nie.
Hulle treusel by die Thirions se huis rond, nuttig koffie met beskuit, met Leen wat haar mopperend kwel omdat daar nie middagete was nie. Daar is gelukkig koue, gaar groenmielies. Almal soek ’n skaduweeplekkie om skuins te lê. Reinet se fut is uit. Natuurlik kon ek haar sê, dink Nelis, dat alles hier nie altyd vrolik is nie. Hier is trouens selde vrolikheid.
Hy vermoed dat dit sy eie gemoed is wat donker geraak en die ander aangesteek het. Dis nie net ’n geval van die outydse “na vrolikheid kom olikheid” nie. Dis skielike wroeging omdat hy die water so geniet het. Wat het hy dan gedink? Dis tyd dat hy vrede met die waarheid maak: dat hy Banie se dood kon voorkom het, en dat dit niks met die vloedspruit te doen gehad het nie. Dis die ou-ou kwelgedagte wat nooit rus of sluimer nie.
Daar was die hele dag lank niks wat hom afskrik nie. Hy sou dieper as Arno geduik het as hy met kleredrag beter toegerus was. Daar was geen Banie Hougaard, geen BH of sy vrou nie. Dit sal dan seker die uiteinde van alles wees: dat hy salig vergeet, terwyl twee ouers aanhou met treur, na jare klein en oud word onder ’n verdriet wat nooit skietgee nie. Dit is die dieper gevaar wat hy tot dusver nie raakgesien het in sy soeke na ’n antwoord nie.
Toe die son sy woede verloor en soos ’n sagte rooi bal na die omringende rantjies afsak, vat hy Reinet terug. Sy stilte steek haar aan terwyl hulle met die sinkplaatpad dorp toe ry, ’n dik stofwors agter die motor aan. Hy het uitgevind dat trekkerspore ’n voertuig vreemd kan laat dril, en dat dit nogal help om heen en weer, half saagtand te ry. Daar is immers geen ander verkeer nie. Toe Reinet die hoeveelste keer “Pasop” sê en oplaas byvoeg: “Jy ry soos ’n dronk mens,” antwoord hy geraak: “Was ek maar dronk, dan kon ek vergeet.”
“Wat vergeet? Van my?” Sy is iesegrimmig.
“Nee. Maar dink jy ek doen dit uit lawwigheid? Dit help dat die kar nie uitmekaar dril nie.”
“O, askies dan. Ek wonder wat my pa van daardie teorie sal dink.”
“Jou pa het teerpaaie. En hy het ernstiger dinge om aan te dink.”
“Soos wat?”
“Soos jy. En ek,” voeg hy billikheidshalwe by.
“Dis daardie klomp wat jou so nors maak.” Sy dink ’n rukkie na en voeg by: “Ook maar lekker eenvoudig.”
“Jy was darem alte vrolik tussen die eenvoudige klomp. Flikkers gegooi dat dit bars.”
“Ek? Vir daardie twee rivierdiere?” Dan besef sy dat sy te ver gegaan het. “Nee, hulle is eintlik oukei. Vir party soorte vroumense dalk aantreklik.”
Nida is dan seker so ’n “soort vroumens”. Hy besluit om nie die diskussie wat op ’n rusie wil uitloop verder te voer nie.
Sy is teleurgesteld toe hy haar bloot wil aflaai en direk terugry. “Dit was eintlik óns dag, waarvoor ek skof uitgeruil het. En toe is ons nooit alleen nie,” verwyt sy. “Dis nog ure voor ek aan diens moet gaan. En dis Saterdag.” Sy is weer vriendelik, haar ou self.
“Ek dink die son het my gevang,” is sy flou verskoning.
“Eet dan saam met my, die hotelletjie se kos is nie so sleg nie.”
“Wie sê dit is? Maar my kos daar bo word ook gebêre, en dit sal ’n affront wees as ek glad nie opdaag nie.”
“O, assebliéf,” wip sy haar. Die blomrokkie is gekreukel en haar arms en bene het rooi gebrand, selfs onder die bome se skaduwee. “Bokvleis en brood, seker. As die piekniek van koeldrank en winkelkoekies was …”
“Waaraan jy lekker saam gesmul het. Ek dog ons het die gesprek oor hulle afgesluit.” Hy is grimmig. “Moes jy weer begin? Hulle leef eenvoudig, ja. Is dit ’n sonde?”
“Loop dan in jou verstand na hulle toe. En let op na wat ek jou sê: daardie Nida met haar sedige gesig soos ’n non, ek vertrou haar nie naby jou nie.”
“Reinet, as jy op haar jaloers is, is dit jou probleem, nie myne nie. Ek kom liewer weer as ons nie so tam en ontstem is nie. Gaan maak jou mooi vir die skakelbord.”
“Dit sal ek ook doen, hoor jy.”
“Onthou jou klippies.” Boel het uiteindelik vir haar ’n geroeste blik in die vlakwater gevind.
“Ek skaam my as ek met ’n ou blik hier moet instap.”
“Draai dit in die reisdeken toe,” smaal hy.
“Hou eers die goed by jou.” Sy klim uit, swaai vermakerig haar heupe op pad na die losieshuis se oop voordeur. Hy kan van hier af die waaier in die portaalplafon sien draai, stadig wentelend, ongehaas soos die waterwiele wat as besienswaardighede nog hier en daar te vinde is. Toe die sementvoor nog van grond was, was daar by die Thirions se bruggie glo ook so ’n waterwiel. Maar die pompe het dit onnodig kom maak.
Hy dwing sy gedagtes terug na Reinet. Sy hou haar so wipstert, maar hy sien hoe verslae haar skouers lyk, die geronde knoppe rooi gebrand. Hy is besig om ’n goeie, gewone, opgewekte meisietjie diep ongelukkig te maak. En dit terwyl sy vir hom omgee en tot dusver niks ontsien het om dit te wys nie.
Bedremmeld ry hy terug Driekolk toe. Is dit hoe futloos sy lewe geword het, dat hy iemand soos Reinet so erg kan teleurstel? In die yslike stilte van die halfwoestynnag, tussen die donker rantjies en slapende kokerbome, vind hy eerder ’n stille aanklag as kalmering.
Hoe ver terug lyk die eenvoudige rivierpiekniek, toe hulle klompie so ongewoon gesellig saam in die kloof was. Was dit ooit net vanoggend? Vinnig en vreemd het die aand gekom, en hy voel onvolkome na sy afskeid van Reinet.
Die huis lyk donker, maar die rede daarvoor blyk toe hy ma en dogter op los stoele net onder die toegerankte stoepie vind, besig om die aandkoelte te geniet terwyl hulle muskiete wegklap. ’n Swaaiende lantern agter die grootvoor getuig daarvan dat Arno iewers water lei. Solank daar water is, is die onuitgesproke voorbehoud. Soms lawe hy net ’n bedding wat hy in die dag te droog bevind het. Maar natuurlik het Arno hom vandag laat verlei deur die algemene gevoel van oplugting wat saam met Reinet uit die dorp gekom het.
“Welkom in muskieteland,” sê Nida uit die skemering.
“Dankie. Het hulle ’n minister van buitelandse betrekkinge, dan onderhandel ek.”
“Ek is bevrees hulle vra nie vrae nie. Dis wyfies, en hulle het bloed nodig vir die nageslag.”
My bloed nodig vir ’n nageslag, dink hy met skielike erns. Reinet … arme, liewe Reinet. Watter mooi kindertjies sou hy en sy kon hê.
“Dis Saterdagaand,” sê-vra Nida.
“Reinet moet aan diens gaan, en ek is van die son gepiets. Skoon pootuit.”
En Boel kom natuurlik nie, dink hy, want hy en Nida het mekaar ’n groot deel van die dag gesien.
Leen ontwaak tot haar pligte. Sy staan op. “Nou ja, ek en die kinders het sommer brood en ’n stukkie koue vleis geëet, maar ek kan nie verwag dat meneer …”
“En hoekom nie? Wanneer sal jy my as een van julle aanvaar … Leen?” Hy voel hy kan haar nie “mevrou” nie, en sy is die on-tannieste mens wat hy ken. Hy berei ’n eie plan: hy sal haar Leen noem, maar nooit jy en jou nie. “Is dit reg so? Ek weet ek is ’n snuiter teen Leen gereken. Maar as Leen nie omgee nie …”
“Dit is reg so,” reageer sy tevrede. “As ek dan maar jou vol voornaam kan gebruik, Cornelius. Dit klink meer respekvol. Ek het nie eers vanaand ’n koue aartappel nie. So, brood en vleis?” Dit klink of sy gloei van plesier.
“Met dik botter, en ’n glas koue melk,” aanvaar hy met dank. “As daar dalk ’n los tamatie is wat Leen saam op die brood kan plak.”
“Met sout en witpeper,” snap sy.
Nida verrys effe onwillig om vir haar ma in die kombuis te gaan instaan, maar Nelis reik oor en druk haar liggies terug. “Sit eers,” beveel hy. “Ek het raad nodig.”
“Wie het nie?” vra sy.