Hermann Giliomee

Hermann Giliomee: Historikus


Скачать книгу

gevoer. Hy het glo in die laat 1980’s op ’n keer die NP-koukus teen my en ’n mede-skrywer, Lawrence Schlemmer, as slange in die gras gewaarsku.

      Daar was iets besonders aan die tye waarin ek geleef het en waaroor ek geskryf het. In Suid-Afrika, anders as in baie ander lande, is die geskiedskrywing sentraal tot ons hedendaagse politiek. Die stryd oor apartheid in die 1980’s en 1990’s was in ’n belangrike mate ’n propagandastryd waarin verskillende interpretasies van die geskiedenis ’n deurslaggewende rol gespeek het. Hierdie uitsonderlike verweefdheid van geskiedskrywing, persoonlike ervaring van ingrypende veranderinge tesame met my veranderende verstaan van Suid-Afrika en die Afrikaners het my inspireer om hierdie boek te skryf.

      Hoofstuk 1

      Oorspronge

      Dit was godsdiensvervolging wat die familie Guillaumé uit Frankryk laat vlug het. Tussen 1670 en 1700 het ongeveer 300 000 Hugenote ná langdurige dis­kriminasie en dodelike aanvalle hul moederland vaarwel gesê. Hulle het hulle in Nederland, Duitse state, Engeland, Skotland, Ierland, Skandinawiese lande, Amerikaanse kolonies en ander oorwegend Protestantse lande gevestig. In 1688 het ongeveer 200 Hugenote van Nederland af in die Kaap die Goeie Hoop aangekom.

      Die Hugenote se vlug was een van die grootste migrasiegolwe wat Europa tot op daardie tydstip gesien het. Vir Frankryk het dit ’n enorme verlies aan menslike kapitaal beteken. “Le grand catastrophe,” was pres. Charles de Gaulle se reaksie toe die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Parys hom van sy stamvader se vlug vertel.

      Francois Guillaumé was die familie Guillaumé se stamvader in Suid-Afrika – in die primêre bronne is die van ook Guilliaume en Guilliaumeth gespel. Hy is in 1680 in Aimargues of in die naburige dorpie Saint Laurent d’Aigouze, suidwes van die stad Nîmes, gebore. Die dorpies was deel van Languedoc, ’n sterk Protestantse streek tussen Nîmes en Montpellier, waar die synywerheid gefloreer het.

      Francois Guillaumé het Languedoc as ’n kind verlaat en het later met Claudine Cloy getrou. Teen 1700 het die paar in Berlyn gewoon waar Francois waarskynlik syklere vir ’n bestaan gemaak het. Die Hugenote-gemeenskap in Berlyn was ongeveer 50 000 sterk, met hul eie kerk en gemeente en het ’n kwart van die stad se bevolking gevorm. In 1711 is die Guillaumé-paartjie se seun, Mathieu (later genoem Matthias) gebore. Nog drie kinders is later in Berlyn gebore.

      In 1726 het Guillaumé en sy gesin van Berlyn na Amsterdam gereis en enkele maande later het hulle van Texel na die Kaap die Goeie Hoop gevaar. In sy sak was twee kontrakte. Een was ’n volmag om te onderhandel namens Jacob Labat, ’n Hugenoot in Londen met ’n aanspraak op die boedel van ’n broer wat kort tevore aan die Kaap gesterf het. Guillaumé was dus waarskynlik geletterd.2

      Die ander kontrak was een wat hy met die Vereenigde Oostindische Compagnie (die Kompanjie in die omgang) aangegaan het om ’n synywerheid aan die Kaap te begin. Hy moes sywurmteelt en syspinnery as ’n nywerheid op die been bring. Dit het deel gevorm van die Kompanjie se poging om ’n uitvoerbedryf te begin wat die Kaap finansieel selfversorgend sou maak. Pogings onder twee vorige goewerneurs, Willem Adriaan van der Stel en Maurits Pasques de Chavonnes, om ’n synywerheid te begin, het misluk.

      Van sywurms tot St. Helena

      In Oktober 1726 het Guillaumé en sy gesin aan boord die Berbices in Tafelbaai aangekom. In sy bagasie was ’n paar sywurms, maar dit wil lyk of hy te hoog oor sy bekwaamhede opgegee het. OF Mentzel, outeur van een van die beste beskrywings van die Kaap in die eerste helfte van die agttiende eeu, het later met ’n tikkie leedvermaak geskryf dat die sogenaamde “kundige” nie so vaardig was as wat hy voorgegee het nie.

      Guillaumé het gou agtergekom dat groot probleme hom in die gesig staar. Sy fabriek was aan die bopunt van die Heerengracht in die klein hawedorpie, maar die moerbeibome was in Rondebosch. Slawe moes elke dag die tog onderneem om blare te gaan pluk. Maar daar was ’n veel ernstiger probleem: die wurms wat Guillaumé uit Europa gebring het, het hulle swak by die Kaapse klimaat aangepas.

      Die Politieke Raad, die liggaam wat die Kaap bestuur het, is nie hierdeur afgeskrik nie. Die Raad het ’n gebou van drie verdiepings agter die slawelosie aan die bopunt van die Heerengracht opgerig en dit die deftige naam De Oude Spinnery gegee. Die gebou is later afgebreek, maar die naam Spinstraat, waar dit gestaan het, leef voort as ’n herinnering aan dié onderneming.

      Die vooruitsigte was van die begin af somber, maar die Politieke Raad was vasbeslote om te volhard. In Desember 1727, net meer as ’n jaar ná sy aankoms, het Guillaumé ’n verslag met slegte nuus aan die regering gestuur. In die afgelope jaar het hy net ses pond sy versamel. Die waarde was ver minder as sy salaris van 20 floryne per maand plus lewenskoste. Elke jaar was die onderneming se verlies groter.

      Einde 1729 het al die lede van die Politieke Raad Guillaumé se spinbedryf besoek en hul teleurstelling oor die swak vordering uitgespreek. Hul bui het versleg toe hulle hoor hy verwag ook in die daaropvolgende jare swak resultate aangesien min van die eiers uitgebroei het.

      In 1732 het Guillaumé tou opgegooi. Die probleme met arbeid, wurms en die moerbeibome was net te veel. Hy het geen vooruitsig op ’n wins gesien nie en het verlof van die regering gevra om die onderneming aan sy seun, Matthias, oor te dra. In 1735 het hy die regering in kennis gestel dat hy as vryburger in die Kaap wou aanbly. Die naam Francois Guillaumé verskyn daardie jaar vir die eerste keer op die lys van burgers van die distrik Stellenbosch.

      Matthias het ook geen vooruitsigte in die synywerheid gesien nie en het ’n grofsmid geword. Tien jaar later het hy ook dié bedryf laat vaar. In 1743 het hy op die plaas Vlottenburg (ook Vredenburg genoem) begin boer en dit in 1756 verkoop. In die laaste jaar het hy die volgende inligting oor sy eiendom vir die Opgaafrol (die inventaris van boerderybedrywighede) verskaf: 5 slawe, 13 perde, 10 beeste en 200 skape. Hy het ook op klein skaal gesaai.

      Matthias het enkele jare later die plaas Afdak naby die huidige Onrus gekoop en daarheen verhuis. Sy afstammelinge sou pioniers van die Overberg en spesifiek van die Bredasdorp- en die Napier-omgewing word.3 In die laaste jare van die Kompanjiesbewind is die naam Guillaumé in die Kompanjie se Opgaafrol tot Giliomee vereenvoudig.

      My oupa Johannes Human Giliomee is in 1867 gebore. Hy was die seun van ’n arm bywoner wat op verskeie plase in die Bredasdorp-distrik gewerk het. Hy het met sy niggie Elizabeth Catharina Giliomee getrou en die paartjie het teen 1890 na die Republiek van die Oranje Vrystaat verhuis. Hulle het hulle op die suidelike wal van die Vaalrivier by die dorpie Villiers gevestig. Volgens familie-oorlewering was die egpaar so arm soos kerkmuise toe hulle daar aangekom het. Daar was wel ’n ligstraal: my ouma was van ’n welvarende familie in die Bredasdorp-distrik.

      Met sy skoonfamilie se finansiële hulp het my oupa gou sy voete gevind. Villiers was op die hoofpad na die Johannesburgse goudvelde en hy het die kontrak gekry om die pont oor die Vaalrivier te bedryf. Later het hy ook die kontrak vir die poskoets tussen Villiers en Johannesburg gekry.

      Toe oorlog teen Brittanje in 1899 uitbreek, het hy by die Vrystaatse magte aangesluit en lid van die Wilgerivier-veldkornetskap geword. Die Britte het hom en sy broer, Jurie, op 21 Oktober 1900 op Groenplaats gevang. Hulle is as krygsgevangenes na die Deadwood-kamp op St. Helena gestuur. Daar het hy ’n baie mooi kassie gemaak, wat hy na Villiers teruggebring het.

      My ouma was vasbeslote dat die Britse troepe haar met haar twee kinders, albei jonger as tien, nie moes vang en na ’n konsentrasiekamp stuur nie. Hulle het oor die veld geswerf en weggekruip wanneer ’n Britse patrollie naby was. Die feit dat sy sestig pond in haar gordel weggesteek het, het haar baie in die oorlewingstryd gehelp.4

      Daar is bereken dat 2 000 Boervroue en kinders in die Vrystaat en 10 000 in die Transvaal teen die einde van die oorlog rondgeswerf het om die konsentrasiekampe te vermy.

      My oupa is ná die vredesluiting nog drie maande op St. Helena aangehou. Op 19 Augustus 1902, toe hy op die punt was om te vertrek, het hy aan my ouma ’n brief in ’n mengsel van Hollands en Afrikaans geskryf. Dit is ’n eenvoudige dog roerende brief. Die stuk hieronder word woordeliks aangehaal:

      Dit is een bitter kelk om te drink en zoo ver van elkander te zyn en nout van mekaar te hoor.