Hermann Giliomee

Hermann Giliomee: Historikus


Скачать книгу

en veral die interkoshuis-sport, baie geniet. In 1958 was ek in Simonsberg se rugbyspan wat die Sauer-beker vir die eerste koshuisliga ver­ower het. Ek was op die redaksie van die studentekoerant Die Matie, maar het verkies om oor sport eerder as die studentepolitiek te skryf. Die vurige nasionaliste op die kampus het my afgeskrik.

      Tot my verbasing is ek in 1960 tot die studenteraad verkies, hoewel ek nie my beleid in Die Matie gepubliseer het nie, soos wat al die kandidate vrywillig gedoen het. Toe ek op “Die Sirkus”, die massavergadering voor die verkiesing, daaroor uitgevra is, het ek my antwoord gereed gehad. Die ervaring leer dat die kandidate se beloftes selde uitgevoer word, het ek gesê, en dat al wat ek beloof, was om my bes te doen soos my insigte my lei. Dit klink beginselvas, maar die eintlike rede was dat ek só laat besluit het om te staan dat die geleent­heid verstreke was om my beleid te publiseer.

      In 1960 is ek ook tot primarius van Simonsberg verkies, ’n koshuis met 280 inwoners. Dit was in ’n tyd toe studente begin het om die amptelike verbod op drank en dames in die kamers te bevraagteken. Tot die ontstigting van prof. Chris Gunter, die inwonende hoof, was my standpunt dat dit nie die huiskomitee se plig is om sedebewaarders te wees nie, maar net om teen studente op te tree wat die reëls openlik uitdaag.

      Ek het aan die einde van my termyn as primarius my eerste les geleer oor hoe mag werk. ’n Stuk of twintig Simonsbergers het laat een aand ’n dames­koshuis binnegedring en die beddens van die slapendes omgekeer. Die universiteitsowerhede het dit as ’n ernstige oortreding beskou en wou dadelik die name van die oortreders by die huiskomitee hê. Sonder die komitee se medewerking was hulle magteloos.

      Ek het aangevoer dat die huiskomitee nie enige sê het oor oortredings waaraan sy inwoners buite die koshuis skuldig is nie en was net bereid om aan die versoek te voldoen indien die owerheid onderneem om nie die oortreders te straf nie. Die onderneming is mondelings gegee. Die huiskomitee het toe die sondebokke oorreed om hul name te verskaf met die versekering dat hulle nie gestraf sou word nie.

      ’n Paar dae later het ek tot my ontsteltenis verneem die universiteitsowerheid het aan die onderskeie ouers geskryf dat hul seun hom aan ’n ernstige oortreding in ’n dameskoshuis skuldig gemaak het. Enige verdere oortredings sou swaar gestraf word. Die owerheid het klaarblyklik gevoel dat omdat niemand gestraf is nie hy by sy onderneming gebly het. Ek het gemeen dat die universiteit se optrede indruis teen die ondernemings wat gegee is, maar die koeël was deur die kerk.

      Aan die ander kant was daar ook kere wat die universiteit besluit het om nie op te tree nie. “Vloog” Theron, ’n woelige tweedejaar, het op ’n dag verlof gevra om twee olifante te bring om op die grasperk voor die koshuis te kom wei. Ek het gedog hy skeer gek en het niks gedoen om hom te keer nie. ’n Dag of wat later daag hy toe wel op met twee sirkusolifante. Die volgende dag het Die Burger ’n foto geplaas waar ek en ’n paar ander inwoners laggend toekyk terwyl Vloog en die twee reuse-diere hulle op die gras tuismaak.

      Daar was geen reaksie van die administrasie nie. Klaarblyklik was olifante los op Simonsberg se grasperk veel minder gevaarlik as manstudente elfuur in die aand in die slaapkamers van ’n dameskoshuis.

      In my eerste jaar aan die Universiteit van Stellenbosch het die “Era van Thom” reeds aangebreek. Prof. HB Thom, rektor van 1954 tot 1969, was ook al persoon van die suide wat ooit as voorsitter van die Afrikaner-Broederbond se Uitvoerende Raad gedien het. Hy het dié pos van 1952 tot 1960 beklee. Dit het klaarblyklik die Bond se lidmaatskap op die Matie-kampus laat blom.

      Die US was ’n universiteit met ’n houding: alle studente en dosente was veronderstel om baie dankbaar te wees dat hulle so bevoorreg was om deel van die US se trotse erfenis te wees. Tussen 1919 en 1978 was al die premiers US-alumni. Daar was ’n simbiotiese band tussen die universiteit en Afrikaans as amptelike taal. Dit was die eerste volwaardige universiteit in die land wat oorwegend in Afrikaans as medium klas gegee het. Die kantore van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal was op die kampus. En dan het Stellenbosch natuurlik ook vir Danie Craven gehad, aan wie Suid-Afrikaanse rugby feitlik behoort het.

      Die US as instelling wat onmiskenbaar Afrikaans was, is gebou op dr. DF Malan se gevleuelde woorde in 1913: “Stellenbosch staan vir ’n idee”. Daarmee het hy bedoel dat Stellenbosch die plek wil wees waar die Afrikaner-volk sy ideale die beste kan verwesenlik. Die US het ’n paar jaar later tot stand gekom met ’n ruim erflating van die weldoener Jannie Marais, ’n Stellenbosse sakeman en later politikus, wat bepaal het dat Nederlands of Afrikaans as voertaal nie ’n mindere plek as Engels in die instelling mag hê nie. Amper honderd jaar later het niemand meer geweet wat die befaamde Stellenbosse “idee” was nie. Die universiteit het sonder veel wroeging toegelaat dat Engelsmedium meedoënloos Afrikaansmedium uitskuif.

      In 1956 was daar sekere afdelings en dosente wat tereg hoog aangeslaan is. Die fakulteit regte is allerweë as uitstaande beskou en die studente het die hoogste bewondering vir die dekaan, prof. JC de Wet, gekoester. Prof. PJ van der Merwe by geskiedenis was die mees gerekende Afrikaanse historikus.

      ’n Ontmoeting met Verwoerd

      Ek was ’n student in ’n tyd toe dit gelyk het of wit beheer nog vir baie dekades ongeskonde sou bly. Behalwe vir drie of vier maande ná die Sharpeville-­tragedie in 1960 – die polisie het 69 swart mense doodgeskiet toe ’n groot skare by Sharpeville se polisiekantoor teen die destydse paswette betoog het – het ons nie werklik enige vrese oor veiligheid gehad nie. My geslag was die laaste voordat diensplig in die weermag ingestel is en ons was ook die geslag wat die opwinding van die finale opmars na ’n republiek beleef het. Ek het in die referendum van 1960 ja gestem vir die republiek. In die algemene verkie­sing van 1961 het ek vir die eerste en die laaste keer gedurende die era van die NP-bewind vir die party gestem.

      In 1958, toe ek in my derde jaar was, het dr. Hendrik Verwoerd leier van die Nasionale Party en eerste minister geword. Ek het twee persoonlike herin­neringe aan Verwoerd, wat niks met sy politieke idees te doen gehad het nie. As ’n seun van 12 of 13 het ek handtekeninge bymekaar gemaak. Die meeste ministers het geantwoord met ’n kort briefie deur hul private sekretaris waarby die handtekening gevoeg is.

      Verwoerd was al een wat op my versoek geantwoord het met ’n brief in sy eie handskrif. Hy het geskryf dat hy ’n kind het wat nes ek links is en ’n ander een wat net so oud is. Ek het later gelees dat ’n dogtertjie hom verlof gevra het om haar hasie Hendrik Verwoerd te noem. Hy het geantwoord dat hy nie dink dit is ’n geskikte naam vir ’n hasie nie, maar hy was bereid om sy verlof te gee. Dit sê iets van die man dat hy hierdie moeite met kinders gedoen het.

      My ander kontak dateer terug van Junie 1960 toe ek en ’n paar ander studente die wintervakansie by ons koshuismaat, Siebert Wiid, op sy pa se plaas, Welgevonden, naby Groblersdal, deurgebring het. Kort ná ons aankoms het die Verwoerd-egpaar opgedaag. Hy sou die volgende dag ’n groot skare op Groblersdal toespreek in wat een van sy eerste openbare optredes was ná die aanslag op sy lewe drie maande vroeër. (David Pratt, ’n boer van die Magaliesburg-­distrik, het Verwoerd in die gesig geskiet terwyl hy ’n toespraak tydens die Randse Paasskou gelewer het.) Ons studente het saam met die belangrike gaste etes in die hoofhuis geniet. Ek het langs Verwoerd gesit en onthou hoe hy rustig en oortuigend sy standpunt geformuleer het op ’n manier wat volkome sin gemaak het.

      Die Sondagoggend het die plaaslike NP-tak ’n skildery van Verwoerd aan hom oorhandig. Hy het dit vriendelik ontvang, maar gesê daar is ’n klein foutjie: iets is weggelaat. Daar was vir ’n oomblik ontsteltenis. “My ‘beauty’ spots,” het hy glimlaggend gesê en gewys na die koeëlletsels op sy gesig. Vir my as leek was dit duidelik dat die aanslag op sy lewe geen sielkundige skade gedoen het nie. Ek het my daarna min gesteur aan bewerings dat Verwoerd sy oorlewing beskou het as ’n tasbare bewys van God se spesiale ingryping en van die besondere seën wat nou op hom sou gerus het.

      Ek het jare later in my boek Die laaste Afrikanerleiers (2012) ’n gunstiger oordeel oor Verwoerd uitgespreek as wat die norm is. Ek dink dit het baie te doen met die persoonlike kontak wat ek daardie naweek in 1960 met hom gehad het. Ek kon die krag van sy persoonlikheid en sy oorredingsvermoë eerstehands ervaar.

      Dieselfde ervaring het die uitgewer Koos Human te beurt geval. Hy het saam met José Burman, die skrywer van ’n manuskrip