Helene de Kock

Helene de Kock Keur 1


Скачать книгу

noem waar Charles-Henry vir hom ’n woonstel gekry het.

      “Gaaf,” sê hy net. “Ek het Charles-Henry gevra om vir my verblyf so na moontlik aan die spreekkamers te reël.”

      Sy haal ’n paar roomwit leerhandskoene uit en trek dit aan, stoot dit omslagtig tussen haar vingers in sodat dit gemaklik pas.

      “Dit . . . e . . . dit was eintlik ék wat die woonstel vir jou gekry het. As jy dalk nie daarvan hou nie, moet jy net sê . . . maar die uitsig uit die woonkamer is vir my so mooi. Dit kyk uit op ’n klein binneplein met plate affodille in blom . . . en baie plante, selfs drie groot potpalms met bankies onder. En daar kom baie voëltjies . . . Ek is bevrees ek het dit verkies bo ’n moderne plek sonder siel . . .” Sy kyk huiwerig na hom.

      Dai is verbaas en aangenaam verras.

      “Jy weet nie hoe bly is ek daaroor nie! Ek was juis bang ek sal dalk in een van hierdie betonblokke moet nesskop. Ek is meer bederf, weet jy? Baie ruimte, baie son en baie kos! Dit alles maak dat ’n mens darem min of meer jouself kan wees!”

      “Ja,” sê sy met haar seldsame glimlag. “Dis daardie ekstra dimensie wat die Duitsers Lebensraum noem . . .”

      Hulle hou stil in ’n kort doodloopstraatjie. Die spierwit spitsdakhuise is in Tudor-styl en staan styf teen mekaar. Die blomkersiebome op die groen sypaadjie is oortrek met digte trosse pienk kersieblomme. Dis sprokiesmooi. En die hele omgewing straal ’n intieme geselligheid uit. Dis ’n bloeisel van ’n plekkie in die stedelike grouheid om hulle.

      “Jy is reg, Sylvia,” sê Dai. “Dié plek het baie siel . . .”

      Hulle klim uit en in stille akkoord staan hulle eers die wêreld en bekyk. Die pienk bloeiseltrosse van die kersiebome verdryf alle grysheid uit die dag; die swart houtwerk steek skerp af teen die spierwit mure van die huise, en die nou straatjie met sy eeue oue hobbelsteentjies blink nat en skoon. En dis ’n byna ongelooflike stil woonbuurt. Twee goed geklede kindertjies kom saam met hul moeder by ’n voordeur uit, kyk nuuskierig na die man en vrou by die motor en glimlag skamerig toe hulle verbystap. Uit een van die takke bokant hul koppe vlieg daar ’n vaal stadsmossie uit en hul vlug laat ’n paar van die brose blommetjies grond toe fladder. Sylvia buk dadelik en tel hulle op. Hou hulle op haar oop handpalm, en Dai sien met verwondering hoe daar kleur in haar wange kom en haar donker oë glinster van plesier.

      “Dis ’n baie goeie teken!” sê sy ingenome. “Nou gaan jy gelukkig hier woon!”

      Dai staan in sprakelose verwondering na haar en kyk. Dis asof sy in ’n oogwink sy hele gedagtewêreld betrek het. En hy kan geen logiese rede hoegenaamd daarvoor verstrek nie. Wat ’n interessante mens, dink hy, en smoor daarmee enige opwindende gevolgtrekking waartoe hy moontlik kon gekom het. Hy draai hom om, bestudeer die vooraansig van die huis, wat volgens die agente eintlik ’n woonstel is.

      “Ek hou van die plek,” sê hy houterig. “’n Mens sal dit jou eie kan maak.”

      “Wag tot jy binne is!” antwoord Sylvia beheers en laat val sonder meer die twee bloeisels op die sypaadjie. Toe stap sy na die houtvoordeur en sluit oop.

      ’n Klein portaaltjie lei na ’n ruim studeerkamer, ’n sitkamer, woon-eetkamer en ’n klein kombuisie. Bo is twee slaapkamers en ’n badkamer. Die plek is egter ongemeubileerd, afgesien van ’n kookplaat in die kombuis, en ’n divan en leunstoel in die studeerkamer.

      “Ek het gedink dit sal voldoende wees vir die eerste paar dae, totdat jy vir jou meubels gekoop of gehuur het,” verduidelik Sylvia toe hulle weer onder in die portaal staan.

      “Ja wat,” gee Dai toe. “Maar jy moet asseblief so gou moontlik vir my die plek meubileer. Ek gee jou ’n vry hand. Maak maar soos wat jy goed dink – ek het volle vertroue in jou!”

      Daar kom ’n geslotenheid oor Sylvia se gesig, ’n trek wat Dai in die maande wat kom, nog goed sal leer ken.

      “Ek ken nie jou smaak nie, dokter,” sê sy styf en vee met ’n vinnige gebaar ’n paar los haartjies van haar slaap af weg. “En . . . en kry iemand wat geskool is daarin om ’n vry hand te hê . . .”

      Dai kyk haar enigsins verbaas aan. Dis op die punt van sy tong om haar op ’n baie hoflike manier na die hoenders te stuur. Enige ander meisie sou gespring het om hom met só iets te help. Vroumense hou tog daarvan om ’n vry hand te hê met meubilering en binnenshuise versiering. Dis mos glo ’n lekker speletjie! Martine sou tog . . . Hy druk ’n hand oor sy oë en kry sy gedagtes bymekaar. Die soveelste maal dink hy met ’n soort weersinwekkende skok daaraan dat hy ontsettend verwikkeld geraak het met Martine. Onwillekeurig herlei hy alles na wat sý sou gesê of gedoen het. En hy weet sonder twyfel dat hy haar met grasie sou aanbeveel het om dan maar alles te los as dit vir haar te veel is! Maar Sylvia is anders. Geeneen van die reëls wat deurgaans geld vir sy ander vroulike kennisse, geld vir haar nie. Hy voel dit aan. By haar is daar veel meer onder die oppervlak as wat vermoed word. En Dai is mensekenner genoeg om te weet dat daar ’n baie groot verskil tussen diepte en oppervlak is . . .

      Daarom pleit hy nie met Sylvia nie, maar hy aanvaar ook nie haar weiering nie. Hy gee bloot ’n opdrag.

      “Suster Saunders,” sê hy, en sien hoe sy onpersoonlike stemtoon haar laat ontspan, “ek besef dat jy baie besig is en nog gaan wees veral noudat ék hier is. Jy sal my met ongelooflik baie dinge móét help. Ék sal bepaald geen tyd hê om te gaan kies tussen plakpapiere en materiale nie. Kry dus vir my ’n erkende binneversierder soos Al Brizzi, maar gee jy sélf maar rigting aan sy idees. Ek gee nie om vir appelkooskleur en perskepienk in die slaapkamers nie, maar die studeerkamer . . .”

      “Moet prakties en manlik wees!” val sy hom sagkens in die rede, maar sonder om hom in die oë te kyk. Sy stap by hom verby en bly staan in die studeerkamer se deur. “Leer, chroom en hout . . . en daardie oorkantste muur moet van bo tot onder boekrakke kry. Gordyne, mat en kussings in skakerings van bruin en oranje . . .?” sê-vra sy oor haar skouer.

      Dai kyk grimmig-geamuseerd na haar stywe rug. Dus is ons op saaklike voet, dink hy. Wel, des te beter!

      “Daaroor sal jý besluit!” troef hy haar nietemin, en toe sy nie reageer nie behalwe met ’n klein kopknikkie, kyk hy op sy horlosie en sê: “Dokter Mounthallow behoort al terug te wees. Ek het heelwat om met hom te bespreek.”

      “Natuurlik,” antwoord sy dadelik, en hulle stap saam motor toe nadat Sylvia die voordeur gesluit het. “Ek sal vanmiddag nog ’n duplikaat van die sleutel laat maak!”

      “Alles reg,” sê Dai afgetrokke.

      Hulle ry in stilte spreekkamers toe.

      “Wie het vandag jóú werk behartig?” vra Dai eenkeer.

      “O ja, ek het vergeet om jou te sê. Daar is twee van ons . . . ek en mevrou Thatcher. Jy sal haar bekwaam vind, dokter. Sy is nie ’n gekwalifiseerde verpleegster nie. Doen eintlik die ontvangswerk. Maar sy kan kophou en . . .”

      Dai vind dat hy meer na haar stem luister as na haar woorde. Dit is rustig, met lae, ronde klanke.

      Hulle parkeer reg voor die baie moderne spreekkamergebou.

      “Aitsa!” sê Dai toe hulle uitklim. “Mounthallow het nie sleg gedoen nie!”

      Sylvia loer versigtig na hom en sê ernstig:

      “Ja, dokter Mounthallow is regtig ’n baie suksesvolle ortopedis!”

      Dai kyk af in haar groot oë met die swart wimpers. ’n Mag buite homself laat hom aanhou kyk. Kalm gelaatstrekke, geen groot skoonheid nie . . . maar tog. Daar is iets omtrent die reguit neusie en spits kennetjie, en ’n flikkering in die oë, wat nooit werklik tot uitdrukking kom nie. Miskien was daar nog nooit ’n man wat kringe op die stil waters kon maak nie, dink hy. Toe lag hy, hou sy kop skeef toe hy sê:

      “Dus sal ek versigtig moet trap in die spore van die groot Mounthallow?”

      Sy gaan staan, haar mond effens oop in protes.

      “Nee, dis nie hoe ek dit bedoel het nie!”