na die bedrywigheid hier voor hom. Hy glimlag terwyl hy luister na die kru seemanstaal wat op die ligte bries na hom aangedra word. Vanaand sal die Kaap weer lewe! Die manne was lank op see, en die wynrantsoen van ’n matroos is net genoeg om een vlieg effens lighoofdig te maak. Maar vanaand, ná maande waarin drange en drifte en dors hemelhoog opgehoop het, sal daar oorvloed wees van al daardie dinge wat hulle so lank moes ontbeer. Vanaand sal die Kaap weer Hollands wees – al het die Engelse die Kaap al in 1795 beset!
Die man lag saggies by homself. Wat ’n lewe! So vry soos ’n voël! Maande op see en dan ’n paar dae van matrooshemel op land. In elke hawe wag die drank en die meisies. Geen verantwoordelikheid. Geen gewetenswroeging oor gister of bekommernis oor môre nie. Dis net vandag wat tel – en vandag beteken drank en meisies in volle maat by ou Willemberg se gewilde kantien!
Hy grynslag nou effens teenoor homself. Dis wat jy moes geword het – ’n matroos! vertel hy homself, terwyl hy hom verlustig in die baldadige vreugde van die matrose wat nou op hul beurt aanroei land toe. Hulle is nes ’n klomp uitgelate kinders wat skielik besef dat al wat grootmens is, verdwyn het en dat hulle kan doen net waarvoor hulle lus voel. In geen onseker taal word oor en weer geskerts en vertel wat daar vir vanaand beoog word, en dis ’n gekorswel en gejou van die ander wêreld soos die bootjies nader aan die kaai kom.
Dan verstip die man se oë. Hy kan sweer …
Skielik kom daar lewe in sy roerlose gestalte en hy spoor die perd meteens vorentoe. Die matroos het net sy voet aan wal gesit toe hy opkyk en die ruiter gewaar wat reg op hom afpyl. ’n Vlugtige oomblik is daar vreugdevolle herkenning in sy oë. Dan, net toe hy die ligblou oë van die ruiter ontmoet, draai hy sy rug doelbewus op hom en laat hoor na agter waar Louis Paquin ook aan die uitklim is: “Welkom aan Kaap die Goeie Hoop, m’sieur! En nou vir Willemberg se kantien! Volg my!”
Louis Paquin kyk om hom rond en glimlag breed. “Mag, maar dit is goed om weer grond onder jou voete te voel! Reg so, ou maat. Wys die pad! Ek is reg vir Willemberg!”
Die matroos met sy vreemde gesel wat meer as een oog al getrek het – Louis Paquin se kleredrag verraai dat hy beslis nie een van die matroosgarde is nie – stap teenaan die ruiter verby, maar kyk nie eens op nie.
“Ja, jy sal nêrens in enige hawe mooier mam’selles kry as hier aan Kaap die Goeie Hoop nie, dit verseker ek jou,” loop hy kliphard en gesels. “Die goedjies is te pragtig – jy weet,” en hy beduie met sy hande, “die vatplekkies mooi rond op al die regte plekke!”
Die ruiter frons skerp en kyk die twee agterna. Wat het tog in Léon gevaar? Dan sien hy ’n hand agter Léon se rug beduie en baie vlugtig kyk die matroos na agter, vas in sy oë en knipoog. Maar dadelik is sy aandag weer by die goed geklede heer aan sy sy. Steeds fronsend, maar nou peinsend, volg die ruiter se blik hulle en dan keer hy sy perd om en verdwyn op ’n drafstappie in die teenoorgestelde rigting.
Hy sou graag nou besoek wou aflê by die Kasteel. Hy en goewerneur Dundas, asook hy en die ander hooggeplaaste amptenare van die “nuwe” bewind – soos die Hollandse en Franse ingesetenes nog steeds aan die Britse bewind dink – is op goeie voet. Hy gaan lê gewoonlik besoek daar af wanneer hy aan die Kaap terug is van een van sy jagtogte, maar hy het maar net gisteraand tuisgekom uit die binneland, en met die vae hoop dat daar miskien nuus van die vasteland sou wees wat met een van die laaste skepe hierheen gebring is, het hy eers ’n draai by die kaai kom gooi. Nuus het daar wel gekom, maar nie in die vorm wat hy verwag het nie. Wat sou Léon nou al teruggebring het hierheen?
Daarom skuif hy nou maar eers sy beleefdheidsbesoekie aan die Kasteel op die lange baan. Daar sal wel genoeg tyd wees in die eersvolgende dae om ’n paar woorde met die goewerneur te gaan wissel en miskien daardie donkerkop wat vandag aangekom het, te leer ken. Hy glimlag weer effens geamuseer, maar ook met ’n tikkie leedvermaak. Asof dit jou enigsins sal help om haar van nader te leer ken. Jou turf sit reeds, ou maat, gesels hy met homself terwyl hy een van die groot herehuise in die Heerengracht nader.
Die ontvangs by die Kasteel laat niks te wense oor nie, en Lille besef dat die stories wat in die beskaafde wêreld van die gasvryheid van die mense aan die Kaap vertel word, nie aangedik of oordryf is nie. ’n Uitroep van bewondering ontval haar lippe toe sy die slaapkamer binnestap wat haar aangewys word. Hier is beslis weelde wat te eniger tyd met die beste van Frankryk in die ou dae vóór die rewolusie vergelyk kan word. Die goewerneursvrou is gou om haar met trots in te lig: “Dit was een van die vertrekke wat lady Anne Barnard opgeknap het toe sy hier was.” ’n Slawemeisie kom by hulle verby met ’n groot lampetbeker met kokende warm water en die goewerneursvrou glimlag. “Jy sal jou seker eers ’n bietjie wil opknap. As daar enigiets is wat jy nodig het, sê net vir Miena. Sy sal jou persoonlike diensmeisie wees solank jy hier by ons bly.”
“Baie dankie, madame. U is so vriendelik.”
Toe die deur agter die ouer vrou toegaan, kan Lille gerus huil van dankbaarheid. Sy het nooit verwag om dit só hier aan te tref nie. Bekommerd wonder sy waar Louis hom gaan bevind. Sy voel skuldig dat sy hier in die gerief en weelde van die Kasteel gehuisves word terwyl hy tevrede moet wees met enige huisvesting, salig onbewus daarvan dat Louis Paquin hier in die Kasteel uit pas sou wees en by ou Willemberg se kantien en losieshuis in sy element is.
’n Ruk later, nadat sy haar opgeknap het, word sy genooi om saam met die goewerneurspaar ’n koppie tee te drink. Weer is sy stom van verbasing en bewondering toe sy die groot ontvangsvertrek binnestap.
Op hul beurt kyk die goewerneurspaar na die jong meisie wat met soveel ingebore grasie nader kom; in albei die vraag: wat het die Franse meisie, so duidelik van adellike afkoms, aan die Kaap kom soek? En dit alleen?
Lille is maar te bewus van die vraag in die twee paar oë en sy besef dat sy iets sal moet sê. Daarom glimlag sy nou en laat hoor: “Ek het vir sake Kaap toe gekom, en ek soek na ’n sekere man. Ek wonder of u my nie sal kan help nie, U Eksellensie.”
“Wie is dit, mam’selle? Miskien kan ek.”
“Dis ene Philippe Bidault. Ken u hom miskien?”
Die goewerneur frons, kyk haar stip aan. “Nee. Nee, ek ken nie iemand met so ’n naam aan die Kaap nie.”
Dis nou Lille se beurt om te frons. Sy lyk openlik ontsteld. “Maar ek is verseker hy is aan die Kaap. Hy móét hier wees! Ek het die hele ent pad gekom spesiaal om … om sake met hom te bespreek.”
Die goewerneur glimlag. “Moontlik is hy ook hier, mam’selle. U moet onthou ek ken nie almal aan die Kaap só goed nie. Veral die grensboere. Ek kan probeer ondersoek instel en kyk of ek hom opgespoor kan kry.”
“Grensboer? Wat is dit?”
Die goewerneursvrou glimlag. “O, dis mense wat op die verste buiteposte op plase bly. ’n Ruwe, ongepoleerde klompie, maar tog in hul harte goeie mense. Hulle is nou eintlik die ‘barbare’ van ons gemeenskap,” lag sy.
“Barbare?” Lille se oë is groot en rond.
Die goewerneur verduidelik verder. “Nie werklik barbare nie, mam’selle. Maar omdat die res van die beskaafde wêreld grootliks dink dis net barbare wat hier bly, kom hierdie grensboere die naaste aan daardie beskrywing. Soos u self kan sien, is ons ander hier net so beskaaf soos die mense van Europa.”
Lille sluk ’n slag. “Vertel my meer van die grensboere. Hoe lyk hulle? Hoe leef hulle, en wat doen hulle daar in die wildernis?”
“Hulle boer met bees en skaap en verder is hulle besig om die wêreld mak te maak al dieper die binneland in. Hulle bou opstalle, maak landerye, plant wingerde en so meer. Hulle is eintlik die temmers van hierdie onbekende land. Maar ons het ook baie probleme met hulle. Hulle is geneig om die wet in eie hande te neem, te doen wat hulle wil. Omdat hulle so ver van die Kaap af is, het hulle geleer om met die minste klaar te kom en na hulself om te sien. Ek moet eerlik sê dat hulle ’n mens se bewondering in daardie opsig afdwing. Hulle dra meestal velklere wat hulle self van dierevelle brei. Hulle maak hul eie skoene ook. En soos te verstane is hulle nie baie verfynd nie.” Hy glimlag vir haar groot oë. “Die mans dra almal oorwegend ’n welige bosbaard. ’n Skeerdery is tydverkwisting en onnodig in daardie woeste deel.