sy familieverband kon voorstel. ’n Pleknaam soos Ramatajim help ons niks; nie soos dit die oorspronklike lesers sou help nie. Ons moet dus maar staatmaak op die bietjie wat ons uit die Bybelteks van dié man kan agterkom.
Die man se naam was Elkana en hy was oënskynlik ’n goeie man. Hy was lief vir Hanna; dit weet ons. En hoewel dit nie ewe duidelik uitgespel word nie, was sy sekerlik vir hom ook lief. Hy was goed vir haar. Hy was ook gelowig en het getrou die rituele uitgevoer wat sy geloof van hom gevra het. Hy het “elke jaar uit sy stad uit na Silo toe gegaan om te aanbid en aan die Here die Almagtige offers te bring” (1 Sam 1:3). Standvastige man, dus. Tradisievas en betroubaar; daarom dalk ook ’n bietjie voorspelbaar. Hy was die soort soort man van wie ’n mens meestal weet wat om te verwag. Dit verbaas ’n mens ook nie dat hy effens onbeholpe was met die taai toffies van huismoles nie.
Want sien: Daar was ’n man, en daar was twéé vroue. En met dié twee vroue was daar baie drama. Albei was sý vroue. Nie die een ná die ander nie.
Gelyktydig. Onthou poligamie was in hulle tyd die heersende kultuur. Dit was heeltemal aanvaarbaar. Niks ongewoon nie.
Tog het die probleem nie soseer by die “gelyk” gelê nie. Dit was eintlik by die “ongelyk” waar die groot moeilikheid gekom het: Hanna word eerste genoem, sy was dus die eerste vrou. Daarom, volgens hulle kultuur was sy geregtig op meer status en voorregte. Peninna was die tweede vrou, ondergeskik aan Hanna in die rangorde van die huishouding. Maar Peninna het kinders gehad, by die dosyne. Hanna het geen kinders gehad nie. So, al was Hanna die eerste vrou in die huwelikshiëargie, het haar onvrugbaarheid haar sleg tweede laat kom in statuur en waarde. Heeltyd. Vir baie lank.
En sy kon daar niks aan doen nie. Die hemel weet, sy kon op hierdie Godsaarde net mooi niks daaraan doen nie. Maak nie saak hoeveel hulle probeer het nie; hoe sy gewens, gesmag en gehuil het nie; hoeveel goedbedoelde raad van hoeveel jammerhartige vriendinne sy gevolg het nie. Niks het gehelp nie. Sy kon eenvoudig nie swanger raak nie, en sy het geweet die dorheid was in haar lyf. Dit was nie Elkana nie. Hy kon dan by Peninna die een kind ná die ander verwek. Net háár buik was bot. Hopeloos ontoereikend. Traag. Onwillig. Toe. Sy kon nie aan die hoogste standaard en verwagting van vrouwees in haar kultuur voldoen nie. Dit moes haar by tye rasend gehad het.
Dan was Peninna ook nog so ’n geniepsige vrou. ’n Mens sou haar ook Pynnina kon noem. Of selfs Pynnetta, want sy het net pyn veroorsaak en vererger so ver sy gaan! Peninna het letterlik Hanna se hartseer uitgebuit. “Sy het haar baie gespot en verneder,” word ons vertel. Om te spot, is reeds onaanvaarbaar. Maar om met iemand wat minder as jy het se grootste verdriet te spot, is verregaande. Peninna was oneindig gemeen en vermoedelik ook jaloers.
Die Bybelverhaal maak dit duidelik dat Elkana lief was vir Hanna. Hoe hy oor Peninna gevoel het, weet ons nie; daar word niks van gesê nie. Miskien is dit insiggewend dat sy liefde vir Hanna juis so duidelik genoem word. Elke jaar wanneer hy gaan offer het, het hy “dele van die offermaaltyd aan sy vrou Peninna en al haar seuns en dogters gegee. Alhoewel hy vir Hanna liefgehad het,” so word uitdruklik vertel, “kon hy vir haar elke keer net een deel gee, want die Here het haar kinderloos laat bly.” Asof Elkana graag vir Hanna meer sou wou gee, maar nie kon nie.
Ons weet ten minste hy het nie vir Peninna afgeskeep nie. Sy en die kinders het hulle volle deel gekry, elke keer. Maar miskien het Peninna gevoel sy kom tweede wat Elkana se liefde betref. Miskien het sy net soos Hanna, maar om heel ander redes, gevoel sy is ontoereikend en magteloos om haar situasie te verander. Miskien was “al haar seuns en dogters” ál wat sy gehad het om haar eiewaarde te onderskryf.
“Al Peninna se seuns en dogters” – hoe moes hierdie woorde nie Hanna se hart uitmekaargeskeur het nie. Hoe swaar moes dit nie vir haar gewees het nie: die oorvloed vreugde, woeligheid en kinderpret – oral om haar, maar nooit haar eie nie. Keer op keer leef sy saam met Peninna deur nog ’n swangerskap, nog ’n geboorte, nog ’n rondte oe’s en aa’s van almal wat die nuwe babatjie kom bewonder. Dag ná dag sien sy hoe Peninna die kinders vergiftig met haar wrede geaardheid, en Hanna kan niks anders doen as om dit net te verduur nie. “Want die Here het haar kinderloos laat bly.”
Want die Here … Hoe moes hiérdie woorde nie deur haar siel gesny het nie! “Want die Here …” Haar Verlosser, haar Voorsiener. Die Een wat met ’n enkele woord haar situasie kan omkeer en ’n laggende babatjie in haar skoot kan lê. Die Here, die Gewer van elke goeie gawe, het gekies om haar kinderloos te hou. Hoe magteloos, hoe uitgelewer dink jy het hierdie woorde haar laat voel? Dit was so sonder moontlike teenspraak; so finaal. In daardie oertyd, sonder die wonderlike kennis en hulp van die moderne mediese wetenskap, was dit gelowige mense se enigste verklaring vir kinderloosheid. Daar was nie ’n dokter wat Hanna kon ondersoek om die fisieke redes vas te stel of te behandel nie. Dit was net die Here. Die Almagtige. Hy was die enigste verklaring. En Hy was klaarblyklik so onwillig soos haar baarmoeder. Hoe sou Hanna daaroor gedink het? Hoeveel vrae en pyn was daar dalk in haar gemoed oor hierdie God wat doelbewus kies om te weerhou waarna sy so smag?
Intussen het Peninna, die oorvloedige wat so baie gekry het – baie kinders, baie offervleis, baie aansien – blykbaar ook algaande ’n groter kop gekry, en ongelukkig nie ’n groter of ’n sagter hart nie. Dit is moeilik om haar te verstaan en nog moeiliker om van haar te hou. Sy was net te aaklig, met dié siek behae om Hanna te spot en te verneder: “Want die Here, want die Here, wêla-ke-pêla, Hanna, die Here hou jou leeg.” Natuurlik het dit seergemaak. Verskriklik seer! By die huis ook, maar veral met die jaarlikse offers by die tempel waar ’n mens vir die Here se goedhartigheid kom vra. Waar ’n mens juis kom rus soek vir jou gehawende siel. En troos. Of ten minste dan net vrede – met die Here en met mekaar. Dáár kry Hanna elke keer net meer sout in haar wonde.
“Hoe lief kan jy hê ?” moes, sover dit Peninna aangaan, ’n enorme uitdaging gewees het. Jaar na jaar na jaar het Peninna met die spottery aangehou. Elke jaar met ’n nuwe kleintjie op haar heup. En elke jaar het Hanna, met ’n groter leegte in haar binneste, gelowig saam kom offer. Met haar siel elke jaar nóg meer aan flarde geskeur. Peninna het so met haar aangegaan dat Hanna “gehuil het en nie wou eet nie”. Sy kon dit net nie meer uithou nie.
Dan sê Elkana vir haar: “Hanna, waarom huil jy? Waarom eet jy nie en waarom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?” Die stomme man. Hy probeer troos. Hy het haar so opreg lief. Maar verstaan hy dan nie? Was dit hoegenaamd nodig om te vra? Kan hy dan nie sien nie? Hoor hy nie? Kan hy regtig nie insien hoe verneder en verpletter sy voel nie? En hoekom kry hy nie ’n slag vir Peninna voor stok nie? wonder ’n mens. Miskien het hy probeer en dit het nie gehelp nie. Dalk het dit net sake vererger?
Arme Elkana het dan seker ook maar met sy eie onvermoë gestoei. Hoewel hy Peninna maklik genoeg en gereeld genoeg kon swanger maak, was al sy liefde nie genoeg om Hanna se hart heel of vol te maak nie. Of om die onmin tussen sy twee vroue te keer of te stop nie. Ook hy moes dikwels gewonder het: Hoekom, Here? Hoekom só? Kan U nie maar ’n bietjie help nie? Hoekom hou U dan vir Hanna kinderloos?
Vir al drie van hulle, maar veral vir Hanna, moes dit gevoel het soos om ’n baie koue nag deur te bring onder ’n kwilt wat te klein is. ’n Deel van jou steek heeltyd uit en dreig om te vries. Te min. Te min. Heeltyd te min. Hanna het ten diepste so onvervuld bly voel, ten spyte van Elkana se hartgrondige liefde. Sy moes so moeg gewees het van Peninna se nonsens, en so vol vrae oor God se langdurige en onverklaarbaar afsydige stilte – met ’n diep, diep verlange dat Hy moes ingryp.
Op ’n keer ná die offermaaltyd, toe sy weer net een deel gekry het, het Hanna opgestaan en gaan bid. Hoe verstommend dat sy, ná alles, nog wil bid! ’n Mens wonder: Ná die hoeveelste keer was dit? Waar lê breekpunt? Want dit weet ons: Liefde, en veral die gebrek daaraan of die gestoei daarom, kan ’n mens tot breekpunt bring. Daar kom net ’n onverwagse oomblik dat jy ewe skielik knak. Hanna was bitter hartseer.
Tog het haar breekpunt haar nie net laat knak nie; dit het haar ook laat opstaan. Sy het onbedaarlik gehuil en haar hart eenvoudig voor die Here gaan oopgooi. Stemloos.