kombuis gewoond te word. Al die luike is toegemaak teen die hitte. Die vertrek is heelwat koeler as buite, maar vreemd verlate.
“Hallo! Iemand tuis?” Haar geroep klink effens hol. “Tannie Marlene?”
Eers toe sy in die gangdeur kom, hoor sy die geluid van ’n naaimasjien, en sy glimlag. Leanie sit haar sak op die naaste stoel neer en stap na die agterste kamer.
“Tannie kan mos nie alles so oop los nie. Sê nou ek was ’n skelm?”
Marlene se liggaam ruk effens van die skok, en die masjien hou op stik. Maar dan glimlag sy vir Leanie. “Middag, kind. Dis ’n verrassing.”
Leanie soengroet die ouer vrou en glimlag. “Tannie sal versigtiger moet wees. Ek kry elke dag lesings omdat ek nie paraat genoeg is nie en nou lyk dit my ek sal dit moet begin oordra na tannie toe.”
“Toemaar, ek word genoeg uitgetrap. Ek het jou nie hoor kom nie, die masjien raas so hard.” Sy kyk by die venster uit. “Weet Henk dat jy vandag sou kom?”
Verbeel sy haar of lyk die tannie effens ongemaklik? “Toe hy gisteraand gebel het, het ek vir hom gesê dat ek gaan probeer kom, maar … Hoekom vra tannie? Is hy nie hier nie?”
Marlene lag liggies. “Nee, ek wonder maar net. Hulle … hy sal seker nou-nou hier wees.”
Daar is definitief iets vreemds aan Marlene se optrede en Leanie frons. “Wie se motortjie staan onder die boom? Dit lyk bekend, maar ek –”
Marlene se arm swaai. “Ag, dis sommer Liz se karretjie. Sy was so lanklaas hier en wou met alle geweld ’n slag kom perdry en in die rivierpoel afkoel. Ek het nie eens geweet sy is weer terug in die land nie, toe maak sy en Henk weer kontak en … Ons en haar ouers kom al ’n lang pad saam.”
Leanie trek haar oë op skrefies. Wat is hier aan die gang? Hoekom is tannie Marlene so ooglopend senuweeagtig as dié Liz so onskuldig is. “Is dit waarheen Henk is? Het sy en Henk …? Is Henk saam met haar?”
“Ja, maar hulle sal seker nou-nou hier wees.” Henk se ma praat vinnig, verskonend: “Die twee ken mekaar al van doeketyd af. Is saam skool toe, saam hoërskool toe en uiteindelik saam matriekafskeid toe.”
Leanie se kop werk oortyd. Hoekom het sy dan nog nooit van die sogenaamde Liz gehoor nie? Hoekom het Henk haar nie van die onlangse herontmoeting met sy jeugvriendin vertel nie?
“Kom, ek gaan sit die ketel aan. Ek en Lien het gister beskuit en melktert gebak. Na die vakansie was alles in die huis op en jy weet hoe voel ek oor ’n leë blik.”
Marlene stryk haar gekreukelde rok met haar hande plat en stap voor Leanie uit kombuis toe. Hulle gaan sit by die kombuistafel en Marlene skuif ’n bakkie beskuit tot voor Leanie en dan ’n bordjie met ’n stuk melktert. “Kry vir jou. Hier’s baie. Ek hoop dit smaak orraait. Vandag se botter wil ook nie meer bak soos altyd nie.”
“Dankie, tannie. Dit lyk heerlik.” Leanie tel die vurkie op. Hoe gaan sy die tert afgesluk kry? Haar keel voel kurkdroog en styf van spanning. Hoekom, weet sy nie. Miskien is dit tannie Marlene se vreemde optrede wat haar so op haar senuwees het.
Sy stik amper aan die laaste stukkie tert toe sy die perdepote hoor nader kom. Sy sluk dit met moeite af, staan op en draai met haar leë bordjie en koppie na die wasbak sodat tannie Marlene nie haar ontsteltenis moet sien nie. Leanie sit die breekgoed in die wasbak en gaan staan verskrik by die yskas toe sy die laggende stemme by die kombuisdeur hoor.
Sy het Henk lanklaas so lekker hoor lag. Die sifdeur gaan oop en dan snak Leanie amper hardop na haar asem, dankbaar vir die paar sekondes wat die twee aankomelinge nodig het om aan die skemerte van die kombuis gewoond te raak.
Die vrou langs Henk se hand is besitlik om sy boarm geklem.
Leanie voel hoe haar hand na haar mond toe gaan. Haar bene voel skielik of hulle aan iemand anders behoort. Gelukkig is sy gedeeltelik agter die yskas verskuil.
Henk lag sorgeloos en trek ’n stoel vir die vrou langs hom uit. Hy het Leanie nog nie opgemerk nie. Van die stalle se kant af sou hulle ook nie haar motor langs die huis gesien staan het nie.
Marlene kom stadig orent en glimlag selfbewus oor die tafel na die twee laggende mense.
“Een ding is seker, Ma, hierdie meisiekind het die plaaslewe gemis. Mens sou sweer sy is weer sestien jaar oud en …” Marlene se oë moes hom gewaarsku het, want hy draai vinnig om en Leanie kan die skok op sy gesig sien toe hy haar gewaar.
Nog ’n paar oë draai stadig na haar en Leanie weet nie waar sy die krag vandaan kry om te glimlag en “hallo” te sê nie, maar sy doen dit.
“Hi, ek het gedink jy kom nie meer nie. Wanneer het …?” Henk klink bly om haar te sien. Miskien net ’n bietjie té bly. Hy soen haar vlugtig en slaan sy arm om haar middel. “Ek dink julle het al ontmoet, maar dit is …”
Die groen kykers hou Leanie s’n gevange en Leanie kan sweer dat hulle haar koggel. Sy kan dit steeds nie glo nie.
“Ons het al ontmoet, ja …” Die stem eggo in Leanie se ore. Die groen oë skitter. “Middag, suster Lourens.”
Leanie voel hoe haar kop knik. “Middag, matrone.” Kan iemand haar nie net wakker maak dat sy uit hierdie nagmerrie kan kom nie?
“Liz is ’n ou vriendin. Sy was jare lank in Londen, maar toe sy vanjaar by Worcester Med begin werk het, het sy my laat weet dat sy terug op die dorp is.”
“Jou ma het so iets gesê, ja. Julle kan gerus … Ek gaan nie lank bly nie, ek het net gou kom groet.”
“Ek het belowe om wanneer ons klaar koffie gedrink het vir Liz die nuwe dam te gaan wys. Jy kan saamry as jy wil.”
“Is jy nie op roep nie, suster?”
Leanie voel of sy in die grond in kan sak. “Ek is, maar ek het gedink om net gou vinnig te kom inloer … Dis darem nie te ver nie.”
Matrone Truter se hande gaan na haar heupe soos daardie dag in die gang by die kindersaal. “Jy waag baie, suster Lourens. Mense se lewens is op die spel. ’n Teaterspan kan nie op jou wag nie, ek hoop jy besef dit.”
“Ag, dis darem regtig net ’n paar minute se ry hiervandaan.” Marlene glimlag en sit haar hand vertroostend op Leanie se skouer. “Kan ek vir jou ook nog ’n bietjie koffie skink?”
“Nee, dankie, tannie. Matrone is reg. Miskien is dit beter dat ek liewer ry. Ek kom eerder anderdag weer ’n draai maak.”
Sy raap haar sak van die stoel af op en soen Marlene op die wang. “Dankie vir die koffie en melktert.” Dan draai sy en kyk Elizna Truter vol in die oë. “Geniet die uitstappie na die dam.”
“Wag, ek stap saam.” Henk slaan sy arm om haar skouers en hou die sifdeur oop sodat sy voor hom kan uitstap. Die oomblik wat hulle buite hoorafstand is, sê hy sag: “Ek’s jammer. Ek wou –”
Leanie is woedend. “Jy wou wat? My vertel dat jou verlore skoolvriendin weer uit die bloute opgedaag het, of dat die vrou wat elke keer wat sy my sien, van my ’n aap probeer maak het, eintlik jou goeie vriendin is. Het ek jou nie nou die dag vertel hoe sy my uitgetrap het nie? En jy sê my niks! Hoe lank weet jy al dat jou Liz my nuwe matrone is? En hoe lank kuier sy al by jou sonder dat ek daarvan weet?”
“Ek wou jou nie ontstel nie, lief. Ek het haar nou die dag gaan sien, toe ek vir jou die blomme gebring het. Daar lê ’n lang geskiedenis tussen my en Elizna en eintlik is ons kwaaivriende uitmekaar. Ek het nie gedink … Ek wou jou nie onnodig vertel as ons in elk geval niks meer met mekaar te doen sou hê nie, maar nou … Ons is weer vriende en … Ek wou jou daarna sê, maar toe’s jy so kwaad vir haar … Die regte oomblik het nog net nie opgeduik nie.”
“Wel, jy hét my ontstel. En jy steek dinge vir my weg.” Leanie se kop werk skielik oortyd. Henk het toe sowaar verlede Maandag eintlik vir groenoog-Gousblom kom kuier. Hy het seker nooit gedink dat hy in sy verloofde sou vasloop nie. Sy was mos veronderstel om na die nagdiensskof te slaap. Die blomme was maar