hoef te gebruik nie. Dus sal nie my ma of die vrou se man hiervan hoef te weet nie. Ek is so dankbaar. My kar sal reg wees voordat ek Juniemaand vir my ma in Johannesburg gaan kuier.
“Bly nou van jou foon af wanneer jy bestuur,” sê Stefan vir haar.
Die vrou glimlag skaam en klim tevrede in haar motor en ry stadig weg.
“Is jy seker jy’s oukei?” vra Stefan besorg.
Lyk my Stefan is lus om vandag “ridder op ’n wit perd” te speel. Hy beter net nie dink ek moet hom vir ewig dankbaar wees nie. Ek het mos aangebied om self die gemors uit te sorteer. Ek moet erken ek sou dit dalk nie so goed soos hy kon doen nie.
“Ek is regtig oukei,” stel ek hom gerus.
“So, waarheen was jy op pad toe jy soos ’n maniak gery het?” vra Stefan, sy spierwit glimlag tergend.
“Ek het g’n soos ’n maniak gery nie,” antwoord ek vies, maar hy lag lekker. “Ek was op pad om vir my ’n milkshake te gaan koop, dit was soort van ’n noodgeval.”
“Nou wie is ek om tussen ’n meisie en haar milkshake te kom?” sê hy ernstig. “Kom ek stick jou, die suiker sal jou goed doen,” sê Stefan en wys in die rigting van sy Jeep wat langs die pad geparkeer staan.
“Oukei, maar net ’n milkshake,” sê ek onseker. Asof Stefan Bruwer in elk geval vir my iets meer