van die man wat sy sedert hul eerste ontmoeting nie kon verdra nie, lê en skielik nie meer so vreeslik alleen en bang voel nie. Selfs die pyn is meteens stiller. Wat meer is, sy herken kwalik die man wat nou so besorg oor haar waak. Dis amper asof hy ’n algehele metamorfose ondergaan het. Maar sy probeer nie hierdie dinge uitredeneer nie. Onder haar wang is sy diep, rustige asemhaling, en onder die palm van haar hand kan sy die reëlmatige, sterk klop van sy hart voel – en om ’n onverklaarbare rede is sy dankbaar dat dit René de Louvois is wat haar so vashou en nie Louis Paquin nie.
Sy is onbewus daarvan dat René de Louvois se oë hard voor hom uitstaar en dat daar selfs ’n wrede trek om sy lippe is.
In die dae wat volg, ondervind Lille baie pyn, en hoewel die geneesheer van die goewerneur sy bes doen om met die skamele middele tot sy beskikking dit so draaglik moontlik te maak, is dit die heer van die huis wat die vermoë besit om, sodra hy sy verskyning in die kamerdeur maak, die vretende, kloppende pyn in haar rug draaglik te maak. Dikwels is dit bloot sy teenwoordigheid in die vertrek, die aanraking van sy lang, bruin vingers op haar hand of pols, of saans die stut van sy bors wat haar deur hierdie krisistyd help.
Sy leer in hierdie dae om die bekende, vaste voetstap bo ander te eien en daar is ’n dapper glimlaggie om haar mond wanneer hy dan in die deur verskyn.
Die dag nadat sy daardie eerste aand op sy bors aan die slaap geraak en in die vroeë oggendure ontdek het dat hy nog steeds as stut vir haar dien, was hulle bloot nog beleefde vreemdelinge vir mekaar. Maar ’n mens kan nie die hele nag in iemand se arms slaap en vreemdelinge bly nie.
Sy het haar daardie oggend uit sy arms losgemaak en skuldig in die lig van die kers na hom opgekyk.
“Ek is jammer. Jy moes my wakker gemaak het.”
Hy het opgestaan en sy stywe spiere ’n bietjie gerek, toe sonder ’n glimlag op haar afgekyk. “Solank jy net gerus het. Hoe voel dit nou?”
Die pyn was weer vretend terug, maar sy het dapper geantwoord: “Baie beter, dankie.”
“Kan ek vir jou iets bring? ’n Koppie koffie?”
Sy was baie lus vir koffie, maar kon skielik die blik van sy grys oë nie langer verduur nie, en het dit van die hand gewys.
Hy het ’n oomblik op haar neergeslane ooglede afgekyk en toe kortaf gesê: “Ek sal Saartjie na jou stuur. Probeer weer ’n bietjie rus.”
Sy het hom agternagekyk en gewonder hoekom hy skielik weer so in homself teruggetrek het. Toe hy later die oggend ná die geneesheer se besoek weer sy opwagting maak, was hy nog steeds die teruggetrokke vreemdeling, maar tog het sy blik intens oor haar bleek gesig gegaan. Daar was ’n glimlag om haar lippe, maar die fyn pyntrekkies om die oë en in die mondhoeke het hy raakgesien.
Hy maak nie weer sy verskyning voor laat die aand nie, en Saartjie kyk hulpsoekend op van waar sy langs die bed gebuk staan.
“Sy het weer baie pyn. Ek kan haar nie tot rus kry nie.”
Deur ’n waas sien die pyndeurdrenkte oë die man se gesig bokant haar verskyn. Dan voel sy hoe sy baie versigtig omgedraai word totdat sy weer soos die vorige nag teen sy bors lê en sy hande streel saggies oor haar rug bokant die wond. Sy het soveel pyn dat sy net haar oë dankbaar sluit en haar gedagtes weg van die pyn na die strelende vingerpunte dwing wat, ten spyte van die baie sagte aanraking, tog voel asof hulle deur die dun materiaal van haar nagrok op haar kaal vel brand. Maar eerlank het dit die gewenste uitwerking, voel sy hoe die gespanne spiere in haar rug slapper raak en die pyn uithoudbaar begin word.
Saartjie het taktvol verdwyn, en die man se oë staar stip, bokant die donker kop op sy bors, teen die muur vas. Maar vanaand is die oë nie so hard soos gisteraand nie, meer peinsend.
En die mond het die wrede trek verloor. Dis amper asof ’n sagtheid om die hoeke huiwer.
Wanneer laas het hy ’n vrou in sy arms vasgehou? Dis so lank terug dat hy nie eens meer kan onthou hoe dit gevoel het nie. Die eerste keer in ’n baie lang tyd voel hy die sagte rondings van ’n vrou teen sy bors aandruk, voel hy die sagtheid van ’n vrou se vel onder sy vingerpunte, die geur van haar hare in sy neus …
Hy laat sy ken versigtig sak om op haar gesiggie af te kyk, so klein en fyn en bleek en eteries pragtig in die lig van die kandelaar. Baie versigtig, om haar nie wakker te maak nie, beweeg sy mond nog laer af, totdat dit teen die sagte vel van haar voorkop rus.
Maar Lille slaap nie werklik nie. Sy is bewus van elke asemteug wat die man wat haar vashou, gee. Maar op hierdie oomblik weet sy nie of sy nie tog maar tussen droom en werklikheid is nie. Sy voel die lippe bewegingloos teen haar vel lê, en hier teen sy ken fladder haar ooglede effens. Maar dan lê sy baie stil, te bang om te roer, te bang om, as dit ’n droom is, dit te versteur.
Binne-in haar spring haar gedagtes rond – onbeheersd, onstuitbaar. Hierdie gevoel van veiligheid, van tevredenheid, hierdie vreemde tinteling diep in haar wat haar selfs van die pyn laat vergeet, het sy nooit in Louis Paquin se arms ervaar nie. Altyd was sy onrustig in sy omhelsing, altyd bedag op die hartstog wat sy in hom in toom moes hou, altyd effens skuldig asof dit nie so hoort nie. Maar hierdie man …
As hy haar nou skielik op haar mond moet soen …? Sy ken die antwoord. Sy sal hom nie keer nie. Wat meer is, sy wens hy wil … Sy roer effens onrustig en dadelik is die lippe van haar voorkop af weg, en sy beweeg haar kop sodat haar gesig teen sy nek aandruk. Sy voel die armspiere om haar ’n bietjie stywer trek en ’n onbeskryflike vrede vul haar meteens.
Toe Lille vroeg die volgende oggend weer wakker word, kan sy aan sy asemhaling hoor dat hy ook aan die slaap geraak het.
Maar sy arms is nog om haar, en toe sy roer, trek hulle spontaan stywer vas asof hy selfs in sy slaap bewus daarvan is dat hy haar veilig moet vashou. Baie versigtig en stadig, om hom nie te steur nie, maak sy haar los uit sy arms en sit terug, kyk af op die ontspanne gelaat hier langs haar.
Hy lyk soveel jonger, soveel meer genaakbaar. Haar blik dwaal oor hom, ’n sagte lig in haar oë, verwondering in haar hart. Dis vir haar onbegryplik. ’n Dag of twee gelede het sy teenoor hierdie selfde man die sterkste gevoel van antagonisme gekoester wat sy nog ooit teenoor ’n man ervaar het. Sy het gedink hy is onuitstaanbaar, verwaand en vermetel. Net gisteroggend nog het sy gewens sy hoef hom nooit weer te sien nie.
En nou … in hierdie vroeë oggenduur met die flikkerende lig van die kerse, kan sy nie genoeg na hom kyk nie; is sy kwalik bewus van die rou wond agter haar rug, maar oorbewus van ’n stuwing binne-in haar wat haar weer eens onbesonne wil laat optree: nie om die bruingebrande wang te klap soos die vorige keer nie, maar om dit te streel, haar vingers deur die donker hare te trek en sy lippe …
Sy hyg liggies na asem toe sy besef dat sy al seker sekondes lank vas in die grys oë kyk. Sy is nie in staat om van hierdie intense blik los te kom nie. Dis of dit haar soos ’n magneet vashou, en toe sy hande na haar uitreik en haar versigtig nader trek, is sy ewe magteloos. Inteendeel. Dis of sy vanself nader beweeg, en toe sy lippe hare neem, is dit háár hande wat spontaan sy gesig vashou.
Haar swart hare tuimel vooroor en val soos ’n sluier om die twee gesigte asof dit hulle in ’n intieme afsondering wil afsluit. Lank hang die swart sluier so stil, dan lig sy haar kop op.
“René …”
Lille sien sy adamsappel beweeg soos hy sluk en selfs sy stem klink heeltemal anders.
“Het jy weer pyn?”
Sy glimlag op hom af, skud haar kop, die oë blink soos twee swart sterre. “Nie om van te praat nie.”
Versigtig laat hy haar teruglê teen die kussings en lig hom op sy elmboog orent. Haar hand reik na sy gesig, streel sy wang en daar is ’n onpeilbaarheid in sy oë toe hy haar handpalm teen sy mond druk.
“René …”
Hy skud sy kop. “Nie nou nie. Ons praat wanneer jy eers weer gesond is.”
Op hierdie oomblik is sy heeltemal tevrede daarmee. Dis vir haar genoeg om sonder woorde haar arms om sy nek te plaas en die donker kop weer nader te trek.