Wat het Carroll met my te doen? Ek bedoel, sy is met Malcolm getroud.”
“Jy het tog seker al agtergekom wat werklik aan die gang is, Karlien! Ek wil nie moeilikheid saai nie. Verstaan my goed. Ek probeer nie deur kwaadpraatjies ’n wig tussen jou en Julius indryf nie. Maar daardie vroumens beskou Julius jare lank al as haar persoonlike eiendom en sy sal dit nie duld of aanvaar dat Julius nou ’n vrou het nie. Sy sal op elke moontlike manier moeilikheid probeer maak. Die feit dat sý ook getroud is, en dit nogal met Julius se beste vriend, sal geen verskil maak nie.”
Haar stem bly bitter. Die arme Daphne. Eintlik is sy ook magteloos teen ’n vrou soos Carroll, dink Karlien simpatiek.
“Ek kan mansmense soms nie verstaan nie. Hulle moet tog sien, wéét watter soort mens sy is. Maar blykbaar is hulle albei blind. O, en sy weet hoe om hulle te hanteer, glo my! Sy is daardie klein, fyn, ag, so pateties afhanklike soort wat ’n man soos ’n kruis tussen Tarzan en Apollo laat voel. Sy maak my siek met haar hulpelose houdinkies; die patetiese blou ogies wat so droewig kan lyk. Soms speel sy so oortuigend toneel dat ek self lus voel om haar in my arms op te raap en te vertroetel.”
“Daphne!” Karlien kan nie help om te lag nie.
Daphne glimlag wrang. “Jy lag, maar glo my, daar is niks lagwekkends aan die situasie nie.”
Karlien versober dadelik. Dis waar. Eintlik is daar niks om oor te lag nie. Vir haar, Karlien, nog die minste. Sy is tussen twee vure.
“En sy haat jou,” vervolg Daphne reguit en Karlien voel ’n rilling langs haar ruggraat afgaan. “Het jy haar oë gesien toe Julius jou as sy vrou voorgestel het? Sy kon jou vermoor. Sy is siek van jaloesie, en nie net omdat jy Julius se vrou is nie. Nog altyd was sy die petite een op die Seychelle. Die paar ander Westerse vroue op die eiland is meer soos ek, groot en grof en lank – die Amasone-tipe.”
“Ag, nee wat, Daphne, jy is nou verspot. Jy is ’n pragtige mens. Ek beny jou weer jou lengte en mooi figuur,” erken Karlien. “As ’n mens kort en klein is, is mense geneig om op jou kop te sit as hulle nie sommer bo-oor jou loop nie.”
“Dankie, Karlien. Jy doen my moreel goed! In elk geval, nou is jý hier, net so fyntjies en kleintjies soos sy, en …” Daphne glimlag effens geamuseer.
“Ek is nie die hulpelose tipe nie,” verweer Karlien vinnig en Daphne lag gerusstellend.
“Ek sê nie jy sal jou fynheid en kleinheid uitbuit soos Carroll nie, maar jy is ook soos sy gebou en net so petite. In die toekoms sal die mans nie net om haar draai nie. Jy sal baie aandag trek. En Carroll sal nie daarvan hou nie. Wanneer sy in ’n vertrek is, moet sy die enigste vrou wees wat aandag van die teenoorgestelde geslag ontvang. Ons ander vroumense vervaag dan tot sekslose skimme.” Sy sug skielik en kyk Karlien verskonend aan – ’n skewe, meewarige glimlaggie om haar lippe. “Ek is jammer, Karlien. Ek klink soos ’n viswyf.”
“Nee. Ek dink jy is net baie eerlik. En ek is bly dat jy my vriendin is.” Karlien skud haar kop beslis.
Hulle glimlag met mekaar en so word in hierdie laat naguur ’n vriendskap gesluit tussen twee vroue wat eintlik vyande moes gewees het.
“Dankie, Karlien. Miskien is ons almal verkeerd …” sê Daphne sag.
“Wat bedoel jy?”
“Ons dink almal jy is te jonk vir Eden. Maar … miskien gaan jou oorwinning juis daarin lê. Jeug en onskuld is dalk jou pantser. Miskien sal dit sterk genoeg wees om jou teen die gif van die adder te beskerm.”
Karlien trek haar gesig op ’n plooi. “Was die slang in die Paradys ’n adder? Ek het dit nooit geweet nie.”
Daphne lag die eerste keer ongebonde. Dan skud sy haar kop. “Ek begin die gevoel kry dat ek – en die res – jou onderskat het. Ek het die aangename voorgevoel dat ons pragtige, onweerstaanbare Carroll haar tier in jou gaan kry.”
“Dankie.” Die glimlag verdwyn van Karlien se lippe en haar bruin oë is baie ernstig. “Ek hoop jy is reg.”
Lank nadat Daphne se rustige asemhaling verraai dat sy in droomland is, lê Karlien nog met oop oë. Waarin het sy beland, vra sy haarself herhaaldelik af. Dis geen benydenswaardige situasie nie – om getroud te wees met ’n man oor wie twee ander vroue mekaar se oë wil uitkrap. En sy, omdat sy in die middel is, het ’n goeie kans om in die proses ook háár oë te verloor.
Wat het haar besiel? Haar intuïsie behoort haar tog te gewaarsku het dat alles nie pluis is nie, dat Julius se dringende vrousoekery nie om dowe neute kon wees nie. Maar op daardie tydstip het sy net aan Essie gedink. Haar hart en verstand het haar gewaarsku, maar toe was dit nie van belang nie. Solank sy Essie net kon behou. Dit was die belangrikste. Maar noudat Essie veilig is – nou eers, noudat dit te laat is – besef sy in watter lieflike gemors sy beland het.
Gister – was dit maar net gister? – het sy nog gedink dat sy apart van hierdie dinge staan. Dat sy niks daarmee te doen het nie. Dat dit haar regtig nie kan skeel wie op wie verlief is, en wie wie se oë wil uitkrap nie. Maar op hierdie oomblik, enkele ure later, besef sy met ’n skok dat sy teen wil en dank betrokke is, dat sy nie net haar skouers ongeërg kan optrek en dit van haar afskud nie. Sy het beslis belang by die saak.
By hierdie gedagte sper haar oë nog wyer oop. Watter belang kan sy daarby hê? Sy het tog niks met Julius te make nie. Hy is maar net haar man op papier. En tog …
Haar blik dwaal onrustig deur die venster na die tropiese naglandskap wat in helder maanlig gebaai is. Dit máák saak, moet sy aan haarself erken. Die gedagte dat Carroll daarin kan slaag om Julius finaal te verower, krap aan haar. Sy het weliswaar niks met sy lewe te doen nie en wanneer sy oor ses maande weggaan, behoort dit haar nie ’n bloue duit te skeel wie die vrou is wat hy in haar plek stel nie. Maar … sy sal nie graag wil sien dat dit Carroll is nie. Dan liewer, ’n honderd maal liewer, die mooi, uitgesproke Daphne. Ook ter wille van Malcolm – die gawe, goeie Malcolm – hoop sy dat Julius se keuse dan op Daphne Roderick sal val.
Sy sug en draai om. Sy maak haar oë beslis toe, maar die gedagtes wyk nie. As Daphne maar weet hoe magteloos sy is. Sy sal die minste van almal iets aan hierdie netelige situasie kan doen. Want Julius beskou haar as ’n kind, ’n blote kind wat nog moet grootword. Wat meer is, hy het haar reguit beveel om haar neus uit sy persoonlike sake te hou. Dus, Daphne, moenie te veel hoop op my bou nie, my liewe vriendin. Ek kry jou jammer, innig jammer, maar … snaaks, ek kry myself skielik ook jammer. Verspot van my, nè? Julius is maar net my man op papier … dis al. En dan … dit weet jy ook nie … is ek maar net ’n besoeker aan die tuin van Eden; ’n vreemdeling wat môre, oormôre weer sal vertrek.
Karlien voel spyt om die volgende oggend van Daphne en John afskeid te neem. Met ’n betekenisvolle kyk druk Daphne vir Karlien teen haar vas en knipoog dan vir haar. Karlien glimlag bewerig terug. Sy wens Daphne kon bly, al is dit dan net om ’n rukkie hier op Praslin te kuier. Sy voel veiliger met Daphne by haar, maar sy weet dat sy nou iets onsinnigs wens. Indien Daphne langer bly, sal sy baie gou agterkom wat die ware toedrag van sake tussen haar en Julius is. Karlien voel vanoggend bly dat sy gisteraand die drang onderdruk het om Daphne alles te vertel. Laasgenoemde is nou ’n vriendin, ’n ware vriendin, maar sy is bly dat selfs Daphne nie weet dat haar huwelik ’n skynhuwelik is nie.
John maak daar geen geheim van dat hy swaar tot siens sê nie. Oor en oor moet Karlien belowe dat sy Julius sal vergesel wanneer hy na Victoria kom – soseer dat Julius weer ’n donker frons tussen sy wenkbroue kry. Dan groet John, maar hou Karlien se hand opmerklik lank vas. Sy wuif vir hulle tot siens totdat hulle net ’n spikkeltjie is.
“Ek twyfel of John jou nog kan sien waai,” laat Julius droog hoor.
Sy laat haar hand vinnig sak asof iets dit in die lug gepik het. “Ek waai vir albei … nie net vir John nie,” sê sy vererg.
“Werklik?”
Hy draai dadelik om en sy kyk hom verward agterna. Wat sal nou met hom aangaan? Dan skud sy haar skouers ongeërg. Na die maan met hom. Hy is net so onvoorspelbaar soos ’n tropiese storm. Wanneer jy dit die minste verwag, bars dit sonder