Nelia Engelbrecht

Die Poort 3: Helers


Скачать книгу

      Die Poort: Helers

      Nelia Engelbrecht

      Tafelberg

      Vir my nabymense:

      Attie, Adriaan, Amoré, JanDirk en Elmarie.

      1

      Ek ruik koue staal toe ek die sleutel in die slot druk en draai. Bokant ons koppe begin die ganglig flikker.

      “Dis weird,” sê Nomsa.

      “Hulle noem dit toeval. Die gloeilamp is seker op pad uit,” sê Leonardo.

      Eintlik is Nomsa reg. Dit ís weird, en nou praat ek nie net van die gloeilamp nie. Ek meen, hier sluip ons vier in die middel van die nag in ’n geheime woonstel onder my ma se kunsateljee rond. En dit nadat ons deur ’n kas in die kunsateljee geklim het en van daar af met die trappe af is tot in die Bewakers se Raadsaal wat soos ’n vertrek in ’n Middeleeuse kasteel lyk.

      Die deur kraak toe ek dit oopstoot. Die vertrek ruik na stof en ou papier en nog ouer geheime. Met my spesiale Bewaker-nagvisie sien ek die ligskakelaar en druk dit.

      “Lyk dit soos in jou droom?” vra Nomsa.

      Tara vat-vat aan die donker vlegsel wat oor haar skouer hang. “Die boekrakke met ou boeke lyk dieselfde … but there was a big book on the desk too.”

      “Die boek waaruit die lig geskyn het?” vra ek.

      Tara knik.

      “Wel, daar’s nou boggerall,” sê Leonardo. “Behalwe dié.”

      “Dit lyk soos ’n verkyker uit Pirates of the Caribbean,” sê Nomsa.

      “Die ou wat die eerste verkyker vroeg in die sewentiende eeu gebou het, was ’n Hollandse dude, Hans Lipperhay,” sê Leonardo.

      Ja, oukei, ek weet die invention van die verkyker is nie deel van ons graadelf-sillabus nie, maar as jy superslim is soos Leonardo en Google is boonop jou beste pel, is dit seker nie vreemd om sulke goed te weet nie.

      Ek tel die verkyker op. Dit bestaan uit verskillende metaalpype wat in mekaar pas. Ek trek dit langer en loer deur die lens. “Ek sien net ’n blur. Dalk werk dit nie meer nie.” Dan gebeur daar iets. Die vae beeld word stadig maar seker skerper, totdat ek reg in die oë van ’n harige monstergesig vaskyk.

      Ek sweer gil is aansteeklik, want toe ek gil, gil Nomsa en Tara ook.

      “Wat is dit?” vra Leonardo. Hy vat die verkyker uit my bewende hand en mik ook in die rigting van die oorkantste hoek van die vertrek. “H’m, beautiful specimen van Arachnida.”

      “’n Spinnekop? Is dit maar al? Jis, dit het soos ’n freaking alien monster gelyk. Gee, laat ek weer kyk.” Ek druk die lens weer teen my oog. “Nee, nou’s dit weer net ’n blur.” Ek draai om, die verkyker nog steeds voor my oog. Dan begin iets vorm aanneem. Goue lig. Dele van … wat? ’n Boek se bladsy? Ek kyk bo-oor die verkyker. Ek het na die lessenaar gemik en daar is beslis nie nou ’n goue lig of ’n boek nie. Ek loer weer deur die lens.

      “Tara, dalk is die boek wat jy in jou droom gesien het, tussen die ander op die rakke,” sê Nomsa skuins agter my.

      “Dan moet dit weggesteek wees agter iets, anders sou ons tog die lig gesien het,” sê Leonardo en skuif langs my verby.

      Die lig is so skerp dat ek sukkel om die woord waarop die verkyker fokus, te lees. Ooster- … iets. Ek druk en draai aan die verkyker. Cool, ek het nou bietjie uitgezoom. Ek kan nou twee oopgeslaande bladsye sien. Dit lyk nie of die goue lig op die boek skyn nie. Eerder asof dit uit die bladsye self kom.

      My armhare gaan staan regop en ’n ry spinnekoppe skarrel teen my ruggraat af. “Ouens, ek kan die boek waarvan Tara gedroom het, sien.”

      “Waar?” vra Nomsa. “Gee hier, ek wil ook kyk.” Sy vat die verkyker by my en loer daardeur. “Nee, girlfriend, die ding fokus dan nie eens nie.”

      “Ek dink dit het iets te doen met jou nuwe superduper Kragte en Magte, Kali,” sê Leonardo nadat hy en Tara ook gekyk het, maar nie die boek kon sien nie.

      Kragte en Magte. Ja, sowaar. Dit is die cool deel daarvan om Bewakers te wees. Maar glo my, daar is beslis ook ’n downside – soos om al die Bewaker-goed vir jou ou te moet wegsteek omdat hy nie ook ’n Bewaker soos ons vier is nie.

      “Wat is in die boek geskryf?” vra Tara.

      Ek zoom weer bietjie in. “Lyk my dis in Hollands geskryf. Iets oor ou skepe wat Kaap toe gekom het. Die een se naam is die Oosterland.”

      “Is dit nie die skip waarmee jou pa en ma se stamvaders hiernatoe gekom het nie?” vra Leonardo.

      “Ja. Jacques Therond en Jean Prieur du Plessis. Hulle was van die eerste Hugenote en het in 1688 op dieselfde skip Kaap toe gekom.”

      Ek zoom in op die linkerkantste bladsy tot ek my voorvaders se name kry op ’n lys van die mense wat op die Oosterland was. Dan onthou ek iets wat my ma ’n ruk gelede vir my vertel het. “Iets het gebeur toe hulle om middernag oor die ewenaar geseil het. Klink of ’n Poort oopgegaan het en toe word van die mense op die skip Bewakers.”

      “Nuovo venuto – nuwe outjies. Die Contarini’s is al van kort na die Big Bang af Bewakers.”

      “Ja, sure, Leonardo. Jou voorvaders het seker nog in grotte gebly toe Reis hulle al na outer space,” sê ek sarkasties.

      “Wait a bit,” sê Nomsa. “Julle vergeet: Tara se McGonigal ancestors was ancient Druids in Ierland en my ancestors wat by die Zimbabwe ruins gebly het, was die original mense van Afrika, wat after all die cradle of mankind is.”

      “Ja, maar dit sê nog nie hulle was toe al Bewakers nie,” sê Leonardo. “Die Bewaker-legende sê die eerste Bewakers was van Venesië.”

      Jis, maar hulle kan stry. “Ja, oukei,” maak ek hulle stil. “Julle kan later uitfigure wie die eerste Bewakers was. Wat ek wil weet, is hoekom ons hier is. Tara se Bewaker-drome beteken altyd iets.”

      “I still don’t understand why I dreamt about this book,” sê Tara. Dan slaan sy oor na Afrikaans, wat sy en Nomsa eintlik goed kan praat omdat Bospoort Hoër ’n dubbelmedium-skool is. “Ek het net geweet ek moet julle vra om saam met my na jou oupa se ou boeke te kom kyk.”

      My oupa, wat aan ’n hartaanval dood is net nadat ons Bospoort toe getrek het sodat my pa saam met hom in sy dokterspraktyk kon kom werk, se boeke was eers in die plek wat nou my ma se kunsateljee is. Toe my ma die plek geclaim het, het hulle die boeke hier na een van die kamers in die woonstel agter die Raadsaal geskuif.

      Skielik sien ek Leonardo se woeste frons. Hy hou sy kop skeef, asof hy iets hoor wat ons ander nie kan hoor nie. Wat natuurlik nie snaaks is nie, want sy Bewaker-senses is seker die beste van ons almal s’n.

      “Wat is dit, Leonardo?” vra Tara.

      “Ek hoor iets. Wind of water, of al twee.”

      Die sagte gesuis word vinnig al hoe harder. ’n Souterige wind waai my hare in my gesig. Wind. Régtig? In ’n ondergrondse vertrek sonder vensters?

      “Something is happening,” sê Tara, haar oë groot.

      Daar is ’n harde klapklank en dan bars die oorkantste muur van onder na bo oop en – wait for it – water begin deur die bars na binne stroom.

      “What’s going on?” roep Nomsa uit. “Al die mure breek nou!”

      Ek ruik seewater en alge en yskoue dieptes en weet dit is te laat om weg te hol.

      “This has something to do with my dream!” roep Tara uit.

      Leonardo gryp haar hand. “Vat almal hande en moenie los nie!”

      Ek vat Nomsa se hand. As dit by water kom, is ek en Leonardo fine, want deel van ons Bewaker-magte is om onder die water te kan asemhaal.

      “Nomsa, Tara, moet nou net nie panic nie,” sê Leonardo terwyl die water om ons skouers bruis en die vertrek se mure verkrummel. “Hou julle asem op. Ek en Kali sal sorg dat julle bokant die water uitkom.”

      Ek kyk op. In plaas