Wat gaan Louis doen?
Langs haar staan Louis Paquin ook die bedrywigheid voor hom en aanskou, ingenome en met ’n glimlaggie om sy lippe. Hy het al baie stories oor Kaap die Goeie Hoop gehoor, maar hy het dit nie só verwag nie. Die rye witgekalkte huise, selfs ’n paar dubbelverdiepings, met rye bome, netjiese strate, alles wek ’n indruk van netheid en beskaafdheid wat hom verras.
“Lille, ek het besluit om eers op die skip agter te bly. ”
Sy loer bekommerd in sy rigting. “Hoekom?”
“Ek dink nie dit sal verstandig wees as ons twee saam gesien word nie. Dit sal beter wees as ons voorgee dat ons mekaar glad nie ken nie.”
Haar gesig verstil. “Dan gaan jy my nou in die steek laat.”
“Natuurlik nie! Maar gebruik jou verstand. Hier kom jy by die Kaap aan, eintlik met die doel om kastig met ’n ander man te gaan trou, maar terselfdertyd bring jy darem jou vriend uit Frankryk saam. As dit bekend word, kan jy maar vergeet om meneer Bidault te oortuig. Nee. Ons ken mekaar glad nie van hierdie oomblik af nie. Jy sal seker in die Kasteel tuisgaan. Ek sal ’n ander woonplek kry, maar gereeld ongesiens met jou in verbinding tree. Intussen moet jy net sorg dat jy Bidault opspoor en my dan laat weet waar ek hom in die hande kan kry.”
Sy kyk hom weer vol agterdog aan. “Om wat te doen? Jy sê dan jy wil nie hê hy moet van jou bestaan te wete kom nie.”
“Ek het my sleg uitgedruk,” sê hy vinnig. “Wat ek eintlik bedoel, is dat jy so gou moontlik met Bidault kontak moet maak sodat ons kan weet waar ons staan.”
Lille is stil. In ’n mate is sy dankbaar dat hy so besluit het, want sy het gevind dat sy haar al dikwels moes skaam vir sy optrede. Dan ook het hy haar soms al begin irriteer en is sy bly om ’n rukkie van hom af weg te kom. Dit sal haar ’n kans gee om goed en helder te dink, veral oor hul vriendskap. Sy is nie meer so seker dat sy langer met hierdie verhouding wil voortgaan nie, maar hoe om dit te beëindig is ’n ander probleem waaroor sy haar op die oomblik nie durf bekommer nie. Haar erfenis en Philippe Bidault is nou die belangrikste.
As sy haar baie swak gedra teenoor hierdie heer, sien hy dalk nie kans om met so ’n onsmaaklike mens te trou nie, en kan sy verbykom by daardie onmoontlike bepaling van haar tante. Dan sal dit hý wees wat nie wil trou nie, en sodoende kan sy dan haar erfenis red. Dis die enigste uitweg waaraan sy tot dusver kon dink. Philippe Bidault moet so ’n weersin in haar kry dat hy nie vir al die geld ter wêreld kans sal sien om hom met so ’n vrou op te saal nie.
Só staan en maak sy haar eie planne, onbewus daarvan dat Louis Paquin ook besig is om sý plannetjies agtermekaar te kry. Daar is net een uitweg – Lille se mede-erfgenaam moet uit die weg geruim word. Hy het klaar besluit – hy wil die hele erfenis hê. Daar is mos ’n klousule dat die langslewende alles erf indien een van die erfgename vóór die troue iets oorkom. Dus … hy grim by homself. Maar hiervan moet die liewe Lille nie weet nie. Sy het nie in die harde leerskool van die lewe grootgeword nie. Sy sal geskok wees tot in haar preutse klein hartjie, dink hy smalend.
Hy draai na haar, gee haar hand ’n drukkie. “Daar kom die bootjie nou om die kaptein en passasiers te kom haal. Tot wederom, my skat.”
Sy kyk hom fronsend aan. Hy het darem ter wille van háár saamgekom. “Maar waar gaan jy bly? Wat gaan intussen van jou word?”
“Moenie bekommerd oor my wees nie, Lille. Ek verneem van die matrose hier is ’n baie oulike blyplek aan die Kaap. Ek gee nou eers pad. Ek wil nie hê ons moet saam gesien word nie.”
Teen wil en dank moet Lille ’n rukkie later alleen saam met die ander aan wal gaan. Terwyl die bootjie die terugrit na die kaai begin, kyk sy oor haar skouer terug na die La Rouge en sien dat Louis eenkant alleen hul vertrek staan en dophou. Maar nog oë bekyk die spulletjie met nougesette aandag. Snaaks. Die mam’selle en m’sieur het saam in Marseilles aangekom en die hele ent pad hierheen het almal geweet dat daar ’n band tussen hulle is. En nou gaan die mam’selle alleen aan wal … Interessant.
Louis word bewus van iemand hier langs hom by die reling toe die matroos vra: “Gaan u dan nie ook aan wal nie, m’sieur? Ek het dan gedink Kaap die Goeie Hoop is u eindbestemming.”
Louis kyk hom vererg aan. Hy voel lus om te sê dit gaan niemand aan nie, maar hy beteuel sy ergernis. Van nou af moet hy versigtig wees. Hy mag geen agterdog wek nie. Daarom glimlag hy nou vriendelik.
“Ja, ek gaan later aan wal. Daardie ou klomp wat nou vertrek het, sal natuurlik genooi word om in die Kasteel tuis te gaan, en ek voel nie daarvoor lus nie. Ek wil ’n bietjie die lewe aan die Kaap proe!” lag hy en knipoog veelbetekenend, en die matroos knik glimlaggend.
“Ja, in die Kasteel is dit seker maar ’n stywe ou spul. Maar in die res van die Kaap … Dit gaan jolig, veral as daar ’n paar skepe in die hawe lê, soos nou die geval is.”
“So het ek vermoed, en daarom wil ek nie ook Kasteel toe nie. Jy weet, ná maande op see voel ’n man darem lus vir ’n bietjie pret.”
Weer knik die matroos begrypend en sê met glinsterende oë: “Dan moet m’sieur saam met my aan wal gaan. Ek sal u net die plek wys waar u dit die joligste sal tref – by ou Willemberg se kantien. Hy hou meisies ook daar aan … e … en verhuur kamers vir die nag.”
“Pragtig! Net wat ek wil hê!” Hy kyk die matroos ondersoekend aan. “Dan was jy al tevore hier?”
“Ja, m’sieur. Ek ken die Kaap redelik goed.”
“So? Sê my … jy ken nie miskien ’n man met die naam Philippe Bidault nie? Of weet iets van hom af nie?”
Die matroos se oë vernou effens, dan skud hy sy kop. “Nog nie gehoor van die man nie. Is hy ’n bekende aan die Kaap?”
“Ek vermoed so. Hy is al ’n hele rukkie hier sover ek weet. Dan het jy nog nie van hom gehoor nie?”
“Nee, m’sieur, maar ek kan probeer vasstel wanneer ons aan land is.”
“Dit sal gaaf wees. Maar moenie te ooglopend navraag doen nie, hoor? Vis ’n bietjie uit, maar hou dit net tussen ons. As jy vir my kan vasstel waar die man hom bevind, sal ek jou natuurlik goed beloon daarvoor,” glimlag Louis Paquin, deeglik bewus daarvan dat die soldy van ’n matroos altyd aangevul kan word. Soos hy verwag het, knik die matroos gretig.
“Ek sal so maak, m’sieur. Daar stuur hulle nou die ander bootjies vir die bemanning. Ons kan maar solank touleer se kant toe staan.”
Onwetend dat Louis Paquin reeds sy planne in werking begin stel het, laat Lille toe dat sy uit die bootjie gehelp word, en die eerste keer in maande voel sy weer vaste aarde onder haar voete.
Voor haar staan ’n lang, donker man en sy word formeel bekendgestel aan generaal Francis Dundas, die huidige goewerneur aan die Kaap tydens die eerste Britse Besetting.
Sy, sowel as die paar ander passasiers – laasgenoemde eintlik op pad na die Verre Ooste, maar dankbaar vir ’n verposing op land – word dadelik na twee wagtende koetse geneem om hulle na die Kasteel te vervoer. Totaal onbewus daarvan dat ook hier op land oë op haar gerig is en haar aankoms aanskou, klim sy in een van die koetse en hulle vertrek, haar blik belangstellend om haar op al die tekens van die beskawing wat sy nie verwag het om aan hierdie verre suidpunt aan te tref nie. Sy het wel staaltjies en vertellinge van Kaap die Goeie Hoop in Frankryk gehoor en daaruit afgelei dat hierdie verste punt van die groot vasteland geensins so barbaars en primitief is as wat baie dink nie, maar vir haar het dit ’n woeste, ongetemde wêrelddeel gebly.
Maar daar is geen tekens van verskrikking en wrede, wilde barbare in die toneeltjies wat haar oë begroet nie. Hoewel die enkele dames wat sy gewaar wel miskien ’n bietjie oudmodies geklee is – dit neem weliswaar tyd vir ’n nuwe modegril om tot hier te kom – kan sy sien dat hier reeds ’n redelik hoë peil van beskawing gehandhaaf word, en sy slaak innerlik ’n sug van verligting. Dan sal ene monsieur Philippe Bidault darem seker ook nie heeltemal ’n barbaar wees, ’n woesteling met lang baard en onverfynde maniere, soos sy haar hom tot dusver voorgestel het nie. Miskien sal die man tog na haar