Tryna du Toit

Tryna du Toit Omnibus 11


Скачать книгу

      Tryna du Toit

      Omnibus 11

      ’n Ruiker in die herfs

      Vakansie op Kromrivier

      Die nimmer-nimmer-berge

      Ons ken almal vir Hermina

      Human & Rousseau

’n Ruiker in die herfs

      Hoofstuk 1

      Margaret was net tuis toe die telefoon lui.

      Dit is die verpleegsuster by Paul se spreekkamer. Haar stem is saaklik.

      “Dokter Wagner is vertraag. Hy is nog met ’n noodoperasie besig. Hy hoop om so teen halfagt by jou te wees, dokter.”

      “Dis goed, suster,” sê Margaret vriendelik. “Dankie vir die boodskap.”

      “Dokter het ’n moeilike dag gehad,” kom die antwoord kortaf. “En nou nog die noodoperasie! Hy behoort vanaand vroeg in die bed te kom.”

      “’n Bietjie afleiding sal hom goed doen,” paai Margaret. “Maar ek belowe ek sal hom vroeg huis toe stuur.”

      Die suster brom iets onhoorbaars en plak die telefoon neer. ’n Glimlag huiwer om Margaret se mond toe sy kombuis toe stap. Die ou suster se byna jaloerse besitlikheid jeens die dokter vir wie sy al soveel jare werk is welbekend. En niemand neem haar kwalik nie. As sy nie oor Paul se belange waak nie, wie sal?

      Margaret weet Donderdag is ’n moeilike dag vir Paul. Hy begin vroeg reeds opereer en ’n noodoperasie aan die einde van ’n lang dag span net mooi die kroon. En as hy vanaand liewer by die huis wil bly, weet hy dat sy hom nie sal verkwalik nie. Sy is immers self ’n dokter.

      Sy haal die glase en ys uit, sit die drankies reg en gaan dan kamer toe.

      Ook vir Margaret was dit ’n lang dag. Sy is moeg en ’n bietjie bedruk en sy is dankbaar vir die geleentheid om tydsaam in ’n warm, geurige bad te kan ontspan. ’n Koue stortbad verfris haar verder. Sy hoop Paul is teen dié tyd ook al tuis, besig om die dag se frustrasies en vermoeienis onder ’n lekker stortbad weg te was.

      In soverre ’n dokter sy kommer en frustrasies kán wegwas.

      Onseker huiwer sy voor haar klerekas. Wat moet sy aantrek? Paul het net gesê dat hulle gaan uiteet, en dat dit net hulle twee is. Daar is iets wat hy vir haar wil sê.

      Die hele dag al, so tussen die pasiënte met hulle kwale, die operasies, die krisisse wat maar deel van elke dag se hospitaalroetine is, maal dit agter in haar kop: wat wil Paul vir haar sê? Dat hy met Magda gaan trou?

      Dis of ’n koue wind oor haar waai. Dit sal goed wees as Paul weer trou. Sy vriende gun hom ’n goeie vrou. Maar nie Magda Jooste nie! Dis onbegryplik dat ’n man soos Paul Wagner, oor die land heen bekend vir sy raak diagnoses en briljante operasies, hom so blind kan staar teen ’n vrou se uiterlike en nie kan sien hoe oppervlakkig sy in werklikheid is nie.

      Die swart rok, elegant, altyd reg vir enige geleentheid? Of die diepblou chiffon, vleiend en vroulik, met die lang, vol moue wat sy in ’n roekelose oomblik vir ’n spesiale geleentheid gekoop het?

      Die bloue, besluit sy. Dit sal haar selfvertroue gee. As dít dan is wat Paul vir haar wil sê – dat dit die einde van hulle vriendskap is, en dit sál die einde wees as hy met Magda trou – sal sy dit kop omhoog aanvaar.

      In haar binneste weet sy: as sy Paul verloor, sal dit net haar eie skuld wees.

      Met sorg maak sy gereed, en vir ’n lang oomblik kyk sy na haarself in die spieël. Sy is nog mooi en slank, ten spyte van haar byna veertig jaar. Die diepblou van die rok beklemtoon haar romerige vel en die opvallende blou van haar oë. Die bietjie grys in haar donker hare doen geen afbreuk aan haar voorkoms of persoonlikheid nie.

      Hoe trots was Charl altyd op sy mooi vrou, dink sy met ’n vreemde weemoed. Hy het graag gesien dat sy mooi aantrek, dit geniet as ander mans haar aantreklik vind. Hoe anders as Paul Wagner wat nooit eens oplet as sy ’n mooi rok aanhet nie! Die dokter se wit oorjas is al waarin hy belangstel.

      En tog wil hy trou met ’n sosiale vlinder soos Magda Jooste, wie se hele lewe uit mooi klere, tee en brugpartytjies bestaan.

      Of lê haar bekoring vir die begaafde, toegewyde geneesheer juis in haar lighartigheid, haar vrolike sjarme en vitaliteit wat so ’n skerp kontras vorm met sy eie lewe – veral die afgelope jare?

      In die sitkamer vertoef sy ’n oomblik lank voor die groot venster wat oor die tuin uitkyk. Daar is iets weemoedigs in die grys skemering, of is dit in haar eie gemoed? Sy trek die gordyne toe en skakel die leeslamp aan. Eers dan sien sy die bak met rooi rose op die tafeltjie langs die lamp. Daniel, haar huishulp, het dit seker ingebring voor hy weg is.

      Wie sou vir haar rose stuur? wonder sy. ’n Dankbare pasiënt? Dis al wat sy kan dink. Derek is tog nog in die buiteland. Sy buk oor die fluweelagtige rose om hulle geur in te adem, dan neem sy die kaartjie wat op die tafeltjie lê en gaan sit in die diep stoel onder die lamp.

      Sy haal die kaartjie uit die koevert en kyk verbaas daarna. Van Paul? Daar is geen boodskap nie. Net sy handtekening. Dis die eerste keer in al die jare dat sy hom ken dat Paul vir haar blomme stuur. Maar dit was anders. Dié rose het ’n ander boodskap. ’n Afskeidsgroet van ’n dankbare vriend op die vooraand van sy huwelik met Magda? Maar sou hy dan róói rose stuur?

      Paul Wagner! Dis ’n ver pad wat hulle saamloop. Hulle was saam mediese studente en van die begin af was daar ’n spesiale band tussen hulle.

      Terwyl sy vir Paul wag, dink sy terug aan die jare wat vanaand se afspraak met hom voorafgegaan het.

      Aan Paul en aan Charl …

      Dit was teen die einde van Margaret se hospitaaljaar dat Charl Marais soos ’n warrelwind in haar lewe verskyn het. Hy het pas teruggekom van ’n amptelike besoek aan Amerika, ’n briljante ekonoom, tien jaar ouer as Margaret, ’n wewenaar en pa van ’n sewejarige dogtertjie. Charl Marais was van die eerste ontmoeting bekoor deur die mooi jong dokter met haar wakker verstand en interessante persoonlikheid, en hy het haar voete skoon onder haar uitgeslaan met sy sjarme en vasberade hofmakery.

      Paul was in Londen waar hy ’n aanstelling by een van die groot hospitale gekry het. Paul Wagner, haar studentevriend en raadgewer, die enigste man in wie sy tot in daardie stadium werklik belanggestel het. Maar Paul se oë was op ander horisonne gerig. Hy was begaafd en ambisieus, en het groot studieskuld en verpligtinge teenoor sy familie gehad. Sy toekomsplanne het – voorlopig altans – geen voorsiening vir liefde en trou gemaak nie.

      As Paul haar gevra het om vir hom te wag toe hy weg is, as hy ooit laat blyk het dat sy deel van sy toekomsplanne was, sou dit anders gewees het? Sy weet nie. Sy het Charl stimulerend en opwindend gevind. Hy het geweet wat hy wil hê, en sy liefde en belangstelling het ’n nuwe wêreld vir haar oopgemaak. Hy het sy dogter, Ingrid, gebring om haar te ontmoet, en indien Margaret nog getwyfel het, het die kind haar laaste twyfel laat verdwyn. Die skraal ou dogtertjie met die groot bruin oë wat so vraend en onseker in hare gekyk het, het haar hart gesteel.

      Vir Ingrid sou sy kon liefhê soos ’n eie dogter.

      Charl het geen gras onder sy voete laat groei nie. Voor Margaret werklik besef het wat gebeur, was sy ring aan haar vinger, die troudatum vasgestel.

      Margaret het vir Paul van haar planne geskryf en ’n mooi brief van hom teruggekry. Hy het ander planne vir haar gehad, het hy geskryf, maar as dit is wat sy wil hê, wens hy haar alle geluk en voorspoed toe.

      Ander planne? Sou sy ooit weet wat daardie planne was?

      Aan die einde van die jaar is sy en Charl getroud, en na ’n kort wittebrood is Margaret saam met Charl en Ingrid Kaap toe vir die parlementsitting. Dit was die begin van ’n nuwe lewe wat gewissel het tussen Kaapstad en Pretoria, van aanpas by ’n besige sosiale lewe, van nimmereindigende onthale en ander ampsverpligtings wat deel van Charl se werk as ekonomiese raadgewer vir die regering was. Van verskeurd voel tussen ’n interessante loopbaan wat sy summier moes prysgee, haar liefde en plig teenoor Charl, en haar liefde en besorgdheid teenoor Ingrid wat noodgedwonge dikwels by ’n huishulp