Ena Murray

Ena Murray Keur 11


Скачать книгу

kry die idee dat hy hul ongemak terdeë geniet. Sou hy snuf in die neus hê? Julius se blik is ook ’n oomblik skerp, ondersoekend op Malcolm gerig. Dan lag hy saggies en trek Karlien nader.

      “Jy sal my maar moet reghelp, Malcolm. Ek is nie daaraan gewoond om getroud te wees nie.” Hy kyk af in die koel bruin oë en syne vonkel. “Môre, my vrou,” sê hy sedig en soen die stywe lippies.

      Sy bly ontoegeeflik in die kring van sy arm staan. Sedert gisteraand is daar ’n gevoel van styfheid teenoor Julius in haar hart. Hoe sy ook al probeer, sy kan die gevoel van teleurstelling in hom nie ignoreer nie. Dit help ook nie om haarself oor en oor te vertel dat dit niks met haar te make het as Julius op Carroll verlief is nie.

      “Julle sal my moet verskoon. Ek sien julle by die huis vir middagete,” sê Malcolm en Karlien is verlig. Sy wil so gou moontlik uit Julius se omarming kom. Maar Julius se arm bly stewig om haar toe hulle aanstap huis toe.

      Carroll en Malcolm Day se huis is in dieselfde styl as hulle s’n, maar natuurlik lyk dit baie anders daar as by hulle. Op die oog af word hulle baie vriendelik ontvang en terwyl hulle op die voorstoep sit, gaan die gesprek oor dinge waarvan Karlien niks weet nie. Sy luister maar stil. Soos ’n soet kind wat swyg wanneer grootmense aan die woord is, dink sy suur.

      Toe draai Carroll skielik na haar en vra: “Waar het julle twee mekaar nou eintlik ontmoet, Karlien? En wanneer? Ek kan my nie herinner dat Julius ooit van jou gepraat het nie – en ek behoort te weet.”

      Karlien voel hoe haar vrugtedrankie oor haar vingers stort en sy kyk angstig na haar man. Dit is dan ook hy wat die vraag beantwoord.

      “Ons het mekaar al by ’n vorige geleentheid ontmoet, maar ek het nooit van haar gepraat nie, omdat sy my toe nog nie beïndruk het nie.” Hy glimlag tergend in Karlien se rigting en sy kan haar net verwonder oor sy kalmte. Sy voel so gespanne soos ’n staaldraad. “Maar toe ek haar hierdie keer sien … Sy het intussen grootgeword.”

      Malcolm lag goedig. “Nie veel groter nie, wed ek jou. Hoe oud is jy, Karlien?”

      “Amper negentien.” Sy wens hulle wil die gesprek verander. Sy haat dit om die middelpunt van al die aandag te wees.

      “Moenie die amper vergeet nie, my vriend. Sy is baie gesteld daarop,” sê Julius tergend, en Karlien is sommer lus om hom ’n afjak te gee. Dit lyk voorwaar asof hy die situasie geniet.

      “Ek gaan nou opskep. Jy kan saamkom, Karlien.”

      Dis nie ’n versoek nie, maar ’n bevel. Hoewel Karlien liewer veilig naby Julius wil bly, weet sy dat sy niks anders kan doen nie as om haar gasvrou te vergesel.

      “Ek is bevrees jy is nie baie gewild nie, Karlien,” sê Carroll toe hulle in die kombuis is.

      Karlien kyk vinnig op. Dit kan jy weer sê, dink sy, maar swyg eerder. Carroll gaan voort met ’n skynvriendelikheid wat Karlien duidelik aanvoel: “As vriendin wil ek jou net waarsku en ek hoop nie jy dink ek is voorbarig nie.”

      Karlien kyk haar net vas aan.

      “Jul huwelik was vir ons almal ’n skok, want niemand het ’n benul gehad dat Julius ooit sal trou nie.”

      “Hoekom nie? Hy is tog ’n doodnormale man, nie waar nie?”

      “Wel, ja, maar … Het Julius jou nie vertel nie?”

      “Dit hang af wat jy bedoel, mevrou.” Karlien is doelbewus formeel. Sy wil eintlik nie hoor wat hierdie vrou te vertel het nie. Dis of sy intuïtief wegskram, maar daar is niks wat sy kan doen om dit te verhoed nie, behalwe om Carroll af te jak, wat nie verstandig sal wees nie. Maak liewer ’n vriendin as ’n vyand van hierdie vrou, het Karlien reeds besluit.

      “Ek praat van die feit dat Julius al jare lank op my verlief is. Dis nie nodig om so geskok te lyk nie. Die hele Seychelle ken die geskiedenis. Ek en Malcolm het mekaar in Maputo – die destydse Lourenço Marques – ontmoet. Ons is sommer gou getroud en het hierheen gekom. Toe het ek Julius ontmoet en besef dat ek ’n fout gemaak het. Dit was egter te laat. Ek was reeds getroud en omdat Julius my man se beste vriend is, sou Julius van sy kant af niks doen nie. Ek kon ook nie, want Malcolm is ’n swakkeling wat ten gronde sal gaan as ek van hom skei.”

      Haar blik rus skerp op Karlien se weggekeerde gesig. “Ek is jammer as ek jou ontstel het, maar … jy is ’n bietjie jonk vir Julius, nie waar nie, Karlien?”

      Karlien druk haar ken uit. “Ek is jonk, mevrou, maar nie te jonk om ’n vrou te wees nie.” Sy dwing haarself om die blou oë waterpas te ontmoet. “En dis geskiedenis wat jy my vertel het. Dis dinge van die verlede daardie. Julius is nou getroud met my en jy … het jou eie man.”

      Die twee vroue kyk mekaar vas aan. ’n Oomblik is die harde trek weer op die beeldskone gesig van Carroll Day. Dan glimlag sy met ’n aangeplakte weemoedigheid.

      “Ek wil nie van jou ’n vyand maak nie, Karlien. Ek wil jou help. Jy lyk so … hulpeloos. Ek wou maar net die ware situasie vir jou skets, dis al. En jou laat verstaan dat Julius se geluk my baie na aan die hart lê en dat ek enigiets sal doen om hom gelukkig te maak. Wat ek jou eintlik wou vertel, is dat jy maar versigtig moet wees vir Daphne Roderick. Sy probeer al jare lank om Julius vas te pen en jou verskyning was ’n onaangename skok vir haar. Bly maar liewer van haar af weg.”

      “Dankie. Dis vriendelik van jou om my te waarsku. Kan ek maar hierdie skottel inneem?”

      Karlien is stil gedurende die ete, maar niemand kom dit agter nie, want sy was nog die hele tyd nie spraaksaam nie. Sy is dankbaar toe Julius eindelik sê dat hulle nou regtig moet gaan. Hy dra vir Essie toe hulle terugstap huis toe.

      “Wat makeer, Karlien? Is jy regtig so kwaad vir my omdat ek vanoggend vroeg verdwyn het? Ek is jammer. Ek het nie gedink jy sou omgee nie.” Hy vat onverwags haar hand.

      “Natuurlik gee ek nie om nie,” sê sy heftig en wil haar hand uit syne trek, maar sy greep verslap nie. “Jy kan maar los. Daar is niemand wat ons nou sien nie.”

      Hy kyk vererg na haar. “Jy is omtrent in ’n onaangename luim vandag. Het Carroll jou iets vertel wat jou so vyandig maak?”

      Die bruin oë flits op na hom. “Is daar dan iets wat sy my kon vertel het?” vra sy uit die hoogte, en nou laat hy haar hand los asof dit ’n slang is wat hom kan pik – ’n onheilspellende frons op sy gesig.

      “Moet my nie met ’n teenvraag antwoord nie, Karlien. Sy hét iets gesê! Uit daarmee. Julle het my bespreek, nie waar nie?”

      “Jy dink baie van jouself, nè, Julius?”

      Eerlike verbasing flits oor sy gesig. Hy is nie gewoond daaraan dat Karlien hom troef nie. In Suid-Afrika het sy ge-ja en ge-amen op alles, maar sedert hulle die Seychelle bereik het, het daar skielik ’n verandering ingetree. Sy is glad nie meer so maklik hanteerbaar nie. Sy het van ’n soet, gedienstige kind in ’n baie parmantige meisie verander – en dit oornag!

      Sy mond trek teësinnig in ’n geamuseerde glimlag. Alles gebeur vinniger in die trope, lui die ou gesegde. Dis seker ook van toepassing op die jong Karlien. Maar sy moet darem nie dink dat hy daarmee gediend sal wees nie.

      “Ek dink jy begin jou glad te veel aanmatig, my jonge Karlien. Wat Carroll jou ook al vertel het – vergeet daarvan. Jy het in elk geval geen belang daarby nie, en sal dit ook nie verstaan nie, al verduidelik ek dit ook aan jou. Jy weet niks van die grootmenswêreld af nie.”

      Sy vang haar onderlip verbete vas. “Ek is groot genoeg om te weet van beginsels en eergevoel en selfrespek en … lojaliteit teenoor ’n vriend. Maar dit is blykbaar nie deel van die grootmenswêreld nie,” sê sy dan so afsydig en kil soos hy haar nog nooit gehoor het nie.

      Hy gaan staan verbaas en sy is verplig om ook tot stilstand te kom. Hy is nou duidelik kwaad. “Jou toon en jou woorde staan my glad nie aan nie! Wat presies bedoel jy? Dat ek geen beginsels of selfrespek of eergevoel of lojaliteit in my het nie?”

      Karlien byt verskrik op haar onderlip. Sy voel klaar spyt dat sy weer toegelaat het dat haar tong met haar weghardloop.