Albei het hulle vir die onderwysberoep bekwaam met die voorneme om hul lewe aan die opbou van die Afrikaner-gemeenskap te wy. Hulle het in 1933 getrou. In 1935 het my pa sy eerste vaste aanstelling aan die hoërskool op Ugie, Griekwaland-Oos, gekry.
Groot nood het op Ugie geheers. Dit was die jare van die Depressie en groot droogte. Baie boere moes tou opgooi en dorp toe trek. Benewens al die arm plaaskinders was daar ook ’n groot weeshuis met plek vir 400 kinders. Dit is deur die NG Kerk in die Kaapprovinsie opgerig nadat die griepepidemie van 1918 talle kinders wees gelaat het. Oor die volgende veertig jaar sou die inrigting meer as 4 000 kinders ná goeie onderrig die lewe instuur.
Ugie het my ouers se uitkyk veral op twee maniere gevorm. Hulle het bewus geword van die groot belangrikheid van onderwys vir die opheffing van arm Afrikaners en hulle het ook sterk gereageer op die neiging van sommige Engelssprekendes om op die weeskinders en ander arm Afrikaners neer te sien. My ouers het besluit om onbeskroomd Afrikaans te wees. Pleks van ons ouers “daddy” en “mommy” te noem, is ons geleer om “vader” en “moeder” te sê.
My ouers het van Ugie na Sterkstroom verhuis waar ek in 1938 gebore is. Ses maande ná my geboorte het my pa die pos van geskiedenis-onderwyser op Porterville in die Wes-Kaap aanvaar. Porterville het ’n veel sagter en vriendeliker omgewing as die Oos-Kaapse dorpe gebied.
Porterville se geskiedenis strek terug na 1863 toe die eerste dorpserwe op die plaas Pomona uitgelê is. Die dorpie is na William Porter, ’n gewilde prokureur-generaal van die kolonie, genoem. In 1870 is die eerste skool geopen. In 1876 is die kerk ingewy en in 1880 is die eerste predikant beroep.10
Toe die skooltjie sy deure in 1870 oopmaak, was daar 82 ingeskrewe leerlinge en een Engelstalige onderwyser. Die gemiddelde bywoningsyfer was slegs 43. Daar was ’n groot skroef los: die onderwyser het heeltemal beheer oor die kinders verloor. ’n Ander onderwyser moes gevind word en die skool is eers ’n jaar later heropen.
Die Kaapkolonie het eers in 1905 verpligte onderwys vir wit kinders ingestel. Porterville se skool was vanaf 1917 ’n sekondêre skool en eers drie jaar later het ’n hoërskool vir wit kinders in ’n behoorlike gebou tot stand gekom. Dit was ’n volle tweehonderd jaar nadat die eerste burgers hulle hier gevestig het en minder as twee geslagte voordat ek in die vroeë 1950’s hoërskool toe is. Bruin kinders het eers ná 1994 toegang tot ’n hoërskool gekry toe die wit skool geïntegreer is.
By Portervillers het daar nog iets van die selfstandige gees van die dorpsmense se vryburger-voorsate oorgebly. Baie het nog hul eie melkkoeie aangehou wat soggens na die lande suid van die dorp geneem is om te wei en saans gaan haal is om gemelk te word. Die munisipaliteit het ’n bul in ’n kraal op die dorp aangehou om die koeie te dek. Hy is gou “Die Bul van Porterville” gedoop. Dit is vandag nog oor die hele land ’n bynaam vir Portervillers.
Die dorp en distrik was kultureel een van die mees homogene gemeenskappe in die land. Feitlik almal was óf wit óf bruin, het die Christelike geloof aangehang en Afrikaans gepraat. Met enkele uitsonderings was die bruin Afrikaanssprekendes veel armer. Daar was net twee swart mense op die dorp.
Die mense op die dorp wat Engels as hooftaal gepraat het, kon letterlik op die vingers van een hand getel word. Die groot gros Afrikaanssprekendes se beheer van Engels was óf nie-bestaande óf gebrekkig. Engels was vir alle praktiese doeleindes ’n vreemde taal.
’n Bolandse jeug
Porterville lê aan die voet van die Olifantsrvierberge, sowat 150 km noord van Kaapstad. Dit is ’n rustige, boom- en waterryke dorpie met ’n gematigde klimaat behalwe vir ’n kwota van snikhete somerdae. Die Olifantsrivierberge, wat die kusvlakte van die binneland skei, waak oor die dorp sonder om dit te oorheers.
Vir Jan Smuts, wat in Riebeeck-Wes gebore is, was die uitsig vanaf Riebeeckberg oor die kusvlakte na Kaapstad die mooiste punt ter wêreld. Vir my was dit Porterville se dorpsdam waarvandaan ’n mens ooswaarts oor die water na die Olifantsrivierberge kan opkyk en weswaarts na die dorp afkyk. Die dam was die plek waar ons gesin op talle soel someraande aandete gaan eet het wat my ma ingepak het. Porterville was ’n dorp waar kinders veilig en geborge gevoel het. Jy het geweet wie jy was en wie jou mense was. Porterville was my plek.
Ons was drie kinders in ’n gelukkige gesin: Jan, die oudste, is in 1936 gebore; ek in 1938 en Hester in 1940. Ons drie het almal dieselfde paadjie deur die skool en die kerk op die dorp geloop. As oudste kind was Jan die natuurlike leier onder die kinders en iemand wat vroeg reeds belangstelling in sy omgewing, die landbou en die studie van insekte ontwikkel het. Hy het professor in insektekunde op Stellenbosch geword, ’n voortreflike beyweraar vir omgewingsbewaring en ’n knap kunsversamelaar.
Ek is na Hermann Buhr, my oupa aan moederskant, genoem. Hy was ’n ondernemende en vernuwende mens, ’n groot individualis en ’n sterk familieman, ’n Duitser en ’n Afrikaner. Ek het nooit werklik daarin geslaag om met hom kontak te maak nie. Toe ek ’n tiener word, was hy reeds in sy middel sewentigerjare en hy was nooit geneig tot kletspraatjies nie.
My suster Hester, ’n sprankelende en energieke kind, het ’n onderwyseres geword. Baie jare later, toe Herman Binge, Kaapse televisievervaardiger en -regisseur, die dokumentêre program Stroom-op gemaak het, het Hester op verrassende wyse ontpop as iemand met ’n natuurlike gawe om voor die televisiekamera op te tree.
Op Porterville het ek aan die tipiese “tweede kind-sindroom” gely en gereeld gerebelleer teen Jan se gesag en teen sommige ouerlike besluite. “Against the government,” het my ma dikwels oor my proteste gesê.
My pa was ’n goed ingeligte, nugter en positiewe mens, wat sy lewe aan sy gesin en die onderwys gewy het. My ma was ’n sterk vrou en iemand met groot toewyding aan haar gesin en ’n verantwoordelikheidsbesef teenoor die arm Afrikaners op die dorp.
My liefde vir die geskiedenis het ek by my pa gekry. In sy geskiedenisklas het hy veral die storie in die geskiedenis en die rol van prominente figure soos Napoleon en presidente Kruger en Steyn beklemtoon. Soms het hy sover gegaan om in sy klas oor die Franse rewolusie die opruiende lied “La Marseillaise” te sing, wat Claude Joseph Rouget de Lisle gekomponeer het.
Ná sy aftrede het my pa hierdie boodskap aan die skool geskryf: “Hou vorentoe in gedagte dat alle kennis en elke ervaring vir ’n mens waardevol is en jou ’n ryker en beter mens maak.” Hy het bygevoeg dat sy loopbaan, ondanks tydelike teleurstellings en terugslae, “gelukkige en vrugbare jare” was.
Een van die teleurstellings was ’n mislukte aansoek vir die hoofskap. Hy het nooit vir ’n hoofskap elders aansoek gedoen nie. Hy het nie die sin daarvan ingesien nie omdat hy hom met die gemeenskap vereenselwig het en hom goed op die dorp kon uitleef. Geldelik was dit vir hom onnodig om ’n senior pos te soek. Hy het goed gevaar met sy beleggings op die aandelebeurs, veral in goudaandele, en kon drie kinders na die Universiteit van Stelllenbosch stuur sonder om ’n lening aan te gaan.
Hy het hom besonder goed op skrif uitgedruk en hy het my gehelp om die boek The Rise and Crisis of Afrikaner Power (Yale University Press, 1979), wat ek saam met Heribert Adam geskryf het, te vertaal. Hy sou ’n voortreflike historikus kon word as hy die kans gekry het.
Oorlog en sy naweë
Albei my ouers het die NP ondersteun behalwe in die dertigerjare toe my pa hom agter genl. JBM Hertzog, leier van die Verenigde Party, geskaar het. Die oorlogsverklaring in 1939, nadat genl. Smuts die oorhand in die party gekry het, het hom na die NP laat terugkeer. My ouers het die NP-regering deur dik en dun ondersteun. Hulle sou NP bly stem selfs al het die spreekwoordelike besemstok in hul kiesafdeling gestaan.
Gedurende die oorlogsjare was ek vaagweg bewus daarvan dat my ouers, soos die meeste Afrikaners, teen Suid-Afrika se deelname as lid van die Geallieerde Magte gekant was. Die parlement het dié besluit in 1939 met ’n skraal meerderheid van dertien stemme geneem, wat hoofsaaklik die Afrikaans-Engelse verdeling weerspieël het.
Dit was nie net Afrikaner-nasionaliste wat gemeen het dat die land nie op grond van ’n baie klein minderheid kon besluit om tot die oorlog toe te tree nie. In haar lewensverhaal Reverberations: A Memoir (1996) vertel die historikus Phyllis Lewsen van JS Marais,