F.A. Venter

Man van Cirene


Скачать книгу

      

      MAN

      VAN

      CIRENE

      F.A. VENTER

      Lux Verbi

      Vir Vader en Moeder

      DEEL EEN

      “Jy is uitverkies, dink ek …

      vir iets wat jy later sal verstaan.”

      1

      Op ’n hoogland van Afrika, net bo die see, lê Cirene, haelwit stad wat die Grieke gebou het toe Rome nog ’n kind was. In die somergloed skitter die koepels en lok die koel suilegange van tempels.

      Rondom Cirene strek die vrugbare kontreie uit, al langs die see af; na die suide die woestyn wat selfs Rome nie kan tem nie. Noordwaarts lê die see tot aan die voetbanke van Rome, en ooswaarts tot aan die tempels van Alexandrië, die papirusvelde van Egipte, die vaal kuste van Judea …

      In die buurt waar die gewone volk in hul plat huise woon en dadelpalms en moerbeibome klein agterplase versier, pronk die praetorium van die Romeinse goewerneur, hoog en massief. ’n triomfboog verkondig ’n oorwinning van die legioene. Hoog bo-op die toring van ’n basiliek roer ’n duif sy vere.

      Op hierdie uur is dit stil in Cirene – geen vragwaens wat deur die klipstrate rammel nie, geen Romeinse soldate wat op die plaveisel dobbelstene gooi nie, geen smouse wat met belaaide esels rondtrek nie, geen vroue wat groot kruike op hul kop dra en agter sluiers uit na die wêreld loer nie, geen hamerslae in die smidswinkels nie, en geen groot karavane wat na die markte deurgedryf word nie.

      Want dit is die uur van stilstand en rus in die stad waaroor die fyn wasigheid lê. Die son brand fel en dryf die volk na die koelte van suilegange, onder bome in, of na die seilbedekkings op die markte. Dít is die tyd vir gesels, of sluimer, of bepeinsing.

      In die forum, na die see se kant toe, sit die geleerdes in hul wit togas, die perkamente oopgesprei. Adellike burgers loop naak in die ruim marmerbadplase rond. Die amfiteater lê en bak verlate in die son. Net die verstoorde grond getuig van die kragmetings wat kort gelede daar plaasgevind het – die bloed van ’n bul, die pootmerke van ’n leeu wat in die slag gebly het.

      Dit is die rustyd in Cirene. Behalwe op die terrasse. Daar word gewerk, want die wind waai van die see af en laat die olyfbome sing.

      Die wind waai uit die rigting van Rome …

      Cirene se terrasse, gebou uit die donker grond van Afrika, strek tot teenaan die see; vrugbare vlakke waarop die olyfboorde, wingerde en graanlande lê, gevoed deur slikwater uit die waterleiding wat keiser Augustus laat bou het.

      Op die terrasse rus hulle nie; daar soek hulle nie koelte nie. Oor die boorde en stoppellande huiwer ’n goue wolk, want dit is oestyd. Op die trapvloere sweet hulle en dryf die diere meedoënloos in die rondte. En wanneer die trapsels deur is, word houtgaffels hoog geswaai. Die wind vang die bondels strooi en dryf dit hoog deur die lug van Cirene.

      Die koringkorrels val ritselend op die hope wat hoër groei.

      Die wind suiwer die oes.

      Swaar houtskopgrawe glip onder die koringhope in, word in sakke omgekeer. Oë glinster in die gesigte, vaal van die koringstof.

      Die terrasse woel en wemel soos die burgers van Cirene vir Rome oes …

      Simon, die Jood, laat sy jaagbesem saggies oor die hoop glip en bring die litjies en stokkies kant toe. Hy doen dit behendig, streel al die los kluitjies uit die koring weg, want vir hom moet alles perfek wees. Vir hom is die arbeid hier in die son ’n vreugde en elke nuwe mud koring ’n oorwinning. Hy is ’n man van die grond. Die vrug van son en grond en reën is vir hom ’n seëning.

      ’n Groot man, hierdie Jood – groter as die meeste, nie log nie, maar kragtig en lenig, met yslike hande en arms wat twee mud koring op sy heupe kan swaai. En ’n nek soos die stam van ’n jong sipres.

      Sy gelaat is fors en vriendelik. En hy is donker. Amper so swart soos ’n Numidiër. Daarom noem hulle hom Simon Niger. Maar dit kwel hom nie, want hy is verdraagsaam, al kan ’n skewe woord sy oë laat gloei.

      Sy oë het die kleur van ou wyn. Hulle is nou kalm, maar diep agter die kalmte skuil die opstand. Sy mond is nou sag, want daar is vrede in sy hart, maar partykeer word dit ’n dun, woedende lyn.

      Hy is nie ’n ou man nie. Skaars veertig. Tog loop daar kepe oor sy gesig omdat hy al op sy dag gely het; nie soseer na die liggaam nie, maar na die gees, want hy is ’n vaderlander wat seerkry onder die hiel van die Ryk. Hy is ’n seun van Israel wat moet asemhaal in die lug van Tiberius se Rome.

      So, nou is die hoop skoon. Esegiël, die bejaarde Jood wat al so ver saam met hom gekom het, en Juba, die fris Numidiër, sy vrywillige slaaf, het hul laaste trapsel ook amper skoongegooi. Goeie werkers, hierdie Esegiël en Juba.

      Simon Niger leun op sy jaagbesem, kyk af na die see wat die Romeine “Ons See” noem, en die ou bitterheid wil net weer in hom roer.

      Maar dan verower die skoonheid voor hom sy gemoed – die wingerde wat groen in die son blink, die olyfboorde, koel en donker, die bondels kaf wat telkens in die son opbreek daar waar die ander manne staan en oes net soos hy. Hy kyk in die verte tot waar die ou Griekse pilare van Cirene in die son blink. Dan terug na die see, die wye see wat Cirene aanraak, asook die kuste van Rome – en dié van Judea.

      Simon kyk graag na die see. Altyd met verwagting, altyd soekend, steeds hopend. Met verlange en hunkering …

      Skielik verstrak sy oë. ’n Swaar vaartuig gly nader oor die baai van Cirene. Die vaarseil staan hoog en wit, en hy kan hiervandaan die kol sien wat die teken van die fasces moet wees. Die voorstewe pronk trots bo die wit skuim wat weerskante toe wegval. Simon verkyk hom aan die roeislawe wat die lang spane reëlmatig uit die water lig en hulle dan weer onder die branders wegdruk.

      Opstandigheid flikker in hom. Maar net ’n oomblik. Dan wel die ou hunkering weer in hom op, en hy sug. Sy Alexander … waar sou hy wees? Die jong man met die swart baard net soos hy, met sý skouers en sý oë.

      “Daar kom die graanskip van Ostia af,” sê Esegiël en leun op sy houtgaffel. In sy oë glinster die minagting. “Kyk net hoe ry hulle die see asof die hele see hulle s’n is. Eendag sal hulle sê die lug is ook hulle s’n – en die son.” En toe rustiger: “Dalk is Alexander op daardie skip …”

      Simon gooi die jaagbesem heftig neer en loop deur die jong wingerd na waar sy paar esels aan die vars kaf staan en vreet. Hy bring hulle na die suipgat in die leivoor en toe die diere hul bekke in die water steek, sê Simon: “Suip, my diere, suip aan die water van Rome; suip die water uit die waterleiding van die groot Augustus.”

      Hy draai om en kyk weer na die graanskip wat ver onderkant die wingerde en boorde nader sluip kus toe. Die skip verdwyn agter die streep olyfbome op die derde terras bokant die see.

      Simon jaag die diere terug na waar die kaf skitter en stap dan na die groot olyfboom wat seker amper so oud is soos die Romeinse oorheersing. Hy gaan sit sugtend in die koelte, trek die growwe werkskleed van sy bors af weg, draai die warm tulband om sy kop los en laat die koel seebries sy baard streel.

      Hy maak sy oë toe en leun met sy rug teen die stam.

      “Simon Niger, jy word oud. Eers moes jy altyd op my wag, maar nou wag ek op jou.”

      Daar staan sy voor hom, haar oë vonkelend, haar swart hare glimmend, haar liggaam lank en lenig, net soos toe sy nog jonk was.

      Hy glimlag en om sy oë lê fyn kepies. “Saam met jou kan ek nooit oud word nie, my vrou,” sê hy en steek sy hand uit. Sy kom nader en sit die mandjie neer wat sy gevleg het van biesies wat by die lekplek in Augustus se groot waterkanaal groei. Sy gaan sit langs hom, en hy raak aan haar keel. “Jy sal nooit oud word nie, my Debora,” sê hy. Sy streel oor sy baard en dit roer haar, net soos die dag daar in die boord langs die kanaal in Alexandrië toe sy hom ontmoet het. Toe was hy nog ’n karavaanhandelaar tussen Alexandrië en Cirene.

      Sy skuif nader aan hom, trek die