F.A. Venter

Man van Cirene


Скачать книгу

hy verlede jaar gemaak het. En daar is groot bruin dadels van die Nyl af, bokmelkkaas wat sy self gemaak het.

      “Dit is nie ’n gewone dag nie,” sê sy innig. “Vandag is die laaste dag van die oes, nie waar nie? Is die oes goed?”

      Hy kou aan ’n vy, maar sy gewaar die spanning in sy oë wanneer hy wegkyk na waar Jerusalem moet lê – ver oor die see.

      “Dit is die laaste dag van die oes,” sê hy onvergenoegd. “Die oes is vet. Die vrate van Rome sal weer lekker kan vreet aan die graan van Simon Niger …”

      “Simon …” Sy frons. “Jy moenie so praat nie.”

      “Dit is waar, my vrou. Flus het hier weer ’n graanskip aangekom. ’n Mens is nog nie eens klaar geoes nie, dan kom ry hulle dit weg Rome toe.”

      “’n Graanskip? ’n Groot skip?” vra sy opgewonde.

      Sy hand, grof van die werk, sluit om haar ken. “Jy moet jou nie so oor Alexander bekommer nie. Hy sal nog eendag kom. ’n Mens word ontydig oud as jy jou so oor die kinders verknies. En ek wil nie hê jy moet oud word nie.” Hy lag, maar in sy donker oë merk sy die verlange.

      Debora vat die vy wat sy vir hom afgeskil het, en druk dit in sy mond. Dit is ’n teer gebaar asof sy hom met iets probeer versoen. “As Rufus weer huis toe kom, dan hou ons hom hier,” sê sy opgewek, maar hy kan haar hartseer aanvoel.

      “Rufus …” sê Simon. “Hy leer slim dinge terwyl sy vader moet koring skoongooi. Hy hou meer van goddelose Alexandrië as van Cirene.”

      “Hy word slim onder die geleerde Philo, my man. Eendag is ons Rufus dalk ’n groot man.”

      “’n Groot man in die goddelose tempels van Rome? Al wat hy hoef te ken, is die Wet en die Profete, en al wat hy hoef te doen, is om te werk soos ek. Op die grond waar daar nie sonde is nie.”

      Oor die glinstering van die wingerd sien sy ’n visioen wat vir haar verder lê as alles hier om hulle – verder as die see, verder as die horison waar dit lyk asof die warm lug stomend aan die groen deining raak.

      “As hy leer, kan hy dalk nog die Messias dien,” sê sy begeesterd.

      Simon steek ’n stuk roosterkoek in sy mond en sy oë terg haar. “Jy’s ’n goeie, gelowige Jodin, my vrou. Elke somer as die swaels kom, het ons ’n nuwe messias wat Israel gaan verlos, wat Jerusalem gaan groot maak …”

      “Ek het ’n gevoel Hy’s die Messias … Ek kan dit nie help nie.”

      Simon verstik amper. “Die Messias! Hy is net so min die Messias as wat die Doper die Messias was!” Neerhalend, amper bitsig praat hy. “Ons het geglo die Doper is die Messias – en ou Herodes het sy kop laat afkap! Nee, ek het al genoeg van hierdie Galileër gehoor om te weet Hy is nie die Verlosser nie.”

      “Maar hierdie Man is anders. Hy is groot. Rufus laat weet duisende volg Hom.”

      “Kyk hoe het hulle agter die Doper aangeloop. Wat is groot aan hierdie nuwe Man? Hy’s ’n timmerman wat ’n spul vissers op loop geja het. Op ’n keer het hulle glad gesê Simon van Samaria is die Messias …”

      “Maar hierdie Man doen wonderwerke en hulle sê Hy preek net liefde …”

      “Simon van Samaria doen ook wonderwerke. Hy is ’n towenaar. Dié Man is maar net ’n timmerman – en Hy het sy nering laat staan om slim praatjies te praat.”

      “Wil jy nie die Messias sien kom nie, my man?”

      “My vrou,” antwoord Simon, sy oë skerp, “ek smag na Hom soos Israel na Kanaän gesmag het – dit weet jy. Maar Hy moet nie ’n timmerman wees wat sy oë vir Rome sluit nie. Hy moet die tempels van Rome afbreek en Jerusalem groot maak. Hy moet Israel bevry. Hy moet die wêreld van ou Tiberius verlos. Hy moet nog groter wees as Jesaja. Hy moet ’n vors wees – nie ’n rampsalige timmerman nie.”

      Hy praat driftig, half in vervoering.

      “Hy moet ’n profeet wees, my man – ’n priester.”

      “Nee! Eers ’n groot vors; dan ’n priester.”

      Sy sak agteroor op haar rug, en wens ’n groot hand wil teen die lug skryf sodat sy kan weet, heeltemal seker kan weet Hy is groter as Jesaja.

      “Hulle sê Hy is die seun van Dawid. Hulle sê … hulle sê God het Hom gestuur …”

      Simon deins verskrik terug. “Jy moenie sondig nie, Debora. Die Allerhoogste laat Hom nie bespot nie. Net daardie gedagte kan jou siel vernietig. Dit is laster … laster teen die Here.”

      Sy sit vinnig regop. “Ek wil nie sondig nie,” sê sy bang. “Ek wil net glo. Hulle vertel dan sy geboorte was ook anders. Jy weet tog …”

      “Skaapwagterstories. Hulle weet nie eens waar Hy gebore is nie – een klomp sê in Betlehem; een klomp sê weer in Nasaret. Hulle sê sy eie familie glo Hom nie eens nie.”

      “Maar baie ander …”

      “Net ’n klomp vissers van Galilea. Hulle glo alles. As daar ’n kol om die maan is, glo hulle die visse sal beter byt. Hoekom glo Kajafas nie? Hy is die hoëpriester. Hoekom glo Philo van Alexandrië nie? Dis net die liggelowiges van Galilea wat agter Hom aanloop omdat hulle niks anders te doen het nie.”

      Hy merk die twyfel in haar oë.

      Daarom leun hy oor, met sy gesig naby hare. “As Hy die Messias is, waarom doen Hy niks aan Pontius Pilatus nie? Dit is hierdie Romeinse hond wat Jerusalem besoedel het met die Romeinse tekens wat hy daarheen gebring het. Het jy dit dan vergeet? As Hy die Messias is, waarom laat Hy toe dat ek aan Tiberius moet betaal?”

      “Sal Hy nog kom – die Messias?” vra sy, haar gemoed skielik leeg.

      Simon beduie na die plato waar die Grieke vir Cirene gebou het toe Atene nog vry was. “Sien jy die pilare wat die Grieke opgesit het? Sien jy hul suilegange?” Sy stem is skerp en seker. “Sien jy die see van Rome hier voor ons? So seker as al die dinge hier voor jou, so seker is dit dat die Messias sal kom, want die profete sê so. Maar Hy sal nie ’n timmerman wees wat bang is vir Rome nie. Hy sal ’n vors wees wat Jerusalem sal groot maak. Hy sal ons vry maak en Hy sal ons groot maak, soos die Woord belowe.”

      Sy voel hartseer maar tevrede. Al het hy haar nuwe droom verwoes, het hy haar ou droom laat herleef.

      Simon vat haar hande styf vas en druk hulle teen sy baard. “Ons moet net glo, my vrou. Ons moet glo soos Josua toe hy gebid het die son moet stilstaan.”

      Toe bly hulle altwee stil. Twee ibisse vlieg ooswaarts na Egipte, waar hulle heilig geag word. “Ek wens ek was een van daardie voëls,” sê sy. “Dan was ek môre by Rufus.”

      Hy drink van die koel wyn wat sy gebring het. “Rufus … Alexander,” sê hy met sy ou hartlikheid. “Jy dink net aan hulle. Is ek dan so oud dat ek niks meer vir jou beteken nie?”

      Sy lag onverwags vrolik. “Jy kan nooit oud word nie, Simon Niger …” Haar teerheid ontroer hom.

      “En jy sal altyd deel van my hart wees, goeie vrou, of ek jonk is en of ek oud is. Jou liefde is die beste wat ek het.”

      Sy staan op. “Ek moet loop. Ek het werk. Bring vir my ’n skepel koring saam sodat ek kan bak.”

      “En braai jy vir my ’n karmenaadjie, want vanaand wil ek rus en eet en met jóú praat, want my oes is af.”

      Sy sien die hoop koring, die sakke wat reeds gevul is, en sy is skielik onrustig. “Jy moet versigtig wees, my man,” pleit Debora.

      Hy staan op en dit lyk asof sy liggaam die hele koelte vul. “Ek vra my prys vir my werk,” sê hy en rek hom uit.

      “Jy ken hierdie goewerneur, Simon …”

      “Ja, ek ken die vetsak Quirinius.”

      “Hy is nie onbillik nie, maar hy is streng. Onthou, hy staan onder Rome,