Ena Murray

Ena Murray Keur 11


Скачать книгу

is nog verder verras toe sy deur die huis stap. Daar lê geen matte op die vloere nie omdat, soos Malcolm vertel, geen mat lank in hierdie klimaat hou nie. Hoewel dit duidelik is dat die huis nie bewoon word nie, kort die meubels net ’n bietjie sorg om heeltemal gangbaar te wees. Dis nie ’n groot huis nie. Twee slaapkamers, ’n kombuis, ’n badkamer en nog ’n vertrek wat Julius sê sy studeerkamer sal wees. Tot dusver het hy dit as kantoor gebruik; die enigste vertrek in die huis wat in gebruik was. Die woonvertrek is lieflik ruim met ’n pragtige uitsig oor die baaitjie en die see.

      “Ons bly net anderkant daardie bome. Jy kan die huis vaag sien uitsteek. Sommer binne roepafstand as Julius jou moeilikheid gee!” terg Malcolm en kyk dan rond. “Wel, alles is nou min of meer op hul plek. Kom eet môremiddag by ons.”

      Karlien is doodmoeg, maar nie bloot liggaamlik nie. Dit voel vir haar asof daar die afgelope ure ononderbroke met ’n hamer op haar senuwees geslaan is. Toe Carroll en Malcolm eindelik tussen die bome verdwyn, slaak sy ’n sug van verligting. Dis al ver ná middernag.

      Karlien maak die een slaapkamer vir haar reg en toe sy die ander een vir Julius wil regkry, sê hy: “Uit die studeerkamer loop ’n toegeboude systoep. Daar staan ’n divan. Ek sal sommer daar slaap.”

      “Maar hoekom?” Sy kyk hom verbaas aan.

      Sy mondhoeke trek op in ’n fyn glimlaggie. “Dit sal dan nie so ooglopend wees dat ons nie ’n kamer deel nie, my skat.”

      Sy voel hoe die bloed weer teen haar wange opstoot en buk vinnig af om die lakens op te tel. Sy voel sommer ergerlik, hoewel sy nie eintlik weet hoekom nie. Tot dusver het hy haar tog goed bygestaan.

      Sy stap deur die studeerkamer uit op die systoepie wat met gaas toegemaak is en trek die divan oor. Toe sy klaar is, huiwer sy ’n oomblik in die studeerkamer. Hier is dit duidelik bewoon. ’n Groot lessenaar staan in die middel van die vertrek en is oorlaai met papiere, vorms en skryfbehoeftes. Verder bestaan die hele vertrek omtrent net uit boekrakke. Dan verstil haar blik op ’n groot geraamde foto.

      Carroll Day se laggende gesig kyk op haar neer.

      Sy stap fronsend nader. Dis beslis ’n hele paar jaar gelede al geneem. Daarvan is sy oortuig. Dis ’n beeldskone gesig en Karlien voel hoe afguns in haar roer. Hoekom het party mense soveel skoonheid ontvang?

      Haar frons verdiep. Hoekom sou Julius ’n allemintige portret van sy vriend se vrou in sy studeerkamer hê? Is dit nie ’n bietjie vreemd nie? Al is jy ook watter groot vriende, is dit tog nie die gewone ding om te doen nie. Was Malcolm ook op die foto, sou dit nie so eienaardig voorgekom het nie.

      Karlien byt haar onderlip vas. Hier is iets wat vir haar snaaks is. Vreemd is … Is dit dalk hoekom hy met my getrou het? wonder sy skielik. Is Carroll Day daarvoor verantwoordelik dat Julius so dringend ’n vrou moes kry? Moet sy huwelik met ’n ander vrou as dekmantel dien vir … vir ’n ongeoorloofde verhouding met die vrou van sy beste vriend? Sy skrik by hierdie gedagte. Dis gemeen van haar om so iets te dink. Julius is nie daardie soort man nie. En tog … Wat weet sy eintlik van Julius Schreider? Hoe weet sy waartoe hy in staat is?

      Dan ruk sy haar reg en trek die deur beslis agter haar toe. Wat dit ook al is, dit het niks met haar te doen nie. Waarom haar daaroor verknies? Maar terwyl sy Essie bad en gereed kry vir die nag, gaan haar gedagtes onwillekeurig terug na die portret in die studeerkamer. Dit bly vreemd. Was dit Daphne Roderick se foto, sou dit haar nie so gepla het nie. Daphne is immers nie getroud nie. Maar Carroll …

      Haar eerste aand in Eden … maar nog nooit het sy verder van Eden af gevoel as nou nie. Hoekom het Julius met my getrou? Om Daphne Roderick se kloue te ontduik of … om sy beste vriend gerus te stel? Die vrae maal deur haar verwarde gedagtes.

      “Hou jy van die Days?” vra Julius skielik hier langs haar en Karlien antwoord versigtig: “Malcolm is ’n gawe man.”

      Julius se wenkbroue lig. “En Carroll?”

      “Ek … ken haar nog nie so goed nie.”

      Sy dink nie daaraan dat sy Carroll en Malcolm presies ewe lank ken nie. Langs haar frons haar man diep, maar sê niks verder nie.

      “Geruste nag, Karlien. En …”

      “Ja?”

      “Probeer liewer van Carroll ’n vriendin maak as ’n vyand.”

      “Dit, meneer Schreider, het ek reeds agtergekom. Goeienag.”

      Sy draai dadelik om en verdwyn by haar kamer in. Julius bly alleen in die woonvertrek agter, sy blik peinsend op die deur wat toegegaan het. Dan grinnik hy skielik. Te jonk vir Eden? Hy wonder …

      4

      Karlien verslaap haar die volgende oggend hopeloos. Sy word deur ’n glimlaggende Sumong met ’n glas vrugtesap verras en daarna spring sy dadelik op, haastig om klein Eden van nader te beskou.

      Van Sumong verneem sy via geradbraakte Engels en baie handgebare dat Julius reeds vroegoggend met die jeep weg is – seker op inspeksie deur die plantasies – en tot dusver het hy nog nie weer sy verskyning gemaak nie.

      Karlien kan ’n gevoel van teleurstelling nie onderdruk nie. Dit sou net goeie maniere gewees het om vanoggend, haar eerste oggend hier, nie so haastig te verdwyn nie en haar darem eers aan haar nuwe omgewing bekend te stel.

      Dan betig sy haarself. Dis geen gewone huwelik dié nie. Dus is dit ook nie nodig dat hy soos ’n verliefde eggenoot optree nie. In sy oë is sy nog ’n blote kind, en kinders hoef nie deur grootmense in ag geneem word nie. Hulle kan hulself vermaak. Miskien, as sy ’n bietjie meer Carroll Day se tipe was, sou hy nie vanoggend so vinnig verdwyn het nie, dink sy bitter toe sy by die stoep afstap.

      Net ’n paar treë van die huis af sien sy verskeie afdakke waar rye gehalveerde kokosneute op rakke lê. Daar is baie werkers, beslis van Negerafkoms, aan die werk. Sy kyk gefassineer hoe knaphandig hulle die kokosneute met ’n mes deurkap. Soms is hul bewegings so vinnig, veral dié van die paar vroue, dat Karlien dit skaars met die blote oog kan volg.

      “Goeiemôre. Is madame op inspeksie?” hoor sy ’n stem agter haar, en sy draai glimlaggend na Malcolm.

      “Môre. Madame staan haar en verkyk.”

      Hy knik met sy kop in die rigting van die naaste werker. “Ja, ’n mens kan jou regtig verkyk. Die vroue kan tot drie duisend kokosneute in anderhalf uur oopbreek. Dit wil gedoen wees, hoor?”

      “Hoekom word dit so op die rakke gesit?”

      “Om droog te word. Die melk word in trôe afgetap en daarmee voer ons ons varke spekvet. Die gedroogde klapper, of kopra soos dit genoem word, word dan na alle dele van die wêreld uitgevoer. Kopra is natuurlik hierdie eilande se vernaamste uitvoerproduk. Ander minder belangrikes is kaneel, soutvis en skilpaddop.”

      “Skilpaddop?”

      “Ja. Vir ornamentele doeleindes. Stap saam, dan gaan wys ek jou hoe tou vervaardig word uit die dop van die kokosneut. Nie ’n enkele gedeelte van die kokosneut gaan verlore nie.”

      ’n Rukkie later staan Karlien en kyk hoe vaardige vingers die buitenste harige gedeelte van die kokosneut bewerk. Sy staan haar nog en verwonder, toe Julius sy verskyning maak.

      “Goeiemôre. O, ek sien Malcolm is reeds besig om jou ’n bietjie touwys te maak.”

      Sy kyk hom effens koel aan. “Ja. Hy het hom darem oor my ontferm.”

      Julius se wenkbroue lig en dan laat hy tergend teenoor Malcolm hoor: “Êrens het ek verbrou. Kan jy my miskien sê?”

      Malcolm kyk Karlien peinsend aan en sy is dadelik spyt oor haar haastige woorde. Nou kan hy dalk die indruk kry dat sy omgee, en dis tog nie so nie.

      “Ek dink jou bruid sou liewer al hierdie nuwighede saam met haar man wou gesien het.”

      Julius se tergende glimlaggie verdwyn skielik en hy frons effens. Die verwytende toon in sy vriend se stem het hom nie ontgaan nie. “Ek