Stefan Blom

Die waarheid oor verhoudings


Скачать книгу

      •mekaar in die rede val;

      •dreigemente oor julle verhouding maak of dinge sê wat julle nie bedoel nie (“Ek doen dit nie meer nie!” of “Jy sal nog eendag spyt wees!”); of

      •veralgemenings maak (“Jy doen dit altyd!” of “Jy doen nooit ’n ding nie!”).

      Hoewel ons almal weet ons moenie mekaar so behandel nie, sukkel die meeste paartjies om dinge kalm te hou en met respek op te tree.

      Hoekom praat ons al hoe harder en skree ons op mekaar as ons maar net gehoor wil word? Hoekom baklei ons keer op keer as ons weet dit bring ons nêrens nie? Ek het agtergekom hoe meer ons voel ons word misverstaan, hoe meer verhef ons ons stem. Ons skree om gehoor te word. Ons baklei om raakgesien en verstaan te word, want ons glo as ons mekaar regtig liefhet en respekteer, sal ons lewensmaat ons verstaan en belangstel in ons gedagtes en gevoelens.

      Hierdie lelike, destruktiewe bakleiery laat my wonder: Stel jy nie belang in wat jou lewensmaat regtig dink en voel nie? Is dit so belangrik vir jou om reg te wees dat jy nie jou lewensmaat kan hoor nie? Hoekom hou ons aan om mekaar op so ’n destruktiewe manier te behandel as ons weet dit werk nooit nie?

      Ons baklei vir ons reg om gesien en gehoor te word.

      Ons moet nooit baklei om reg te wees nie.

      Ons weet hoe om te baklei, mekaar seer te maak en ons verhoudings ’n knou te gee. Ek weet nie van jou nie, maar niemand het ooit met my gepraat oor hoe ’n mens praat en nie praat nie, en hoe ’n mens met liefde kan verskil nie.

      Ons probeer desperaat dat ons lewensmaat ons verstaan en raaksien. As jou lewensmaat regtig snap wat jy sê – wanneer jy voel jy word raakgesien – voel jy hy of sy het jou lief en respekteer jou. Op daardie oomblik voel jy weer kalm.

      Hier is die grootste drie foute wat paartjies maak wanneer hulle ’n meningsverskil het:

      Val mekaar in die rede. Die meeste paartjies voel hulle gaan vergeet wat hulle dink as hulle dit nie onmiddellik sê nie. As julle mekaar in die rede val, kry julle verhouding natuurlik ’n nog groter knou. Die vanselfsprekende oplossing is bloot om beurte te maak. Maak aantekeninge as jy bang is jy gaan nie onthou wat jy wou sê wanneer dit jou beurt is om te praat nie.

      Skree en gil. In die klassieke skreesessie sê die een lewensmaat: “Hou op om op my te skree!”, waarop die ander een reageer: “Ek skree nie op jou nie… Ek praat hard.” Op ’n snaakse manier was ons almal al daar – ons baklei oor of ons baklei. Wanneer paartjies vir my vra: “Dink jy ek skree?”, is die antwoord eenvoudig: “As jou lewensmaat dink jy skree, is dit skree vir hom of haar.” Jy moet jou lewensmaat se ervaring respekteer. Julle hoef nie saam te stem nie, en julle hoef nie daarvan te hou nie, maar jy moet aanvaar dat dit net te veel is vir jou lewensmaat om te hanteer. As jy sy of haar ervaring respekteer, sal jy die volume afdraai. Op ’n skaal van een tot tien kan een persoon miskien ’n volume van drie verduur, en die ander persoon agt – miskien omdat hy of sy Italiaans is!

      Hoe dit ook al sy, jou verdraagsaamheid of sensitiwiteit vir volume of ’n harde stemtoon word bepaal deur hoeveel jy geslaap het, jou hormone, wat jy vir ontbyt geëet het, hoe jou ouers baklei het, en baie ander faktore. Dit is egter ’n eenvoudige waarheid: As jou lewensmaat sê jy praat te hard, dan is dit te hard vir hom of haar. Jy moet dit respekteer en sagter praat. ’n Mens se sensitiwiteit of verdraagsaamheid vir volume moet nooit bevraagteken word nie, maar bloot gerespekteer word.

      Stilstuipe: As julle mekaar vermy of die rug toekeer. Dit is die ander kant van die skree-en-gil-munt. Om ’n gesprek te vermy of stil te bly kan net soveel skade aanrig soos skree en gil; dit is net die stil weergawe. Ná ’n ontsteltenis of meningsverskil weier jy bloot om deel te neem. Jy raak dikmond en nukkerig soos ’n kind, en vermy ’n volwasse gesprek. Die gevoel dat jy in die moeilikheid is sonder dat jy weet hoekom, kan baie pynlik wees. Niemand hou daarvan om dae aaneen in ’n gespanne stilte te leef nie. Die logiese oplossing is om so gou as moontlik te sê wat jy wil sê, eerder as om ’n gedoente daarvan te maak. Wanneer jy ontsteld is, sê wat jy op die hart het!

      Elke verhouding het ’n keerpunt waar jy nie meer kan omdraai nie – ’n punt waar jou skadelike gedrag die kernervaring van jou verhouding begin vernietig. Julle bakleiery kan julle liefde en respek vir mekaar laat verbrokkel. Leer ken dus julle vernietigende patrone so gou as moontlik en belowe mekaar om julle bes te doen om nooit weer daarin te verval nie. Net julle kan ’n einde maak aan die skade en dan ’n nuwe manier van praat kry wat julle liefde eer.

      Om die skade te beëindig wat die band tussen julle vernietig, is een van die belangrikste stappe in enige verhouding. Julle moet ’n nuwe verhoudingsooreenkoms sluit met die belofte dat julle nie weer met mekaar sal praat op ’n manier wat nie julle liefde eer nie.

      So ’n heilige ooreenkoms herstel die respek en vertroue in julle verhouding. Julle doel is om altyd met liefde en respek met mekaar te praat. Moenie oor dié ooreenkoms redeneer nie – aanvaar liewer julle voorkeure sonder vrae of veroordeling en beskou die ooreenkoms altyd as belangrik en relevant. Maak ’n lys van al die onaanvaarbare optredes en kom ooreen dat julle julle bes sal doen om op te hou daarmee. Julle beloftes vorm ’n nuwe, heilige ooreenkoms, en julle verhouding sal nie oorleef as julle dit nie eer nie.

      As mense is ons nie perfek nie en daarom is ons gesprekke ook nie perfek nie. Die doel is glad nie dat jy perfek moet probeer wees nie, maar eerder dat julle julle bes moet doen om die heel beste gesprek te hê wat julle kan hê. Vir gesprekke wat julle nader aan mekaar bring, moet julle eerlik, kalm en oop daarvoor wees om mekaar te hoor en te verstaan.

      Julle doel is om op te hou om mekaar seer te maak, en mekaar eerder te begin hoor.

      As jou onvolmaakte menslike optrede jou verhouding seermaak, moet jy harder probeer. Neem soveel beurte as wat nodig is om met liefde en respek met mekaar te praat. Jy hoef nie ’n goeie geselser te wees nie – jy moet net na die beste van jou vermoë eerlik wees en optree sonder om seer te maak.

      As jy ’n fout maak, soos skree en gil, erken jou aandeel in die skade. Vra om verskoning vir jou vernietigende bydrae en probeer volgende keer harder.

      Jou doel is nie om ’n positiewe gesprek te voer nie, maar ’n regte en eerlike gesprek. Dit gaan nie oor positiewe woorde nie, maar oor eerlike, sagte woorde. Dit gaan oor praat, nie skree nie.

      Hoe julle teenoor mekaar optree, is die kern van julle ervaring van respek vir mekaar en julle verbintenis tot julle verhouding. Julle band word gevorm deur die manier waarop julle met mekaar praat. Dit is wat sal bepaal of julle liefde, wat op respek en toewyding gegrond is, sal groei of wegkwyn. Dit is hoekom julle dit baie ernstig moet opneem en let op hoe julle met mekaar praat. Altyd.

      Vrae oor jouself

      •Hoe maak my manier van praat en my optrede my verhouding seer?

      •Waar moet ek aan myself werk sodat ek ’n minder skadelike uitwerking op ons gesprekke het?

      •Op watter optrede van my is ek nie trots nie, en wat wil ek verander?

      •Hoe wil ek eerder optree?

      OEFENINGE VIR JULLE VERHOUDING

      Oefening 1: Maak ’n lys van skadelike optredes

      Sonder om jou lewensmaat te verwyt of te beskuldig, maak ’n lys van al die skadelike optredes (nou en voorheen) wat jy nie meer in jou verhouding wil hê nie. Dit is nie jou geleentheid om te begin baklei nie. Begin deur eers oor jou eie optrede te praat. Elkeen kan een vorm van gedrag op ’n slag byvoeg wat julle nie meer in julle verhouding wil hê nie. Só skep julle ’n lys van skadelike optredes wat julle al twee in die toekoms moet vermy.

      Oefening 2: Stel vas hoe julle graag met mekaar wil praat en teenoor mekaar wil optree

      Praat nou oor hoe julle graag met mekaar wil praat en mekaar wil behandel. Definieer ’n nuwe manier van praat, meningsverskille hê en saamwees wat goed sal wees vir julle verhouding. Die volgende vrae kan leiding gee:

      •Hoe wil ons graag van vandag af vorentoe