F.A. Venter

Man van Cirene


Скачать книгу

’n ei help om die leeglêers van Rome vet te voer nie.”

      Met ’n sug draai sy om en loop weg. Simon kyk haar ’n rukkie agterna, toe gaan stap hy deur die wingerd. Loer onder die blare in. Die klein trosse is stewig en vol.

      Hy loop deur die boord en raak die jong olywe aan asof hy hulle seën.

      Aan die kant van sy grond gaan hy staan. Op ’n stuk kaal grond werk ’n slaaf wat geketting is aan ’n groot ysterbal om sy bene. Die man is groot en swart, lyk soos ’n Siriër. Hy swaai die skoffelgraaf stadig en elke keer as hy vorentoe beweeg, sleep hy die ketting en die ysterbal met moeite verder.

      Simon hou die man ’n hele rukkie dop. Slawerny, onderdrukking, geweld – dit is Rome, dink hy. Hulle wil almal slawe maak, maar hy sterf liewer voor hy ’n slaaf word soos hierdie Siriër.

      Hy draai om en loop na die trapvloer terug, tel die jaagbesem op en piets weer liggies oor die hoop. Raps hier en daar nog ’n litjie weg wat oorgebly het.

      Esegiël en Juba het klaar geëet. Hulle kom terug en met die houtgaffels gooi hulle die laaste bietjie kaf in die lug op.

      Net toe Esegiël weer ’n bondel kaf opgooi, sien hy die ruiter op ’n stywe draffie aankom deur die jong wingerd wat hy Simon net verlede jaar hier help aanlê het.

      Esegiël se gaffel bly in die lug hang. Hy loer vinnig na Simon.

      “Hier kom ’n Romein aan,” sê Esegiël. Juba gaan staan opsy, onderdanig en bang.

      Simon Niger kom orent en gewaar die Romein wie se wit kleed in die luggie fladder. Agter hom twee soldate, hul rooi helmpluime wippend soos die perde draf.

      Simon loop drie tree vorentoe. “Dit is die bullebak Vitellius, Quirinius se taksateur,” sê hy oplopend.

      “Hy kom sê seker vir jou vir hoeveel jy jou koring moet verkoop.”

      Simon klem die steel van die jaagbesem stywer vas.

      Vitellius en die twee soldate kom ploeë hier in die dorsvloer op, vlak voor Simon.

      “Vir wat vertrap julle my wingerd?” kners Simon. “Hier loop ’n pad oor die terrasse.”

      “Ek ry waar ek wil,” antwoord die vet Vitellius. “Ek het kom kyk hoeveel koring jy skoon het. Die koringskip is hier.”

      “Dis my wingerd …”

      “Jy met jou wingerd en al is die eiendom van die deurlugtige Tiberius.” Vitellius lag uit sy maag. “Jy is ’n Jood en jy benat jou grond met die water wat die groot Augustus hiernatoe laat bring het.”

      “Dit is my grond dié …”

      Vitellius steek sy bruin perd met die hakke sodat die dier runnikend steier en Simon amper in die gesig kap. Die Romein lag uitbundig. “As jy nie oppas nie, vat ons nog jou grondjie af en maak jou ’n galeislaaf. Jy het lekker sterk skouers vir die roeispane.”

      Die twee soldate trek hul swaarde uit die skedes.

      Dit is toe dat Simon met die steel van die jaagbesem na Vitellius slaan. ’n Vinnige, moordende swaaihou.

      Esegiël verstar van die skok, want Simon is ’n Jood en Vitellius ’n Romein …

      2

      Simon het Vitellius amper uit die saal geslaan, maar hy bly sit, al staan sy perd verskrik op sy agterpote. Een van die soldate laat sy perd vorentoe spring, sy swaard omhoog, maar Esegiël vang hom met die tande van sy gaffel onder die blad en stamp hom uit die saal. Terselfdertyd steek Simon die perd van die ander soldaat met die steel van sy jaagbesem in die lies. Die perd maak sy rug krom en gooi die soldaat dat hy met ’n hik teen die koringhoop val.

      Toe bestorm die twee soldate vir Simon en Esegiël, hul swaarde omhoog. Maar Vitellius, sy pokkelgesig blink van die sweet, skreeu op hulle. “Moenie die twee honde nou doodmaak nie. Ons sal hulle aan die wraak van Quirinius oorlewer. Die swaard is vir hulle te genadig. Ons het lanklaas iemand in Cirene gekruisig.”

      “As jy jou pote weer op my grond sit, steek ek jou met daardie gaffel deur jou groot maag, Lucius Vitellius,” sê Simon, en staan dreigend nader.

      “Daarvoor sal daar nie tyd wees nie, Simon Niger,” sê Vitellius uit die hoogte. “Ek sal nou dadelik vir Quirinius gaan sê twee Joodse honde het sy taksateur en twee soldate van Rome aangerand. Het jy vergeet wat die straf vir aanranding op ’n Romein is?”

      Simon is so kwaad dat hy vir eers nie kan praat nie.

      “Sononder,” beveel Vitellius, “moet al die koring in sakke wees, want vannag moet dit gelaai word. Die prys is een en ’n half denarius die mud.”

      “Ek vra twee denarii die mud,” antwoord Simon. “Ek verkoop nie vir minder nie. Jy kan dit vir Quirinius gaan sê; jy kan dit vir daardie ou kinds Tiberius gaan sê as jy lus het.”

      Vitellius glimlag snedig en meerderwaardig, en die twee soldate vat hul swaarde vaster.

      “Die prys is vasgestel deur Cornelius Marsus, hoofgraanbeampte in Rome,” sê hy. “Nie ’n quadrans minder nie en nie ’n quadrans meer nie. Ek het klaar gepraat. Vannag word die koring gelaai.”

      Vitellius trek sy perd om en ry op ’n stywe galop deur Simon se wingerd weg, gevolg deur die twee soldate. Blare en teer lote breek om die hoewe.

      Simon gaan sit stadig op ’n sak koring, en hy voel skielik duiselig.

      “Jy het ’n groot fout gemaak, Simon,” sê Esegiël en gooi sy gaffel neer. “Vitellius is ’n lakei van Quirinius. Hulle sal ons laat les opsê.”

      “Een en ’n half denarius die mud!” kreun Simon asof hy Esegiël nie eens gehoor het nie. “Ek steek hierdie hoop eerder aan die brand voordat ek daarvoor verkoop.”

      Hy kyk op na die tempels van Cirene, na die triomfboog, die basiliek – en bietjie na agter, die glimmende paleis van Quirinius.

      “Een en ’n half denarius,” brom Simon weer en staan op.

      “Dit is die vasgestelde prys,” opper Esegiël bedug.

      “Jy praat soos ’n slaaf!” bulder Simon Niger. “Jy wil hê ek moet ook ’n slaaf wees en verkoop vir wat hulle wil gee. Het jy gehoor hoeveel leeglêers en suipers daar in Rome is? Vyf honderd duisend! Hulle moet vreet en ek, Simon Niger, moet my koring, my wyn, my olyfolie vir ’n appel en ’n ei verkoop! En dan moet ek nog hul belastings ook betaal – ’n tiende hier, ’n vyfde daar …”

      “Die keiser is die keiser,” sê Esegiël versigtig.

      “Daar is vir my net een keiser en dit is die Allerhoogste,” sê Simon hard. “Aan Hom en aan Hom alleen is Israel iets verskuldig.”

      Hulle staan ’n paar oomblikke woordeloos. Dan tel Simon die houtskopgraaf op en steek dit in die hoop koring. “Dit spyt my ek het hard gepraat,” sê hy boetvaardig aan Esegiël, wat hom al soveel jare op die grond help. “As daar moeilikheid kom, sal ek al die blaam dra.”

      “Ek het my lewe lief.” Esegiël glimlag floutjies. “… En my vryheid. Wat baat dit ’n mens om jou hand teen Rome op te tel? Hulle stuur jou na die myne; of hulle maak jou ’n soldaat in Gallië; of so nie, stuur hulle jou om die pad te gaan help klaarmaak Alexandrië toe; of so nie, word jy soos dáárdie vent behandel …” Esegiël knik in die rigting van die slaaf op die oop grond daar anderkant.

      “Bring die sakke, Juba!” roep Simon na die Numidiër, en ruk die skop uit die hoop koring.

      In ’n oomblik van vertwyfeling dink hy aan Debora … aan alles wat hy hier opgebou het.

      Hulle begin die sakke vul. Simon werk met gretige bewegings. Arbeid gee hom altyd vreugde, al is hy ook in watter stemming. Juba hou oop, Simon maak vol en Esegiël bind toe.

      “Wat dink jy van hierdie nuwe Man wat in Galilea preek?” vra Simon onverwags om te probeer wegkom van wat so pas