Ek kom! pons sy vinnig met haar duime in.
Daar’s nog ’n boodskap, van ouma Hebs. Emma was so verdiep in die skilderye dat sy dit nie eens gehoor het nie. Gaan kyk na die standbeeld van die sater en sy beertjies onder in die groot saal. Dis wel nie Pan nie, maar sy jonger nefie. Stuur groete!
Wat bedoel haar ouma, stuur groete? Vir Phillibert?
In die sentrale saal storm ’n sekuriteitswag op haar af. “Mademoiselle, we are closed!”
“I know. So sorry, I got lost!” mompel sy toe hy haar aan die elmboog pak en by die deur uit marsjeer.
Dan is sy buite, op die plein langs die museum waar die skadu’s al lank oor die keistene rek. Die res van die groep wag haar in.
“Waar was jy?” raas Kevin. “Ons is moeg gewag vir jou.”
“Is jy okay?” vra meneer Thompson besorg. “Jy’s wasbleek!”
“Ek voel ’n bietjie …” stamel sy.
“Toemaar, neem een van hierdie.” Meneer Thompson hou ’n dosie karameltoffies na haar toe uit. “Dit help vir lae bloedsuiker. Ons het ’n hele entjie om terug te stap na Chez Flaubert, en aandete is om agtuur.”
Die toffie is soet en smelt op haar tong. Hulle steek die besige laan oor en stap op die breë sypaadjie aan die linkeroewer van die Seine. Die middagson is skerp; daar is geen teken meer van reën nie. Stadigaan keer Emma se hartklop terug na normaal, maar sy voel steeds vreemd en gedisoriënteerd.
“Dis nog so lig buite,” merk Tombi op.
“Ja, dis een van die beste dinge van die somer hier,” antwoord meneer Thompson. “Die son sak eers skuins voor tien vanaand. En sesuur môreoggend is dit weer helder lig.”
“Het julle die skilderye van Gauguin gesien?” vra Kevin opgewonde. “Daai wat hy geskilder het toe hy in Tahiti was. En die ballerinas van Degas! Ek’s nou bly ek het kuns as vak, skielik maak dit baie meer sin. Die Pointilliste, die Impressioniste, die Nabi’s!”
Meneer Thompson glimlag vir sy entoesiasme. “Het jy geweet die Nabi-beweging is aanvanklik deur Gaugain se werk geïnspireer?”
“Sowaar!” sê Kevin beïndruk.
Emma skraap haar moed bymekaar. “Meneer, is daar regtig iets soos Stendhal se sindroom?”
Meneer Thompson lyk verbaas. “Waar het jy daarvan gehoor?”
“My ouma het iets daaroor gesê.”
“Wel, Stendhal se sindroom word eintlik gekoppel aan Florence in Italië. Dis waar dit die eerste keer beskryf is. Die kuns daar is blykbaar ongelooflik, dis hoog op my wenslys om dit nog eendag te gaan kyk.”
“En wat presies is dit … die sindroom?”
“Sommige mense is glo meer vatbaar daarvoor as ander. Die algemene simptome wat beskryf word, is duiseligheid, ’n versnelde hartklop, oormatige sweet en hallusinasies.”
Emma gaan staan botstil. Hallusinasies! Was die outjie met sy beertjies dan net ’n produk van haar oorgestimuleerde verbeelding?
“Kom, moenie agter raak nie!” roep meneer Thompson.
Sy rek haar treë en vleg tussen die voetgangers deur tot op die hakke van haar groep. Met gesperde neusvleuels asem sy die reuke van die stad in. Uitlaatgasse, parfuum van die meisies wat van voor af verby kom, die rookreuk van ’n man se baadjie en die rivier se eie reuk, effens modderig. Van kleins af is haar neus so sensitief. Sy het soms in die tuin gespeel dat sy blind is: haar oë styf toegeknyp en koers gehou volgens haar neus. Sy onthou die geur van gras, van sondeurdrenkte kappertjies en vars omgedolwe grond in haar ma se groentetuin …
“Wat het gebeur?” vra Tombi skielik langs haar.
Emma loer behoedsaam na haar kamermaat. Tombi dra ’n lang romp met tossels om die soom, en ’n sonbril met ’n pienk raam waarvan die hoeke soos katoë opgebuig is. Sy lyk meer tuis hier in Parys as by die huis: eksoties en koel.
“Wat bedoel jy, wat het gebeur?”
“Jy lyk bleek, hoor! Het jy nog die heuning?”
Emma skud haar kop vies. “Wat’s jou storie met daai heuning? Ek kon in die moeilikheid gekom het. Sê nou die wagte …”
Tombi waai haar besware weg. “Het dit gewerk?” fluister sy.
Emma frons. “Gewerk? Waarvoor?”
“Toemaar, ons kan later daaroor praat,” sê Tombi toe meneer Thompson hulle nader wink.
Hy wys na die Notre Dame wat voor hulle opdoem. “Parys het in die Middeleeue op hierdie eilande in die middel van die rivier ontstaan. Vandag is net twee van die oorspronklike eilande oor. Notre Dame de Paris beteken natuurlik ‘ons dame van Parys’, en dit verwys na Maria, die moeder van Jesus. Dis ’n Katolieke katedraal en een van die eerste Gotiese geboue met geboë stutmure – julle sal dit beter van die sy- of agterkant van die gebou kan sien. Kyk ook na die besonderse dakspuiers in die vorm van drake en monsters wat oor die stad tuur. Een van hierdie gargoyles beeld die beroemde Groen Duiwel uit, wat die Parysenaars glo in die tonnels onder die stad bly …”
Sy stem vervaag in die straatlawaai en Emma luister nie meer nie. Was Phillibert en die beertjies regtig net ’n hallusinasie, selfs ’n droom? Dalk het sy aan die slaap geraak daar op die bankie. Maar wat dan van ouma Hebs se eienaardige sms?
Hulle draai weg van die rivier en stap die laaste paar blokke na Chez Flaubert.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.