staan. Elke nou en dan waai die seesproei oor die dek waar twee vroue teen die reling staan en uitkyk oor die eindelose blou water. Agter hulle het die kus van Frankryk dae gelede al agter die horison verdwyn. Voor hulle is daar niks … geen hoop op iets beters.
“Ninon?” vra Isabelle.
“Oui, chérie?”
“Wat het jy gehoor van die Kaap de Goede Hoop? Papa het my vertel dat daar baie storms is en dat baie skepe daar vergaan het.”
Ninon se oë rek. “Mais non! Dis tog seker nie so nie. Ek het gehoor dis ’n baie mooi land, waar die wingerde net so geil groei as in Bordeaux. Non, ek dink ons sal gelukkig daar wees.”
“Ek hoop jy is reg …”
Ninon antwoord nie, maar kyk net treurig uit oor die deinende see, asof sy iets onthou wat sy liewer wou vergeet het.
Isabelle kyk skuinsweg na haar chaperone; sy weet Ninon dink aan daardie laaste paar maande in die pragtige herehuis in Bordeaux waar hulle gewoon het. Sy sluk swaar. As haar vader net nie so onverwags gesterf het nie, sou dinge dalk soveel anders verloop het.
“Ek wonder of ek nog met Etienne le Riche sou getrou het,” spreek sy haar gedagtes hardop uit.
Die chaperone kyk vinnig na haar en glimlag. “Jy het geraai waaraan ek dink.” Sy haal haar skouers op. “Dink so daaraan: jy is sedert jou twaalfde jaar aan monsieur Etienne le Riche verloof, mon ami. Dinge sou nie anders verloop het nie.”
“Ek kan hom nie regtig meer onthou nie, weet jy? Dit was agt jaar gelede dat ek hom laas gesien het, net voordat hy na die Kaap de Goede Hoop vertrek het.”
“Jy sal hom herken, moet jou nie daaroor bekommer nie.”
Isabelle draai na haar. “Hoe kan ’n mens jou toekomsgeluk bou op die feit dat jy darem die man sal herken aan wie jy verloof is? Is dit nie ’n bietjie te min nie?”
Ninon lag. “Jy is ’n baie welgestelde jong vrou, Isabelle. Jy sal nooit armoede ken nie; jy sal alles hê wat jou hart begeer.”
Isabelle kyk stip na die ouer vrou. “Maar ek sal dalk nooit gelukkig wees nie.”
Ninon antwoord nie omdat sy geen antwoord daarop het nie, en Isabelle bly uitkyk oor die see. Sy probeer die gesig van Etienne le Riche onthou.
Dan haal sy diep asem en draai weg van die reling. Ninon volg haar na hul kajuit.
Voor sonop die volgende dag skrik Isabelle met ’n skok wakker. Daar is ’n tweede ontploffing en sy voel hoe die skip onder hulle sidder. Ninon gil met ’n hoë stem totdat Isabelle haar skerp vermaan.
“Ek gaan uitvind wat aan die gang is!” Sy trek haastig haar klere bo-oor haar nagrok aan. Buite hoor sy ’n groot lawaai, mense wat op mekaar skreeu en skote wat klap. Binne minute is sy aangetrek en op pad uit.
“Bly in die kajuit, chérie!” soebat Ninon, maar Isabelle is reeds af met die smal gangetjie na die trap wat na die dek lei.
Van die ander passasiers kom ook te voorskyn. Hulle bondel in groepies saam en probeer sin maak uit die lawaai.
Buite op die dek is daar pandemonium. Dit ruik na kruitdampe en swael en deur die rook sien Isabelle hoe die matrose heen en weer hardloop om die kanonne gelaai te kry. Die grootste geraas kom van onder die dek waar die groter kanonne is – dis dié lawaai wat haar en Ninon laat wakker skrik het.
Dis nog sterk skemer en sy kan die donker seile van ’n ander skip in die ligte mis uitmaak. Elke keer wat die kanonne bulder, blits die vuurtonge in die mistige duisternis en verleen ’n spookagtigheid aan die toneel.
Plotseling bars ’n kanonkoeël deur die hoofmas van die Santa Maria en die takelwerk stort na benede. Met ’n gil spring Isabelle uit die pad. Die matrose skree opgewonde onder mekaar en telkens hoor sy die kaptein se stem bo die lawaai soos wat hy bevele uitskreeu.
’n Matroos verskyn uit die rookdampe naby Isabelle.
“Wat gaan aan, Monsieur?” roep sy na hom.
Hy steek vas. “Ons word aangeval … of kan jy dit nie sien nie?”
Die ongeduld is duidelik en skerp in sy stem, en dan verdwyn hy met die trap op na die voorkasteel. Net toe sy ondertoe wil gaan om die nuus aan die ander oor te dra, verskyn Jeanne, die jong Franse meisie met wie sy die afgelope paar dae vriende gemaak het, langs haar.
“Ek het gehoor wat hy sê. Kan jy sien wie ons aanval?”
Die mis is besig om weg te trek en dit word vinnig lig. Toe ’n ligte bries die rookdampe eenkant toe vee, sien Isabelle die vlag aan die ander skip se mas.
“Seerowers …” sê sy geskok.
Jeanne beur by haar verby om seker te maak dat Isabelle reg gesien het. “Sacre bleu!”
Die Spaanse seerowerskip is besig om die opening tussen hom en die Santa Maria vinnig kleiner te maak en terwyl hulle nog versteen van skok staan en kyk, word gryphake na die reling van die Santa Maria gegooi. Sekondes later kom hordes seerowers oor die dek aangeswerm.
Die twee vroue draai om en vlug na die skip se ruim. Ninon is rasend van ontsteltenis toe sy van die seerowers hoor. Hulle bondel saam in een kajuit en luister gespanne na wat op die dek aan die gang is.
Skielik word die kajuitdeur oopgeruk en twee seerowers kom in. Hulle los Ninon, maar gryp Jeanne en Isabelle en stamp hulle by die kajuit uit.
“Mademoiselle!” gil Ninon huilend.
“Ek kom weer!” roep Isabelle, maar sy kry die gevoel dat sy haar ou chaperone nie gou weer sal sien nie.
Op die dek het die geveg reeds geëindig. Die Santa Maria se bemanning en kaptein staan bedremmeld in ’n groep terwyl die seerowers hulle met kapmesse op hulle plek hou.
Vier meisies van die Santa Maria, waaronder Jeanne en Isabelle, word hardhandig oor die reling van die skip na die El Tigres langsaan geneem. Isabelle verwag die ergste, want sy het al baie stories gehoor oor wat seerowers met vroue maak. Nie in haar wildste drome het sy gedink dat so iets ooit met haar sou gebeur nie.
Sy probeer haar nie teësit toe hulle na die ruim van die seerowerskip geneem word nie, want daar is niemand wat hulle te hulp sal kan snel nie. Al wat sy kan doen, is om te bid dat ’n ander skip hulle sal kom red.
Eers laat die middag kom die kaptein van die El Tigres die meisies die eerste keer besoek. Hy is ’n onaangename man met ’n vuil baard en ’n songebrande gesig waarop vele littekens pryk.
“As julle julle kan gedra, kan julle heelwat vryheid op my skip geniet.” Dan verlaat hy die kajuit en sluit die deur agter hom.
Hulle sit in stilte en hulle weet nie wat om vir mekaar te sê nie. Die ander meisies is net so verward, maar wat Isabelle hinder, is dat daar reeds ’n paar jong vroue in die kajuit was toe hulle ingekom het. Altesaam is hulle nou elf.
Sy vind uit dat die ander meisies van ’n ander skip afkomstig is en dat hulle net so in die war is oor wat met hulle gaan gebeur. Terwyl hulle nog praat, word die deur weer oopgesluit en nog ’n jong meisie word ingestoot. Isabelle lig haar wenkbroue effens, want die kajuit word nou ondraaglik vol.
“Sy het vir julle ’n boodskap,” sê die matroos en maak die deur weer toe.
Die nuweling is Spaans, maar sy praat nie. Toe Jeanne haar aanpor om te sê wat die boodskap is, maak sy haar mond oop en Isabelle staan geskok terug. Die meisie se tong is uitgesny. Sy skryf haar naam teen die wand van die kajuit: Riza, en dis omtrent al wat hulle uit haar kan kry.
Laat die aand word hulle toegelaat om op dek te gaan. Jeanne en Isabelle gaan staan eenkant en Riza sluit by hulle aan. Sy beduie na ’n ouerige Spaanse vrou wat met een van die meisies staan en praat en Isabelle lei af dat sy wil hê dat hulle ook met haar moet gaan praat.
Sy bly half besluiteloos rondstaan, onseker of dit die regte ding sal wees om te doen. Die vrou het lang, donker hare wat in ’n bolla in haar nek vasgemaak is. Sy dra baie