van ’n sinodesitting wat in 1953 plaasgevind het kort nadat hy hom in sy boek uitgespreek het teen die poging om apartheid op Christelike gronde te regverdig. ’n Ouderling het hom bygedam: “Ai, dominee, jy het nou vir ons vanjaar se wonderlike verkiesingsuitslag heeltemal bederf.”
’n Sin van gemeenskap
Daar was geen opvallende ryk of arm buurt op Porterville nie. In verskeie strate het daar ryk én arm mense gewoon. Die meer welgesteldes se huise was gerieflik maar daar was nie uitspattige huise nie. Erfgrootte was die grootste verskil. Sommige het nie net ’n blomtuin gehad nie, maar ook ’n vrugteboord, groentetuin en selfs ’n wingerd. Water van ’n kloof in die berg het in die groot munisipale dam gevloei. Die weeklikse waterleibeurt was vir die dorpenaars ’n belangrike gebeurtenis. My pa was nie ’n entoesiastiese tuinier nie, maar het sy leibeurt nie maklik gemis nie.
Koringbou was die distrik se vernaamste ekonomiese aktiwiteit, maar teen die 1950’s was daar al aansienlike diversifikasie. Op die berg was daar vrugte, bessies en disas en op die plase onder die berg vrugte, wingerd en gemengde boerdery. In die Vier-en-Twintig-riviere-gebied, suid van die dorp, is uitvoerdruiwe en parsdruiwe geproduseer, terwyl koringboerdery in die Rooi Karoo, noordwes van die dorp, oorheers het.
Tot ongeveer 2000 was die meeste plase tussen 300 en 500 morg groot. Dit is heelwat kleiner as die plase in Swartland-distrikte soos Malmesbury en Moorreesburg. Dit was die vernaamste rede waarom daar in die Porterville-distrik se wit gemeenskap geen noemenswaardige standverskille ontwikkel het nie. Daar was geen sprake daarvan dat armer Afrikaners tot ’n laer klas behoort nie. Wit mense het mekaar as gelykes geag, ondanks inkomsteverskille.
Portervillers het gou skuins gekyk na diegene wat oor hul rykdom of geleerdheid gepraat het. Mense het selfs gehuiwer om van ’n oorsese reis te vertel uit vrees dat dit windmakerig sou klink. Toe my ma in die vroeë 1960’s teenoor ’n kennis, oom Dais Toerien, meld dat sy en my pa kort tevore in Londen en Parys was, het hy haar gou getroef met die verhaal van sy onlangse besoek aan Oudtshoorn.
My herinnering is dat die Afrikaanse gemeenskap, wat om die kerk en skool gewentel het, taamlik gelukkig was, veral omdat daar nie groot standverskille was nie, maar ook omdat daar nie televisie was wat beelde kon uitsaai van hoe die rykes in die land leef nie.
’n Wetenskaplike studie wat gedurende die 1950’s in ’n dosyn Europese lande onderneem is, het getoon dat mense in arm lande ongeveer net so tevrede met hul lewe was as dié in ryk lande. Toe dieselfde studie in die middel 1980’s gedoen is, was die resultate dramaties anders. Mense in ryker lande was veel gelukkiger as dié in armer lande. Die kritieke verskil is televisie. Omtrent almal kon sien hoe die middelklas leef en omtrent almal het nou daardie lewenstyl begeer en terselfdertyd die rykes verpes.14
Die wit mense se sterk sin vir gemeenskap het my ouers van die staanspoor af getref. Die skool en kerk het albei ’n sentrale plek ingeneem en daar was ’n gesindheid van omgee vir mekaar. Daarmee saam het ’n aantreklike onpretensieusheid gegaan. Mense het respek betoon teenoor die predikant en die onderwysers maar kritiek het nie uitgebly as hulle hul werk verwaarloos het nie. Die skool het deur die jare heen akademies goed gevaar.
In ’n jaarblad het drie skoolinspekteurs die groot waarde van “plattelandse skole vir plattelandse kinders” onderstreep. My impressionistiese indruk op Stellenbosch, as student sowel as dosent, was dat uitstaande studente wat op onbekende plattelandse skole gematrikuleer het, omtrent altyd beter vaar as goeie studente van topskole.15 Malcolm Gladwell het hierdie stelling onlangs in sy David and Goliath: Underdogs, Misfits and the Art of Battling Giants (2013) statisties bewys in die konteks van Amerikaanse skole.
’n Volksbeweging
Deelname aan die volksbeweging was ’n vormende invloed op my. Dit het ’n gevoel gevestig van betrokkenheid by die Afrikaners as ’n gemeenskap wat getalsgewys klein was en nog in ’n vroeë stadium van kulturele ontwikkeling gestaan het. Snaaks soos dit vandag mag klink, het die volksbeweging nie ontstaan in reaksie op enige bedreiging van die kant van bruin of swart mense nie.
Die volksbeweging was veral daarop gerig om die Afrikaners te bevry van minderwaardigheidsgevoelens teenoor Engelssprekendes. Daar was ander belangrike doelstellings benewens die opheffing van die sogenaamde armblankes, soos die opbou van Afrikaner-ondernemings wat op hul beurt Afrikaners in diens sou neem en die uitbou van die Afrikaanse taal en kultuur.
My ma was veral betrokke by die opheffing van die armes op die dorp. Sy was lid en later voorsitster van die Porterville-tak van die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV). Die vereniging, wat oor die hele Kaapprovinsie versprei was, het net ná die Anglo-Boereoorlog in Kaapstad tot stand gekom om die nood van brandarm Afrikaners te verlig.
My ma het dikwels die armes self besoek om kos, klere of leesstof uit te deel en soms vir Jan gestuur. Haar grootste frustrasie was dat die armes nie wou lees nie. Sy wou help om hulle geestelik op te hef sodat hulle ten volle deel van die Afrikaner-gemeenskap kon word en nie net kandidate vir liefdadigheid nie. Dit was ’n boodskap wat veral dr. DF Malan, redakteur van Die Burger en NP-leier, en die predikante uitgestuur het.
Die Stellenbosse ekonoom prof. Jan Sadie wys daarop dat die pogings van middelklas-Afrikaners om hul eie armes op te hef buitengewoon is. Dit het baie daarmee te doen gehad dat die Engelssprekende elite geneig was om op die Afrikaners as ’n mindere “ras” of gemeenskap neer te sien. Sommige het die standpunt probeer staaf deur daarop te wys dat meer as 80% van die armblankes Afrikaners was.
MER (ME Rothmann), ’n Afrikaanse skrywer wat ’n groot deel van haar lewe voltyds vir die ACVV gewerk het, het as ’n jong verslaggewer ’n toespraak gehoor van sir Carruthers Beattie, rektor van die Universiteit van Kaapstad, wat haar baie ontstig het. Hy het verklaar dat die armblankes “oor die algemeen verstandelik verswak is” en dat iets “inherents” in die Afrikaners die verskynsel so ’n onrusbarende omvang laat aanneem het. MER het geskryf: “Sy gehoor het geen beswaar teen hierdie stelling gemaak nie.” Soos Sadie dit uitdruk, het die Afrikaners van alle klasse besluit om ’n verenigde front te vorm teen Engelse mense wat op hulle, en veral hul armes, neergekyk het.
Die meeste bruin mense was natuurlik nog armer as die arm wit mense. Ek het my ma op ’n keer gevra of sy nie ook die arm bruines moes probeer help nie. Haar antwoord was dat ’n mens net een groot maatskaplike taak in jou lewe kan aanpak en die opheffing van die arm Afrikaners was haar groot taak.
Op ekonomiese gebied was die Afrikaners nog ver agter die Engelssprekendes. In 1938, toe ek gebore is, het die Afrikaners ’n aandeel van minder as 10% in die private sektor (landbou uitgesluit) in die entrepreneursfunksie gehad. Met verwysing na die aanvaarde korrelasie tussen Protestantisme en kapitalisme, het ’n gerekende ontleder onlangs opgemerk dat dit vreemd is dat die Calvinistiese Afrikaners “eers teen 1975 werklik ’n kapitalistiese kultuur ontwikkel het”.16
In 1939 het Sanlam en die Afrikaner-Broederbond (AB) ’n ekonomiese volkskongres in Bloemfontein georganiseer om die stigting van Afrikaner-maatskappye te bevorder. Van hul kant moes die maatskappye onderneem om Afrikaners werk te gee en diegene wat uitgeblink het in bestuursposisies te plaas. Die sentrale idee was om die Afrikaner-aandeel in die ekonomie te vergroot op ’n wyse wat respek sou afdwing.
Ná die kongres het TE Dönges, die latere minister, die posisie uiteengesit op ’n manier wat ook my ouers volmondig onderskryf het. Die Afrikaners, het hy gesê, wil hul aandeel in die ekonomie uitbrei. Hulle meen dat hulle geen reg het om van ander te verwag om hulle te help nie en was te trots om ander te vra om hulle te help om hul ekonomiese redding te bewerkstellig. Dönges het dit beklemtoon dat die Afrikaners geen planne gehad het om ’n boikot van Engelse ondernemings te begin nie. Al wat hulle gevra het, was dat die Engelssprekende gemeenskap “welwillend neutraal” bly terwyl die Afrikaners hul “ekonomiese voete” vind.
Dit was die idealistiese kant, maar daar was sekerlik ook die donker sy. Nadat die NP in 1948 aan die bewind gekom het, is Indiërs gedwing om uit die sakedeel na die buitewyke te skuif. My ouers het ons beveel om nie by die Indiër Hassim, wat ’n winkel in die hoofstraat gehad het, te koop nie. Bruin mense het min ondernemings besit en tot die laaste dekade of twee van die NP-bewind het die regering of plaaslike