sak langs haar neer en laat sy blik vinnig oor haar gly. “Elke keer dat ek jou sien, lyk jy fyner en mooier. Hoe kry jy dit reg in hierdie klimaat?”
Sy bloos effens. “Jy verbeel jou dit maar. Jy sien seker te min ander vroue.”
“O nee. Dis nie waar nie. Ek is nie die uilskuiken waarvoor jy my aansien nie.”
Sy kyk hom verbaas aan. Hy klink kortaf en lyk ongelukkig.
“Ek het dit nie so bedoel nie, John.”
Hy kyk vinnig na haar en haar verbasing styg. Daar is skielik iets in John wat sy nie kan plaas nie.
“Karlien …”
“O, jy is al hier, John. Gaan haal vir ons iets koels om te drink,” sê Daphne skielik langs hulle en hy spring verskrik op, ’n gedempte kragwoord op sy lippe. Hy ontmoet sy suster se oë en sug.
“Nou goed.”
Karlien se blik dwaal oor die nagtelike toneel voor hulle terwyl sy aan haar vrugtedrankie proe. Dis alles so pragtig. Wat sou Julius nou doen? Is hy by Malcolm-hulle? Of is Malcolm glad nie daar nie? Is hy en Carroll miskien alleen?
“Karlien!”
Sy ruk soos sy skrik en kyk dadelik vinnig op. John sit haar skerp en aankyk en sy sien dat Daphne weer die huis in verdwyn het. Sy glimlag verleë. “Ek is jammer. My gedagtes het ’n bietjie gedwaal. Wat het jy gesê?”
Hy skud sy kop. “Dit was niks van belang nie. Waaraan … of aan wie … het jy gedink? Jy het so vol heimwee gelyk.”
“Ek … Ag, ek het sommer so aan alles en nog wat gedink. Dit was ook nie van belang nie.”
“Jy jok, Karlien. Jy het aan hom gedink, nie waar nie?”
“Hom?”
“Julius.”
’n Verraderlike blos verkleur haar wange en sy kyk vinnig weg.
“Jy verlang na hom, nie waar nie?”
Karlien sluk. In haar begin ’n benoude band om haar hart saamtrek. Is dít wat die dowwe pyn in haar beteken? Verlange? Sy lag, maar dit klink onoortuigend. “Wat beteken hierdie ondervraging, John?”
“Hoekom antwoord jy my nie?”
Sy draai haar kop na hom en frons.
Hy sluk voordat hy effens hees vervolg: “Ek moet weet, Karlien. Verstaan jy?”
Daar is eers verwarring op haar gesig. Dan kom daar skielik begrip in haar oë. “John …”
“Nee. Nee. Ons praat nie daaroor nie. Antwoord my net eerlik, Karlien. Het jy hom baie lief?”
Dit is stil op die stoep. Dan antwoord sy, haar bruin oë groot en eerlik en reguit. “Ja, John. Ek het hom … baie lief.” Hy knik en draai sy kop vinnig weg. Karlien staar onsiende oor die baai uit. Dis reg. Ek het hom lief. Ek weet nie wanneer dit gebeur het nie. Ek weet nie hoe dit gebeur het nie, maar … ek het my man lief. En oor ’n bietjie meer as vier maande moet ek van hom af weggaan … Hoe gaan ek dit regkry? Ek kan dan nie eens meer ’n dag sonder hom klaarkom nie. Hy is maar eers vanoggend weg en dit voel vir my ek kan ’n boot gaan huur en vannag nog teruggaan Praslin toe.
Die paar dae wat sy hier moet kuier, strek nou soos ’n ewigheid voor haar uit. Wat van die ewigheid wat wag nadat hul ooreenkoms verstryk het?
Gelukkig praat John nie verder nie, en Karlien is dankbaar. Haar ontdekking is nog te nuut om dit sommer met iemand anders te bespreek. Sy moet eers aan die gedagte gewoond raak; die onherroeplike besef dat wat die toekoms ook al inhou, haar hart aan Julius Schreider behoort en dat daar niks meer is wat sy aan die saak kan doen nie.
Karlien vra vroeg om verskoning en gaan bed toe. Op die stoep kyk Daphne haar broer skerp aan.
“John, het jy Karlien ontstel? Ek het jou gesê …”
Hy maak haar met ’n handgebaar stil. “Ek het nie geweet dit ontstel vroumense as ’n mens hulle vra of hulle hul mans liefhet nie.”
Daphne trek haar asem in. “Het jy haar … dit gevra?”
“Ja.”
“Wat … wat het sy geantwoord?”
“Ja. Sy het gesê sy het hom … baie lief.” Hy het weer die meewarige glimlaggie op sy lippe. “Sy het nie gejok nie. Ek het in haar oë gesien dat sy die waarheid praat. Karlien het Julius lief.”
Daphne kyk op haar hande af. Dan lê sy haar een hand oor John s’n. “My ou kleinboet …”
Hy skud sy kop en staan op, sy stem grof. “Dankie vir jou simpatie, sus, maar op hierdie oomblik is dit nutteloos. Ek voel om ten hemele te skreeu, maar … al wat ek kan doen, is om te swyg en te probeer onthou dat ek ’n man is.”
Daphne knik, haar oë blink. “Ek weet wat jy bedoel,” sê sy sag, staan vinnig op en verdwyn haastig die huis in.
Hoewel Karlien lank voor die ander huismense gaan lê het, is sy lank nadat dit stil geraak het, nog wakker. Met groot, oop oë lê sy in die donker en staar. In die paar weke wat sy hier deurgebring het, het sy volwasse geraak. In hierdie ure besef sy dat sy volwasse genoeg is om te weet dat die gevoel wat sy so skielik vanaand in haar hart ontdek het geen oppervlakkige gevoel is nie, selfs nie eens kalwerliefde nie.
Sy het, soos alle meisies van haar ouderdom, haar kwota aan kalwerliefde gehad. Hoewel sy nie ’n vaste kêrel gehad het toe Julius op die toneel verskyn het nie, het sy wel mansvriende gehad. Wat haar veral oortuig dat sy Julius Schreider werklik onherroeplik liefhet, is die besef dat hierdie gevoel hemelsbreed verskil van alle vorige emosionele ervarings.
Wanneer ’n mens net verlief is, is dit asof jy op die wolke sweef – blind vir foute en tekortkominge en omstandighede. Soos toe sy op hoërskool die eerste keer ’n verhouding aangeknoop het. Soos sy dikwels daarna gevoel het. Net so vinnig as wat jy in die wolke beland, keer jy terug na die werklikheid: ’n bietjie verbysterd, ’n bietjie verslae dat daardie wonderlike gevoel van gister vandag in die niet verdwyn het. Gelukkig is daar nooit blywende skade aangerig nie. Maar die gevoel wat sy nou in haar omdra, verskil hemelsbreed van haar jeugervarings.
Eers was die wondersoet wete allesoorheersend. Niks anders het werklik saak gemaak nie; net die wete dat sy Julius liefhet, was belangrik. Maar nou begin sy ander emosies ervaar – die wrang smaak van hopeloosheid. Ja, haar liefde is hopeloos.
Julius het haar nie lief nie. Hy sal haar ook nooit liefhê nie, nie met ’n vrou soos Carroll Day in die omtrek nie. Oor vier maande gaan hy haar terugneem, haar betaal omdat sy maande lank sy vrou in naam was, haar groet, die beste toewens en terugkeer na sy Eden.
En dan kom die galbitter jaloesie – blinde, redelose jaloesie – toe sy onthou wat Carroll haar vertel het. In die trope dop die dun lagie vernis baie gou en maklik af. In Eden lê die primitiewe emosies van die mens na aan die oppervlak. Karlien ervaar nou die waarheid daarvan. Sy voel hoe ’n golf van jaloesie deur haar woed, nie net teenoor Carroll nie, maar ook teenoor Daphne. Want Daphne se kanse, hoe gering ook al, is nog oneindig groter as haar eie.
Karlien is verslae oor die storm wat in haar woed. Dis nie ek nie, vertel sy haarself oor en oor. Ek is nie ’n jaloerse mens nie. Ek is nie ’n mens wat haat nie! Of leer ek myself nou eers werklik ken? Noudat Eden die lagie vernis afgevryf het? Sy voel hoe sy bewe. Sy verag haarself vir die ontembare emosies wat so skielik in haar losgebars het, maar selfs haar selfveragting kan dit nie keer nie. Dis dáár. Sy kan dit nie ontken nie.
En daar is niks, niks wat sy kan doen nie. Tog … Haar oë vernou die eerste keer. Miskien is daar … As sy Julius van haar bewus kan maak as vrou, nie as ’n opgeskote kind nie … As sy hom, soos Carroll, doelbewus uitlok? Hy is maar net ’n man. Hulle is alleen in die lang, tropiese nagte. As sy …
Sy dwing haar gedagtes met ’n byna bomenslike poging tot stilstand. Nee. Hoe desperaat sy ook al mag raak, dít sal sy nooit regkry nie. Sy sal haarself nie goedkoop maak nie.