flirt.
■Jy gaan huis toe. (Nie joune nie.)
■Jy trek uit. Jy trek aan. (As jy safe seks beoefen.)
Met ander woorde, al sien jy nooit weer die one-night stand of fling nie, is die seks nie net iets wat vanself gebeur het nie. Dit is iets wat vir altyd by jou sal spook.
Seks is altyd die eindresultaat, nooit die begin nie. Daarom moet ons minder gefokus wees op die seksuele deel van affairs en ons oë vroeër oopmaak vir die ontwikkeling van die affair.
Wanneer ons definisie van affairs gekoppel bly aan die eindresultaat, sal ons nooit ons huwelik affair-bestand kan maak nie. Kom ons wees eerlik met mekaar, want die oomblik wanneer daar seks betrokke is, is dit baiekeer te laat. Die koeël is deur die kerk, die papaja het klaar die waaier getref.
Gelukkig is die meeste mense darem nie tans besig met ’n seksuele verhouding nie, maar dit beteken nie dat baie nie deeglik daarheen op pad is nie. En die hartseer ding is, ons kom dit nie eens agter nie.
Ek nooi jou uit om saam met my die reis aan te durf om anders na affairs te begin kyk, anders oor liefde, vertroue en vergifnis te dink. En ek belowe jou, jou huwelik sal beter wees as gevolg daarvan. Dalk nie mooier of meer perfek nie, maar vir seker meer outentiek en dus gesonder. Laat ons ontslae raak van die idee van “trou met jou sielsgenoot en dan sal ons happily-ever-after saamleef. ’n Perfekte huwelik is een wat foute, bakleiery en verskille (soms groot verskille) bevat, maar een wat nie bereid is om toe te laat dat dit hul liefde vir mekaar omskryf nie.
Die belangrikste ding wat mense nodig het om te hoor wat by my kantoor instap, is dat hulle normaal is. Want volgens hulle, is hulle die enigste paartjie wat deur hierdie of daardie fase gaan. En die oomblik wanneer jy dink dat jy alleen is of unieke probleme het, selfs dat jy die een is wat nie in die “perfekte” sielsgenoot-happily-ever-after-boksie pas nie, verloor jy alle hoop en moed om eens te probeer.
Dit is waar ek inpas, om vir jou te sê dat daardie “perfekte” sielsgenoot en happily-ever-after eintlik nie normaal is nie, en dat jy met jou gemengde gevoelens, wipplank-emosies, irritasies en al vir jou maat heel normaal is. So, moenie jou maat verander om by jou “perfekte” huweliksprentjie te pas nie, verander eerder jou “perfekte” huweliksprentjie om beter by jou maat te pas.
Noudat jy bereid is om jou huidige seksdefinisie van affairs eenkant toe te skuif, wil ek jou vra om ook jou bestaande narratiewe, oftewel storielyne, van Adam en Eva opsy te sit.
Wanneer ons dit doen, glo ek ons sal raaksien wat ons albei ongemaklik laat voel, asook dit wat ons die sleutels sal gee om ons huwelik affair-bestand te maak.
Adam en Eva – die eerste egbrekers
Adam en Eva se storie is meer as net die eerste storie in die Bybel. Dit doen veel meer as om die eerste bladsy van ’n Kinderbybel vol te maak en met prentjies van appels, vyeblare en slange versier te wees. Die storie van Adam en Eva gaan oor soveel meer dinge, maar vir eers stel ek slegs belang in wat dit my kan leer oor my “paradys”-huwelik en my “hel”-huwelik, en hoe die lees van Adam en Eva se storie my huwelik affair-bestand kan maak.
Adam en Eva se storie is ook my en jou storie. Vandag. Nou. Al is my naam Timothy en my vrou se naam Janet. Niemand van ons leef meer in die geografiese paradys nie, maar ons almal het nog ’n prentjie hoe ons hoop ons lewe en ons huwelik gaan uitdraai. Die meeste mense wat al lank genoeg geleef het en getroud is, besef dat die werklikheid van ’n huwelik nie altyd dieselfde is as die mooi happily-ever-after-prentjie nie. Ons raak bewus van die kennis van goed en kwaad. (Soms meer kwaad as goed.) Ons begin twyfel in hierdie paradysprentjie. Ons begin antwoorde en kort paaie na die volgende naaste geadverteerde paradys soek, wat altyd deur ’n “vriendelike slang”-ding aan ons bemark word.
Dit was nie Adam en Eva wat mekaar verneuk het nie, maar eerder die mens wat God verneuk het. Die mens het God, met wie hulle ’n intieme verhouding gehad het, verneuk. God het daagliks in die Tuin van Eden saam met hulle gewandel. Hy het hulle elke dag meer geleer van die boom van die lewe. Hy het die kennis van Hom en van mekaar en van hulself verdiep.
Maar soos met enige normale verhouding is daar “eie wil” betrokke. Daarom staan die boom van kennis, van goed en kwaad, langs die boom van die lewe. Adam en Eva het dalk geen keuse gehad as om mekaar te kies nie (daar was nie ander Adams en Evas om van te kies nie), maar hulle het vir seker ’n keuse gehad om God te kies en Hom lief te hê. Want God was nie die enigste god nie. Lucifer het (in sy eie oë) ’n god geword en daardie selfde godheid aan Eva verkoop. “Eet van hierdie boom van kennis, goed en kwaad, en jy sal soos God word.” Dit was die versoeking. Nadat Eva in haar eie oë ’n god geword het, deur soos God alles te weet van goed en kwaad, gee sy van hierdie “eie wil”-vrug ook vir Adam, wat direk by God gehoor het dat hy nie sy eie wil mag en moet volg nie. Daar was reëls wat spesiaal en spesifiek ingestel is – reëls wat groter as hy is, reëls wat lewensgebeurtenisse beheer. Adam het nie na God se wil geluister nie en sy vrou se wil bo God s’n verheerlik. Hy het haar sy god gemaak.
Ons hoef glad nie uiters geestelik te raak met wat God is en wat sy wil vir ons lewe is nie. Dit waarop ek nou wil fokus, is dat daar sekere beginsels, reëls en ideale is, wat ons dan as “God se wil” kan beskryf. As ons daarby bly, sal ons die positiewe vrugte daarvan pluk. Soos om getrou te bly. Die teendeel is ook waar: Hoe verder ons van “God se wil” wegdwaal, hoe meer negatiewe vrugte is daar wat ons vir onsself pluk. Soos om ’n affair aan te knoop.
Ek wil hê jy moet een ding dadelik raaksien in Adam en Eva se storie. Hulle het ’n verhouding met ’n ware, perfekte God gehad. Adam en Eva het sekerlik geen ware behoefte of tekort in die verhouding gehad nie. Hoe kon God nie die perfekte vennoot wees nie?
Ten spyte daarvan om in ’n ware paradys met ’n ware God in ’n ware intieme verhouding te wees, het die mens steeds meer gesoek. Hulle was ontevrede met wat hulle van God ontvang het. God was nie vir hulle genoeg nie. Hulle was lus vir nog. Lus vir iets buite die verhouding met God. Lus vir iets buite die paradys. Lus vir iets wat God nie vir hulle kon of wou gee nie.
Dink ’n bietjie hieroor: As God nie eens genoeg kon wees vir die mens nie, hoe op aarde dink jy sal jy genoeg kan wees vir jou huweliksmaat?
Volgens die algemene stereotipe glo ons dat ’n affair uit ’n ongelukkige huwelik ontstaan, een waar ons maats nie aan al ons behoeftes en begeertes voldoen nie. En wanneer een persoon ’n affair aanknoop, dan sak die ander een se wêreld en selfbeeld ineen, want “ek het misluk”. Dit is die sin wat ons glo. “Ek moes beter! Wat het ek verkeerd gedoen?”
Dink jy God het hierdie soort vrae gevra toe Adam en Eva Hom verneuk het? Nee! God het besef dit is ’n mensprobleem en nie ’n Godprobleem nie.
Of jy nou hierdie boek lees omdat jou grootste vrees is om eendag in die affair-slaggat te trap (hetsy direk of indirek), en of jy reeds deur ’n affair is, sit regop en luister na dit wat ek nou vir jou gaan sê. Die hoofrede vir ’n persoon om in ’n affair betrokke te raak, is veel eerder ’n weerkaatsing van “self” en nie van die gehalte of wese van sy of haar maat nie.
Met ander woorde, Adam en Eva het nie gesondig omdat God nie goed genoeg was nie, maar eerder omdat Adam en Eva nie goed genoeg vir hulself was nie. Dit is hierdie innerlike leemte wat die wortel van alle affairs is, glo ek.
Ons almal het pyn, seer en trauma in ons verlede. Daarom loop ons almal gevaar om uit te reik na die naaste “antwoord” om ons innerlike leemte te vul. En raai wat? Dit is nie God se verantwoordelikheid om daardie leemte te vul nie. Dit is jou verantwoordelikheid om jou hart oop te maak vir God en Hom toe te laat om jou lewe betekenis en vervulling te gee.
Die mens het egbreuk met God gepleeg, en sodoende die uitreiking na en wisselwerking met die slang van Hom probeer wegsteek. Maar hierdie verraad is nie gegrond in ons wat te vol van onsself is nie, maar eerder in ons wat te leeg van onsself is. Adam en Eva was nie gelukkig om mens te wees nie, hulle wou gode word. En dit is hierdie primitiewe onvergenoegdheid wat ons vandag steeds dryf om in affairs betrokke te raak. As ons vrede maak met wie ons is en die rol wat ons in ons gesin vertolk, sal die begeerte om iemand anders te wees, met ’n nuwe rol, nie vir