nuwe lewe was anders en opwindend, maar ook frustrerend en – in vergelyking met haar hospitaalwerk – dikwels leeg en oppervlakkig. Van teruggaan werk toe was daar egter voorlopig nie sprake nie. Daaroor was Charl baie beslis.
Een van Margaret se nuwe vriendinne was Ellen Venter, die vrou van een van Charl se kollegas. Ellen was ’n hele paar jaar ouer as Margaret. Die feit dat Charl soveel ouer as Margaret was en so ’n senior pos by die departement beklee het, het meegebring dat Margaret in ’n vriendekring opgeneem is waar sy baie jonger as die meeste van haar nuwe vriende en kennisse was. Ellen het vir Margaret onder haar vleuels geneem, haar met raad en daad bygestaan, en Margaret het baie van die gawe en nugtere Ellen gehou en geleer.
Sy was dus des te meer teleurgesteld toe Ellen aan die einde van die tweede jaar, toe hulle weer gereed begin maak vir die uittog na Kaapstad, aankondig dat sy nie gaan nie.
“Ellen!” het Margaret ontsteld gesê. “Jy kan nie so maak nie. Wat sal van my word? En Herman? Wat van Herman?”
Ellen was ’n rukkie stil, toe sê sy met ’n suggie: “Dit was nie vir my ’n maklike besluit nie, Margaret. Dis nou nege jaar dat ek saam met Herman Kaap toe gaan. Ag, ek erken, dis ’n heerlike lewe in baie opsigte, afgesien van die ewige suidoos – daaraan sal ek nooit gewoond raak nie – maar die ontwrigting vir my kinders én myself word nou te groot. Ek gaan dit nie langer doen nie.”
Margaret kon dit verstaan. Sy het geweet Danie, die Venters se elfjarige seun, het probleme op skool. Elise, hulle agtjarige dogter, kry asma in die Kaap en gedurende die vorige parlementsitting was sy ernstig siek met longontsteking. Hansie, hulle jongste, het masels gehad en ’n lastige hoes daarvan oorgehou. Sy het geweet Ellen was bekommerd oor haar kinders, dat sy graag vir hulle groter emosionele sekuriteit en meer persoonlike aandag wil gee. Maar so eenvoudig was dit ook nie. Dit het Margaret reeds besef.
“En Herman?” vra Margaret weer.
Ellen haal haar skouers op.
“Herman is natuurlik omgekrap. Hy besef die heen-en-weer-ryery, die gedurige verandering van skole, die gemis van hulle vriende, is nie goed vir die kinders nie. Maar hy sê hy het my ook nodig. Hy wil hê ek moet my ma vra om by die kinders in Pretoria te kom bly, die maande wat ons in die Kaap is. Hy sê ek kan vir die kinders kom kuier as ek verlang, altyd huis toe vlieg as daar ’n krisis is.”
“Sal jou ma dit doen? By die kinders kom bly?”
“Sy sal kom as ek haar vra. Sy is lief vir die kinders en hulle vir haar. Maar sy is nie meer jonk nie en ook nie baie gesond nie. Sy het haar eie lewe en ek voel dis nie reg om my verantwoordelikhede op haar af te skuif nie. Dis ook nie werklik ’n oplossing vir die probleem nie. ’n Ouma is wonderlik, maar sy kan nie ’n ma se plek inneem nie.”
Daar is ’n fronsie tussen Margaret se donker wenkbroue. Sy dink aan Ingrid wat ook besig is om groot te word, aan die kind wat sy oor ’n paar maande verwag, en sy verstaan die tweestryd in haar vriendin se hart.
“Daar is eintlik geen oplossing nie, nè?” sê Margaret. “Een ouer kan tog ook nie die plek van twee inneem nie.”
“Nee,” sê Ellen met ongewone bitterheid. “Almal dink die trek Kaap toe is so wonderlik. Hulle besef nie die opofferings en swaarkry wat dit veral vir ’n vrou met jong kinders meebring nie. Dis ’n hoë prys om te betaal vir die bietjie opwinding en ander sogenaamde voorregte wat jy geniet.”
“Jy dink die aanpassing is makliker vir ’n man?”
“Natuurlik is dit! Hy het sy werk waarmee hy die hele dag besig is. Sy kollegas, ander mense. Naweke speel hy gholf of hy gaan hengel. Herman is lief vir mense – hy geniet die onthale en partytjies. Hy sal ons nie soveel mis nie. In elk geval, ons sal Paasvakansie vir hom gaan kuier, en ek kan tussenin ’n bietjie Kaap toe vlieg as ek te veel verlang.”
Margaret het gedink aan wat een van die ouer ministersvroue vir haar in die Kaap gesê het.
“Ek is bly Charl is weer getroud,” het sy opgemerk. “So ’n alleenlewe is nie goed vir ’n man nie. Maar ek hoor jy is ’n dokter – dit was seker nie maklik om jou loopbaan ter wille van Charl prys te gee nie?”
“Dit het alles so haastig gegaan, ek het nog skaars die implikasies van my nuwe lewe besef,” het Margaret ’n bietjie ontwykend gesê.
“Dink jy daaraan om te praktiseer?”
“Nee. Altans nie op die oomblik nie.” Liggies het sy vervolg: “Charl het sy voet baie beslis neergesit.”
Die ouer vrou het gelag. “Met so ’n mooi jong vrou neem ek hom nie kwalik nie.” Ernstiger het sy vervolg: “In elk geval, my kind, al verg dit opofferings – jou eerste plig is teenoor jou man. Sorg dat jy saam met hom gaan waar hy ook al gaan, en sorg veral dat jy sonder uitsondering elke jaar saam met hom Kaap toe kom. Hy het jou nodig. ’n Man wil nie ná ’n harde dag op kantoor na ’n leë hotelkamer terugkeer nie. Dis dan wanneer die probleme kom, die eerste barsies in die kruik.”
Sy lê haar hand vir ’n oomblik teen Margaret se wang en voeg glimlaggend by: “Luister na ’n ou strydros wat al meer sittings ervaar het as wat sy graag wil erken.”
Wyse woorde, dink Margaret nou. Dat dit opofferings verg om dit na te kom, weet sy reeds.
Ellen skud haar kop toe Margaret haar van die gesprek vertel. “Elkeen moet die probleem op sy eie manier oplos. Later, wanneer die kinders groter is, sal ek weer saam met Herman gaan.”
Later, wanneer die kinders groter is … As Ellen daardie dag ’n kykie in die toekoms kon kry, sou sy anders opgetree het?
Hoofstuk 2
Paul het byna drie jaar weggebly.
Hy het Margaret kom groet toe hy terugkom, ’n paar maande na Justa se geboorte.
Hy het goed gelyk. Lank en skraal, met sy skewe, aantreklike glimlag en die wakker grys oë. ’n Bietjie ouer, ’n bietjie ernstiger, maar andersins nog dieselfde Paul.
“Dis goed om jou weer te sien, Maggie!”
Maggie! Niemand behalwe Paul het haar ooit Maggie genoem nie.
Spontaan het sy albei haar hande na hom uitgesteek.
“Dis goed om jou te sien, Paul.”
Hy het haar hande in syne geneem en vir ’n lang oomblik na haar afgekyk, die grys oë skerp en ondersoekend.
“Nog dieselfde Maggie – nog net so mooi soos altyd.”
’n Bietjie verleë het sy haar hande uit syne getrek, bewus van die blydskap wat deur haar spoel. Paul het teruggekom!
Sy het hom haar dogters gewys, vir hom tee gegee, en hulle het gesels asof die drie jaar nooit tussenbeide gekom het nie. Gretig het sy hom uitgevra oor sy werk in die hospitale oorsee, maar met ’n vreemde gemis in haar hart.
Paul het haar ook vertel dat sy oom, by wie hy geld vir sy studies geleen het, oorlede is terwyl hy oorsee was en dat hy Paul vrygeskeld het van al die geld wat hy nog aan hom geskuld het. Sy ma is ook intussen weer getroud, sodat hy geen verdere finansiële verpligtings teenoor sy familie het nie.
Die ironie van die lewe, het sy gedink. As Paul al dié dinge geweet het voor hy Londen toe is, sou dit ’n verskil gemaak het?
Dit sal sy seker nooit weet nie.
Toe Paul uiteindelik opstaan om te gaan het hy vir ’n oomblik stil na haar gekyk. Toe vra hy bruusk: “Is jy gelukkig, Maggie? Heeltemal gelukkig?”
“Ek is gelukkig, Paul.” Haar glimlag was kalm. “Ek het alles wat my hart kan begeer.”
“En jou werk as dokter? Mis jy dit nie?”
’n Oomblik lank het sy geaarsel. “Ek het nie tyd om dit te mis nie.”
“Is jy glad nie van plan om weer te gaan werk nie?”
“Ek weet nie. Op