dit is ook so dat hy nooit konfrontasie soek voordat hy daartoe genoodsaak word nie. Miskien, dink hy in die vroeë ure, is dit ’n basiese onvermoë om te weet wanneer om tot direkte konfrontasie oor te gaan. Want as hy sy ma jare gelede al ferm daarop gewys het dat net hý die fyn spel van die liefde speel – hý en die maat van sý keuse – miskien sou dit dan anders gewees het . . .
Al dié spytgedagtes krap aan hom, torring sy gemoed so los dat hy skoon ontwortel voel. So asof hy alle bekende emosies as vreemde gewaarwordinge ervaar. Met skok dink hy dat hy in der waarheid nie weet hoe die liefde voel nie. Vóél ’n mens dit, of wéét ’n mens dit? Of is dit ’n wete wat ’n gevoel losmaak? Al waarvan hy klinkklaar seker is, is dat hy niks, veral nóú, niks vir Martine voel nie! Wat háár aanbetref: ’n mooi ding was nog nooit lelik nie, maar dit is al. Hy het nou net een begeerte en dis om lós te kom. Los van enige verbintenis wat hom hokslaan, op so ’n manier dat hy nie homself kan wees nie.
En hy sal homself nie geleidelik kan losdraai soos wat hy tog onbewustelik gedink het nie. Met een felle slag sal hy alle bande moet breek. Hierdie ding besef hy weer met groot spyt sal nooit in der minne geskik kan word nie. Dit maak hom sielsongelukkig, want hy is geen vegter nie. Alles in hom skram weg van onenigheid, veral tussen hom en dié wat na aan hom is . . .
Eers wanneer die oggendwind eindelik rosige vlieswolkies oor die stad blaas, sien Dai dié kwessie vierkant onder oë. Hy weet presies wat fout is. Hy twyfel ook nie aan die aard van die oplossing nie. Dit sal drasties en doeltreffend moet wees . . .
Die dag begin uit die staanspoor verkeerd. ’n Pasiënt, wat al byna herstel het, sterf skielik. Hy opereer op ’n baie klein seuntjie en vind ’n lelike gewas. Hy doen ’n amputasie, en vyf ure later kan hy aan die ontstelde ouers sê dat die kleinman se kanse redelik is. Die operasielys is lank en veeleisend en daar is net ’n halfuur se speling vir ’n vinnige middagete. Sylvia het vir hom ’n ligte ete bestel.
“Ek het gedink jy sal dalk nie nou ’n groot biefstuk wil inwurg nie, dokter. Daar’s so min tyd,” verduidelik sy.
Dai wikkel hom los uit die groen operasiekleed, haal die pet en masker af en gooi dit eenkant. Hy kyk dankbaar na haar.
“Dis gaaf so, suster.”
Sy knik net en begin koffie skink. Hy kyk na haar slanke wit hande, die pikswart hare teen die blankheid van haar slape. Die eerste maal in weke sien hy haar regtig raak. Watter sieraad van ’n mens, dink hy. Sy is so . . . so bruikbaar, so geheel en al nuttig. En meer nog – as sy ’n man was, sou hulle boesemvriende kon wees!
Toe kom die ander dokters ook ingewaai vir ’n haastige happie, en daar word so tussen die eet van brood en ham net van bekkenbene, gekraakte ribbes, Röntgenstrale en operasies gepraat. Enigiemand wat dit nie gewoond is nie, sal sy kos beswaarlik gesluk kry. Vyftien minute later is dit nog net Dai wat aan sy warm koffie sit en proe.
“Jy het nog net ’n paar minute, dokter,” herinner Sylvia hom sagweg en ruim die laaste paar vuil borde en koppies weg.
Dai loer skuinsweg na haar.
“’n Regte slawedrywer, jý! Sê nou ek verstik omdat ek so vinnig moet eet!”
“Jy sal in goeie hande wees, dokter!” sê sy en glimlag terwyl sy haar hande aan ’n vadoek afdroog.
“Wat wou!” antwoord hy lighartig. “Dié ou spul weet net so ietsie van beendere af. Kom ek wed jou as iemand hoes, dink hulle hy het sy sleutelbeen verstuit!”
“Wel, jou longe sit mos in daardie omgewing!” sê sy gemaak ernstig.
“Nou toe nou!” sê Dai sag en leun agteroor om haar deur vernoude oë te beskou. “Ek het al begin dink jy’s bang vir grappies!”
’n Oomblik lank lyk dit asof sy nie weet wat om te antwoord nie, en daar is ’n effense kleurtjie in haar andersins bleek wange. Dan glimlag sy en dit laat haar vreemd weerloos lyk.
“Nee, jy maak ’n fout. Ek is bang vir erns.”
Toe swaai sy om en loer in die gang af.
“Ek moet gaan skrop,” kondig sy aan. “Hier bring suster Jones al die pasiënt op die trollie!”
My goeie aardbol! dink Dai geamuseerd. Nou net asof ek nie weet die arme pasiënt is in aantog nie, en asof ek nie al jare der jare lank voor ’n operasie geskrop word nie. Sy is so ontwykend as wat kan kom! Nes ’n mens wil gesels, slaan sy op die vlug!
Toe stap Dai op sy tyd na die operasiesaal, staan soos ’n sfinks terwyl Sylvia sy operasieklere vasmaak, en wens sy wil iets verkeerds doen. Hy wens sy laat die masker val of trap op sy toon of iets. Solank hy haar ’n behoorlike afranseling kan gee. Sy is darem só perfek . . .!
Hulle kry vroeër klaar as wat hy gedink het, en hy kan tydsaam by al sy pasiënte inloer. Sylvia doen saam met hom die rondte en is so op datum met alles dat hy feitlik niks aan haar hoef te verduidelik nie.
Dai ry huis toe in ’n beter gemoedstemming as die oggend. Dis asof daar effens lig gekom het – vanwaar weet hy nie, maar dit is daar. Hy weet immers nou dat die saak hanteer kan word. Nee, dit móét nou hanteer word, korrigeer hy homself. En eerlik soos hy is, weet hy dat hy dié saak te lank gelaat het. Die tyd toe hy kon praat en effek verwag, is verby. Hy sal iets moet dóén. Maar dis asof die antwoord hierop net buite sy brein bly hang. Onwillekeurig dink hy aan suster Saunders. Nee, Sylvia. Suster Saunders is by die spreekkamers te vinde. Dis Sylvia wat hy nooit kan vasvat nie. Suster Saunders is vir hom tot groot hulp, maar Sylvia, moet hy erken, irriteer hom. Dis asof hy nie tot haar wese kan deurdring nie. Dis vreemd prikkelend om oor haar te wonder. ’n Mens moet haar tóg kan teken, dink hy. Sy is mooi, sy is bekwaam, sy is vriendelik . . . sy is hom tot hulp. Maar dit alles sê werklik nog niks van háár nie.
Meteens dink hy aan die skeppingswoorde wat oor die vrou uitgespreek is: . . . as hulp vir Adam . . . En, in skielike openbaring, weet hy: Sylvia is die ideale hulp vir hóm. Sy is altyd daar, maar sy eis niks.
Dié gedagte bly in sy kop sit en begin verteer. Die volle implikasie tref hom toe hy die wit sportmotor, wat intussen met die skip gekom het, by die motorhuis intrek. Hy bly sit ’n rukkie agter die stuurwiel en laat sy gedagtes bedaar . . .
Dan klim hy uit en stap deur die begroeide vierkant na die agterdeur. Toe hy deur die klein kombuisie met die donker houtkaste stap, hoor hy die eerste klanke. Dit kom onteenseglik uit die sitkamer. Helder klaviernote, wat soos druppels in ’n poel die hele atmosfeer vloeibaar maak. Dit gee ’n trilling van lewe aan die eksklusiewe woonplekkie en ontstem Dai op ’n vreemde manier. Hy bly ontroerd staan in die portaal met sy hand op die blink gepoleerde trapleuning. En hy luister . . . Chopin se polonaise in C mineur. Dan die nokturne in E mol. En met ’n ongelooflike verandering van aanslag, ’n jubelende jazz-nommertjie . . .
Hy het ’n paar weke gelede genoem dat Sylvia gerus vir hom kan uitkyk vir ’n goeie vleuelklavier. Sy het dit klaarblyklik as verrassing vir hom vandag laat kom. En hy weet dat dit sý is wat speel. Hy wéét dit net. Daar is iets herkenbaars wat uit die musiek vloei en deursypel na die ander vertrekke . . .
Te bang om te roer, staan hy doodstil en luister met oorgawe. Daar is geen vertoon in haar spel nie, maar sy vertolk haar diep verskuilde self in die musiek. Daar is niks eensydigs aan Sylvia nie, besef Dai. Sy is fyn geslyp met baie fasette . . .
Toe kan hy nie meer stilstaan nie. Hy beweeg sag die sitkamer binne. Sy voetstappe maak geen geluid op die sagte Aubusson-mat nie. Die klavier staan teen die agterste binnemuur. Dis ’n pikswart vleuelklavier. En dit ís Sylvia wat speel. Sy hoor hom nie. Maar toe sy meteens ophou speel, gaan hy staan. Sien hoe sy ingedagte met haar lang vingers oor die klawers vee. Sy het nog haar uniform aan en moet sekerlik gejaag het om voor hom hier te kom. Sy maak die boonste keelknopie los en pluk die gestyfde kopdingetjie af. ’n Paar fyn blouswart stringetjies hare kom los en hang swewend om haar gesig. Sy sit die wit mussie ongeërg op die klavier neer en skuif reg om weer te begin.
Voordat haar hande die klawers raak, begin Dai sing:
“Who is Sylvia? What is she? That all our swains commend her . . .?”
Sy