die vrou na hulle toe. Sy glimlag vir Riza, wat verskrik lyk.
“Die ou voëltjie kan nie meer sing nie,” sê sy. “Tog so jammer dat ’n mens sulke dinge oor jouself bring.” Sy kyk na die meisies, wat afwagtend na haar staar. “Ek is Consuelo. Julle sal my maar min sien, aangesien ek die kaptein se regterhand is.”
“Wat beplan julle met ons?” vra Isabelle.
“Ek kan julle nie help nie,” antwoord Consuelo, “maar julle behoort te weet dat julle op pad is na Arabië, waar julle as slavinne verkoop sal word. As julle gelukkig is, sal julle in die huis van ’n goeie sjeik beland, maar ek is bevrees dit mag dalk nie gebeur nie.”
“Hoekom nie?” wil Isabelle weet.
“Omdat sjeik Salem Khidr na slavinne soek – en die hemele behoed die een wat deur hom gekoop word. As julle probleme gee, onthou net wat met Riza gebeur het. Julle sal doen wat julle aangesê word, of dieselfde lot sal julle tref.”
Toe sy van hulle af wegstap, kyk Isabelle na Riza. “Is dit alles waar?”
Riza knik net, haar blik treurig.
“As ek net vir Etienne kon laat weet het,” mymer Isabelle, maar die skrik in Riza se oë laat haar besef dat sy baie versigtig moet wees.
Die wind steek skerp op en hulle haas hulle na binne. Daar is so baie waaroor hulle moet praat, dink Isabelle, maar so min wat hulle daaroor kan sê. Al wat hulle doen, is om te sit en te luister hoe ’n storm opsteek en buite gier en raas. Die skip wieg swaar oor die deinings en die houtwerk kreun onder die aanslag.
Dit gaan ’n lang nag wees, dink Isabelle mismoedig, ’n nag waarin sy oor en oor gaan wonder hoe sy hierdie situasie kon vermy het.
Die storm laat die branders oor die boeg van die skip breek en spoel al die losgoed die see in, maar in die kajuit voel die passasiers die geweld daarvan nie so erg nie. Teen die volgende dag is die ergste verby.
Daar is geen manier om uit te vind of die Santa Maria dit oorleef het nie, want teen hierdie tyd het die twee skepe baie seemyle uitmekaar gedryf, besef Isabelle. Die El Tigres is stewiger gebou en het steeds swaargekry. Sonder die hoofmas sou die Santa Maria dit dalk nie gemaak het nie … en wat dan van haar dierbare Ninon?
Hulle vaar ’n paar dae lank suid en draai dan suidoos. Die elf vroue sit met beklemming en wonder wat vorentoe met hulle gaan gebeur. Niemand is lus om te gesels nie, want elke gesprek kom altyd terug na hulle benarde situasie, en die gedagte daaraan dat ook hulle tonge uitgesny kan word. Riza is iewers gedurende die nag kom haal en het nog nie teruggekeer nie.
Niemand weet lateraan meer hoe lank hulle oos gevaar het nie, maar een oggend word die anker neergelaat. Die vroue word eenkant op die dek bymekaar gebondel en hulle staan en kyk hoe vier platboomskuite te water gelaat word. Altesaam twaalf mans met gewere en swepe gewapen word na die strand geroei.
Isabelle staar nuuskierig na die duine en die plantlewe daaragter. Daar is geen teken van lewe op die strand nie. Daar is geen fort of hutte wat daarop dui dat dit dalk ’n verversingstasie is nie.
Sy sien hoe die skuite op die sand uitgesleep word en hoe die klompie mans tussen die bosse verdwyn.
“Hulle het seker gaan jag,” waag een dit.
“Dit kan wees,” meen ’n ander, “maar hoekom so baie van hulle?”
Die meisies bly in die klam weer op die dek staan en staar na die strand. Sowat ’n uur later weergalm skote tussen die bosse. Die skip is te ver die see in vir Isabelle om behoorlik te kan sien wat aan die gang is. Sy soek na Riza om te vra wat dit alles beteken, maar die Spaanse meisie is steeds nêrens te sien nie.
Plotseling is daar beweging op die strand en ’n hele klomp mense peul by die bosse uit. Hulle hardloop al met die strand langs, met die matrose agterna. Daar is ’n geskreeu en af en toe ’n geweerskoot hoorbaar. Nog ’n paar matrose kom uit die bosse te voorskyn en sny die vlugtendes se pad af. Net een van die vlugtendes kry dit reg om weg te breek en terug te hardloop na die bosse. Geweerskote klap agter hom aan, maar hy verdwyn vinnig in die ruigtes.
“Dis slawe,” fluister Isabelle ontsteld. “Ons is nie net op ’n seerowerskip nie, dis ook ’n slaweskip.”
“Arme drommels,” sê Jeanne.
“Dis woorde wat jy vir óns moet spaar,” antwoord Isabelle. Haar hele lyf voel koud van skok.
Hulle word na die kajuit gejaag toe die mense op die strand in die skuite gelaai word en die luik word agter hulle gesluit. Hulle sit en luister na wat op die dek aangaan en spoedig hoor hulle die skuite teen die wand van die skip skuur. Hulle kyk na mekaar, want hulle weet wat aan die gang is. Buite skreeu die matrose op die ongelukkige gevangenes en hulle hoor hoe ’n paar sweephoue klap. Daar is ’n groot rumoer op die dek. Hulle hoor die voetstappe bokant hul koppe, swaar voorwerpe wat rondgesleep word, en tussen die sweephoue deur hoor hulle mense angsbevange gil.
Na ’n ruk word dit stil en klink die bevel op dat die anker gelig moet word. Niemand sê ’n woord nie. Hulle kyk skaars na mekaar toe die skip eindelik weer in beweging kom en wegvaar van die strand asof niks gebeur het nie.
Die aand kom Riza terug en rapporteer met gebaretaal: nog sewe en twintig slawe is gevang. Die kos en watervoorraad raak min, en die volgende verversingstasie is nog vier dae ver.
In die versengende hitte word die water gou sleg en die vleis begin maaiers in kry. Die groente is lankal vrot en daar is eintlik nog net meel wat eetbaar is, hoewel dit ook begin muf het. Hulle situasie is benard.
Dis ’n verligting toe hulle die verversingstasie eindelik bereik en vars voedsel opgelaai kan word. Dan keer die El Tigres terug na die roete waarlangs dit gekom het.
Isabelle verval in ’n moeras van moedeloosheid. Soms voel dit of dit haar nie meer kan skeel wat van haar word nie, en ander kere kom haar hele wese in opstand. Sy het nie verdien om op hierdie slaweskip te beland nie. Dis ’n nagmerrie en spoedig sal sy daaruit wakker skrik. Maar die nagmerrie hou aan.
Riza en Isabelle staan gewoonlik saam teen die reling en dan vertel Isabelle haar van haar eie land, ver in die vreemde. Sy vertel van haar familie en die plek waar sy grootgeword het, maar Riza kan nie haar eie verhaal aan Isabelle vertel nie. Net aan die hartseer in haar donker oë kan Isabelle sien dat sy ook al bitter en pynlike dinge deurgemaak het.
Eindelik, ná weke op see en baie vreemde aandoenplekke, bereik hulle die kus van Egipte. Nie een van hulle is opgewonde daaroor nie, want hier begin die onbekende, die lot wat hulle die hele reis hierheen gevrees het. Hulle staan by die reling van die skip en kyk na die ander skepe in die hawe en na die miernes van bedrywighede op die kaaie.
Die anker word neergelaat, want hulle het hulle bestemming bereik – die hawe van Alexandrië.
Die elf meisies word op skuite gelaai en kort na sononder haastig land toe geroei. Daar is geen tyd of geleentheid om ’n ontsnapping te oorweeg nie. So vinnig as wat hulle kan hardloop, word hulle aangejaag al met smal stegies af, oor sandverwaaide binnehowe tot by ’n witgekalkte kliphuis iewers in die stad. Selfs al sou hulle ontsnap, sou hulle nooit as te nimmer hulle pad kon terugvind na die hawe nie.
Hulle word in die huis onder die bewaking van ’n paar Arabiere gelaat. Riza het iewers in die jaagtog na die huis van hulle geskei geraak, want sy is nie meer by hulle nie. Dit is ’n groot teleurstelling vir Isabelle, wat aangetrokke gevoel het tot die stom Spaanse meisie.
Haar drome van ’n mooi, gelukkige toekoms het soos water in die sand weggesak. Sy is nie in die Kaap de Goede Hoop waar sy op geluk gehoop het nie, sy is in Egipte, ’n land waarvan sy nog net gehoor het en wat sy nooit gedink het sy sou sien nie.
’n Week later word hulle op kamele gelaai en begin ’n lang, vermoeiende tog deur die woestynland na nugter weet waar. In Ouseir word hulle op nog ’n skip gelaai, veel kleiner as die een waarmee hulle gekom het, en hulle vaar suidwaarts op die Rooisee. Ná wat soos ’n ewigheid voel, gooi hulle anker in die hawe van Sden.
Toe hulle op die dek uitgaan, staar Isabelle verslae na die barre