byt haar onderlip vas. Die man wat sy vanaand geklap het, is die enigste een volgens die goewerneur wat haar miskien op Bidault se spoor kon sit. Pleks sy liewer dít by hom probeer uitvis het, en haar hande van hom afgehou het.
“Nee.”
“Luister, ek is nie van plan om die res van my lewe hier te sit en wag nie. Jy sorg dat jy vasstel waar daardie man is. En in die toekoms …” Sy gesig is glad nie aantreklik nie. “In die toekoms hou jy jou op verbeel jy is onaantasbaar. Jy, my liewe Lille, is net ’n arm Franse meisie. Vergeet van jou danige agtergrond en daardie erfenis wat jy miskien sal kry, en gedra jou!” Sonder om nag te sê, swaai hy om en verdwyn die volgende oomblik, en toe Lille Jacquard na binne stap, beweeg ’n tweede skaduwee van agter ’n roosstruik uit en verdwyn vinnig oor die Kasteelmuur op die spoor van die eerste.
Ten spyte van die laat uur is graaf René, soos hy hier aan die Kaap bekend staan, nog wakker en ten volle in sy deftige partytjiedrag geklee toe hy besoek ontvang.
Hy is besig om ’n swaard in sy hand te swaai en te poets, die oop kas voor hom vol swaarde van allerhande groottes en patrone wat ’n versamelaar groen van jaloesie sou maak, toe Léon binnestap.
Laasgenoemde staan eers ’n oomblik onseker in die deur, sy oë ongelowig gerek. Soos baie ander het hy ook die petalje vanaand in die balsaal van die Kasteel aanskou, want soos aan hom opgedra, het hy Louis Paquin getrou gevolg. Hy het ’n entjie agter Louis Paquin in die tuin geskuil en deur die lang, lae vensters ’n goeie blik op die binnekant van die balsaal gehad. Hy het die ander man duidelik agter die donker struik waar hy geskuil het, hoor vloek toe Lille Jacquard die graaf met die plathand geklap het.
Tot voordat hy nou hier ingestap het, was hy teen wil en dank diep geamuseer oor die hele voorval. René de Louvois se gesig was ’n prentjie! Maar een blik na die swiepende swaardarm en die strak, stywe gesig daarbo vertel hom dat die graaf beslis niks amusants daarin gesien het nie.
Ysige oë kyk na hom op. “Ja?”
Léon trek sy gesig op ’n sedige plooi en vertel wat hy gesien het. Dan, asof hy homself nie kan keer nie, vra hy aarselend: “U gaan tog seker nie regtig … ek bedoel … sy is ’n vrou … ’n Man veg nie teen ’n vrou nie …”
Die gesig voor hom lê hom gou die swye op. Die woorde word afgebyt asof dit giftig is: “’n Vrou wat aan ’n man klap, is nie werd om soos ’n dame behandel te word nie. Wat ek eintlik moes gedoen het … ek moes haar daar en dan twee taai klappe teruggegee het!” Hy gooi twee swaarde voor Léon op die tafel neer. “Kyk dat hulle honderd persent in orde is vir môreoggend. Sy het die swaard gekies. Sy sal dit kry!”
Léon kan sy ontsteltenis nie langer verberg nie. “Gaan u haar regtig …?”
’n Harde glimlaggie breek oor die wit lippe. “Sy het mý regtig geklap, het sy nie?”
“Maar Louis Paquin sal tussenbeide tree! Hy gaan iets doen!”
“Dis presies wat ek hoop sal gebeur, my liewe Léon. Dis tyd dat Lille Jacquard die les van haar lewe geleer word. En dis ook tyd dat daardie jakkals op haar spoor uit sy nes gelok word.”
Hy lag skielik, sy oë vonkel hard in dié van die ander man. “Ek kan nie wag dat die son moet opkom nie!”
6
Lille het ’n onrustige nag agter die rug toe sy, lank voordat daar nog tekens is van ’n vroeë oggendskemering, wakker lê en nadink oor die probleem wat sy vir haarself die vorige dag geskep het.
Wat gaan sy doen as die graaf se koets netnou hier aankom om haar te kom haal vir die tweegeveg wat sy so onbesonne voorgestel het? Maar dít is nie haar grootste bekommernis nie. Haar gedagtes dwaal al na Louis en sy woorde: Los hom vir my. Die Louis Paquin wat sy die afgelope maande geleer ken het, vul haar met vrees, en sy weet nou dat hy geen respek vir lewe het nie. Haar intuïsie vertel haar dat daardie woorde van hom niks goeds vir die graaf De Louvois inhou nie. Haar kommer verdiep met elke verbygaande minuut. Sy kan die opgeblase graaf René nie verdra nie, maar sy wens hom ook geen kwaad toe nie. Sy hoop van harte hul paaie hoef nooit weer te kruis nie, maar tog sal sy ook nie wil hoor dat hy skielik aan sy einde gekom het nie. En as Louis vanoggend gaan doen wat sy vermoed hy beplan, sal sy net so aandadig aan sy dood wees as Louis self. Sy het immers die hele ding aan die gang gesit.
Sy gooi die beddegoed vinnig van haar af en soek na die kers. Buite is dit nog sterk skemer, maar binne die mure van die Kasteel moet sy lig maak terwyl sy haar vinnig aantrek. Sy het geen keuse nie. Sy sal haar afspraak met die jong graaf moet nakom as sy nie iets veel meer as bloot ’n slegte humeur op haar gewete wil hê nie.
Toe die koets van graaf René ’n rukkie later voor die poort van die Kasteel tot stilstand kom en die wagte hul gewere kruis om eers die rede vir hierdie onmoontlik vroeë besoek aan die Kasteel te verneem, rek nie net húl oë toe die gekruisde gewere opsy gedruk word en ’n jong dame na vore tree nie. Ook Léon, wat vanoggend koetsier is, kan sy oë nie glo nie. Hy was vas oortuig daarvan dat hy sonder ’n passasier sou moes terugkeer. Maar hier is sy sowaar!
“Ry dadelik!” beveel sy kortaf toe sy, sonder om van sy aangebode arm gebruik te maak, die koets bestyg.
Ook die wagtende man aan die bopunt van die Kompanjiestuin lyk half verras toe die koets stilhou en sy haar verskyning maak. Hy het eerlik gedink hy sal haar uit die bed moet gaan sleep om hul afspraak na te kom. Maar hier kom sy reguit op hom afgestap, die donker hare soos ’n swart golf agter haar, die ken omhoog gedruk en die oë trots.
’n Fyn glimlaggie verskyn om sy mondhoeke. Lille Jacquard is beslis in meer as een opsig ’n uitsonderlike vrou. Nietemin is sy gesig weer geslote en streng soos die vorige aand toe hy reg voor haar tot stilstand kom. Hy gee weer sy spottende buiginkie, maar vanoggend irriteer dit haar nie. Die man mors tyd. Hulle moet weg wees voordat Louis op die toneel verskyn.
“Goeiemôre, mam’selle. Mag ek sê dat u pragtig lyk op die laaste oggend van u lewe?”
Die donker oë flits, maar sy ignoreer dit en sê dan styf: “M’sieur, ek wil u om verskoning vra vir gisteraand.” Sy sien die verbasing en dan die glimlaggie in sy oë, en sy moet die ergernis in haar met stywe teuels vasruk. “Nie dat ek alleen skuld dra dat dinge so handuit geruk het nie, maar ek is bereid om vir my deel verskoning aan te bied. Goeiemôre, m’sieur.”
Sy draai dadelik om en stap aan koets toe, maar voordat sy die koetsdeur bereik, staan hy reeds met sy rug daarteen, arms gevou.
“Dis darem baie maklik, mam’selle. Jy het my gruwelik in die openbaar beledig en verneder, en nou dink jy jy kan alles net afmaak met daardie halfhartige toesprakie van jou. Sommer net so.”
Die swart oë flits weer. “Wat wil jy dan hê? ’n Openbare verskoning? Dan sal jy moet wag tot die volgende dansparty.”
Hy kyk stip. Dis baie duidelik dat wat sy doen, teen haar sin is. Hoekom vra sy dan om verskoning? Eintlik sou hy niks kon doen as sy die hele petalje verder geïgnoreer het nie, want almal, selfs ook die goewerneur, het dit as ’n grap beskou. Maar sy het tog vanoggend gekom, teen haar sin, en sy lyk senuweeagtig. Haar uitdagende houding en die kilheid in haar oë vertel hom dat dit beslis nie is as gevolg van vrees vir hom nie. Maar die manier waarop haar blik telkens van hom af wegdwaal, laat hom meteens frons.
“Verwag jy ’n besoeker vanoggend hier, mam’selle? ’n Sekondant miskien?”
Sy sluk. Sal hierdie man nou aanhou klets totdat Louis regtig hier aankom?
“Ek verwag niemand nie, m’sieur. Ek het verskoning gevra en wil nou asseblief teruggaan Kasteel toe.”
Maar René de Louvois lyk heel ontspanne daar teen die koetsdeur, sy arms steeds rustig oor sy bors gevou. “Ek veronderstel u ken die reëls van ’n tweegeveg? Indien een van die twee partye nie kans sien om die geveg voort te sit nie, is dit so goed of hy teken sy doodsvonnis. Hy is dan aan die genade van die ander oorgelaat en dit is dan vir hóm om te besluit wat verder met daardie persoon gaan gebeur.”
Sy kyk strak terug. Voorwaar, en hy