met die dansery.
“Ten minste kan ek my tone in skoene wegsteek, maar almal kan jou vingers sien,” sê sy en stamp my terug. Haar elegante hande maak vinnig werk van haar balletskoene. Ek krimp ineen. Dit lyk so seer toe sy haar tone daarin wurm.
Gehipnotiseer kyk ek hoe sy met swaaiende heupe na die rekstok stap. Haar skouers is fyn en kragtig. Haar beenspiere perfek gevorm. Ek maak eerder my mond toe voor ek begin kwyl hier reg voor haar.
Met een been op die rekstok begin sy opwarm. Vorentoe, dan agtertoe. Oor en oor doen sy dit. Haar lyf buig sensueel agteroor en dit laat my dink aan ’n koppelboog op bladmusiek. Ek draai vir ’n oomblik my rug op haar om my asem terug te kry.
In die bekende holte van my viool druk ek my ken, my vingers kry hulle plek op die snare. Ek speel viool vandat ek te klein was om behoorlik my balans met een te hou. Musiek help my om van baie dinge te vergeet. Met my oë toe, verbeel ek my dis Soph wat met haar kop teen my skouer aan die slaap raak. Dat dit vir haar is wat ek so sag in my arms vashou.
Met die eerste noot van Tchaikovsky se wals uit Swan Lake weet ek sonder om te kyk dat Soph nou glimlag. Hy is van kleins af my gunstelingkomponis. Ek draai om en maak my oë oop. Sophia is aan die oorkant van die ateljee.
Sy kyk na my met haar grysgroen oë voor sy met vinnige bewegings op haar tone begin trippel. Een voet voor die ander. Ek glimlag. Hulle sê om te ballet is soos om ’n bankrower te wees, jy moet split second timing hê.
Naby my draai sy om. Met soveel passie doen sy dieselfde beweging tot aan die ander kant van die vertrek.
“Weer asseblief, Noah,” sê sy.
Juffrou Isabel kom by die sydeur in. Vir ’n oomblik staan sy met haar hand op haar ken gestut en kyk na Soph. Dit lyk of sy iets wil sê, maar stap dan na haar kantoor sonder ’n woord.
Nadat Sophia vir die hoeveelste keer by my omgedraai het, roep sy: “Weer!” Dit lyk of sy oor die vloer sweef. “Weer,” sê sy. Ek kan hoor hoe haar asem blaas, maar sy stop nie. “Weer, asseblief.” Wat jaag haar so?
“Moet jy nie eers ’n break vat nie?” vra ek bekommerd.
“Nog nie,” hyg sy. Sophia begin pirouette. Sy draai al in die rondte tot aan die oorkant van die vertrek.
Met elke tree wat sy nader aan my gee, brand ’n vuur warmer in my. Haar elegante arms is soos ’n boom se takke hoog bo haar uitgestrek. Al die snare in my lyf is skielik te styf gespan.
Sophia is twee tree weg. My asem jaag en ek kan net hoop sy dink dis van die vioolspeel. Alles in my wens sy wil reg teen my stop sodat ons lywe kan raak. Dalk kan ek haar dan sommer sê hoe ek oor haar voel.
“Argh!” Haar gil ruk my uit my trance. Sophia val op die vloer neer. Sy krul van die pyn. Dammit. Ek sit my viool haastig langs haar op die grond.
“Sophia, Soph, is jy oukei? ” Ek kyk of ek iets kan sien, maar ek het geen idee wat sy nou net seergemaak het nie. Ek vou my hande om hare om haar op te help, maar sy skud haar kop.
“Ek kan nie. Dis ’n kramp, in my kuit. Ouch!” Sy vat my hand en sit dit op haar been, toe lê sy weer agteroor. “Vryf, Noah, asseblief!” Ek is nie seker of Sophia lag of huil nie. “Aa! Vryf harder!”
“Oukei,” sê ek en probeer om nie vreesbevange te klink nie. Sophia se kuitspier span styf onder my vingers. My hart improviseer ’n ritme van sy eie terwyl my hande haar pyn probeer verlig. My vingers druk versigtig in haar sagte vel. Ek het al baie aan Sophia gevat, maar nog nooit aan haar bene nie. Skielik is ek selfbewus oor die eelte op my vingerpunte. Ek hoop nie sy gril daarvoor nie. Miskien keer die pyn dat sy agterkom hoe grof hulle is.
“Voel dit al beter?” vra ek.
Sy antwoord met ’n kreun. “Amper.”
Terwyl ek voel hoe die spier effens verslap, is ek bewus van elke millimeter van Soph se gespierde bene onder my hande. Voor my goeie verstand my kan keer, skuif ek my hand hoër teen haar been op. Verby haar knie na haar bobeen asof ek wil seker maak dit voel daar net so goed. En dit doen.
Sophia kom regop en ek sweer sy sluk hard. “Dis … nie daar seer nie.” Haar stem bewe effens.
“Natuurlik,” sê ek. Verdomp! Ek voel my gesig warm word.
“Wat gaan aan? Is jy oukei, Sophia Maria?” weerklink ’n stem oor die dansvloer. Juffrou Isabel kom haastig nader geloop.
Ek spring op met my hande in die lug asof ek hulle so pas verbrand het. En ek dink ek het.
“Kom, Noah. Help dat ons haar in my kantoor kry. Ek het hiervoor gewag. Jy is nie ’n robot nie, Sophia. Wat gaan deesdae met jou aan? Jy druk jouself te hard. Niemand kan hierdie pas volhou nie. Voltydse dansers met jare se ondervinding dalk, maar jy is nie ’n voltydse danser nie. Boonop het jy nog die druk van jou matriekjaar.”
Sophia rol haar oë skrams, maar ek stem saam met die juffrou. Hierdie ooreising moet end kry. Met haar arms om ons nekke hinkepink Sophia saam na die kantoor waar juffrou Isabel vir haar iets aan haar been smeer.
Ek hoop net Sophia kry geheueverlies op pad huis toe.
Sophia
“En as die tafel so mooi gedek is?” Pa soen my op die wang en sit sy dokterstas op die ou riempiesbankie in die eetkamer neer. Ek skuif die messe en vurke vir oulaas reg. Die kaggelvuur kort hout. Vinnig prop ek nog ’n paar stompe in. Alles lyk perfek vir my paai-sessie.
“Ek het iets om julle te vertel,” sê ek en haal my skouers vrolik op. As ek hulle almal in ’n goeie bui kan kry voor ek die nuus breek, sal dit dalk help. Toe ek vir Ma sê ek het nuus, het sy in die kombuis begin woel en werskaf. Sy neurie selfs. Dit maak my op my senuwees. Haar opgewondenheid is dalk omdat sy dink ek’s by een van die universiteite hier vir medies aanvaar.
Toe die voordeurklokkie lui, spring ek op. Dit is seker Noah. Vandag toe hy aan my been gevat het, het sy hande net so … lekker gevoel, nes ek gedink het dit sal. Ek skud my kop. Wat dink ek tog? Dat dit lekker was? Nee, genade.
By die voordeur is dit nie Noah nie, maar Markus. “Hi,” sê hy met ’n bottel sjampanje in die hand. “Ek hoor ons het iets om te vier.” Hy lig die bottel en glimlag. Wat op aarde? Agter hom kom Lisa en Estian ook aangestap. Is dit Ma se toedoen?
My maag maak skielik ’n draai. Hier kom moeilikheid. Nou het ek ’n skare toeskouers terwyl ek die moeilikste ding in my lewe moet doen. Ek het gehoop dis net ek en Noah wat saam met Ma en Pa gaan eet. Maar dalk is dit goed so. My broers is nog altyd aan my kant. Dalk kan hulle help as Ma … Nee, Sophia, moenie so dink nie! Miskien aanvaar sy dit maklik. Sy hou darem al van Lisa. En dit sê baie.
“Kom in, julle.” My stem kraak effens.
“Moenie toemaak nie,” hoor ek Noah se stem agter hulle. Dankie tog. Wat sou ek ooit sonder hom doen? Hy druk my arm sag toe sy wenkbroue vraend lig. Is hy nou ook bekommerd, nes ek?
“Sterkte, Soph,” sê hy en ek sluk teen die knop in my keel.
“Kom sit sommer aan,” roep Ma vanuit die kombuis.
By die tafel sit ek oorkant Noah. Sy blonde hare is netjies met ’n paadjie na die kant gekam. Sy blou T-hemp loer onder sy grys hoodie uit. Was sy oë nog altyd so kobaltblou? Noah sien ek kyk na hom en skuif sy bril hoër teen sy neus op. Die woorde in wit letters op sy hemp laat my glimlag. Never trust an atom, they make up everything. Noah lyk soos ’n soet seun. Iemand wat enige pa by sy dogter sal toelaat. Nee wat, vandag toe hy aan my bobeen gevat het moes per ongeluk gewees het. Noah sal nooit so iets aspris doen nie.
Die sjampanjeprop wat Markus laat skiet, ruk my terug na die aaklige taak voor my. Hy skink vir almal ’n bietjie. As hy geweet het wat my nuus is, sou hy nie so vinnig gewees het om die bottel oop te maak nie.
Toe ma haar vurk teen die rand van haar glas klingel, sak my moed in my skoene. Hier kom dit …
“Dankie dat julle gekom het. Ons klein Sophia word so vinnig