sit, en selfs wanneer hulle tuis is maar min van haar bedrywige ouers sien.
’n Vol en opwindende lewe, het almal gesê – reise oorsee, interessante mense, swierige onthale – maar daar was ’n leemte in Margaret se lewe, ’n groeiende eensaamheid wat al die bedrywighede nie kon vul nie. Charl het sy werk gehad: die uitdagings, die stimulering wat dit meegebring het. Vir hom was dit anders. En sy? Sy was mevrou Charl Marais, die mooi mevrou Charl Marais, sjarmante gasvrou, eggenote, ma, huishoudster – alles wat van haar verwag is. Maar onder die menigvuldige eise wat aan haar gestel is, het sy gevoel dat sy haar eie identiteit verloor.
Dikwels, veral wanneer hulle in Pretoria was, sou sy verkies het om ’n aand rustig tuis te bly saam met Ingrid en Charl, eerder as om na nog ’n partytjie of onthaal toe te gaan. Dieselfde gesigte, dieselfde ligte, betekenislose kletspraatjies. Hoe lank kan ’n mens dit volhou?
“Kan ons nie maar vanaand tuisbly nie,” het sy een aand gepleit. “Tussen al die baie mense sal niemand ons eers mis nie.”
“Natuurlik sal hulle ons mis, Margaret,” het Charl effens ongeduldig geantwoord. “Die onthaal is spesiaal vir die sending uit Portugal gereël. Ons het die hele dag samesprekings gevoer en daar is nog goed wat uitgestryk moet word. Hoe kan ek nou wegbly? Buitendien wil ek graag my mooi vrou vir hulle wys. Toe, gaan maak jou reg – dit word laat.”
Paul, wanneer sy hom raakloop, was ’n bietjie stiller en ernstiger, en tog onveranderd ten spyte van sy toenemende roem as een van die land se knapste snydokters. Ook hy het later vergeet dat sy ’n dokter was – hy het in elk geval nooit meer melding daarvan gemaak nie.
“Gaan dit goed, Maggie?” het hy altyd gevra, die grys oë ondersoekend, in sy stem die spesiale klank wat haar hart nog altyd ’n bietjie vinniger laat klop het.
En met ’n glimlaggie het sy altyd geantwoord: “Dit gaan goed!”
“Hou jy werklik van dié lewe?” het hy een aand gevra met ’n handgebaar wat alles insluit: die rookgevulde kamer, die gebabbel van stemme, die geklink van glase, die vrolike gesigte waaragter elkeen sy hartseer en frustrasies verberg.
Sy het stilgebly, toe antwoord sy: “Dis Charl se werk, ’n belangrike deel van sy werk. Hy hou van dié lewe en ek het geleer om aan te pas.” Bewus van sy blik op haar, vervolg sy sag: “Al wat my regtig hinder, is ons kind. Sy word so eensaam groot – ons moet haar so dikwels alleen by die huishulp of by vriende laat.” Sy haal haar skouers op. “Ek weet dis nie goed nie, maar wat kan ek doen? Waar lê ’n vrou se eerste lojaliteit – by haar man of by hulle kind?”
“’n Vrou se eerste plig is teenoor haarself, sou ek sê,” sê hy bruusk. “En dan haar man. Maar dis ’n saak wat elke vrou vir haarself moet uitmaak.” Hy aarsel, dan sê hy sagter: “Miskien, as Ingrid nog boeties of sussies het …”
’n Oomblik lank flits daar pyn in die mooi blou oë. Dan skud sy haar kop.
“Nee. Dis beter so,” antwoord sy. “En jy het self net twee seuns,” beskuldig sy hom verleë, bewus van die grys oë wat so vraend op haar rus.
Paul glimlag. “Vir ’n kunstenaarvrou, besig met haar eie loopbaan, is twee woelige seuns genoeg,” antwoord hy liggies, maar daar is tog ’n vreemde klank in sy stem. Hunkering … hartseer … Of het sy haar dit verbeel?
Voor sy iets kan sê, sien sy dat Anita en ’n jong man – ’n bekende jong sanger in die stad – na hulle aangestap kom. Die intieme oomblik was verby.
Anita groet haar kalm, gewoonweg. Sy is ’n blonde, statige vrou, ’n bietjie plomper as toe sy die dag getroud is. Haar hare is koringgeel, die ligte blou oë koel, oplettend. Sy is eenvoudig, sonder veel smaak geklee in ’n lang, grysblou tabberd, die mooi blonde hare is in ’n los bolla saamgevat. Sy is nie mooi nie – daarvoor lyk sy te veel na haar professorpa – maar haar opvallende blondheid laat haar uitstaan in enige geselskap, en sy is gesog in die stad se musiekkringe.
Anita Wagner kyk dan na haar man. “Wat bespreek julle so ernstig?” vra sy half spottend. “Die goeie ou dae?” Sy draai na die jong man. “Jy ken Margaret Marais, nie waar nie, Jacques? Sy en Paul was universiteitsmaats – hulle het saam medies geloop.”
“So?” antwoord Jacques belangstellend, sy oë op die mooi vrou met haar donker hare en besondere blou oë.
“Margaret was Paul se eerste meisie,” vertel Anita glimlaggend verder. “Ek was in daardie dae al beenaf op hom – my pa was sy professor. Hy het dikwels by ons aan huis gekom, maar Paul het niemand anders raakgesien as die mooi Margaret van Zyl nie.”
“En wat het toe gebeur?” vra Jacques.
Daar is ’n klein stiltetjie, toe sê Margaret: “Ek was nooit regtig Paul se meisie nie.”
“En wie dink jy sal dit glo?” vra Anita spottend.
Margaret haal haar skouers liggies op. “In elk geval, Paul is oorsee, en ek het vir Charl ontmoet.”
“Gelukkig vir my,” sê Anita, haar blik op Paul. Sy lê haar hand op sy arm – ’n mooi kunstenaarshand met lang, sterk vingers – en sê: “Kan ons maar gaan? Ek dink ons het ons plig gedoen. Jacques en ek wil nog ’n bietjie oefen, en jy het die seuns belowe jy sal vroeg terug wees.”
Paul sit sy hand liggies oor hare. “Ek is gereed.”
Hulle groet, en Margaret kyk hulle agterna terwyl hulle wegstap, ’n vreemde gevoel in haar binneste. Dan draai sy om en stap na Charl, wat ’n entjie daarvandaan staan, in druk gesprek met een van sy kollegas. Miskien is hy ook lus om huis toe te gaan.
Charl trek haar nader toe sy by hulle aansluit en sy sien die warmte en bewondering in sy blik.
“Wil jy al huis toe gaan?” wil hy weet. “Doktor Buys het gevra ons moet by hulle kom koffie drink, daar is iets wat ons nog moet bespreek. Ons sal nie lank wees nie, ek belowe. Is dit reg so?”
Dit was laat toe hulle uiteindelik tuis kom. Ingrid se kamer was al donker. Hartseer het Margaret gaan slaap. Ook sy sou graag vanaand vroeg huis toe wou gekom het om ’n rukkie voor slaaptyd saam met hulle dogter te kuier.
Hoofstuk 3
Charl se werk het steeds meer veeleisend geword en Margaret het later gevoel dat hulle te midde van al die partytjies, onthale en Charl se ander verpligtings by mekaar verbyleef, net hier en daar kontak maak. Watter sin het so ’n lewe? het sy gewonder. Ter wille van Charl het sy stilgebly, maar sy was dikwels ongelukkig en bekommerd oor hulle dogter wat grootword en haar nodig het.
Soms het sy Ellen haar rustiger bestaan beny, maar sy het geweet dit is ook nie die antwoord nie. Sy het nie die wyse ou strydros se woorde vergeet nie. Ná ’n moeilike dag op kantoor wil ’n man nie na ’n leë hotelkamer terugkeer nie. Hy het iemand nodig met wie hy kan praat oor die dag se frustrasies; hy het die rus en aanmoediging nodig wat net sy vrou vir hom kan gee. As hy dit nie by haar kry nie, soek hy dit elders.
En toe gebeur dit.
Margaret het onrustig na die eerste half skertsende praatjies oor Herman en sy nuwe sekretaresse geluister. ’n Mooi jong meisie wat blykbaar besig was om die – soos almal gedink het – standvastige Herman se voete onder hom uit te slaan.
Was dit net kwaadwillige praatjies, of was daar waarheid in?
Margaret en Charl het Herman en die meisie een aand in ’n restaurant raakgeloop en Herman het haar later na hulle tafel toe gebring.
“Julle ken vir Lizelle,” het hy met ’n glimlag gesê, maar Margaret kon sien hy is nie op sy gemak nie. “Ons begroting is dié week aan die gang, soos julle weet, en ons werk ons byna oorhoeks. Ek het die arme kind gebring om iets te eet voor sy beswyk.”
Die meisie was op haar gemak, mooi en jonk, die onskuld self. Botter sou nie in haar mond smelt nie.
Herman se vriende het minder en minder van hom gesien. Hy was altyd besig, of net nie beskikbaar nie. Intussen het Margaret gehoor hy en Lizelle is saam by die perdewedrenne