Cecilia Steyn

Tienerharte 2: Hartbreker


Скачать книгу

en druk die afstandbeheer van sy Jeep. Ek klim in en maak my veiligheidsgordel vas.

      Stefan skuif agter die stuurwiel in. “Soos ek dit sien, skuld jy my. Ek het jou nou al twee keer op een dag gered,” sê hy met ’n ondeunde glimlag. Daai een wat die kuiltjie in sy ken nog meer prominent maak. “Jy kan my vanaand uitvat vir ete,” sê hy. “Om dankie te sê.” Hy peuter met die radio en Bob Marley se stem blêr deur die luidsprekers.

      “Ekskuus?” vra ek verbaas oor sy arrogansie. “Nee, beslis nie. Ek sal eerder vir ’n wortelkanaal gaan as om saam met jou op ’n date te gaan.”

      “Ek het niks van ’n date gesê nie, Ciska. Dis jou woorde daai,” roep Stefan bo die harde musiek.

      Sy simpel glimlag kan beslis nie breër as wat dit op hierdie oomblik is nie.

      Stefan

      “AG HEL, STEFAN. Lyk net beter, ou!” sê Dewald terwyl hy my ’n hou teen die bo-arm gee. “Dit lyk nou al vir dae asof iemand jou room gesteel het.”

      Ek rol my oë en voel hoe my wenkbroue op ’n plooi trek. Die gevoelens wat gister deur my lyf gespoel het, is verwarrend. Ciska dwaal al heeldag deur my gedagtes. Die gevoel van haar sagte vel toe sy gister my hand gevat het.

      “Ek’s fine,” sê ek vir Dewald en stap yskas toe. “Ek dink dis net sooibrand.” Dis deesdae die enigste verskoning waaraan ek kan dink omdat ek altyd miserabel voel. Bekaf. Depressief. Alleen.

      “Bel haar net,” sê Dewald terwyl hy die PlayStation en TV aansit.

      “Wie?” vra ek verstom.

      “Ek weet nie, wie jou ook al so laat lyk,” sê hy en beduie na my asof hy ’n lesing gee en ek die onderwerp van bespreking is.

      Ek wonder of sy darem oukei is na die ongeluk. ’n Mens kom baie keer eers die volgende dag agter jy het eintlik beserings opgedoen. My oë gaan soos magnete na my nuwe branderplank wat in die hoek van die sitkamer staan.

      Ciska het my dit sorgvuldig help uitkies nadat ek haar om verskoning gevra het oor my onnosele opmerking. Dit was lekker om haar vir paar uur te kon ontvoer en net vir myself te hê. Al was dit net vir ’n rukkie. Ek wonder wie die Tertius-vent is wat ons in JJ’s gesien het. Ten minste hou sy nie van hom nie, anders sou sy my nie as haar ou voorgestel het nie.

      Ek besluit om my sus te bel en te hoor hoe dit met haar gaan, dan kan ek sommer so terloops vra oor Ciska.

      “Great, daai flippen Aster101 is al weer aanlyn,” sê Dewald en sy stem ruk my terug aarde toe. Hy beduie met sy oë na die aanlyn-game. “Jy beter my kom help, sy gaan my weer uitmekaarskiet.”

      Ek gooi vir eers my foon op die koffietafel en spring oor die bank se rugleuning. Ek gryp die kontrole en begin wild en wakker te skiet.

      “Ouch, sy’s flippen wreed!” sê ek terwyl ek die knoppies al hoe harder druk. Die skerm voor ons is in twee verdeel. Die volgende oomblik word my helfte van die skerm bloedbelope. Sy het my sowaar van agter af bekruip en vrekgeskiet. Dewald is volgende op haar hitlist.

      “O, daar blindside sy jou ook. Sy gee ’n mens nie ’n kat se kans nie. Sy is duidelik vandag in ’n slegte bui. Seker daai tyd van die maand,” sê ek vir Dewald.

      “Jy besef Aster101 is waarskynlik ’n veertigjarige man wat heeldag op sy ma se rusbank sit en PlayStation speel,” sê Dewald en lag.

      “Nee man, nou bederf jy dit vir my. In my verbeelding is sy ’n blonde bom met groot …” en terwyl ek nog wil beduie wat groot moet wees, begin my foon lui. Dis ’n onbekende nommer.

      “Stefan Bruwer, ” antwoord ek ongeduldig.

      “Stefan, hallo. Dis professor Delport hier,” sê die stem en ek wys vir Dewald hy moet die klank afsit.

      “Middag, Prof,” sê ek en skuif ongemaklik op die bank rond. Ek wonder hoekom hy my sou bel. Professor Delport is my en Dewald se strafregprofessor.

      “Ek val sommer met die deur by die huis in, Stefan. Ek wil jou ’n guns vra,” sê hy. Ek sit regop. “Ek het gewonder of jy nie dalk sou belangstel om die Paasvakansie vir my te kom huis oppas nie. Ons gaan Milaan toe en ek sal dit hoog op prys stel as iemand wat ek vertrou vir die week in my huis kom bly.”

      Dis vreemd dat hy my sou bel. Ons ken mekaar skaars. Hoekom sal hy nou juis wil hê ek moet sy huis oppas? Professor Delport bly glo in ’n paleis in Kampsbaai. Sy vrou is ’n plastiese chirurg. Dit sal een hengse party wees as ons dit doen.

      “Kan ek ’n paar vriende saambring?” vra ek met die hoop hy sal ja sê.

      “Jong, ek weet nie. Hoeveel is ’n paar?” vra hy.

      “Net een vriend. Prof ken kom, Dewald Malan. En my suster, Megan.” Ek kan hoor Prof druk die foon met sy hand toe. Hy praat met iemand in die agtergrond, maar ek kan nie uitmaak wat hy sê nie. Dalk moet hy eers toestemming by sy vrou kry. Dis nog ’n rede hoekom ek nie in ’n vaste verhouding wil wees nie. Ek is nie van plan om vir als wat ek in die lewe wil doen toestemming te vra nie.

      “Ja, natuurlik, Stefan,” kom Prof se stem. “Ek sal dit vir jou die moeite werd maak,” bied hy verder aan.

      Ek sal dit nie vir die geld doen nie, die uitsig alleen is glo die moeite werd. “Goed, dis reg, ek sal môre na klas die reëlings kom vasmaak.”

      Ek en Prof maak ons gesprek klaar en ek val met my rug teen die bank se lening.

      Ek wonder wat doen Ciska die Paasvakansie.

      Ciska

      DANKIE TOG vandag is Saterdag, al moet ek leer.

      Die tyd op die PlayStation wys dis al tienuur. Ek sit die kontrole op my bedkassie neer en vat my foon.

      Vir ’n oomblik vang my oog die geld wat langs my foon lê. Ek staar na die honderdrandnoot op die kassie. Dit was netjies tussen my stuurwiel en my spoedmeter ingedruk toe ek gister in my kar klim. Stefan moes dit daar gesit het.

      Die geld vir die milkshakes.

      Ek skud net my kop by die gedagte. Hoekom wil mans altyd vir ons deure oopmaak en vir alles betaal? Asof hulle moet bewys hulle kan dit doen. Hulle besef nie ons kan dit self doen nie.

      Megan maak die deur saggies oop en loer in.

      “Mooi, jy’s wakker,” sê sy en kom sit langs my op die bed. Ek sit regop en strek lekker. My nek pyn so ’n bietjie. Ek rol hom van links na regs. Iets kraak vreeslik. Ek en Megan bars uit van die lag. Dit het beslis nie goed geklink nie. Ek vermoed dit is van die stamp van gistermiddag.

      “Raai waarmee is ek besig?” vra sy met ’n ondeunde kyk in haar oë. Teen haar borskas druk sy ’n notaboekie en ’n pen vas.

      “Ek weet nie, sê maar,” por ek haar benoud aan. Ek ken daai kyk. Sy het dit nog net twee keer in haar hele lewe gehad. Die eerste keer was toe sy besluit het ek het ’n babakat nodig. Sy het toevallig een in die straat opgetel wat niemand wou hê nie. Sy het klaar ’n kat gehad en die arme ou dingetjie kon nie in die middel van die winter so onder ’n bos slaap nie.

      Die tweede keer was toe sy besluit het ons moet vir meneer Groenewald, ons nuwe lewensoriëntering-onderwyser, ’n poets bak. Sy het natuurlik op die laaste minuut uitgechicken en weggehardloop. My alleen daar laat staan. Hy het my op heterdaad betrap terwyl ek sy hele stoep en blombeddings met toiletpapier versier het.

      “Belowe eers jy sal nie kwaad wees nie,” sê sy en hou daai boekie van haar nog stywer vas terwyl sy haar lip vasbyt. ’n Definitiewe teken sy’s op haar senuwees. Nou is ek ook op my senuwees. Ek is te bang om te hoor wat sy aangevang het.

      “Ek is besig om ’n lysie op te stel van moontlike kandidate vir jou om te date,” sê sy en glimlag breed. Duidelik trots asof sy ’n kuur vir kanker uitgevind het.

      “Megan, net omdat jy verlief is, beteken nie ek moet ook ’n lus om die nek kry nie,” sê